SA Art times March 2011

Page 21

HELENA HUGO KKNK 2011 KUNSTENAAR | ART TIMES

Helena Hugo: KKNK 2011 Jong Kunstenaar

Johan Myburg SA @ Work Gesiglose werkers kry deernisvolle, realistiese identiteit

Helena Hugo 2011

SA ART TIMES MARCH 2011

Photo: Christo Harvey

Ek het die laaste paar maande gewoond geraak aan die gegrom van kruiptrekkers en laaigrawe, aan lugdrukbore en gewielde monsters wat agter hulle ’n streep teer laat. In die straat buite die kantoor waar ek sit en werk, is gesiglose mense in Auckland Park besig om Kingsway te herbou. Ek hoor daagliks dié geluide – dié van Suid-Afrika aan die werk – maar ek merk kwalik die mense op wat masjinerie beheer en werkers wat graaf in die hand daagliks hul brood verdien. In hul oorpakke lyk die werkers almal dieselfde. Stap ek dan, ’n ent straat op, die galery van die Universiteit van Johannesburg binne, bly die klanke van die werkery draal, maar ’n mens word gekonfronteer deur werkers wat jy so maklik miskyk – nie net padwerkers nie, maar ook myners en vrugtepakkers, suikerrietsnyers en tuiniers, werktuigkundiges en werkers in werkwinkels. Werkers wat handearbeid verrig; dié soort werk wat te maklik as minderwaardig beskou word. Helena Hugo beeld dié mense uit teen die agtergrond van hul onmiddellike omstandighede, maar ook dié van hul drome en verwagtings. In haar pastelportrette (dis verruklik noukeurige weergawes wat fotorealisme ver verbysteek) word die band tussen mens en masjien of bedryf telkens vooropgestel. Of dit nou mens en stootskraper is of mens en suikerrietland, die hegte konneksie tussen werker en werk word so intiem uitgebeeld dat die identifisering met die werk duidelik blyk. ’n Mens verbeel jou half die werkers neem trekke van die werktuie aan. Dat Hugo met die portrettitels die werk weerspieël, versterk hierdie gedagte des te meer. Hugo buit nie haar onderwerpe uit nie, maar gee hulle weer met deernis – sonder om dit apologeties of verduidelikend te doen. Dat dié mense trots vind in hul werk, is die een gedagte waarmee ’n mens gelaat word op dié uitstalling. In ’n tyd van werkskaarste en afleggings raak haar pastel op koerantpapier onheilspellend. Geteken op sakeblaaie en advertensies vir werk benadruk sy die spanning tussen werker en werk; die spanning tussen voortbestaan en krepering. Namate ’n mens deur die uitstalling vorder, word die geluide van buite as’t ware stiller en jy raak bewus dat Hugo se werkers jou aanstaar – jý word die een wat dopgehou word. ’n Ongemaklike gedagte as jy so oop en bloot staan voor mense wat jy nie aldag in die oog kyk nie. Hugo sluit met SA @ Work nie net ’n wêreld oop nie, maar doen dit so oortuigend en met soveel detail dat die kyker herinner word aan die verantwoordelikheid van menslikheid en medemenslikheid. Sy lewer met dié werk ’n besondere bydrae tot sosiale kommentaar in die Suid-Afrikaanse gemeenskap en die visuele kunste. As ek terugry tussen die versperrings in Kingswaylaan deur, is dit nie net meer die grommende masjiene wat ek raaksien nie, maar ook die mense wat hulle beheer. 21


Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.