
1 minute read
Boerderypraktyke in rooibosverbouing
by WCDOA pubs
Anélia Marais1 en Marieta van der Rijst2
1Direktoraat Plantwetenskappe
2LNR Biometrie
Inleiding
Rooibos (Aspalathus linearis) is ’n inheemse fynbosplant en kom natuurlik in die sanderige en ekologies-sensitiewe gebiede rondom Clanwilliam en die Sederberge voor. In die afgelope dekade het die produksie van rooibostee tussen 10 000 tot 18 000 metrieke ton per jaar gewissel, met verkope vergelykbaar met 6 biljoen koppies tee in 2018. Tussen 2013 en 2017 het die aanplantings in die Wes-Kaap van net onder 36 000 ha toegeneem tot net onder 59 000 ha (SA Rooibos Beperk Feiteblad, 2019).
Die plant oorleef in die sandgronde met lae voedingstofvlakke deur mikorisas en assosiasies met stikstof-bindende bakterieë te vorm. Rooibosboere begin na meer volhoubare praktyke kyk wat verminderde bewerking en die saai van dekgewasse insluit. Die area onder rooibos het in die laaste dekade uitgebrei met klein aanplantings in nie-tradisionele gebiede in die Overberg asook Stellenbosch. Hierdie aanplantings blyk goed te groei en bevredigend te produseer. Sommige van die probleme wat blykbaar ondervind word, is moontlik sterk gekoppel aan grondgesondheid.
• Sommige boere gebruik kommersiële hoendermis. Alhoewel Muofhe en Dakora (1999) tot die gevolgtrekking gekom het dat rooibosplante sal baat vind by bemesting met veral N en P, het Smith et al. (2018) duidelik aangetoon dat fosfaat in die grond kan ophoop en die groei en oorlewing van die rooibosplante nadelig beïnvloed.
• Rooibosplante het baie lang wortels – baie nodig vir oorlewing in die arm en droë sandgronde. Die meeste boere sny die saailinge se wortels en punte van stingels af om dit makliker te hanteer tydens plant. Die afgesnyde wortels kan moontlik die vorming van mikrobe-assosiasies en groei in die algemeen beperk. Indien die plante te kort gesny word, sal dit nie net hergroei benadeel nie, maar ook die hoeveelheid natuurlike worteluitskeidings nadelig beïnvloed wat die geassosieerde risosfeermikrobes sal benadeel
• Die gebruik van enige swamdoder kan die vorming van mikorisa nadelig beïnvloed. Die hipotese van hierdie studie was dat bestuurspraktyke ’n groot invloed op die produksie sowel as die lewensduur van die plante kan hê.