1 minute read

Nagraadse student in Veekundige wetenskappe vereer vir beste meestersgraad

deur Prof. Ters Brand

SSwys Viviers, ’n gewese MSc-student aan die Universiteit Stellenbosch, het onlangs die Proteïennavorsingstigting se prys vir die beste meestersgraad vir die jaar ontvang. Swys het sy studie onder leiding van prof. Ters Brand, spesialis-wetenskaplike van die Hoofdirektoraat: Navorsing en Tegnologieontwikkeling by die Wes-Kaapse Departement van Landbou op Elsenburg, uitgevoer.

Swys Se Tesis

Die tesis handel oor die evaluasie van vyf verskillende proteïen- en aminosuurvlakke in onderskeidelik die vooraanvangs-, aanvangs-, groeiasook afrondingsdiëte van volstruise. Produksie in terme van groei, voerinname en voeromset is tydens die verskillende fases gemonitor. Die invloed van die verskillende proteïenen aminosuurvlakke (lisien, metionien, sisteïen, treonien, triptofaan en arginien) op die eindprodukte (leer, vleis en vere) is ook bepaal.

Die studie het die navorsers in staat gestel om die resultate van ’n voedingsoptimeringsmodel wat gebruik is om die ideale proteïen- en aminosuurvlakke vir die verskillende groeifases vir volstruise te voorspel, te evalueer. Die resultate kan in voerformules gebruik word om diëte met die ideale aminosuursamestellings vir die verskillende groeifases saam te stel.

Swys is oorspronklik afkomstig van Featherstone, ’n plaasdistrik sowat 150km suid van Harare in Zimbabwe, en is tans werksaam as dierevoedingskundige by National Foods Zimbabwe in Harare. AP

This article is from: