Swartland Joernaal 27 Maart 2024

Page 1

27 Maart 2024 27 Maart 2024 Nuus met 'n verskil W/A en Tel: 061 549 3683 • www.swartlandjoernaal.co.za • Uitgawe 209 Gratis • Free Nuwe SA-rekord vir Micah Wittewater Villagers roer rugbypot Kwekery gee raad oor blombolle Jaarlikse Kragdag kuier op Môreson
2
4
6 Micah Africa van Malmesbury spog met die splinternuwe 100m o.16-atletiekrekord. Lees meer op bladsy 3.
bl
bl
bl

Villagers Wittewater roer die rugbypot

Wittewater het verlede Saterdag vir 'n groot opskudding gesorg toe hul die span van Moorreesburg geklop het in Boland Rugbyunie se Groot Uitdaag-liga.

Die tuisspan onder leiding van die voormalige Moorreesburg-afrigter, Havelin Hanekom, was oorgehaal om hul lojale toeskouers te vergoed met aanskoulike rugby.

Onder leiding van die kaptein en slot, Jacques Adams, was Wittewater vroeg in die wedstryd baie dominerend en ten spyte van twee mislukte strafskoppe vir Moorreesburg, was dit Wittewater wat al die rugby gespeel het.

Wittewater was vroeg in die wedstryd oor Moorreesburg se doellyn, maar 'n uitmuntende duikslag deur Donielle Karolus het 'n drie verhoed.

Na Patrick Stevens en Ian Morney strafskoppe uitgeruil het om die telling 3 – 3 te maak, was

dit Wittewater wat na die beter span gelyk het op die aanval en 'n drie deur die Flank Clyde Plaatjies het seker gemaak die spanne gaan drink water met Wittewater 10 – 3 voor.

In die tweede helfte het Moorreesburg meer van die bal gesien en aanval op aanval geloods. 'n Onderskep-drie deur Clyde Plaatjies het egter verseker Wittewater rek sy voorsprong na 17 – 3. Moorreesburg het egter nie tou opgegooi nie en 'n goeie rolmaalbeweging het verseker dat Anwill Alkaster gaan kuier agter die doellyn met 'n onverdoelde doelskop.

Moorreesburg het toe na herhaalde oortredings in die skrum deur Wittewater, 'n strafdrie ontvang en na 'n goeie aanvalspoging het Patrick Stevens byna die volle veld gesnel om in die hoek te gaan druk met Heinrich Boois wat met sy stelskop seker gemaak het Moorreesburg neem die voortou op 17 – 22. Met die tyd wat uit loop

het Wittewater die besoekers se verdediging getoets met aanvallende spel. 'n Paar minute voor die eindfluitjie raap die flank van Wittewater die bal na n goed berekende skop voor die heelagter van Moorreesburg se oë weg, om Melchiot Ruiters weg te stuur vir die wen drie. Hierdie drie het ook verseker dat Wittewater uit die stryd tree met n geskiedkundige 24 - 22 oorwinning teenoor Moorreesburg. Vir Wittewater was die skrumskakel Dimitri Abrahams en die senter Brendon Nero ook uitstekend op die dag.

Abbotsdale het Saterdag gereis na Porterville en was vasbeslote om te bou op hul goeie vertoning teen Never Despair die vorige week. Vir verskeie geskiedkundige redes, sou die wedstryd tussen Porterville en Abbotsdale 'n taai stryd wees. Die besoekers het die wedstryd baie goed begin en het vinnig twee drieë gedruk wat Porterville onmiddellik op die agtervoet geplaas het.

Met 10 punte teenoor 0, het 'n ou kwaal van Abbotsdale egter kop uitgesteek, waar hulle opponent die kans gee om terug te kom in die wedstryd. Porterville het met baie konstruktiewe spel, baie vrae gevra van Abbotsdale se verdediging en het hulle gereeld op die agtervoet geplaas. Die tuisspan kon egter nie sy goeie spel in punte omskep nie. Die spanne het gaan rus met die telling 10 – 3 ná Porterville 'n strafskop oorgeklits het. In die tweede helfte het Porterville die kitaar begin slaan, waar hulle voorlangs goeie veranderinge gemaak het om Abbotsdale te laat les opsê. Goeie spel voorlangs het daartoe bygedra dat Porterville hulle agterstand stelselmatig uitwis. Verskeie kanse om drieë te druk het skipbreuk gelei aan die besoekers se kant, danksy swak temperament en hanteringsfoute deur Abbotsdale, wat die deur oop gelaat het vir Porterville vir 'n terugvegpoging. Met die telling op 21 – 23 in die guns van Abbotsdale, kry Porterville 'n strafksop om die wedstryd te wen. Maar 'n mislukte poging het verseker dat Abbotsdale uiteindelik die wedstryd wen. Porterville kan baie moed skep uit die wedstryd, aangesien die wedstryd enige kant kon draai.

In ander wedstryde het Wesbank seker gemaak hy hou steeds die sleutels van Alfapark nadat hy goed afgereken het met Never Despair

in die derby-stryd tussen die twee spanne. Vir Wesbank was Che Klaasen 'n doring in die vlees van die Spairs-span en sy speler van die wedstryd-vertoning het bygedra tot 'n dominerende oorwinning wat Die Tier se tande verder stomp gemaak het ná 'n slagting die vorige week deur Abbotsdale. Die oorwinning het verseker dat Wesbank bo-aan die puntelys is vir die Paasnaweek.

Angelo Thompson het sy Darling-groep geneem na sy vorige tuiste waar hulle die span van Good Hopes die stryd aangesê het. Die Kaptein van Good Hopes, Julian Claasen, het weer sy troepe baie goed gelei, met veral Durwin Fortuin wat op die aanval en op verdediging baie goed gedoen het. Die voorspelers Andrew Farao en Coelin Julius het ook gesorg vir groot kopsorge vir Darling. Die twee 8-talle het behoorlik onder mekaar ingeklim. Goeie verdediging deur Good Hopes was egter deurslaggewend om te verseker Good Hopes wen die wedstryd. Drieë deur Johannes Appollis, Andrew Farao, Mishaun Arendse en Curtley Damons, het verseker Good Hopes behaal sy derde oorwinning in die liga en ook 'n duidelike waarskuwing uitgestuur aan die top-spanne in die Liga.

Saron het weer op die wenpad gekom toe hy Young Eagles geklop het op Saron, om sy tweede oorwinning te behaal. Vir die besoekers was die heelagter Jo-Reldo Olivier en die stut Valintino Diedericks uitstekend op die dag. Olivier het twee van die vyf drieë gedruk en ook drie doelskoppe oorgeklits om sy span te help na 'n oortuigende oorwinning oor die nuweling in die Liga.

Die Boland Groot Uitdaag Liga vat n welverdiende blaaskans die naweek en Liga wedstryde keer weer terug op Saterdag 06 April 2024.

2

Nuwe rekord

vir Micah

Micah Africa van Malmesbury het die naweek 'n splinternuwe SA-rekord in die 100m o.16-item laat spat.

Hy spog nou met 'n tyd van 10:73.

Hierdie is nie die eerste keer dat hierdie witblits rekords verbreek nie en het hy reeds op laerskool ook opslae gemaak met sy spoed.

"Ek het op 'n jong ouderdom al geweet ek is vinnig. Nie altyd goed nie. Met tyd en oefening het ek verbeter," vertel Micah.

Micah voel bevoorreg om te kan deelneem aan die nasionale byeenkomste en hier sy talente kan ten toon stel.

"Dit maak dat ek wil aanhou en verbeter met elke resies." Volgens hom het die getroue ondersteuning van sy vriende en familie hom ook baie gehelp. Micah oefen ongeveer vyf keer per week, maar maak seker dat hy genoeg rus kry, sodat hy nie uitbrand nie. In sy af-tyd spandeer hy tyd met sy naastes, diegene wat hom ondersteun.

Vir hom is die adrenalien wat deur sy are pols wanneer hy opwarm, 'n groot lekkerte.

"Daardie wat jy kry as jy by die beginpunt staan, maar ook die verligting wat jy kry as jy klaar oor die eindstreep is. Sy geloof is vir hom baie belangrik. "Doen jou bes en laat God die res doen."

Op 5 April neem Micah aan die SASSA-kampioenskappe deel.

The Lash Lady vier verjaarsdag

Wietscke, beter bekend as "The Lash Lady" se salon vier verjaarsdag en bied talle spesiale aanbiedinge om hierdie mylpaal te vier.

Die salon het gegroei vanaf 10 kliënte tot 'n dagboek wat daagliks stampvol is.

"Ek voel baie bevoorreg om my passie te kan uitleef en om daagliks na 'n vol dagboek te kyk."

Jy sal moet gouspring om jou spasie te bespreek as jy wil munt slaan uit haar spesiale verjaarsdagaanbiedinge.

Stuur 'n WhatsApp-boodskap na 074 468 5299 om jou plek te bespreek.

27 Maart 2024 3

Malmesbury Kwekery gee raad oor… …grondvoorbereiding en blombolle in my tuin

Ons is amptelik in HERFS!!

Die oggende en aande is heelwat koeler en die ergste warm dae het bietjie gewyk.

Kom ons gesels bietjie oor die HERFSTUINE en die plant van BLOMBOLLE vir laat winter en lente blommeprag.

Indien jy nog nie begin het met jou grondvoorbereiding nie, is dit nou die tyd om jou grond reg te kry en te besluit wat plant jy waar.

Blombolle kan in enige tuingrond geplant word, mits dit goed dreineer, lekker diep omgespit is met genoeg KOMPOS en BEENMEEL (of ROCK DUST).

Die ideale tuingrond is ‘n LEEMGROND wat bestaan uit gelyke dele; sand, klei en humus (kompos).

Die humus gee die grond lewe deur dit brokkelrig te maak sodat lug, vog, voedingstowwe

en plantwortels makliker daardeur kan beweeg.

Die aksie van BAKTERIEË in die grond breek hierdie organiese materiaal af tot minerale en koolstofdioksied wat deur die plant gebruik word as voeding.

Die volgende belangrike stap is om seker te maak dat jy net goeie kwaliteit blombolle koop.

Blombolle is maklik om te groei, want die blombol het al die energie wat dit benodig reeds opgegaar.

Nadat die bol geplant is, het hulle net die regte temperatuur, water en goeie grond nodig om die tuinier te beloon met ‘n skouspel van blomme wat net hulle kan voortbring.

Die winterbolle wat nou geplant moet word, het KOEL GROND nodig.

Die groep bestaan uit die volgende soorte: Anemone, Hollandse Iris, Freesias, Muscari,

Tjienkerientjees, Sparaxis, Tritonias, Freesias, Ranonkels, Hiasinte. So bietjie later by Meimaand kan die Leucojum, Affodille en Lilium (lelies) in die grond kom.

Alle blombolle se verpakkings dui aan hoe diep en wyd dit geplant behoort te word.

Sekere bolle kan oornag in water geweek word, wat sal help dat dit beter en vinniger begin uitloop.

Moenie jou bolle elke dag net ‘n bietjie natmaak nie, dit is beter om die beddings (of potte) eerder elke 4 tot 5 dae uitmekaar lekker diep (±15cm) te deurweek, dan kom die vog by die wortels uit.

By ons in die Wes-Kaap reën dit wintertyd, maar monitor jou grond, moenie dat jou grond heeltemal uitdroog nie; DAN KAN DIE BOLLE DIE BLOMME ABORTEER.

Die meeste bolle word met die punt na bo geplant, behalwe ranonkels (met toontjies na onder).

Anemone is ‘n moeilike bol om te weet wat is bo en wat is onder, wanneer die bolle in water geweek was, is dit soms makliker om die “ogie” raak te sien en dit moet na bo wys en dan is dit gewoonlik met die punt na onder.

Kleiner soorte bolle lyk goed in groepe van 20 bymekaar en die groter bolle in groepe van 10.

Wees versigtig om winterbolle teen ‘n warm muur of langs ‘n warm oprit te plant – veral tulpe, hiasinte, Hollandse irises & affodille sal daar nie goed vaar nie. In hierdie beddings sal ‘n massa ranonkels of anemone ‘n lieflike vertoning maak. Kom steek kers op by jou plaaslike kwekery en

begin met jou winter-blomtuinblom.

En nou net kortliks oor die res van die tuintake: Vir tuinblomme begin nou saai en plant – daar is ‘n groot verskeidenheid soos byvoorbeeld: pronkertjies, bokbaaivygies, Namakwalandse madeliefies.

Daar is ook saadmengsels vir son en skadu, asook die geharde namakwalandse blomme mengsel en nog vele meer.

Wintersaaiings wat in ses-pak bakkies kom, word nou al meer beskikbaar en die eerstes behoort nou al op die kwekery se rakke te begin vertoon.

Deklaag: moet nie vergeet om ‘n goeie deklaag om jou plante te gooi nie, dit hou nie net die vog in die grond nie, dit beskerm ook die plante se wortels teen uitermatige koue en ryp.

Grasperke: voed nou jou grasperk met: 4:1:1 of 8:1:5 of 2:3:2 of Atlantic Bio Ganic Lawn om die gras sterk te maak vir die wintermaande.

Jy kan ook nou begin om voorkomend te spuit vir wintergras en ander onkruid met LAWNTYL, dit maak die saad dood sodra dit begin ontkiem.

Plant in die regte seisoen: in die winterreënvalgebied is dit ‘n baie goeie tyd om nou jou nuwe bome en struike te plant, die weer is meer gemagtig en daar is altyd die vooruitsig van goeie reëns. Die plante kan hulself nou beter vestig en wanneer die somer oor 6 maande weer begin is hulle al lekker sterk.

Lekker tuinmaak en ons wens u ‘n GESEëNDE PAASFEES toe.

Ons gesels weer op 24 April.

George Retief

27 Maart 2024 4

Ontdek die krag van sonkrag met CK Solar & Security Solutions

PROMOSIE

In die sonnige landskap van die Swartland, is daar geen beter tyd as nou om oor te skakel na sonkrag nie.

By CK Solar & Security Solutions, bied hulle volledige sonkrag-oplossings wat ontwerp is om jou huis of besigheid te verander in 'n effektiewe, energie-doeltreffende omgewing.

Dit is tyd om die son se krag te benut vir jou huis of besigheid in die Swartland.

Kontak die kundige span vir 'n gratis konsultasie:

073 407 7098 info@cksolsec.co.za

27 Maart 2024 5

Kragdag 2024: Die tweede jaarlikse Kragdag is die afgelope naweek op die Môreson-plaas buite Malmesbury aangebied. Hier is talle verskillende opsies van alternatiewe kragbronne uitgestal. Besoekers kon kyk na elektriese voertuie, batterye, binnenshuise kragloosaparate en vele meer.

27 Maart 2024 6

1 April - MAXWELL

WILSON. Baie geluk met jou verjaarsdag

my liefste seun. Mag die hand van die Here altyd oor lewe wees.

Jy moet jou dag geniet. Lief vir jou, Van: Hazel en Hayden

VERMIS

Lucy is sedert Donderdag vermis in Dalsig area Malmesbury.

Sy kan haar bevind in Arnaudstraat of Mollstraat omgewing.

Sy is allergies vir visprodukte en is gesteriliseer. Kontak ons asb op 0645579183 of 0694964987

27 Maart 2024 7
Congratulations
Gelukwensing
Vermis Missing W/A: 061 549 3683
Tel: 061 549 36831
Uitgawe 209 • 27 Maart 2024

Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.