Oos-Vrystaat ● Eastern Free State
WEDNESDAY October 9, 2019 | Bethlehem | Harrismith | Reitz | Warden | Clarens | Lindley | Petrus Steyn | Kestell | Fouriesburg | Paul Roux | Verkykerskop
Help Zea ‘n verskil maak! BETHLEHEM: Zea Perez is ‘n leerling wat die waardes wat ons by die Bethlehem Akademie leer ten volle probeer uitleef. Na die berig oor die motorongeluk en beserings van die kinders van Sonskynhoekie plakkerskamp in Pretoria was Zea diep geraak en het gevoel dat sy graag na die kinders wil uitreik en help. Sy het haar wens met die skool gedeel en gesê dat sy haar wins van die laaste entrepreneursdag graag wil skenk aan hulle. Vir die skool is dit wonderlik om te sien hoe die waardes wat ons beoefen werklik
"lewendig" word. Sy het besluit om die laerskole in Bethlehem uit te daag om te help, en droom daarvan om soveel as moontlik kinders te betrek! Na ‘n heerlike kuieroggend en onderhoud in die gasvrye geselskap van Izaan en Maryke by Maluti Fm in Bethlehem, is ‘n anonieme skenking van ‘n pragtige wit staankas gemaak, wat opgeveil gaan word en die geld aangewend sal word vir van wat die kinders van Sonskynhoekie die grootste behoefte aan het. Die vrygewige maats van Hospice pre-primary het ons sommer nog by die ateljee kom
verras met ‘n skenking van huiswerkboekies en sanitêre ware. Ons staan stom vir al die hulp en mense om ons, se mooi harte. Ons is trots op Zea wat haar waardes met soveel liefde en oortuiging uitleef! Sy is ons almal tot voorbeeld en stem ons nederig. Hier is foto’s van haar entrepreneursdag stalletjie, die kas wat opgeveil gaan word. Skole wat Zea se uitdaging aanvaar kan gerus met Bethlehem Akademie kontak maak by 058 110 0039.
Oos-Vrystaat Rekord (weer) geloods VANDAG word die Oos-Vrystaat Rekord geloods nadat 7 plaaslike Rekord koerante saamgevoeg is om die nuwe digitale Streekskoerant te loods. Die besluit is geneem nadat Rekord Media sy sake model aangepas het om by die behoefte van die adverteerder op die platteland in te pas. In die afgelope vyf jaar het verskeie besighede op die platteland (veral in Lindley, Kestell, Warden en Fouriesburg) hulle deure gesluit wat die behoefte geskep het vir besighede in naburige dorpe om hulle dienste in die dorpe te adverteer. Vir kerke, skole, klubs en nie winsgewende organisasies is die goeie nuus omrede die area
waarin u bydrae nou verskyn duisende meer lesers gaan bereik. ‘n Opname is ook gedoen in die dorpe waar Rekord ‘n koerant uitgee wat aangedui het dat ‘n groot getal lesers in die 7 dorpe aankope in Bethlehem doen en dus was dit vir ons die logiese keuse om die dorpe om Bethlehem saam te voeg in ‘n streeks koerant waar adverteerders van Bethlehem die platform kry om hulle dienste/produkte te adverteer tot voordeel en die gerief van ons lesers. Die koerant slaan ook van ‘n A4 blad formaat na ‘n ponie koerant (tabliod) formaat oor. Die koerant spog ook met ‘n nuwe meer moderne uitleg en formaat. Nuus
inhoud sal nog steeds volgens bydraes van korrespondente, organisasies, klubs en vrywillige bydraes gedoen word. Rekord is bewus dat skole sensitief is oor die plasing van ander skole nuus in hulle dorpe maar ons beleid is om die skole wat nuus beskikbaar stel aan Rekord vir plasing die blootstelling te gee. Die skuif raak egter nie die 7 koerante se Facebookblad en WhatsApp groepe nie wat nog steeds apart bestuur gaan word. Die koerant sal nog steeds op Maandae verskyn met die sperdatum vir nuus en advertensie Vrydae 17:00.