9 minute read

Nuus uit Rwanda…

deur Alta Nelson

Dinge is maar net anders hier…

Advertisement

So breek my tweede verjaarsdag in Rwanda aan. Die vorige dag gaan koop ek ‘n paar eiers om koek te bak. Dit word sorgvuldig afgetel en in ‘n sakkie gepak wat gemaak is uit twee leerders se ou vraestelle. Tuis gekom, pak ek die eiers uit en loer na die antwoorde en prentjies binne-in die sakkie en wonder hoe die onderwyser by 7.5 uit 10 gekom het. Ten minste het hulle geslaag en is hul vraestelle herwin in iets bruikbaar.

Die koek is gebak, terte is gemaak en vingerhappies mooi uitgepak, net om te hoor dat die twee Suid-Afrikaanse gesinne wat saam met ons hier woon al die vorige dag (skielik) Kigali toe is vir vyf dae. So wonder ek wie die eetgoed gaan opeet. My tuinman vra die oggend hoe skryf ‘n mens my naam, want hy wil op sy whatsapp status sit dat sy “lady boss” verjaar. Dierbare ding! Groot was sy dankbaarheid toe sy middagete uit koek, tert en vingerhappies bestaan. Met ‘n “God bless you” en “You know how to cook” word ek bedank. Die dag trek nie net my tuinman voordeel uit lekker eetgoed nie, want ek spandeer toe maar my dag verder om tuin skoon te maak. My dwergbokkie, Nibbles, trek toe ook voordeel uit my skoonmakery.

Sy eet dat sy nie meer kan nie en lê en kyk later net na die bome wat ek gesnoei het al is dit haar gunsteling kos. En terwyl my tuinman oudergewoonte al die blare vee, stop hy my skielik toe ek van die onkruid wil weggooi, want hy kan ‘n nuwe besem daarvan maak. Wonderlik! Voordat hy huis toe gaan vra hy of ek en Neels die aand gaan “celebrate” aangesien al die ander vriende dan nou weg is. Dit was die plan, maar min het ek geweet die duiwel gaan weer net so listig wees soos die vorige jaar en in plaas daarvan dat ons sou gaan uiteet, werk Neels tot diep in die nagtelike ure (een uur om presies te wees), terwyl ek alleen “celebrate”.

So gebeur dit dat ek twee weke gelede bietjie olik is. Die naarte en ‘n maagaandoening oorval my totaal en al. Ek is papper as slappap en het nie krag om dokter toe te stap nie. (Ons het mos nie ‘n voertuig hier nie, net die motorfiets.) Neels was later in die namiddag verplig om my met die motorfiets dokter toe te neem, want ongelukkig kon hy nie uitkom na ons huis toe nie omdat hy alleen by die kliniek was. Na ‘n negatiewe malaria toets, besluit hy dit moet ‘n 24-uur gogga wees en ek is gedehidreer. Ek is so pap dat hy die res van die prosedure met Neels bespreek en nie eens met my nie.

Ons is terug huis toe en ek is reguit bed toe. Nie lank nie of ‘n manlike verpleër kom sit vir my ‘n “drip” aan. Eers word die chirurgiese handskoen styf om my pols gebind en ek moet ‘n vuis maak sodat hy ‘n aar kan kry. Daarna word dieselfde handskoen gebruik om die “drip” mee op te hang aan ons bed se muskietnetraam. Hier moet jy “double think” (slim wees) soos my tuinman sê. Saam met die drip moet ek dehidrasie vloeistof inneem en ag pille (vier soorte) gelyk sluk.

Soos wat die vloeistof in my liggaam in loop, kry ek sommer ‘n les oor hoe belangrik die potassium is wat in die vloeistof is. Nadat die “drip” leeg is, is die verpleër hier weg en sê dat die dokter oor ag ure gaan kom kyk of ek nog ‘n “drip” nodig het. Nou moet ek sê hulle is vreeslik gestel daarop dat jy jou medikasie op presies die regte tyd neem, nie ‘n minuut vroeër of later nie. Daarom elfuur daardie aand kom die dokter en ‘n verpleegster my besoek. Dit was nie nodig vir nog ‘n “drip’ nie, maar ek moes maar met die naald in die hand slaap vir ingeval ek dit die volgende oggend sou benodig. Gelukkig het ‘n vriendelike verpleegster om half tien die volgende oggend die naald kom verwyder.

Net in Rwanda! Dit maak die lewe interessant en maak jou dankbaar vir klein dingetjies in die lewe soos ‘n properse “drip”.

Leliehof is 100

Corrie le Roux Joubert se laaste aflewering van die immergewilde staaltjies wat sy opdiep uit haar skatkis van Leliehofherinneringe.

Vir oulaas...'n klompie los stories deur

Die lesers wat die gebou binne ken, weet dat koshuisouers se woonstel met trappe verbind is aan die koshuis se voorportaal. Daar was...is...'n klokkie wat die dogters kon lui in geval van nood of....waarvoor hulle ookal my pa of ma se aandag nodig gehad het.

Corrie le Roux Joubert

My slaapkamer was die naaste aan die trappe en ek het meestal die klokkie "geantwoord". Maar toe die klokkie een nag halftwee lui...sjoe, ek het geskrik! My pa was binne sekondes by my, die oorsaak van hierdie "noodlui"....tandpyn!

Ek kan nie regtig onthou met watter oplossing my pa en ma vorendag gekom het nie, maar ek wil dit al hê dat dokter Biesenbach ook uit sy bed gehaal is!

Die twee predikante van die NG Gemeente is gereeld genooi om aandete te kom eet en dan die huisgodsdiens te hou. Ds Frekie van Niekerk was dus 'n gereelde besoeker daar, maar ai, hy het altyd sy kos wit van die sout gegooi, nog voordat hy iets in sy mond gesit het. Natuurlik tot my ma se misnoë. Sy het gereeld gesê "Dominee, proe tog net eers", wat hy afgelag het en sout gevra het. In my pa se lewe het die stadium ook gekom dat hy moes begin bril dra. Die hoërskooldogters was gewoond aan hom met die bril, maar nie die laerskooldogters nie.

Vir baie lank het hy dit vermy om sy bril in die eetsaal tydens huisgodsdiens op te sit. Maar stelselmatig het sy arms te kort geword om die Bybel vas te hou.

Ek onthou hoe kwaad ek vir hom geword het. Ek het hom eendag gevra of ek die Bybel vir hom moet vashou, lekker ver van hom af.

Tot hy een oggend ingee en ek maar sy bril gaan haal het. O my aarde, daar lag en proes die laerskooldogters die hele tyd. Meneer met die bril was net te snaaks. Wie sal dan die Geheim van Nantes vergeet, die middag vervolgverhaal uitgesaai op die Afrikaanse diens.

Daardie tyd is geen radio's in die kamers toegelaat nie. In die ontspanningsaal by die studiesaal was 'n gramradio. Na middagete het almal eers gaan rus voor die sport begin het.

Die versoeking was groot, daar het dogters afgesluip, amper in die radio ingeklim om te luister en gehoop my pa rus lank genoeg.

Van die grootste aanhangers het my begin vra om my pa te bearbei en dit werk toe. Die radio mag nie te hard wees nie, want dit is rustyd, maar ten minste kon ons almal saampraat met ons dorpsvriendinne.

My ma het gereeld kamerinspeksie gedoen. Sy het so 'n klein mooi koperpotjie en twee koperservetringe gehad wat as wisseltrofee gebruik is en dan gegee is vir die kamer wat dit verdien. Daardie koperpotjie en servetringe is nou terug op Piketberg, dit staan in ons dogter, Hendrien van Lill se huis.

Waatlemoen en spanspek is sommer by grootmaat bestel en per lorrie aangery. Die bêreplek was die stoorkamer/ kofferkamer by die studiesaal aan jou regterkant voor jy die paar trappe afgaan na woonstel D.

Planke is op die sementvloer gesit om meer plek te maak, want waatlemoene moes glo nie op sement lê nie. Maar hierdie kamer het nie 'n venster gehad nie. Dus moes die deur oopstaan vir vars lug en vir meisiekinders wat sou swig voor hierdie lekkernye.

Ek weet nie wat die "selfhelpers" met die skille gemaak het, dalk ná 'n naweek met die nodige "vuilgoeddromme" van die huis af gekom, maar my pa het baie gereeld gesê..."julle dink nog net aan iets, dan weet ek dit al!"

En dit het ook gegeld vir middernagfeeste. Die arme inwoners van woonstelle A, B en C moes altyd sluip na woonstelle D en E, hulle was die verste van ons woonstel af. Dáár is die feeste meesal gehou.

Party moes deur die onderwyseresse se woonstel beweeg of andersins deur die voorportaal. Maar die middernagfeeste ís gehou, alle gevare om betrap te word ten spyt!

Ek het eers met my toetrede tot die grootmenswêreld, die volgende gebaar van my pa waardeer. Met die eerste voltallige middagete van die jaar, is almal terug verwelkom, maar vir hom was die volgorde baie belangrik: eers is die herhalers wat teruggekom het, verwelkom, dan die nuwe Leliehoffers en heel laaste die "ou" gesigte en onderwyseresse, nuut en oud. Dink net hoe baie hierdie gebaar vir daardie meisiekinders beteken het.

En die enigste regte koshuisbrak, ons foksterrier, Stompie. Hy het altyd gehuil as die kerkklok lui en het nooit probeer saamstap kerk toe. Hy het net geweet hy moet by die koshuis bly.

Sy grootste uitstappie was Vrydagoggende as my ma bank toe stap om die lone te gaan trek. Voor die bank se deur het hy gewag en as my ma uitkom met haar handsak in die hand, het hy die handsak in sy bek gevat en tot by die koshuis gedra.

Hulle twee was 'n baie bekende gesig op 'n Vrydagoggend. Maar kleingeld is mos swaar. My ma het naderhand 'n sak met die kleingeld in haar hand gedra en net die note in die handsak gesit. Soos 'n trotse skouperd het hy daardie handsak gedra.

Nou hoe sal ek my ma onthou? As sy 'n middagete spyskaart uitgewerk het, het sy altyd die bord met kos gevisualiseer, die kleure van die kos opgenoem. Die bord moes kleurvol, aantreklik wees. Eers later jare het navorsing vir ons gewys dat sekere vitamienes gekoppel word aan die kleur van die produk. My ma was dus al daardie tyd, sonder dat sy dit besef het, met haar voeding op die regte pad.

En my pa? Hoeveel kere ek sy pyp, tabak, vuurhoutjies, sigarette en skoolsleutels moes gaan soek het. Ek het hom gesê ek gaan vir hom 'n belt ontwerp met vyf hake vir dié goed.

Hy wat in my matriekjaar, in September 1970, my Duitse voorgeskreweboek met uitgewerkte vrae in oom Jan en tannie Jantjie Visser se huis laat lê het. En toe kry ek hom eers Maart toe ek eerstejaar op Stellenbosch was. Hy het my darem gehelp om weer vrae uit te werk.

Maar die beste onthou ek hom - sopnat gesweet, doodmoeg, maar so tevrede met die koor se vordering na 'n kooroefening in die skoolsaal. Vinnig oppad koshuis toe om te gaan stort.

Met 'n laaste vermaning aan ons wat nog drentel en gesels op die teerblad voor die skoolsaal..."kom kom, die studieklok gaan lui en julle ander moet begin stap dat julle by die huis kan kom!"

Pakkiesaand...opwindend én hartseer. Dis die enigste keer in die jaar wat my pa sy trekklavier uitgehaal en gespeel het.

Alle Leliehoffers het iets kleins gekoop, my ma het op ’n maksimum bedrag besluit, maar die matrieks bepaal hulle eie bedrag.

Alles gebeur een aand na ete net voor die matrieks se eindeksamen begin. Ons maak ’n groot kring in die eetsaal, die matrieks vorm hulle eie kring in die middel en my pa staan ook daar iewers. As hy begin speel, begin Vervolg op p31

Vanaf p30… ons die pakkies aanstuur...groot opwinding. As hy ophou speel en elkeen ’n pakkie in die hand het, mag ons oopmaak. Die matrieks se geskenke trek die meeste aandag.

En dan die hartseer, terwyl ons ons arms kruis en na weerskante toe hande vat en arms lig op die maat van "Sal ons ou kennisse ooit vergeet", sing ons en die trane loop behoorlik. Wat ‘n hoogtepunt van ’n afsluiting was dit nie.

Fluit-fluit, mý storie is wel uit, maar ek is baie seker daarvan daar is baie oud-Leliehoffers wat ook húlle stories kan deel.

Dankie vir hierdie voorreg.

Piketberg Dieresorg

Piketberg Dieresorg

Baie dankie aan almal wat hierdie jaar bydraes gelewer het tot Piketberg Dieresorg deur die skenking van geldelike donasies, tweedehandse ware en kos vir diere.

Ons het hierdie jaar 77 teefhonde, 9 reunhonde, 61 wyfiekatte en 13 mannetjiekatte by ons maandelikse kliniek gesteriliseer. Die aanvraag is so groot dat ons Augustus en November twee klinieke in dieselfde maand moes hou. Talle babahonde en-katjies is ingeënt. Konsultasies vir siek diere is gedoen, medikasie is gegee.

Noodgevalle buite die kliniekdatums is deur Piketberg Dierehospitaal gedoen. Ons waardeer dit dat hulle altyd bereid is om te help.

80 babahondjies is gered en die meeste het nuwe huise gekry, daar is nog 11 oor by pleegouers, Katinka Morrison, Tersia Visser, Helena Priem en Sarie Louw.

56 babakatjies is gered en het nuwe huise. Daar is nog babakatjies by Helena Priem wat hulle permanente huise soek.

Ons is dringend op soek na nog vrywilligers om betrokke te raak by klinieke, verkope van tweedehandse ware en die netwerk om die perfekte huise vir die diere wat gered is, te kry.

Daar is ook ‘n groot behoefte aan hokke, babahondjie en katjiekos en ook katkos.

Skakel 082 829 6918