2 minute read

Nuus uit Rwanda…

deur Alta Nelson

Advertisement

Brokkies

So gebeur dit dat my toilet se spoelmeganisme vashak en Neels stuur iemand om dit te kom herstel. Toe die man aan die deur klop, nooi ek hom in en gaan wys hom wat die fout is. Daarna gaan ek aan met my werk en hy vroetel daar rond. Later verdwyn hy en kom weer terug met gereedskap. Nadat die hele vloer onder water was, en hy op sy manier dit opgedroog het, roep hy my om te kom kyk dat als nou werk soos dit moet. Baie trots op sy han(r)de werk groet hy en weg is hy. Toe die natuur later roep, gebruik ek die toilet en spoel dit net om ’n gefluit te hoor wat my orent laat staan. Die toilet fluit soos ’n vliegtuig wat besig is om te styg totdat die water ’n sekere vlak bereik dan hou dit op. Dis ’n geval van as jy gaan fluit, fluit die toilet vir jou terug. ’n Ruk gelede byt ’n spinnekop vir Neels en net ’n week daarna beseer hy homself by die werk en ’n geroeste “stapler” steek in sy pinkie. Asof ek nie genoeg gedokter het om die spinnekopbyt gesond te kry nie, wil hierdie besering net nie genees nie. Later vorm ’n rooi streep op sy arm en die klier onder sy arm swel op. Dit dui mos op bloedvergiftiging en ek gee Suid-Afrikaanse antibiotika, maar niks wil help nie. Ek stel voor hy gaan na die dokter en vra vir ’n Tetanus inspuiting. Hy gaan toe dokter toe en vra ewe grênd vir ’n Tetanus inspuiting, waarop die dokter vir hom sê hy het nie so ’n inspuiting nie. Met ’n hand vol pille wat volgens google antibiotika is, en generiese voltaren vir die pyn kom hy terug huis toe. Die genesing neem te lank en ek gryp in met Bactroban salf uit Suid-Afrika. (Bactroban is ’n antibiotiese salf wat van binne af werk.) Die wond is so groot dat ’n gewone hegpleister se gaas gedeelte te klein is om dit te bedek. Gelukkig het ek ’n rolletjie hegpleister van die huis af saamgebring, maar het vergeet om gaas saam te bring. Dus moet ek ’n plan beraam ek skud al die teeblare van ‘n Rwanda teesakkie uit en knip ’n stukkie wat groot genoeg is om die wond te bedek, sit die Bactroban salf daarop en hegpleister bo-oor. So bespoedig ons die genesing van die wond. Nou ja, so breek die tyd aan dat Ané gaan trou en die van julle wat my beriggies gereeld lees, sal weet van die familie by wie se albei kinders se doop ons was. Hulle wil ’n geskenk vir Ané en Dieter saam met my stuur omdat hulle hul albei al ontmoet het tydens hul kuier by ons in Rwanda. Ek gaan ontvang die pakkie die aand voor ekvlieg. In die pakkie is ’n paar swart somer-pantoffels vir my (hulle raai wat my skoengroote is) en ’n koevertjie met $30 vir Ané en Dieter. Vir die Rwandese is dit baie geld. Ons het dit omgeskakel in SA-rand en vir hulle gegee. Die Rwandese kan nie glo dat die Suid-Afrikaanse ouers vir ’n troue betaal nie. In Rwanda word jy genooi en as jy ’n finansiële bydrae lewer, word jy weer genooi om ’n gas te wees. Indien jy nie bydra nie, is jy nie op die gastelys nie. Die aanstaande skoonseun moet ’n bedrag betaal aan die bruid se ouers vir sy bruid.