7 minute read

Leach LodgeSPA Kuruman

Advertisement

Mynbou-Ontploffing Op Pad Vir Namakwaland......

Is Julle Werklik Gereed?

Geskiedenisbronne leer my dat mynwese in Suid-Afrika die grondslag gelê het virApartheid en dat die ekonomiese krag in die hande van ‘n sekere rassegroep gevestig was. Forward ons die tydlyn na vandag het nie veel in wese verander in Suid-Afrika nie. Bruinmense roem daarop dat die minerale rykdom van Suid-Afrika aan hulle, die Inheemse volk, behoort maar het niks om te wys nie.

Mynwese het inderdaad ‘n groot rol gespeel in die vorming van die SuidAfrikaanse ekonomie oor verskeie dekades en nêrens in die wêreld kan die impak van mynwese op die politieke, ekonomiese en sosiaalmaatskaplike landskap beter gedefinieer word nie. Knap voor die 19de eeu was Suid-Afrika hoofsaaklik aangewese op landbou tot iemand besef het watter waarde onder hul skoensole opgesluit lê.

Soos wat myne oor die jare opgeskiet het, en vandag steeds, was die mooiste beloftes gemaak van die positiewe ekonomiese bydrae wat tot die gebied en streek gemaak sal word. By die departement van minerale en energie (DMRE) in Kimberley lê die mooiste SLP’dokumente, maar in die geaffekteerde gemeenskappe sien jy net armoede en ellende terwyl agter die bult die beste minerale gemyn word.

Hier en daar lees ons in die media van ‘n beurs aan ‘n belowende student wat breed glimlag saam die mynbestuurder, ‘n klein besigheid wat ‘n hupstoot gekry het met ‘n cheap grassnyer en ‘n kleuterskooltjie wat gebou was terwyl groot kontrakte in Gauteng uitgedeel word. Vergelyk ons hierdie terloopse inspuitings aan die geaffekteerde gemeenskappe is dit ‘n druppel in die emmer teenoor die winste wat oorsee gaan. Die relevante mynwetgewing in SuidAfrika het die mooiste intensies (soos alle ander wetgewing in SA) van wat mynmaatskappye behoort te doen in hul gasheergemeenskappe en steeds klap ouers, leerders en onderwysers opgewonde hande vir ‘n goedkoop rugsakkie wat oorhandig word deur ‘n myngroep –‘n sielkundige manier om ons mense in armoede te hou terwyl hulle handelsmerk op twee voete oral in die gemeenskap beweeg (gratis bemarking). En wanneer ons die ou man se geboorte dag herdenk word ons mense verras met ‘n warm kombersie en grocery hampers.

Biljoene word onder ons oë gemyn, maar ry jy deur dele van Namakwaland het die tyd vir baie mense letterlik gaan stilstaan. Die mooi landskap is asemrowend en dit voel letterlik of God op ‘n tyd hier geloop het, maar niks gaan in wese vir hierdie streek verander nie, want die ekonomiese mag en koopkrag is steeds in die hande van ‘n sekere groep. Feit! Hoeveel bruinmense in Namakwaland besit geboue om hul eie besigheid te bedryf? Hoeveel besighede in bruin besit het groot kontrakte op die myne? Ja, die mense van Namakwaland kan slegs roem op hul mooi geskiedenis, maar het geen ekonomiese selfstandigheid of erfenis wat hulle vir die volgende generasies kan oordra nie. Mynpermitte word toegeken aan mense van oorsee, nie die mense van Namakwaland nie en bevraagteken jy dit in vergaderings word ‘n prokureursbrief in die mooiste engels aan jou gerig.

Oor die jare het ek gesien hoe misdaad groei in ons dorp, huishuur onbekostigbaar raak vir die gemiddelde gesin en ons skole uit hul nate bars. Plaaslike skole word aangeteel met mobiele klaskamers in ‘n dorp wat 15jaar gelede alreeds ‘n tegniese skool moes gekry het terwyl R21 miljoen deur ‘n myngroep allokeer was vir ‘n biblioteek in ‘n era waar kinders nie eens kan lees nie en met selfone in die hand gebore word. Nog ‘n myn het R34miljoen in hul SLPallokeer vir Onderwys in ons dorp, maar het geen volhoubare impak gemaak tot ons skole nie. Plaaslike klein besighede se groei is alleenlik sigbaar op myne se vooruitskattings en verslae aan hoofkantoor, maar die geld gaan steeds uit ons dorp na Gauteng en ander dele van Suid-Afrika . Aanstellings en kontrakte word in Gauteng toegeken sonder dat die procurement policy gevolg was en ons plaaslike sakeforums vat mekaar hof toe oor die krummels wat op die grond val. Ons baklei onder mekaar en byt mekaar dat die bloed loop, want waag jy dit om enige myn aan te vat is ‘n dringende hofaansoek jou voorland. DMRE in Kimberley is ‘n tandlose hond wat lankal sy blaf en byt verloor het om myne tot orde te roep. In Namakwaland gaan presies dieselfde gebeur

In die grootste dele van Namakwaland leef mense van die hand na die mond. Ja, dis ‘n feit. Jongmense verval in werkloosheid en enkeles sien wel die hek van die universiteit. Ook hier hoor en lees ons van die ryk koperare en groeiende mynbou aktiwiteite terwyl ons almal weet die mense van die streek gaan aan die agterste speen suig.

Korrupsie en politieke gewin is die oogmerk en die mense van Namakwaland sal na 10 jaar steeds in armoede leef terwyl een of ander CEO oorsee die beste seiljag besit en saam opgewonde gereed staan vir ‘n foto wanneer ‘n mobiele klaskamer oorhandig word in Namakwaland wat lankal ryp is vir ‘n tegniese skool wat nog te meer ‘n privaat hospitaal met ambulanse wat nie sonder brandstof gaan staan nie. Ook in Namakwaland sal leerders opgewonde skool toe stap met branded school bags net om na 12 jaar werkloos te kom sit. Onderwys is een van die drie fokusareas van mynmaatskappye (dit staan in hul SLP’s), maar hulle interpretasie van “sustainable development” tot

- Deur Martin Olyn

onderwys is ‘n beurs aan 2 jongmense, mobiele klaskamers en klomp haasbekkies met rugsakkies waarop hul myne se handelsmerke aangebring is.

Die mense van Namakwaland moet hulself opskerp in mynwetgewing,beleide, mynpolitiek en nie skroom om vrae te vra in vergaderings tot ekonomiese groei vir die streek nie. Dis nou die tyd vir die mense van Namakwaland om hand te vat, saam te staan en uit een mond te praat sodat sigbare ekonomiese groei en vooruitgang vir die streek nie net op ‘n Powerpoint presentation realiseer nie. Besighede in bruin besit moet voorkeur geniet en bemagtig word tot maksimum ekonomiese groei vir die streek.Alhoewel dit baie rassisties oorkom is dit egter ‘n feit dat Namakwaland die grootste konsentrasie bruin mense het, maar die ekonomiese mag is steeds in die hande van blankes.

Springbok is volgens my is ‘n juweel langs die N7 roete. ’n Dorp waar al die winkels op ‘n Saterdagmiddag toemaak wat lankal ryp is vir ‘n groot winkelsentrum langs die N7 met ‘n Game, Makro en ‘n sentrale verspreidingspunt waar trokke kom aflaai vir dele van die Noord-Kaap wat soveel werksgeleenthede kan skep. ‘nArgument dat bestaande besighede in die sakekern benadeel sal word deur ‘n groot winkelsentrum dra dalk gewig, maar die groeiende werkloosheid en armoede is die oorwig.

Kyk ons na die beplande ekonomiese groei op pad na Namakwaland wonder ek maar net of hierdie mense werklik die voordeel sal geniet soos wat al die myne telkens beloof. Ook hier gaan ons hoor “Julle het nie die kundigheid nie” of ” Jou klein besigheid het nie die kapasiteit nie.” Nee, ek is nie ‘n doemprofeet nie. Kom maak gerus ‘n draai in Tsantsabane en Gamagara waar soveel beloftes gemaak was van hoe ons gemeenskappe en klein besighede ontwikkel sal word en myne opskiet sonder dat daar enige openbare deelname was.Bevraagteken jy dit word jy stil gemaak met ‘n dringende hofaksie –inderdaad ‘n boelietaktiek wat mynmagnate gebruik want hulle kan. Dan vra ek myself die vraag :” Hoekom was die Mine Indaba in die Wes-Kaap, terwyl die minerale ryk in die Noord-Kaap gesetel is en die mense van Namakwaland geen idee het wat hulle gaan tref nie?”

Bruinmense in Namakwaland moet uit hul diepe beauty sleep ontwaak en begin vrae vra soos :” Hoekom is hier nie geboue en sakepersele in bruin besit nie? Hoekom baklei bruin forums onder mekaar? Hoekom kan ons nie ‘n bruinkind uit ons streek as mynbestuurder aanstel nie? Hoekom kan die bruinmense van die streek nie mynlisensies bekom nie?

JHoekom kry mense van oorsee mynlisensies om ons minerale saggies weg te dra? Hoekom kan ‘n bruin sake man/vrou nie ‘n winkelsentrum oprig in Springbok nie? Dit gaan nie hier oor bruin, swart of wit nie, maar ongelukkig het ons land ‘n tragiese geskiedenis van hoe jy volgens jou velkleur geplaas word en praat jy daaroor word jy ‘n rassis genoem! En dis ‘n feit soos more dat die ekonomie in Namakwaland beslis nie in die hande van bruin mense is nie.

Nietemin is Namakwaland besaai met innemende, hartlike mense wat hul laaste bietjie kos sal voortsit vir hul gaste van ver. Kuier jy vir ‘n naweek saam met hierdie volk is daar trane wanneer jy oppak om terug te keer na jou dorp en besef dan dat jou naeltjie en herkoms eintlik hier begrawe lê. Inderdaad ’n deel van Suid-Afrika waar die mooiste stories in ‘n unieke Afrikaans vertel kan word, maar ons talentvolle kunstenaars kan nie hul eieTV kanaal begin nie, want… ons het nie die kundigheid of kapasiteit nie, ongeag die miljarde wat daagliks hier gemyn word. Jaarliks stroom toeriste na die streek om die unieke blommeprag te aanskou en sien dan net die mooi van Namakwaland. Met my eerste besoek aan Namakwaland was dit nie die minerale ryk en blommeprag wat my oortref het nie, maar die unieke karakter en menswees van hierdie volk wat nou eintlik aan die voorpunt moet staan van die grootskaalse ontwikkeling op pad.

Ek hoop van harte die tragiese verval in Postmasburg, Kathu, Kuruman en Hotazel waar baie mense van Namakwaland tans werk om ‘n lewe vir hul geliefdes tuis te probeer skep ‘n eye opener sal wees van die soveel leë beloftes van mynbesture van hoe hulle die geaffekteerde gemeenskappe sal ontwikkel. Kom ons vertrou die verkose leiers is paraat, het ‘n duidelike visie en, staan op vir die mense van Namakwaland sodat volhoubare ekonomiese ontwikkeling nie net gereduseer word tot ‘n powerpoint presentation met die mooiste engels nie.

Die ontstaan van mynbou in SuidAfrika in die middel 1800’s was die grondslag virApartheid en ekonomiese verdeeldheid op grond van ras. Dis tyd dat hierdie seer geskiedenis van mynbou in SAen veral vir die mense van Namakwaland herskryf word. Die tyd is nou! Is julle gereed?

This article is from: