
1 minute read
NETBALKRISES: Die Noord Kaap Het Een Geakkrediteerde
Die opposisie het die departement van sport, kuns en kultuur versoek om dringend in te gryp in die huidige netbal verknorsing in die Noord-Kaap wat moontlik die agteruitgaan van jare se ontwikkeling in netbal in Namakwaland en Noord Kaap, kan veroorsaak. Die hele provinsie het tans net 'n enkele geakkrediteerde Suid-Afrikaanse Netbalgradeerder wat 'n geakkrediteerde skeidsregterskursus mag aanbied. Die provinsie is te groot, en afstande en paaie is in 'n te slegte toestand, vir net een persoon om kursusse regoor die provinsie te fasiliteer.As gevolg hiervan, hang 'n geakkrediteerde netbalskeidsregterskursus, wat veronderstel is om op 25 Februarie in Springbok plaas te vind, in die weegskaal. Skeidsregterskursusse is hoog in aanvraag in die streek en ongeveer 20 skole, met tussen 80 en 100 deelnemers, het belangstelling in die komende kursus getoon.As die kursus nie voortgaan nie, sal dit verdere vordering in provinsiale netbal belemmer Weens ’n tekort aan gekwalifiseerde skeidsregters om wedstryde te blaas, tree onderwysers en ouers meeste van die tyd as skeidsregters op. Hulle het nie almal 'n duidelike begrip van die reëls nie. Dit kan lei tot verwarring en gevegte onder die skeidsregters, onderwysers en afrigters. Dit het ook 'n algehele negatiewe uitwerking op vordering in die sport. Sport speel 'n waardevolle rol in die persoonlike ontwikkeling van jongmense. Netbal is ook een van die gewildste skoolmeisiedeelnamesportsoorte in SuidAfrika. Die departement, saam met die geassosieerde sportliggame, is dit dus aan leerders in Namakwaland verskuldig om die fluitjie te blaas oor die hindernisse wat sport in die Noord-Kaap verhinder om sy volle potensiaal te bereik. -Veronica van Dyk

Advertisement