
2 minute read
Veilig, die hele jaar lank!
Kan julle glo, hier is ons weer besig met die laaste Rocketeer vir 2022? Soos julle reeds weet, is elkeen se veiligheid steeds my eerste prioriteit. Ons het die afgelope paar maande ʼn hele klompie veiligheidsaspekte bespreek. Ek deel weer kortliks ʼn opsomming van wat bespreek was met elkeen van julle. Onthou, ʼn veilige GWK hou vir ons elkeen oneindige voordele in.
Maart 2022: In Maart het ons gesels oor Wêreld-waterdag. Hierdie belangrike dag vind op 22 Maart plaas en fokus op dié mees kosbare hulpbron. Daar is verskeie wenke gedeel van hoe personeel by die werk, en huis meer water kan bespaar.
Advertisement
April 2022: Ons het oor die belangrikheid van Wêrelddae gepraat en die rede vir elkeen se bestaan. Hierdie tipe dae, soos Wêreld-bloedskenkdag en Wêreld-omgewingsdag, is tog baie belangrik om bewusmaking oor verskeie onderwerpe te bevorder. Wêrelddag vir veiligheid en gesondheid by die werk vind op 28 April plaas en ons het weer klem gelê op elkeen se veiligheid by die werk.
Mei 2022: Die nuus van die bekendstelling van ʼn nuwe SHE-handleiding is met elkeen gedeel. Hierdie nuwe gids is ʼn praktiese hulpmiddel wat sal help om risiko’s daagliks te bestuur, voorvalle te beperk en natuurlik ʼn veiliger en gesonder werkomgewing by GWK te skep.
Junie 2022: Vir GWK is Wêreld-omgewingsdag betekenisvol. GWK maak sy bestaan uit die bydraes van ons produsente. Sonder die voldoende beskerming en bewaring van ons landbou-omgewing sal ons as maatskappy en mense nie voort kan leef nie.
Julie 2022: ʼn Herinnering aan die belangrikheid van insidentrapportering en die nuwe SHE-handleiding is weer met personeel gedeel. Die nuttige handleiding is versprei deur elke besigheid se bestuurder, SHE-verteenwoordiger of toesighouer.
Augustus 2022: ʼn Groot aantal van ons personeel dra daagliks swaar items. ʼn Paar wenke oor die korrekte hantering en benadering rondom die optel en dra van swaar items is gedeel. Verkeerde tegniek by die uitvoer van ʼn fisieke taak kan lei tot ʼn rugbesering, wat in sekere gevalle permanente skade kan veroorsaak.
September 2022: Ja, ons het weer oor rapportering gesels. Rapportering het ʼn rimpel-effek wat die res van GWK se algemene veiligheid beïnvloed. Hoe meer ons weet, hoe beter vir ons almal. Vinnige rapportering leer ons hoe om dieselfde voorval te voorkom of hoe om dit beter te bestuur. SharePoint gee maklike toegang tot vinnige, eenvoudige insidentrapportering.
Oktober 2022: Ná genoeg van my eie menings oor die belangrikheid van insidentrapportering, het ons by GWK se voorste veiligheidsbeamptes gaan uitvind oor juis waarom hulle so gereeld alle voorvalle rapporteer. Hierdie waardevolle personeelterugvoer gooi die kollig op hoe hierdie tipe insidente daagliks hanteer moet word.
Bly veilig en ‘watch out’!
Groete, Walter
O ja, en ontmoet my nuwe mede-kampvegter-vir-veiligheid...
Peet Boshoff (Spesialisbestuurder: Veiligheid en Verliesbeheer)
Peet Boshoff het op 15 Augustus 2022 by ons span aangesluit en dra die GWK-personeel se veiligheidsbelange op die hart. In sy kort tydjie by GWK het hy reeds verskeie inisiatiewe aangepak en ʼn verskil kom maak.
“Die beleide en veiligheidsprosesse by GWK is van ʼn ongelooflike hoë standaard – ʼn standaard wat ʼn mens by min besighede kry,” sê Peet. “Daar is egter steeds baie insidente wat nie gerapporteer word nie en dit hou ʼn risiko vir GWK in. My fokus is daarop om die bestaande kultuur en fondament van veiligheid verder te versterk.
Hy sê dat dit hom energie gee om deel van ʼn oplossing te wees wat waardevol is – van grond- tot op divisievlak. “Wat my die meeste opgewonde maak, is die span en die spandinamika. Ons is betrokke by so baie projekte waarop ek voorwaar trots is.
Sy boodskap aan die GWK-span is om te onthou dat ʼn veilige werksplek afhang van proses- sowel as persoonlike veiligheidsprogramme, en dat almal hierop moet inkoop. “Bestuur gee werklik om vir elke personeellid se veiligheid en ons moet elkeen omsien na ons kollegas. Ek nooi almal uit om aan boord te wees van hierdie rocket!”