
10 minute read
Les 1: Positiewe selfbeeld – liggaamsbeeld
Inleiding
Ons gaan in die eenheid na ’n aantal temas kyk en meer daarvan leer. Die volgende is net ’n kortlikse inleiding tot die temas. Jou selfbeeld bepaal wat jy van jouself dink en dit het ook ’n invloed op die suksesvolle bereiking van jou ideale. Selfbeeld het ook ’n ander aspek: liggaamsbeeld. Dit is wat jy van jou liggaam dink. Jy moet respek hê vir jou liggaam en dié van ander mense. Dit is belangrik dat jy jouself aanvaar vir wie jy is.
Elke mens het sekere belangstellings, vermoëns en potensiaal. Dit hang van jou af hoe jy dit gebruik om jou volle potensiaal te bereik. Dit is belangrik dat jy dus weet wat jou belangstellings is, wat jou vermoëns is en wat jou potensiaal is. Jy moet geleenthede skep om hierdie eienskappe van jou tot jou voordeel aan te wend.
Groepsdruk is nie ’n vreemde konsep nie. Jy kry elke dag daarmee te doen. Jy moet groepsdruk reg hanteer. Negatiewe groepsdruk kan negatiewe gevolge hê vir ’n persoon. Ons gaan laastens kyk na probleemoplossingsvaardighede en hoe dit toegepas kan word in konfliksituasies.
Les 1 Positiewe selfbeeld – liggaamsbeeld
1.1 Begrip en respek vir liggaamsveranderinge
Jy het seker agterkom dat jou liggaam in die laaste paar jaar begin verander het. Ons noem dit puberteit. Puberteit begin op ongeveer nege jaar, en eindig op ongeveer 17 jaar. In dié tyd gaan jou liggaam deur verskeie veranderinge gaan. Jy gaan ook emosioneel verander. Dit is ’n moeilike tyd in jou ontwikkeling en dit is belangrik om met iemand te kan praat as jy nie mooi verstaan wat gebeur nie.
Jy kan iemand naby aan jou in jou vertroue neem – jou ma, pa, ouer broer/suster of enige iemand anders wat jy vertrou en die vrymoedigheid het om dinge mee te deel. Ons moet ons liggaamsveranderinge respekteer, asook die verskille tussen mense. Jy is ’n unieke persoon wat jou eie uniekheid en selfbewustheid moet kan identifiseer. Probeer om jouself te sien waar jy voor ’n spieël staan.
Doen die volgende aktiwiteit om te toets of jy ’n goeie selfbewustheid het.
Aktiwiteit 1
1. Skryf twee karaktertrekke van jouself neer. 2. Beskryf jou persoonlikheid. 3. Ken jy jouself? Hoe hanteer jy uitdagings? Is jy selfversekerd en selfgeldend? 4. Hoe tree jy op as jy in ’n konfliksituasie is? 5. Wat is jou swakpunte en jou sterkpunte? 6. Noem ten minste twee maniere hoe jy stres en druk by die skool en huis hanteer.
As jy die aktiwiteit eerlik kon antwoord, dan beteken dit dat jy ’n goeie idee het van wie jy is. Dit is ’n baie goeie eienskap!
Aktiwiteit 2
1. Soek ’n foto van jouself toe jy agt jaar oud was en ’n onlangse foto (11 of 12 jaar oud). 2. Plak die foto’s in jou werkboek. 3. Bestudeer die foto’s saam met ’n maat of jou fasiliteerder. 4. Lyk jy nog dieselfde as toe jy nog agt jaar oud was? 5. Hoe het jou liggaam verander die afgelope drie tot vier jaar? 6. Hoe dink jy moet jy jou maats respekteer as hulle liggame begin verander? 7. Hoe dink jy moet jy jou eie veranderinge respekteer?
Verskeie veranderinge vind tydens puberteit in seuns en meisies se liggame plaas.
Meisies: ● Sit gewig aan en word langer. ● Gesigsvorm verander. ● Die vel verander en produseer meer olie, wat puisies/aknee kan veroorsaak. ● Hare begin onder die arms en op die geslagsdele groei. ● Die hart word groter en swaarder en bloeddruk verander. ● Borste begin groei en heupe word breër.
Seuns: ● Sit gewig aan en word langer. ● Gesigsvorm verander. ● Die vel verander en produseer meer olie, wat puisies/aknee kan veroorsaak. ● Die stem word dieper. ● Hare begin onder die arms, op die geslagsdele, die gesig, rug, arms en bene groei. ● Die hart word groter en swaarder en bloeddruk verander.
Figuur 1.1
Aktiwiteit 3
1. Dink jy ons moet ons maats se liggaamsveranderinge respekteer of moet ons grappies daaroor maak? 2. Hoe sal jy voel as iemand negatiewe goed sê oor jou liggaam wat verander? 3. Hoe dink jy kan ons ons maats help om gemaklik te voel met hulle liggame wat verander? 4. Wat kan jy doen om die veranderinge vir jouself makliker te maak?

Figuur 1.2
1.2 Ander invloede op liggaamsbeeld: media en gemeenskap
Kommunikasie behels die stuur en ontvang van boodskappe. Kommunikasie geskied deur die media, bv. koerante, tydskrifte, televisie, internet, sosiale media, flieks en radio. Ons word almal beïnvloed deur dít wat ons sien, hoor en lees. Jou besluite word in baie gevalle beïnvloed deur wat jy in tydskrifte lees of op die televisie sien.
Die boodskappe wat deur die media uitgestuur word, is baie kragtig en bereik baie mense. Dit kan positiewe boodskappe wees soos die belangrikheid van goeie eetgewoontes, of negatiewe boodskappe soos advertensies wat begeertes skep vir ’n sekere produk. Televisie-advertensies wys dat jongmense wat drank gebruik baie vrolik is en ’n gelukkige lewe lei. Dit wys egter nie die nagevolge van drankmisbruik nie; dit is ’n misleidende uitbeelding van die lewe. Televisieprogramme skep ook ’n misleidende uitbeelding van die lewe. Mense vergeet dat die stories nie werklik is nie en probeer soos die karakters lewe.
Die media plaas baie druk op mense, veral tieners, om ’n sekere manier te lyk. Jy kyk dalk na al die mooi modelle en filmsterre en wil ook soos hulle lyk. Die media gebruik verskeie metodes soos Photoshop om mense op foto’s perfek te laat voorkom. Dit skep ’n wanindruk van wat as “perfek” beskou word. Tieners is baie maklik beïnvloedbaar juis omdat hulle in ’n tydperk van hul lewe is waar hulle onseker is van hulself en nog besig is om hulself te leer ken. Die media gebruik dié feit om tieners te bereik en te beïnvloed.
Aktiwiteit 4
Bestudeer die foto’s en beantwoord die vrae wat volg.
(Sien die kleurweergawe in die kleurbylae.)

Figuur 1.3
1. Kan jy enige verskille opmerk tussen die twee foto’s? 2. Wat dink jy word dié proses van verbetering genoem? 3. Dink jy dit gee ’n ware beeld van die persoon weer? 4. Dink jy dit skep ’n wanindruk van skoonheid by tieners? 5. Hoekom sê jy so?
Die media vertoon veral filmsterre en modelle in reklameveldtogte. Dié mense is gewoonlik rolmodelle vir tieners. Tieners wil graag soos hulle wees en soos hulle lyk. Dit skep soms probleme indien die persoon nie ’n positiewe rolmodel is nie. Die persoon is dalk brandmaer, of rook en drink baie. Dit kan daartoe lei dat die seun/meisie wat die persoon navolg, dieselfde dinge gaan doen om soos die persoon te wees.
Kom ons kyk na twee voorbeelde:


Figuur 1.4
Aktiwiteit 5
1. Skryf alles neer waarvan jy hou aan jou liggaam. 2. Watter dinge hou jy nie van jou liggaam nie? 3. Hoe sal jy die perfekte liggaam beskryf? 4. Dink jy dat die meeste mense perfekte liggame het? 5. Watter dinge beïnvloed jou idee van ’n perfekte liggaam? 6. Wat dink jy is belangriker – hoe mens lyk of hoe mens optree? 7. Dink jy dis belangriker om mooi van binne as buite te wees? 8. As jy deur tydskrifte blaai en al die “perfekte” mense sien, hoe laat dit jou oor jouself voel? 9. Dink jy dat jy ’n goeie liggaamsbeeld het? Gee ’n rede vir jou antwoord.
Die gemeenskap waarin jy woon kan ook jou liggaamsbeeld beïnvloed. Jy is dalk anders as die meerderheid mense in jou gemeenskap en voel dan dat jy nie aanvaar word nie. In sommige Afrika-kulture is dit aanvaarbaar as mens oorgewig is; dit word selfs as ’n statussimbool beskou. In baie Westerse kulture is dit weer meer aanvaarbaar om maer – en selfs brandmaer – te wees.
1.3 Aanvaarding van self
Die heel belangrikste stap wat iemand in sy/haar lewe kan doen is om haarself/ homself te aanvaar. Jy kan besluit om jouself te aanvaar net soos jy is, sonder om iets te verander, of jy kan besluit om sekere vaardighede aan te leer sodat jy kan groei en ontwikkel.

Figuur 1.5
Ons is almal verskillend, met verskillende persoonlikhede en liggaamsvorme. Sommige mense is lank en maer en ander is kort en mollig. Daar is dalk sekere dinge wat jy graag sal wil verander aan jou liggaam. Jy kan dalk gewig verloor of fikser word, maar daar is ook dinge wat jy nie kan verander nie, soos jou neus of ore. Jy kan die keuse maak om altyd ongelukkig en selfbewus daaroor te wees óf jy kan dit aanvaar en jouself liefhê ongeag jou “foute”. Deur jou liggaam te versorg en op te pas, kan jy trots wees op wie jy is.
Strategieë om myself te aanvaar vir wie ek is:
● Fokus altyd op jou positiewe eienskappe, soos jou mooi hare. ● Verander dit wat jy kan, soos om daardie ekstra gewig af te skud! ● Jy moet vir jouself kan lag – aanvaar jouself met foute en al. ● Jy moet nie jouself met ander mense vergelyk nie – jy is uniek. ● Versorg jou liggaam elke dag met liefde. ● Wees trots op jou voorkoms.
Aktiwiteit 6
1. Maak ’n selfaanvaardingslys. Dit is ’n lys van al die eienskappe van jouself waarvan jy hou.
Sluit dinge van jou liggaam, asook jou persoonlikheid in. 2. Plak die lys êrens teen ’n muur op waar jy dit elke dag kan sien. 3. Lees dit elke dag.
1.4 Lees oor ’n positiewe liggaamsbeeld
Lees die volgende leesstuk.
Aanvaar jouself en fokus op dinge wat jou gelukkig maak
Hou jy van hoe jou lyf lyk? Baie kinders en tieners is ontevrede met hul liggaamsbeeld. Hulle sien filmsterre, modelle en sportmense op televisie en in tydskrifte en wil soos hulle lyk. Hulle weet nie dat baie van die foto’s en video’s van bekende mense op ’n rekenaar “verbeter” word om slegte vel, vetjies en ander “foute” weg te steek nie. Soms gebruik filmsterre ook dubbelgangers met mooier bene, sterker arms of platter mae vir sekere tonele. Dit wat ons sien, is dus nie altyd waar of realisties nie – dit is hoe mense in die film-, tydskrif- en advertensiewêreld dink ’n perfekte mens moet lyk.
Die druk van vriende, familie en die wêreld daarbuite kan jou ongelukkig maak oor hoe jy lyk. Dit kan maak dat jy ongesonde diëte volg of skaam en teruggetrokke raak. Dit is belangrik om met jou ouers en vriende te praat as jy so voel, sodat hulle jou kan help om ’n positiewe liggaamsbeeld te skep.
Jy het ’n positiewe liggaamsbeeld wanneer jy weet en aanvaar dat: ● mense se lywe verskillende groottes en vorms het. ● jou liggaamsgrootte en gewig nie jou geluk, sukses of gesondheid voorspel nie. ● elke mens uniek is, met verskillende talente, vaardighede en vermoëns. ● foto’s en beelde in die media onrealisties is en gebruik word om produkte (bv. klere) te verkoop.
Vergelyk jouself met jou familielede. Het jy dalk jou pa se neus of glimlag geërf? Of jou ouma se mooi stem en krulhare? Jou ma en pa se gene is gemeng toe jy gemaak is, sodat jy van hulle eienskappe of dié van jou oupa en ouma geërf het. Jy kan hierdie eienskappe nie sommer verander nie. Fokus eerder op dié eienskappe waarvan jy wel hou en wat jy dalk kan verbeter – ’n mooi stem kan geoefen word om musiek te maak of sterk bene om vinnig te hardloop.
Dis ook belangrik om na jouself te kyk en jou liggaam op te pas. Jy kan dit doen deur die regte kos te eet; jouself skoon te hou en skoon aan te trek; te oefen, genoeg te slaap; te speel en pret te hê; vir ander om te gee en wat jy ook al het te deel; jouself te beskerm van gifstowwe soos sigaretrook en alkohol; en positief en gelukkig te wees.