
9 minute read
LES 1.1.4: Strategieë om selfvertroue en vertroue by ander te bou
Aksieplan
Aksies Wie is betrokke? Wat het ek nodig? Wanneer moet dit klaar wees?
Selfvertroue is die verstandhouding dat jy jou eie oordeel en vermoëns vertrou. Dit beteken eenvoudig om vertroue in jouself te hê. Vertroue word op verskillende manier gewys. Dit kan die manier wees hoe jy optree, met ander woorde hoe jy kommunikeer en jou liggaamstaal. Vertroue is die term wat ons gebruik om te beskryf hoe ons voel oor ons vermoë om rolle, funksies en take te vervul.
Selfversekerde mense is oor die algemeen meer positief teenoor die wêreld en die mense rondom hulle en oor hul daaglikse aksies en take. Om beter ingelig te word oor verskillende kwessies, dikwels met mense te praat en om positiewe denke te beoefen is alles nuttige maniere om jou vertrouevlakke te verbeter. (Skills You Need, s.j.)
Verbeter kommunikasievaardighede
Dit is nie altyd vir almal maklik om voorleggings te doen of om moeilike gesprekke te voer nie. Om met vertroue te kommunikeer moet jy weet wat jy wil sê en duidelik sê wat jy wil.
Wenke vir selfversekerde kommunikasie
• ’n Stabiele, duidelike stem. Oefen om te praat sonder om te fluister of te stotter. • Maak oogkontak met jou gehoor. • Luister aandagtig na ander. • Wees selfversekerd. Moenie selfvertroue met aggressiwiteit verwar nie. • Praat uit die hart uit – as jy geesdriftig is oor wat jy sê sal jy meer selfversekerd voel. (Matta, 2012)
Beplan om opdragte suksesvol en betyds te voltooi
Wanneer jy take afhandel gee dit ’n gevoel van prestasie en bevorder dit selfvertroue. Hou op om uit te stel en begin doen wat gedoen moet word. Behoorlike tydsbestuursvaardighede is net so belangrik soos behoorlike kommunikasievaardighede.
Nuttige riglyne
• Hou ’n beplanningsboek waarin jy al jou aktiwiteite beplan en jou tyd bestuur om jou spertye te haal. • Verwyder alle afleidings, bv. TV, sosiale media, foon. • Wens jouself geluk vir elke taak wat suksesvol en betyds afgehandel word, en beloon jouself.
Probleemoplossing en besluitneming
As jy jou eie oordeel en vermoëns vertrou, sal dit makliker wees om die werklike bron van probleme te identifiseer en besluite te neem om daardie spesifieke kwessie op te los of te oorkom. Ons weet dat as dieselfde probleem weer opduik, die rede waarskynlik is dat jy nie die werklike kwessie wat die probleem in die eerste plek veroorsaak het kon identifiseer nie. Elke keer wat jy begin om jou besluite te betwyfel, sal jy van jou selfvertroue verloor en begin om jou eie vermoëns te betwyfel.
Probleemoplossing en besluitneming Enkele nuttige riglyne om probleme op te los of besluite te neem
• Identifiseer die probleem of die kwessie duidelik. Probeer verstaan waarom jy dink dat daar ’n probleem is. • Probeer om moontlike oorsake van die probleem te kry. Maak ook staat op ander mense se insette en luister na hul menings. • Identifiseer alternatiewe wyses waarop jy die probleem kan benader om dit op te los. • Hou ’n dinkskrum met ander om moontlike oplossings te vind. • Besluit wat die beste moontlike oplossing vir die probleem is. • Implementeer jou finale besluit. • Evalueer die uitkoms. Het jou plan gewerk? Was dit die beste oplossing?
Probleemoplossingsmetode
Ons neem dikwels besluite volgens ons emosies. Om seker te maak dat die besluit lewensvatbaar en die beste beskikbare persoonlike opsie is, moet ’n logiese benadering geïmplementeer word. Steun op baie verskillende menings van diegene wat nie emosioneel by die probleem betrokke is nie.
Doeltreffende probleemoplossing en besluitneming sal in graad 11 in meer detail gedek word.
Hoe om vertroue by ander te bou
Dit is nie altyd maklik om vertroue by ’n ander persoon te kweek nie. Jy kan hulle net aanmoedig om meer selfversekerd te wees. Kom ons kyk na ’n paar maniere om hulle aan te moedig.
• Vier sukses. Jou vriend het sy toets geslaag. Probeer om hom geluk te wens met sy sukses. Vertel hom hoe ongelooflik jy dink dit is. • Gee dikwels komplimente. Komplimenteer mense oor dinge wat hulle goed gedoen het. Baie mense is oorkrities van hulle optrede. Bevestiging dat iets goed gedoen is, sal hulle aanmoedig en motiveer. • Luister om te leer. Leer om te luister as iemand met jou praat. Moenie dit net wegwuif wanneer iemand uiting gee aan hul angs of onsekerheid oor iets wat hulle moet doen nie. Gee ondersteuning en goeie raad. Probeer om mense te ontmoet wat anders as jy is. Fokus op hulle uniekheid en wat jy van hulle kan leer. • Erken en respekteer uniekheid en verskille. Probeer om meer te leer by mense wat anders as jy is. Hoe beter ons ander verstaan, hoe makliker kan ons hulle ondersteun.
VIR DIE NUUSKIERIGE Die krag van positiewe denke: Hoe gedagtes jou lewe kan verander
deur Brian Tracy
Brian Tracy is ’n Kanadees-Amerikaanse motiveringspreker en selfontwikkelde skrywer van meer as tagtig boeke. Hieronder volg ’n opsomming van die belangrikste aspekte van sy artikel.
Kan jy raai waaraan die suksesvolste en gelukkigste mense heel dag dink? Die antwoord is heel eenvoudig ...
Gesonde, gelukkige mense dink meestal aan wat hulle soek en hoe om dit te kry. Op hierdie wyse kan die ontwikkeling van ’n positiewe ingesteldheid jou lewe deur-en-deur verander.
Wanneer jy dink en praat oor wat jy wil hê en hoe om dit te kry, voel jy gelukkiger en beter in beheer van jou lewe. Wanneer jy aan iets dink wat jou bly maak, skei jou brein endorfiene af, wat jou ’n algemene gevoel van behaaglikheid gee. Gevolglik ontwikkel jy ’n positiewe ingesteldheid.
Hoe om positief te dink
Volgens baie sielkundige toetse blyk dit dat gelukkige mense ’n spesiale eienskap het wat hulle in staat stel om ’n beter lewe as die gemiddelde mens te leef.
Kan jy raai wat dit is? Dit is die eienskap van optimisme!
Die beste nuus oor optimisme is dat dit aangeleer kan word. Dit beteken dat jy kan leer hoe om positief te dink deur ’n optimistiese ingesteldheid in te neem.
Die wet van gevolg en oorsaak beteken dat indien jy doen en sê wat ander gesonde, gelukkige mense met positiewe gesindhede doen en sê, sal jy binnekort ook soos hulle voel, dieselfde resultate kry en dieselfde ervaringe geniet.
Gelukkige mense vind die goeie in die wêreld
Optimiste blyk om ander maniere te gebruik om die wêreld te hanteer, wat hulle van die gemiddelde mens onderskei.
1. Eerstens hou hulle hulle gedagtes op wat hulle wil hê en is altyd op soek na maniere om dit te kry. Hulle is duidelik oor doelwitte en hulle is vol vertroue dat hulle dit vroeër of later sal bereik. 2. Tweedens, optimiste soek die goeie in elke probleem of moeilikheid. Wanneer dinge verkeerd loop, soos dikwels gebeur, sê hulle: “dis goed!” En dan begin hulle vir iets positief oor die situasie soek.
Ons weet dat indien jy vir iets goed of voordelig in ’n persoon of situasie soek, jy dit altyd sal vind. En terwyl jy soek sal jy ’n meer positiewe en vrolike mens wees.
Die krag van positiewe denke
Optimiste soek die waardevolle les in elke terugslag of ommekeer. Eerder as om ontsteld te raak en iemand anders te blameer vir wat gebeur het, neem hulle beheer van hul emosies deur te sê: “Wat kan ek uit hierdie ervaring leer?”
Besluit vandag om te leer hoe om positiewe denke en ’n positiewe ingesteldheid teenoor jouself, die mense om jou en jou lewe te ontwikkel.
Hoe leer jy jou brein om positief te dink?
Jy kan jou brein leer om positief te dink deur ’n eenvoudige konsep toe te pas. Jou brein het genoeg bandwydte om net op een gedagte op ’n slag te fokus. Al wat jy moet doen is om op opbeurende gedagtes te fokus tot jy dieselfde soorte senupaadjies vorm wat geskep word wanneer jy ’n nuwe gewoonte vestig.
Wanneer ’n negatiewe gebeurtenis voorkom, onthou dat dit jou reaksie is wat werklik die uitkoms bepaal. Soek altyd vir die positiewe reaksie of optimistiese les wanneer sulke gebeurtenisse voorkom.
Besluit om gelukkig te wees
Besluit om van nou af jou lewensglas as halfvol eerder as halfleeg te sien. Gelukkige mense sê dankie vir die baie seëninge in die lewe eerder as om te bekommer of te kla oor die dinge wat hulle nie het nie.
Veronderstel dat almal om jou die beste bedoelings het. Die meeste mense is ordentlik, eerlik en probeer om hul absolute beste te doen. Wanneer jy na iets goeds in hulle woorde en dade soek, sal jy amper altyd iets vind.
Jou positiewe ingesteldheid in werking
Dit is maklik om vrolik te wees wanneer alles volgens plan verloop. Maar dit is wanneer jy onverwagte terugslae en probleme teëkom dat jy aan jouself, en die wêreld om jou, wys watter soort ingesteldheid jy werklik het. Maak seker dat dit ’n positiewe een is!
Hoe positiewe denke jou kan help
Die ontwikkeling van ’n positiewe ingesteldheid kan jou op meer maniere help as wat jy dalk besef. Wanneer jy positiewe gedagtes dink, laat jy nie toe dat jou bewussyn of onderbewussyn enige negatiewe gedagtes of twyfel het nie. Nadat jy geleer het hoe om positief te dink, sal jy merkwaardige veranderinge oral om jou opmerk. Jou brein sal begin werk in ’n toestand van vryvloeiende goedvoelhormone wat endorfiene genoem word, wat jou ligter en meer gelukkig sal laat voel. Jy sal ook ’n groot versterking van vertroue opmerk en sal meer geskik voel om nuwe take en uitdagings te hanteer wat voorheen dalk buite jou gemaksone was. Deur jou selfbeperkende sienings te verminder, sal jy in werklikheid jouself bevry om groei te ervaar soos jy jou nog nooit kon voorstel nie. In kort, jy kan jou hele lewe verander deur eenvoudig die krag van positiewe denke in te span.
Opsomming
Bron: bit.ly/3sZqDaF
Om as mens te kan ontwikkel en groei is dit belangrik om jou selfbewustheid te verhoog. As jy jouself beter verstaan, jou sterk punte en swakhede ken, bied dit jou ’n kans om strategieë te ontwikkel om jouself te verbeter. Jy moet verstaan wat jou eiewaarde kan beïnvloed en hoe dit jou vlak van selfvertroue en verhouding kan beïnvloed. Jy moet beheer oor jou eie persoonlike ontwikkeling neem. As jy jou eie visiestelling formuleer en duidelike en slim doelwitte ten doel stel, sal dit help om jou drome te vervul.
LES 1.1: Assessering
1. Lys DRIE effekte van ’n swak eiewaarde op ’n persoon se persoonlike ontwikkeling. (3 × 1) = (3) 2. Wat is die verskil tussen selfbewustheid, eiewaarde en persoonlike ontwikkeling? (3 × 1) = (3) 3. Bespreek VIER maniere om eiewaarde te verbeter. (4 × 1) = (4) 4. Jou vriend sukkel met lae selfvertroue. Stel VIER strategieë voor wat jy kan inspan om jou vriend te help om sy selfvertroue te verbeter. (4 × 1) = (4) 5. Verduidelik hoe belangrik dit is om ’n duidelike visie te hê om jou doelwitte te bereik. (2 × 1) = (2) 6. Jou vriend het ’n negatiewe uitkyk op die wêreld en homself. Hy sien net ’n droewige toekoms. Skryf ’n kort paragraaf oor die voordele van positiewe denke. Jy kan na die artikel deur Brian Tracy verwys. (4 × 1) = 4