8 minute read

BRIG. PAUL BOTHMA DIE VROUEPOLISIE SE EERSTE KOMPANIE-BEVELVOERDER:

Sarie van Niekerk

Hierdie artikel oor wyle brig. Paul Botha, die vrouepolisie se heel eerste kompaniebevelvoerder het in die “Gloriejare van die Suid-Afrikaanse Polisiemag” wat uitgegee is met die honderdste herdenking van die stigting van die polisie in 1913.

Advertisement

Dié wat weet sê enige dogter of vrou, maak nie saak hoe oud nie, het ‘n vaderfiguur nodig. Ek kan onthou my eie pa het altyd gesê maak nie saak hoe lief ‘n meisiekind vir haar ma is nie, of hoe oud die meisiekind ook al mag wees nie, daar is mos net daai ekstra band wat pa en dogter bind. Toe ons eerste groep dames in Maart 1972 omtrent soos ‘n klomp verlore skape in die polisiekollege gekom het en só verlore was dat ons gevoel het soos 102 dogtertjies wat die eerste keer skooltoe gaan, het ons ook ‘n pa gekry wat ons teen die aanslae wat op ons gewag het, sou beskerm. Glo my, ons pa het dit op wonderlike wyse gedoen, soos net ‘n pa sy eie dogters kan beskerm. Vir die doeleindes van hierdie artikel het brig. Brig. Hennie Heymans (afgetree) en ek destyds ure lank by sy weduwee, Zelda, gaan kuier en groot kopstukke met haar gesels. Sy is vandag al diep in haar tagtigs en woon in Oudshoorn in ‘n aftreeoord. Die dag toe haar man gehoor het hy sal betrek word by die opleiding van die eerste groep polisievroue onthou sy nog so goed. “Dit was in 1971. Ons was by ‘n vrouefunksie in die Gouwsgebou toe die destydse genl. Van Heerden na ons gekom en aan Paul gesê het ‘ou Paul ons het in die week besluit jy gaan behulpsaam wees met die dames volgende jaar – en my seun, ek sê vir jou, as dit nie suksesvol is nie, is Lusikisiki jou voorland.’” Sy bly ‘n paar oomblikke stil voor sy verder vertel. “Vir ons dames was dit net sowel jy gooi ‘n stuk wors in ‘n hondehok. Dit het my jare teruggeneem na my matriekjaar toe ek ’n fliek gaan kyk het oor Marie Antoinette van Frankryk op die brandstapel. Ek kon my toe vir die eerste keer vereenselwig met haar. Dit was vir my ‘n bedreiging gewees om te dink aan al die jong vroue met wie my man elke dag te doen gaan kry. Ek het vir myself gesê ‘sussie, jy sal op jou tone moet wees.’” Sy lag diep en lekker as sy vertel van die mooi dame van opleidingsgroep wat saam met haar in die ou sinkkerkie in die polisiekollege in die koor gesing het. “Sy kon vir jou lyf swaai! Sy het gesê ons moet weet sy het ‘n diploma agter haar naam. Toe daar vier maande later ‘n yslike bom bars en die einste dame se verhouding met ‘n polisie kapelaan deur Paul en ‘n ander offisier op die lappe gebring is, was ons dames se vrese opnuut aangeblaas. Ek veral het gedink as die predikant nie eers sterk staan nie, wat van ons gewone mans!” Sy sê haar man se woorde aan haar toe hulle die voorval bespreek het, dra sy jare ná sy dood nog steeds saam met haar. “Hy het my rustig aangekyk en gesê ‘my vrou, jy hoef nie bang te wees nie, hulle kan my saam met die vroue in die barakke toesluit, dan sal jy nog steeds niks hê om oor bekommerd te wees nie.’” Dit was genoeg vir haar, want haar man se ja was sy ja en sy nee was sy nee, sy woord was woord en sy versekering was eerlik, reguit en opreg. Tog, so elke nou en dan het sy maar weer die groenbaadjie van jalousie aangetrek, maar ook geweet dit was alles sommer net nonsens. Toe ons klomp die eerste dag op die paradegrond die destydse kapt. Bothma sien, het die meeste van ons onmiddellik geweet hierdie is geen onbekende gesig nie. Ons almal het geweet hierdie ou (toe het ons nog nie range geken nie) het ons al êrens gesien. Toe gaan die liggies skielik aan en ons het geweet dit was nie ons verbeelding nie, hy was toe reeds baie jare lank aan die voorpunt van die polisie se berede-afdeling tydens die jaarlikse parlementsopening.

Dit was die einste polisieman wat so regop soos ‘n laaistok op die mooiste perd vooraan die berede-optog gery het Min mense kon op n perd sit soos brig. Paul Bothma. Hy was ‘n bekende perdespringer wat met die grootste grasie oor die hindernisse kon spring, wat die beste uit sy perd gekry Sy eerste verwelkomingswoorde op daai snikhete dat op die kollege paradegrond, het sag, maar baie duidelik met baie gesag, oor die koppies van Pretoria-Wes weerklink. Hy het fier en regop daar gestaan en ons welkom geheet in ‘n wêreld wat tot dusver net ‘n mannewêreld was. Hy het reguit vir ons gesê hy voel net so uit sy plek uit soos ons groepie wat besig was om groot geskiedenis te maak, “maar saam sal ons die uitdagings aanpak en aan dié wat die opleiding van vroue teengestaan het, bewys daar is plek vir vroue in die polisie. Inteendeel, dat dit reeds jare gelede moes gebeur het.” Hy het egter ook gewaarsku dat alhoewl ons die geskiedenismakers is, dit nie beteken dat ons nie volle en deeglike opleiding sou kry nie. Hy het erken die uitdaging is vir hom en die ander instrukteurs, almal manne, dalk groter as vir ons baanbrekers-groep. “Julle moet onthou, die land se oë is op julle 102 dames gerig Daar is baie wat wil hê julle moet misluk, maar gelukkig is daar ook meer wat wil hê julle moet suksesvol wees,” het hy gesê. Hy het sommer prontuit erken hy weet nie hoe om die dames te behandel nie, want het hy gesê “ons skreeu gewoonlik vir die manne ‘bors uit, maag in’ en dit sal seker nou nie gepas wees om dit vir julle te skreeu om te verseker daai skouers gaan nie sak gedurende dril- of paradewerk nie, maar julle is nou nie meer net dames nie, julle is dames wat julle gereed maak vir ‘n loopbaan in die polisie. Oor die einste onderwerp vertel mev. Bothma meer as 40 jaar later. “Ja, hy het baie keer gesê hy weet nie regtig hoe om die dames te hanteer nie, maar dat hy glo alles sal goed uitwerk, want dit lyk na ‘n groep uitstekende, met-die-handuitgesoekte dames. “Een ding kan ek vandag sê, hy het nooit die dames by die huis met my bespreek nie. By die huis was hy net Paul Bothma, my man en die pa van ons kinders. Die dames en dít wat in die kollege aangaan, het saans wanneer hy tuis gekom het, in die kollege agtergebly. Hy het enkele kere gepraat oor iets wat gebeur het en as hy saans moes teruggaan kollege toe om ‘n probleem te gaan oplos, maar ook nooit uitgewy oor dié probleme nie. Hy was vasbeslote om n sukses van die groep te maak. Maar die jaloerse strepie het nog so nou en dan by my opgekom. “Hoewel hy die dames saans, wanneer hy huistoe gekom het, by die kollege agtergelaat het, was daar tog die enkele kere dat hy noodgedwonge saans uitgeroep is kollege toe wanneer daar probleme met van die dames was. Dít was die tye dat die groenmonster vierkantig voor ons deur gaan staan het totdat hy weer by die huis was. Díe duiweltjie het maar so nou en dan gefluister-vra of ek séker is hy is nét kollege toe vir ‘n probleem. Ek het egter baie gou besef dat ek niks het om oor jaloers te wees nie. Vir Paul was die groep dames. Hoewel baie spesiaal, net nog ‘n groep student wat hy na die beste van sy vermoë moes voorberei vir die taak wat vir hulle voorgelê het. Ek gaan nie sê ek het nie soms probeer uitvra oor die dames nie, maar hy het net geglimlag en ons het oor ander dinge gesels.”

(Continued from page 62)

Wie was brig. Paul Bothma regtig? Wie was die laaistokkaptein met sy amperse kaalkop wat ons in 1972 in die kollege as ons kompaniebevelvoerder leer ken het.? Waar het hy vandaan gekom? “Hy is op die plekkie met die lekker naam Kamfersdam in die destydse Wes-Transvaal (Noordwes) gebore en getoë. Hy en sy familie het altyd gesê hy was sommer nog maar ‘n tjokkertjie toe hy reeds in perde begin belangstel het. Hy het vroeg in sy lewe begin perd ry. Dit was sy lewe. Hy het vroeg gewys hy kén sy sit op ‘n perd. Sy eerste deelname aan ‘n perdespringkompetisie was in 1949 terwyl hy in Kimberley gestasioneer was.” Dáár het sy kleuryke loopbaan op van die land se beste perde begin. Dit was seker net vanselfsprekend dat die polisie só ‘n perderuiter spoedig sou nadertrek vir meer as net konstabelwerk in Kimberley. Onthou, daardie tyd het perde nog ‘n geweldige groot rol in die polisie gespeel. Dit was die trots van die polisie. Ons onthou tog seker almal hoe die beredemanne jaarliks Kaapstad toe geneem is om swier aan die parlementsopening te verleen. Vir baie jare was brig. Paul Bothma aan die voorpunt gewees. Hy is in 1953 dan ook kollege toe verplaas waar hy gebly het tot met sy aftrede op 64 in Augustus 1989. Hy is vyf jaar later, op 7 Mei 1994, ná ‘n lang stryd met kanker, oorlede. Sy het verder vertel toe die offisiersvroue die eerste keer die geleentheid gekry het om die groep dames te sien oefen vir die uitpaseringsparade, het hulle vooraf gedink dit kan net ‘n gemors afgee. Hulle het al klaar gesien hoe die dames hulle lyfies gaan rondswaai.

“Mens, ons was aangenaam verras, amper geskok! Die dames was puik! Ons, die vroue van die polisieoffisiere, was ongelooflik trots op die dames! Die trots op Paul se gesig het boekdele gespreek.” Ek was ook deel van daardie eerste groep gewees, en ek self sal nooit daai trots op sy gesig vergeet nie. Hy het gestraal. Ek dink vandag nog ons het uitstekend gedoen. Ons het omtrent aan die manne gewys hoe dit gedoen moet word. Gedurende die parade het brig. Bothma se woorde waarmee hy ons vooraf gekalmeer het, telkens by my opgekom: “Julle kán dit doen, net so goed en selfs beter as die manne. Julle het hard gewerk en ek wéét julle gaan my trots maak op julle.”