1 minute read

HONDESTAALTJIES: Ansie van der Merwe

Ansie van der Merwe

Ek sit vanaand hier en besluit dat ek julle twee staaltjies wil vertel oor honde. Ek is 'n “German Shepard-meisie”. Ek het saam met hulle grootgeword en is nie bang vir honde nie. Ek is wel versigtig vir sekere rasse maar vir die Duitse herdershonde is ek baie lief.

Advertisement

In die tyd dat ek by ondersoek en navrae gewerk het, was ek en my dameskollega se grootste pret om op die kleinhoewes en plase te gaan dagvaardigings bedien.

Daar was een kleinhoewe met ongeveer vyf van dié honde en gewoonlik het my vriendin nooit uit die motor geklim nie. Ek het vinnig uitgespring en al spelende met die honde het ek gou my werk gedoen en woeps, daar gaan ons weer.

Maar dié betrokke dag gaan ons na die kleinhoewe en ek wip uit die motor en speel-speel loop ek en die honde na die voordeur. Ek klop-klop maar niemand maak oop nie. Ek wou net terug loop na die Volla sodat ons kan ry, toe die honde skielik vir my grom toe ek na die stoep toe beweeg. Nodeloos om te sê sit my vriendin in die kar en ek op die stoep, totdat die mense bietjie later opgedaag het. Hulle het verskriklik gelag maar het darem vir die dagvaardiging geteken. Toe die baas by die huis kom, was die spykerbekke weer my maatjies gewees.

Die tweede voorval is absoluut net so lagwekkend gewees. Op ‘n dag toe ons weer by ‘n ander huis gaan dagvaardigings bedien gaan ek en my vriendin saam by die hek in, waar daar ‘n Fox-terriër op ons afstorm. Sy vlieg kortom en uit by die hek en maak dit toe agter haar terwyl die dekselse hond sy beste probeer om my te byt. Die enigste “wapen” wat ek by my gehad het, was my polisiehoed en ek slaan daai brak dat my hoed in alle windrigtings staan. Toe ek omkyk na die hek, sien ek my vriendin lê oor die Volla se neus soos sy lag. Ek kon op ‘n manier die hek oop kry en uit die erf kom. Ek moes my hoed vervang. Ek hoop julle het net so lekker gelag soos ek.