3 minute read

Boodskap van die hoof

In die film “As jy sing”, is daar ‘n liedjie wat as volg lui: “Ek wil net skree, wil net skree, wil net aanhou skree en wil net gil, wil net gil oor die hele spul…hoor hoe raas die stilte…hoor hoe raas die stilte…” Vandaar die tema van 2021 BREEK DIE STILTE. En Kloof het behoorlik die stilte verbreek. Te midde van ‘n pandemie wat steeds daarbuite woed, het ons op akademiese, kulturele en sportgebied weer begin leef en die stilte behoorlik gebreek.

Vergun my eerstens die geleentheid om ‘n spesiale woord van dank en waardering aan ons matriekgroep van 2021 te rig. Vandat ek julle op dag een leer ken het, was julle die groep met gees en passie. Julle was waarlik die groep wat die stilte behoorlik sou breek, maar die jaar het nie uitgewerk soos ons gedroom het nie, en baie van julle graad 12-drome en ideale kon as gevolg van die pandemie nie verwesenlik word nie. Hoe lui die spreekwoord? ’n Boer maak ‘n plan en ‘n Klofie maak twee planne! Julle het steeds op julle unieke manier die stilte op soveel fronte gebreek. Julle tema het nie net gesinspeel op die maskers wat gedra word nie, maar op soveel meer. Saam met julle hoofleiers, Cilliers en Christine, het julle teen onregverdigheid, boelie en geweld opgestaan, en daarvoor salueer ek julle. Dankie ook aan me. Adri Campbell en mnr. Leon Coetzer wat vir vyf jaar, van Druppel tot Ideale Jong Volwassene, julle ouers was. Daar is ‘n spreekwoord wat lui: Make the world your oyster…neem dit wat Kloof jou geleer het en maak die verskil. Be the change. Hou op kla en maak die verskil!

Groot erkenning en waardering vir julle puik matriekuitslae. Julle het vir die 32 ste jaar vir Hoërskool Waterkloof weer ‘n 100% slaagsyfer gegee en een van die topskole in Suid-Afrika gemaak. ‘n Spesiale woord van gelukwensing aan Kristen Erasmus en Nadia Schmidt wat onderskeidelik as die nommer 1 en 2 topleerders in Gauteng aangewys is. My liewe Matrieks, gegewe julle uitdagings het julle werklik die stilte gebreek! Ek is ongelooflik trots op julle en ons beste wense vergesel elkeen van julle op julle lewenspad.

Aan al ons huidige Klofies en ons 441 nuwe Druppels, julle maak dat skool vir ons as personeel ‘n fees is. Die pandemie het elkeen van julle net so hard getref, maar deur harde werk en deursettingsvermoë het julle ook die stilte met puik prestasies op akademiese, kulturele en sportgebied gebreek. Ons tema vir 2022 is LIG OP DIE HORISON en wat ‘n opwindende jaar was dit nie al nie! Van ‘n ongelooflike begin met Joshua na die Reën tot ‘n interhuis waar almal met trots en dankbaarheid teenoor God gevul is. Klofies, saam sal ons, met die geesdriftige nuwe Druppels, aan ons tema LIG OP DIE HORISON gestalte gee, met die wete dat ons altyd sal vasklou aan ons leuse wat lui: BOU IN GELOOF!

Saam met al die mooi van die jaar, was dit ook een van die seerste jare in ons geskiedenis. Eerstens met die afsterwe van me. Carin de Beer, ’n legende in eie reg, ons dierbare Devon de Beer in graad 10 se skielike afsterwe en die dood van een van ons groot steunpilare in die skool, mnr. Japie Claassens. Groot bome het geval en hierdie drie spesiale mense sal altyd ‘n gat in ons harte laat, maar ons weet hulle is nog in die gees saam met ons.

Vergun my ook die geleentheid om ons fenominale Beheerliggaam, onder leiding van mnr. Nico van Aardt, vir hulle harde werk en ondersteuning gedurende die jaar te bedank. Ek is ‘n groot dromer. Dankie dat ek weet ek kan op elkeen van julle reken en dat julle vir my en die skool se drome vlerke gee.

Laastens, maar nie die minste nie, ons ouers. Baie dankie vir al u liefde en ondersteuning in die moeilike jaar. Ons het u ondersteuning op die pawiljoen so gemis, maar met die lig wat op die horison is, word u hartlik terugverwelkom op die skoolterrein. Kloof-ouers is passievolle ouers wat Kloof met trots dra en ondersteun. Ek en die kinders is baie bly daaroor en sien uit na ‘n mooi jaar saam met u.

Die Jaarblad is ‘n refleksie van die harde werk en toewyding van elke Klofie. Sonder julle is daar geen jaarblad nie. Geniet die besondere uitgawe en raak nostalgies oor ‘n bittersoet 2021. Soos Joshua na die Reën se liedjie lui: ”Jou verlede as is gestrooi …fokus op die mooi...soos Lig op die Horison… Nee…soos Kloof op die horison”!

Mnr. C. H. Denysschen Hoof

This article is from: