2 minute read

Hoofleiers

Voor v.l.n.r: Cilliers Diedericks, Christine Geertsema

In Graad 11 het ons gradegroep Survivor gespeel tydens Gradeopeninge. Dit was elke Woensdag ‘n opwindende gebeurtenis. Daar was immunity idols en tribal councils. Daar was bandannas en riddles. Presies soos die werklike Surivivors wat ‘n mens op televisie kyk.

As dit nie vir Covid was nie, sou ons uiteindelik ‘n Sole Survivor gekroon het. Iemand in die graad wat tot op die bitter einde oorleef het.

Ons Survivor was egter net ‘n speletjie. Dit was bloot kaperjolle.

Maar nou dat ons aan die einde van ‘n matriekjaar staan, kan ek getuig dat daar nie net 1 Survivor in ons groep was nie. Maar dat die Matrieks van 2021, uit 318 volwaardige Sole Survivors bestaan het.

Ons was ‘n groep wat ondenkbare dinge beleef het. Ons moes van ons drome sien wegvaar, en ‘n verwagte ideale matriekjaar sien verdwyn. Net om enkele voorbeelde te noem: Ons het eers op 15 Februarie met skool soos ons dit ken, begin. Sport oefeninge en wedstryde is verbied deur die Departement vir ‘n groot deel van die jaar. Daar was nie ‘n enkele atletiek byeenkoms met toeskouers nie. Ons het met tye geen pouses buite gehad nie - jy het in die klas gesit en jou kos geëet. In ons termyn was die hele skool slegs een keer bymekaar.

Ek noem nie hierdie feite om te kla of negatief te wees nie, maar eerder om die suksesse van ons groep te beklemtoon. Ons het kreatief floreer en dinge op ‘n innoverende manier aangepak. Daar was geen riglyne of voorbleede om te volg nie, want niemand moes vantevore wêreldklas in ‘n wêreldpandemie wees nie. Die Matriekgroep van 2021 het bestaan uit kinders met besonderse deursettingsvermoë. Individue wat met aanpasbaarheid geleef het. Dit was leerders wat gemotiveerd gestreef het om die heel beste te maak van die omstandighede en geleenthede wat hulle gebied is. Die Matrieks het bewys dat ‘n positiewe gesindheid en ‘n goeie humorsin steeds moontlik was, ongeag van die omstandighede.

Ons oorwinnings was nie fisies, in die vorm van trofees of medaljes nie, maar eerder in ons innerlike sterkte. Ons glorie was om die skool te lei en te verbeter, terwyl die land se jeug gesukkel het. Ons sterkpunt was om nooit, nooit op te gee nie. Ons voorbeeld was om te veg tot die einde. Ons groepsgees was om mekaar ten alle tye te ondersteun.

Ek is besonder opgewonde om te sien wat hierdie Klofies - die Klas van 2021 - in toekomstige jare en dekades gaan bereik. Want as ons kon floreer in ‘n matriekjaar tydens Covid19, kan ons werklik enige iets aanpak. My hart loop oor van trots op hierdie 318 broers en susters.

Ons was die Survivors. Ons het die Stilte gebreek.

Cilliers Diedericks - Hoofseun 2021

Aan die begin van my termyn as die hoofdogter van 2020/2021 het ek maar soos alle hoofleiers ‘n visie gehad. ‘n Deel van my visie was die soort “legacy” wat ek wou agterlaat. Ek wou nie onthou word as die hoofdogter wat die stukkies van 2020 moes optel en weer aanmekaar plak nie. Ek het egter baie gou my fout met hierdie ingesteldheid agtergekom. Dis nie ék wat onthou moet word nie, maar eerder die Here se genade en liefde wat deur my straal. Kloof, jy het elke dag van jou lewe ‘n keuse om ‘n verskil te maak. Kies met wysheid en kyk na die lewe deur die Here se oë. Kies om sáák te maak en nié om seer te maak nie.

This article is from: