2 minute read

Boodskap van die Beheerliggaam

Aan die einde van 2020 is dit amper met ‘n sug van verligting wat ons op ‘n baie moeilike jaar vol onsekerhede en veranderende omstandighede terugkyk. Die uitbreek van COVID-19 het ons gedwing om op kort kennisgewing aanpassings te maak aan alles wat ons beplan het om te doen. Die grootste impak was seker op die sportgebied. Aan die begin van die jaar het ons uitgesien na die implementering van ons hersiene sportstrategie, maar dit moes vinnig kortgeknip word.

Ons personeelkorps, onder leiding van Mnr Chris Denysschen, het egter vinnig by die nuwe omstandighede aangepas om die beste van ‘n moeilike situasie te maak. Ons hooffokus was akademie. Hier het ons in informasietegnologie belê, en ons onderwysers en kinders se vertroudheid met hierdie stelsels, het ons in staat gestel om steeds die volle kurrikulum met ‘n kombinasie van aanlyn- en klaskameronderrig te voltooi. Ons sien met opgewonde verwagting na die 2020-matriekuitslae uit.

Die begin van 2021 het gewys dat die pandemie nog lank met ons gaan wees. Hoërskool Waterkloof is egter gereed en ons het reeds strategieë in plek om weer ‘n suksesvolle jaar te hê.

Die termyn van die huidige Beheerliggaam loop in Maart 2021 ten einde. Die grootste hoogtepunt van die huidige termyn is seker die aanstelling van Mnr Denysschen aan die einde van 2018. Na twee jaar kan ons onomwonde bevestig dat hy die regte keuse vir Hoërskool Waterkloof was. Ander hoogtepunte van die termyn was die bou van die nuwe klaslokale, opgradering van ons inligtingstegnologiestelsels, die ontwikkeling van ons hersiene sportstrategie en ‘n toename in leerdergetalle. Ek glo dit is op ‘n sterk basis wat die huidige BL-span kan uittree. Een van die grootste uitdagings vir Hoërskool Waterkloof bly finansies. Dit is slegs met voldoende fondse wat ons in staat sal bly om ons status as wêreldklas skool te bly handhaaf. COVID-19 het ‘n demper op die ekonomie geplaas en daarmee saam druk op die betaling van skoolfonds geplaas. Met die implementering van die regering se Temporary Employer/ Employee Relief Scheme (TERS) en Hoërskool Waterkloof se deelname daaraan, asook die opskorting van alle groot kapitaalprojekte vir 2020, kon ons daarin slaag om al ons personeel te behou.

Dit bly noodsaaklik om voortdurend in infrastruktuur te belê om voorsiening te maak vir die druk op ons fasiliteite, veral met die begrote toename in getalle vir 2021. Ek doen dus ‘n beroep op ouers om steeds die betaling van skoolfonds te prioritiseer, aangesien ons nie ons standaarde daarsonder sal kan bly handhaaf nie.

As toonaangewende Afrikaans-skool streef ons daarna om wêreldklas te wees, en saam sal ons Bou in Geloof!

Mnr. N. van Aardt Beheerliggaamvoorsitter

This article is from: