3 minute read

Boodskap van die Hoof

As ek aan 2020 dink dink ek aan kleure…kleure van emosies, net soos Smarties. Ek assosieer die rooi smartie met liefde, die groen een met lewe, die geel een met vrede, die oranje een met krag, die pienk een met geluk, die blou een met kalmte en die pers een met gesondheid. As ek aan die jaar 2020 terugdink, was dit sekerlik een van die vreemdste en mees onvoorspelbare jare ooit, maar tog ook ‘n jaar vol hoogtepunte en uitnemende prestasies…volkleur

Vergun my eerstens die geleentheid om ‘n woord van dank en waardering teenoor ons matrikulante van 2020 uit te spreek. Julle is in 2020 as gevolg van die pandemie van soveel ontneem. Tog het julle geskiedenis gemaak deur die die eerste groep in die geskiedenis van die skool, sowel as in Suid-Afrika te wees wat meer as ‘n 1000 onderskeidings verwerf het. Julle het vir ons bewys dat, ten spyte van COVID-19, jul steeds sal BOU IN GELOOF deur vasberadenheid, deursttingsvermoë en spontaniteit. Dit is sowaar die beste uitslae in die geskiedenis van ons skool se bestaan beloon. Julle betree nou die grootmenswêreld waar jul nou jul vlerke moet sprei en ‘n verskil moet gaan maak....nes Kloof julle geleer het. Onthou.... die Titanic is deur argitekte gebou, die ark deur amateurs. Mag God jul waar julle ook mag gaan veilig in Sy Hand hou, en onthou....dit is nie totsiens nie maar tot weersiens....en .... Eenmaal ‘n Klofie altyd ‘n Klofie!

Groot erkenning en dank aan ons ouers. Sonder ons ouers sou Hoërskool Waterkloof nie soveel kleur aan 2020 kon verleen nie. Dankie aan elke ouer wat gedurende die jaar ure en ure saam met ons gewerk het om ons skool ‘n skool van uitnemendheid te maak. Kloof se sukses is grootliks in betrokke ouers gewortel. Dus wil ek van die geleentheid gebruik maak om die Beheerliggaam, onder leiding van mnr. Nico van Aardt vir hul harde werk en insette te bedank. Baie dankie vir alles wat julle in ons skool vermag het en steeds besig is om te vermag.

Aan elke opvoeder, administratiewe personeellid, terreinpersoneellid en koshuispersoneellid ….. baie, baie dankie. Die bekende spreekwoord wat lui dat ‘n leier net so sterk is soos die troepe wat hom bo hou, kry hier gestalte. Dankie vir elkeen se harde werk en insette, dankie vir al die lag, grappies, baklei, stry en liefde ….. glo vir my dat ek julle vir niks in die wêreld sal verruil nie ….. ek sal saam met elkeen van julle oorlog toe gaan.

Laastens, maar nie die minste nie …. die res van die Klofies. Julle maak ons werk elke dag die moeite werd. Ek dank die Liewe Vader elke dag om deel van hierdie ongelooflike skool én julle te wees. Van dié beste prestasies in die geskiedenis van die skool is hierdie jaar - te midde van die pandemie - deur die mees passievolle leerders bereik wat kleur aan elke dag gegee het.

Ons tema hierdie jaar is #breek die stilte.....nie net teen die pandemie nie, maar teen al die ongeregtighede van die lewe. Ek haal ‘n deel van die ou volkslied aan “en hoor jy die magtige dreuning” - van die Klofies wat hul merk maak, nie net in wat hul doen nie maar ook in almal se harte deur karakter, integriteit en goeie maniere.

Ter afsluiting: In oënskou geneem, wat ‘n pragtige en kleurvolle jaar. Elke kleur het sy eie rol, elke kleur maak die prentjie mooi en hoe sê hulle - a picture speaks a thousand words. Alle eer aan ons Hemelse Vader wat saam met ons deur die jaar was en ons gedurende die jaar gedra het. Sonder Hom is niks moontlik nie.

Mag elkeen van u wat hierdie jaarblad lees met mooi herinneringe en nostalgie gevul word.

BOU IN GELOOF

Mnr. C. H Denysschen Hoof

This article is from: