3 minute read

Ons groet

Dit is vir my moeilik om te glo dat die tyd om vir Kloof totsiens te sê, aangebreek het.

Toe Hoërskool Waterkloof in sy babaskoene was, het ek vir twee jaar(1981 en 1982) hier skoolgehou. Met meneer Dirk de Bruin as my departementshoof en meneer Pieter Maartins as hoof, het ek besef dat hierdie skool een van die bestes in die land gaan word.

In die tussentyd het ek eers kinders grootgemaak en by ‘n paar ander skole skoolgehou. Toe die departementshoofpos vir Fisiese Wetenskappe geadverteer word, het ek die kans aangegryp en is in Januarie 1994 in dié pos aangestel. Onder die bekwame leiding van die hoof, Dr. Christo Becker, was ek deel van ‘n skool en gemeenskap wat groot hoogtepunte beleef het.

Op akademiese gebied het ek gewerk met ‘n groep dames wat gesorg het dat Hoërskool Waterkloof jaar na jaar met top matriekuitslae kon spog. Christine Hare, Susan Theron, Annette van den Berg, Carin de Beer, Tharina van Aarde en Johandri Kriek, ek salueer julle vir jare se harde en uitnemende werk.

Op sportgebied het ek as hokkie-afrigter soveel vreugde en mooi herinneringe ervaar. Daar was hoogte- en laagtepunte, maar die vreugde op ‘n span se gesiggies nadat ons ‘n moeilke en belangrike wedstryd gewen het, sal my altyd bybly. Dankie ook vir die ondersteuning van wonderlike ouers.

Dit is so belangrik vir ‘n onderwyser om gelukkig by sy/haar werk te wees aangesien jy ‘n groot deel van jou lewe daar deurbring. My twee dogters was albei Klofies en dit was ook ‘n gelukkige en opwindende tyd in hulle lewens. Hulle was lief vir sport en tydens hulle skoolloopbane was ons as gesin baie betrokke by die skool. Ek en my man kan vandag op opwindende en gelukkige tye langs die sportveld, merieteaande, musiekblyspele ensovoorts, waarby ons kinders betrokke was, terugkyk. Dankie, Hoërskool Waterkloof, vir die geleenthede wat jy aan kinders bied.

Onder leiding van ons huidige hoof, mnr Chris Denysschen, beleef Hoërskool Waterkloof opnuut ‘n bloeitydperk en met sy visie van Wêreldklas en Grensloos het hy ‘n nuwe entoesiasme en opgewondenheid onder die personeel en leerders gebring. Dit was vir my ‘n voorreg om deel te kon wees van ‘n personeel wat soveel vir mekaar omgee; ek gaan dit baie mis. Nog ‘n kenmerk van Hoërskool Waterkloof is dat die Klofies lief vir hulle skool is. Dit is die plek waar hulle leer, speel, geborge en geliefd voel. Dit vloei deur na die klaskamer en dit is waarom dit so lekker was om vir julle skool te hou. Ek gaan die vriendelike gesiggies in my klas mis.

Hoërskool Waterkloof, jy was goed vir my; jy het gesorg vir baie gelukkige jare in my lewe. Jy het vir my soveel geleenthede gebied om as mens te groei en te ontwikkel.

Meneer Denysschen, liewe kollegas, Klofies, al die goeie dienswerkers en die ouergemeenskap, ek groet julle. My beste wense vergesel julle. Hou by die skool se leuse, “Bou in Geloof” en Hoërskool Waterkloof sál Wêreldklas en Grensloos wees.

Klofiegroete.

Marita Roode

Totsiens, Klofies. Dit is moeilik om na agt jaar Klofieland te groet. Ek het ongelooflik geheg geraak aan die Klofies se manier van doen. Elkeen wat oor my pad gekom het, het ‘n verskil in my lewe gemaak. Ek het as onderwyser in die laaste jaar baie gegroei en dit is ook te danke aan die Klofies se toegewyde manier van doen.

Hoe som mens agt jaar op? Daar was goeie tye en slegte tye. Die goeie tye is gelukkig baie meer as die slegte. Ek wil elke mede-onderwyser vir die insette in my lewe bedank, julle is ‘n ongelooflike span en julle het my werklik in die moeilike tye gedra. Elke ouer en leerder, julle is ‘n wenspan en dit is hoekom julle die topskool in Gauteng is.

Mnr Denysschen en Personeel, dankie vir die voorreg om saam met julle te kon werk. Ek glo julle sal die goeie werk voortsit.

Sterkte en tot weersiens.

Fraser Parker

This article is from: