12 minute read

Afrikaans creative writing

Next Article
Water polo

Water polo

Kaalvoet

‘n Koel bries versag die vogtige middagson. Ek wag geduldig vir die gloeiende son om onder die horizons te sak. Die ruik van vars blomme en die klanke van die natuur vul my sintuie.

Die fyn riviersand maak ‘n grillende geluid wanneer my voete dit raak en nou en dan deurboor dorings my delikate vel wat ‘n ongemaklike brandsensasie veroorsaak. ‘n Horing wat glinster stuur ‘n koue rilling teen my rug af. Ek kan voel hoe my hart in my bors klop…doe-doef… doe-doef. Die enigste ding wat my veilig laat voel, is my pa wat langs my staan. Die onheilspellende klank van die trop buffels wat lug uit hul neusgate blaas, vul die lug en dis intimiderend. Ek knaag aan die binnekant van my wang en die smaak van bloed vul my mond. ‘n Brekende tak verbreek die stilte. Die pikswart majestueuse reuse staan rustig op en om hulle te sien, laat my onbeduidend voel. Dankie tog, ek’s kaalvoet, anders sou hulle my al lankal gehoor het.

Die buffel staar my reg in die oë en dit voel of hy dwarsdeur my kan sien. Ek en my pa staar terug. Die geweer is swaar en ek voel hoe die sweet by my wange afloop soos druppels wat stadig teen glas afbeweeg. Die metaal van die sneller is yskoud en laat die vel op my vinger sensitief voel. Die bries voel ewe skielik kouer en die middagson steek net ‘n bietjie van sy gesig agter die horison uit. So kalm moontlik lig ek die geweer op teen my skouer. Vir ‘n oomblik is alles stil. Tyd staan stil. Ek haal diep asem en trek stadig die sneller asof ek water uit ‘n nat waslap druk…Boem! Die knal van die geweerskoot verbreek die stilte en die eggo beweeg deur die klippe. Die reus val…

Die Melkweg skyn in die lug soos sneeuvlokkies in die nag. Die lewelose buffel laat my nederig voel en die koelte van die nag kalmeer my. Ek kyk op na die pragtige sterre en besef dat dit nie belangrik is wat jy doen nie, maar met wie jy dit doen wat die lewe interessant maak. Ek kyk dan af en besef ek is nogsteeds kaalvoet…

– Lukas van der Merwe (Gr. 12)

Die man in die rook

Die verstikkende vrees styg in my bors, want ek weet wat ons vandag doen. Die groot gebou staan intimiderend oor ons in die nag en my arms voel verlam onder die gewig van my geweer. Ek weet van die gevaar wat in die gebou op ons wag en ons is bevel om te skiet om dood te maak.

Deur die skadu’s sluip ek en die sersant tot ons langs die groot houtdeur staan terwyl die ander soldate hulle weg na die agterdeur baan. Skielik hoor ons die oorverdowende uitbarsting van geweerskote wat van die agterkant van die gebou kom. Die sersant skop die deur oop en gaan binne met sy geweer gereed. Ons soek na vyandige militante in die donker kamers van die gebou, maar vind niemand nie. Ek wonder waar almal is en ek kan die verwarring op die sersant se gesig sien. Oor ons radio’s bars gille: “ Kom uit! Daar is ‘n bom!” Ek kyk na die geskokte gesig van die sersant en dan is daar ‘n verblindende lig…

Ek maak my oë oop en nie alleen swem my visioen nie, maar ook kan ek skaars asemhaal. Alles rondom my is donker van die rook behalwe die mure wat aan die brand is. Ek besef ek is nie op die grond nie, maar ek lê in iemand se arms. Die person wat my dra, stort met my op die grond ineen. Die wasige gesig van die vreemdeling staar na my, maar ek kan geen gesigte uitmaak nie.

“Dit is waar ek jou moet agterlaat”, sê hy kalm em dan loop hy deur die vlamme wat nou naby is. Met al my krag kruip ek na ‘n groot gat in een van die mure. Die rook brand my longe en oë, maar ek stop nie. Met een laaste stoot trek ek my liggaam deur die gat. Wanneer my oë stadig toegaan, sien ek mense wat na my toe hardloop.

My oë gaan vinnig oop… ek lê in ‘n hospitaalbed. Die dokter wat voor my staan, glo dat wat ek deurgemaak het, kon net ‘n god oorleef. Ek kyk na die dokter en glimlag…Weet sy hoe reg sy is?

– Ross Jackson (Gr. 12)

Die hartklop van die veld

Ons moet vir ‘n uur wag. Dit is amper tyd. Tyd om die hele wêreld tot stillstand te bring. Ek voel hoe al die stres in my lewe uit my liggaam verdwyn. Daar is afwagting en opwinding in die lug en ek kan dit proe. Dit is stroopsoet.

Ons is in die kleedkamer en dan kom die besef… In die kleedkamer kan ‘n mens kloppende harte “hoor”. Jy kan die opwinding sien en die afwagting ruik. Dit is amper tyd…

Die oorlogskrete se gebrul word oorverdowend met trots gesing. Ek speel vir iets groters as ek. Ek speel namens al die kinders. Ek speel vir die skool en laastens speel ek vir ‘n spesifieke gevoel. Senuwees pla en tog suiwer vryheid. Dit is amper tyd.

Ek maak my oë toe en haal diep asem. Dit is amper tyd. Skielik hoor ek die deurdringende geluid van die fluitjie. Afskoptyd!

Die rugbyspelers duik soos gewelddadige diere rond. Ek voel die intensiteit in my bene, diep in my siel.Tog is ek steeds geïnspireer en hunker ek na meer. Dit begin reën.

Modderig gryp die spelers na mekaar. Die bloed spoel diep in die gras in.

Ek werk. Ek veg. Die tyd tik af in my kop en die telling bly dieselfde. My angs verdwyn. Die bal is in my hande en ek hardloop totdat ek nie die spiere in my bene kan voel nie. Verby een! Verby twee! Verby drie! Ek sien net die skoon veld en die sneeuwit pale. Ek druk die bal oor die lyn. Die skare skreeu. Die pawiljoen skud. En die opposisie is stil…

Dit is my plek, dié. Hierdie oomblik.

– Daniel Ferriman (Gr. 12)

Die stad wat vier en vyftig kilometer lank is…

Elke mens het ‘n plek wat sy eie is. Om myne te sien, moet jy op ‘n agt uur-lange vlug na die kus van Maleisië gaan. My plek het net een stad en die naam van die stad is dieselfde soos die land. Welkom na Singapoer!

Wanneer jy in Singapoer is, moet jy in die majestueuse Marina Bay Sands bly. Dit het drie 55-verdieping torings en ‘n Skypark bo-op wat net soos ‘n skip lyk. Saans swem jy in die grenslose swembad met ‘n panoramiese uitsig op die pragtige Singapoer stad se luglyn.

Klim in ‘n kabelkar met ‘n glasvloer en kyk af na die glinsterende see op pad na Sentosa waar jy maagdraaiende ritte van Universal Studios sal ervaar. Al die aksie sal jou honger maak en dan eet jy lekker laksa van Little India of besoek ‘n Michelin-ster restaurant aan die onderkant van die stad.

Jy kan al die kalorieë verbrand wanneer jy na die tuine by die baai loop. Die twee tuinbou meesterstukke het ‘n wolk woud en groot watervalle.As jy nie van die tuine hou nie, kan jy op die Singapoer Flyer klim, die tweede grootste tuimelwiel in die wêreld.

Die Merlion-stad is die skoonste in die wêreld. Dit het verskillende kulture en mense wat tot die groeiende ekonomie bydra. Die mense respekteer die gereg en die regering sorg vir sy burgers. Dit is ‘n wen-wen situasie vir almal en dit is hoekom dit my plek is dié.

– Rohan Bhatt (Gr. 12)

Hoe moeilik kan jou lewe wees?

Die park by my huis het twee akkerbome aan elke kant van die paadjie. Ek sit onder die een boom en kyk na die ander een. Die gras is smaraggroen en is lanklaas gesny. Ek vat ‘n slukkie water, sluit my oë en leun my kop terug teen die boom. Ek voel hoe die koue water my brein vries as ek aan niks dink nie. Geen skool en geen probleme nie. Ek maak my oë oop en sien ‘n man wat onder die ander akkerboom sit.

Was hy altyd daar? Ek het hom nie vroeër gesien nie. Sy verblykte rooi hoed is oor sy gesig en dit lyk asof hy slaap. Hy lyk asof hy in die lang gras verdwyn. Hy beweeg glad nie. Na ‘n paar minute staan hy op. Ek kan nou sien hoe maer sy arms is, soos bene met vel. Daar is geen vet of spiere êrens op sy lyf nie.

‘n Vrou loop op die paadjie verby my en die vreemde man. Die man steek sy benerige hande uit om ‘n beker uit hulle te vorm en hy vra die vrou vir geld. Sy ignoreer hom heeltemal. Hy skud sy kop wat nog deur die hoed weggesteek word. Hy lyk verslaan.

Hy loop nou direk na my toe. Stadig worstel hy met elke tree. As hy nader kom, sien ek hoe vuil hy is, met klere vol stof en gaatjies. Ek kan hom ruik as hy met die paadjie aankom. Die reuk laat my neus onmiddellik toeslaan. Hy ruik soos slegte lyfreuk en nat hond. Hy vra vir kos, maar ek is te geskok om enigiets te sê. Sy hoed word afgehaal. Hy lyk presies soos ek, maar maerder.

Ek knyp my oë toe om seker te maak dat hy werklik bestaan. Maar hy is weg. Ek leun terug teen die boom en dink. Dit kon ek wees. My probleempies is eintlik niks in vergelyking met wat hulle kon wees nie. Die vreemde man is eintlik nie ‘n vreemdeling nie. Dit is ek.

– Joshua Maroun (Gr. 12)

Dit was alles net ‘n nagmerrie

Ek loop deur die sekuriteitsdeur. Nou is daar ‘n eikehoutdeur. Ek sien die vyf mense wat gister my maatjies was, maar vandag…..is hulle my kompetisie. Hulle sit tjoepstil. Ek sit bang dat hulle my vrees sal ruik dat ek nog ‘n mislukte statistiek sal wees. Selfs die stilte is oorverdowend. “Daniel Ferriman” hoor ek in die verte. Daniel staan op en skuifel om die hoek. Die bruin leer rusbank waarop Daniel gesit het, is nou oop.

Ek sit daarop en voel hoe my sweet aan die bank vassit. Die ontvangskamer is nou dolleeg…ek is die enigste een. ‘n Gevoel van benoudheid oorheers my. Ek sit en dink wat hulle my sal vra. Ek is so nuuskierig soos ‘n aap; dan word my ergste vrese waar…

Meneer Bauer loop om die hoek waar die ander leerlinge alreeds geloop het. Glimlaggend sê hy: “A-a-a, mnr. Stephenson, kom ons gaan.” Ek staan op en my bene is soos jellie. Die staptog na die ontmoetingskamer is net vyftig meter, maar ek voel asof ek op die Groot Muur van

Sjina loop. Ek stap deur nog ‘n loodswaar deur. Die kamer waar die onderhoud plaasvind, is gevul met ‘n stilte en die yslike tafel rond dit net af.

Menere Thiel, Bauer, Ireland en mev. Kennedy staar na my terwyl ek voor almal sit. Angs oorval my en ek is gereed om tou op te gooi. Ek kyk verder in hierdie nimmereindigende kamer net om oogkontak met die “regters” te vermy.

Nou sal die poppe dans… Mnr. Thiel vra sy eerste vraag, maar ek hoor dit nie. “Verskoon my?” sê ek. “Matthew!” ek hoor hom weer nie. “Matthew! Dit is tyd vir skool!”

– Matthew Stephenson (Gr. 12)

Dis ‘n seerower se lewe vir my

Die lug is donker en bedek met wolke. Die wind is sterk en sny teen my vel. Dit stuur rillings deur my bene. Die golwe begin groter word en die skip begin bewe. Die skip is stil met net die geluid van die stormagtige oseaan. Die reën begin uitsak en tref my op my kop. Weerlig skiet deur die lug en laat my liggaam bewe. Dit is asof die gode kwaad is en hulle laat hulle woede op ons uitsak.

Oral waar ek kyk, is al wat ek sien die donker stormagtige oseaan met niks op die horison nie. Daar is nêrens om heen te vlug nie en nêrens om weg te kruip nie. Al wat ek kan doen, is sit en kyk. Ek weet nie of ek môre sal sien nie. Op die oseaan is al die dae so.

Maar jy kan nie ‘n seerower word as jy nie gevaarlik wil leef nie. Die gevaar, navorsing van die onbekende, die misterie en die vryheid is waarvoor ek leef. Die oseaan is my tuiste, dit is my plek en die oseaan is my enigste liefde. Die oseaan is myne en ek hoort by die oseaan.

As ek eendag in die toekoms by die galg staan met die stywe strik om my nek, sal ek alles berou? Nee, ek sal oor niks spyt wees nie. Ek wil nie ‘n doodgewone lewe lei nie. Ek wil soveel as moontlik ervaar. Ek kies die lewe van avontuur, want jy leef net een keer. Almal van ons sal sterf. Deel van die reis van die lewe is die einde, daarom is dit ‘n seerower se lewe vir my!

– Kaelin Poovalingham (Gr. 12)

Saam as een

“Vandag sal geskiedenis gemaak word” sê Pa onbekwaam om stil te bly. ‘n Gevoel van opwinding het in die lug vertoef, soos die dag voor jou verjaarsdag toe jy ‘n kind was. Die pad deur Yeoville was vol verkeersknope en die sypaadjies vol mense wat hemde, gesigsverf en vlae verkoop het. Dit het gelyk asof die hele land saam na dieselfde plek op pad was. Net voor ons, het ek ‘n songebrande, seekoei van ‘n man gesien. Hy het in die bagasiebak van sy Toyota gesit en ‘n bier drink. Volgens Pa word dit ‘n “bakkuzi” genoem. Ons het ons motor geparkeer en die rumoerende skare gevolg.

Toe ek uit die stormloop gekom het, het ek die teken gesien: “Ellis Park: Die Tuiste van die 2016 RugbyWêreldbeker”. Die walm van gebraaide boerewors en bier het deur die lug getrek en “Hier kom die bokke,” het oor die luidsprekers geblêr. Pa het ‘n Castle gekoop voordat ons ons sitplekke probeer vind het. “Die beste sitplekke in die huis” het Pa gesê, “nie te hoog of te laag nie. Presies op die halflyn.”

Ek het oral gekyk en het die grasgroen see van ondersteuners gesien. Amper almal het hul vuiste oor hul harte gehou toe hulle “Nkosi sikelil iAfrika” gesing het. Ek kon die trots en passie in die lug voel wat die All Blacks se Hakka tot ‘n grap verminder het.

Die skeidsregter het op sy fluitjie geblaas om die wedstryd te begin. Tagtig minute van been-verpletterende botsings, maar niks kon die twee spanne skei nie. Op die laaste oomblik het ons ‘n strafskop gewen, en sonder om te aarsel, het Frans Steyn die bal deur die middel van die pale geskop.

Alles was in rep en roer. Nie alleen was ons die wêreldkampioene nie, maar ook was die hele land verenig. Daardie dag was ek so trots soos ‘n pou om ‘n Suid- Afrikaner te wees.

– Matthew Shahim (Gr. 12)

“Ek sal skryf tot daar nie ‘n enkele woord in my siel oorbly nie, tot elke storie in my hart vertel is, tot my verstand se put kurkdroog is en selfs dan sal ek bly skryf, want skryf is nie net iets wat ek doen nie - dit is deel van wie ek is.”

Kathy Jeffords

This article is from: