courant Wellington
se 1ste keuse
dié
1 Weskus
Gratis • Free
Hugenotestraat 24, Malmesbury
7 September 2016
Uitgawe 386
tel: 022 487 3221
GROOTSTE onafhanklike gemeenskapskoerant in die Wes-Kaap
•JAMES SEDGWICK AFRIKA SE ENIGSTE
‘Geheime hekke’ nou oopgegooi
Roger Jorgensen, plaaslike jenewer-distilleerder, maak die eerste unieke vermengde botteltjie whiskey in die mikro-distilleerdery. •Jaomi Zeeman Die James Sedgwick-distilleerdery, vir jare reeds ‘n bekende landmerk op Wellington, het besluit om sy hekke vir die publiek oop te maak. Dit is die enigste kommersiële whisky-distilleerdery in Afrika en die tuiste van die internasionaal bekroonde reeks Three Ships en Bain’s Cape Mountain Whisky. Volgens Simon Dicks, Sedgwick se handelsmerkbestuurder, het hulle reeds ‘n paar jaar gelede aan die idee van ‘n proe-lokaal en toere deur die distilleerdery begin dink en werk. “Andy Watts, ons meester-distilleerder, is ‘n Wellingtonner in murg en been en hy is ongelooflik lief vir en lojaal teenoor dié dorp en die publiek,” sê Simon. Die distilleerdery se lojaliteit aan die plaaslike gemeenskap blyk duidelik uit die feit die plaaslike media en rolspelers uit die gemeenskap van die heel eerste eregaste was wat die voorreg gehad het om die lokale te besoek. Mense wat ‘n plek vir die proeë en toere bespreek, kan uitsien na ‘n unieke ervaring waar gasvryheid, vakkundige kennis, interessante feite, ‘n pragtige uitsig en ‘n ongelooflike sensoriese ervaring smaakvol gekombineer word. Toergroepe word tot 10 mense op ’n keer
beperk om ’n persoonlike ervaring te verseker en sal op Vrydae en Saterdae om 10:00 en 14:00 aangebied word. Besoekers kan die passie en vakmanskap van Suid-Afrikaanse whiskies verken, die kuns van whisky-maak verstaan, leer van die ryk geskiedenis van die distilleerdery wat oor 130 jaar strek en sommige van die wêreld se beste whiskies proe. Inligting rondom die persoonlike aandag wat met die distilleerproses gepaard gaan en interessante feite, soos dat die wasem teen die groot vensters se alkoholinhoud al teen 8% gemeet is, sal besoekers verstom. By hul aankoms sal gaste ’n whiskey-kelkie geniet, gevolg deur ’n leersame video-opname. ’n Kundige gids sal ’n begeleide toer per voet aanbied waartydens gaste eerstehands die verskillende stadiums van die proses kan ervaar, van die rou materiaal tot die distillering en veroudering. Terug in die proekamer sal die gids ’n proe van drie whiskies gepaar met vyf disse aanbied wat die gaste in staat sal stel om in hul eie tyd te verken hoe die geure van sekere disse die aromas van elke whisky komplementeer. Die James Sedgwick-distilleerdery is reeds gewoond aan vele lofbetuigings en toekennings, is as die Best Brand Innovator aangewys in Whisky Magazine se 2011- Icons of Whisky,
asook as die Best International Whisky Distillery op die New York International Spirits Competition van 2015. Die koste van die toere beloop R350 per persoon. Die reeks Suid-Afrikaanse whiskies sal aan die einde van die toer gekoop kan word. Whiskies wat in beperkte hoeveelhede bekend gestel is, en slegs by die distilleerdery beskikbaar is, sal van tyd tot tyd te koop aangebied word om die uitsonderlike ervaring tuis te kan voortsit, of as ’n spesiale geskenk. ‘n Baie interessante toevoeging tot die toere is die model van ‘n mikro-distilleerdery wat in die proe-lokaal staan. Hier kan gaste deur ‘n rekenaarprogram hul eie vermengde whiskey maak wat dan in ‘n klein botteltjie gebotteleer en in ‘n spesiale boksie met die James Sedgwickhandelsmerk as aandenking, huis toe geneem kan word. Besprekings kan by www.webtickets.co.za gedoen word. Geen bespreking kan by die distilleerdery self gedoen word nie. Vir meer inligting, kontak die James Sedgwick-distilleerdery by 072 415 3440 of info@ jamessedgwickdistillery.co.za, of besoek www. bains.co.za en www.threeshipswhisky.co.za.
NUUS • NEWS
7 September 2016