courant Wellington
se 1ste keuse
dié
1 Weskus
Gratis • Free
Hugenotestraat 24, Malmesbury
28 September 2016
Uitgawe 389
tel: 022 487 3221
GROOTSTE onafhanklike gemeenskapskoerant in die Wes-Kaap
•HUGO RUST WOEKER VIR RENOSTERS
Bewaar spesies speel-speel
Heellinks: Die hoofleiers, Nina Moggee en Jurian van Santen, by die draadrenoster vol boodskappies van die leerders. Links: Haidee Muller van RSG voer ‘n onderhoud met Rudolf Jansen van Vuuren, landgoedbestuurder van Linton Park, wat meer oor die bewaring van Renosterveld verduidelik. •Jaomi Zeeman Hugo Rust Laerskool en Linton Park Wynlandgoed het Internasionale Renosterdag met ruim bydraes gevier. Renosterdag, wat elke jaar op 22 September gevier word, het op 20 September ‘n stewige hupstoot uit die gulhartige inisiatiewe van hierdie twee instansies gekry. Hugo Rust se ondersteuning vir hierdie waardige saak strek reeds oor die afgelope paar weke. Hulle het drie speelgoed-renosters “aangeneem” wat op ‘n kompetisie-basis as deel van die foto’s op hul sosiale netwerk-platvorms verskyn het. Hulle het die bewusmakingsprojek selfs verder geneem deur ook ‘n muntlegging as fondsinsameling by die skool te hou. Op 20 September kon die skool ‘n tjek van amper R5 000 aan Dan Fenton van Ngala Lodge by die Kruger Wildtuin oorhandig. Fenton, wat as ambassadeur vir die “Rhinos without Borders”-beweging optree, het die afgelope tyd bykans 1 000km in slegs 31 dae te voet afgelê. Hiermee wou hy self fondse vir renosterbewaring insamel en ook probeer om mense regoor Suid-Afrika daarvan bewus te maak. Hugo Rust se bydrae is tydens ‘n feestelike geleentheid aan Fenton oorhandig. ‘n Skyfievertoning oor renosters en ‘n ten-
toonstelling van foto’s wat al die “reise en wedervaringe” van die speelgoed-renosters uitbeeld, is aan die leerders vertoon. Die skool het ook ‘n reuse-draadrenoster vol boodskappe van hul leerders gehang waarop hulle hul ondersteuning aan renosterbewaring beloof. Na die verrigtinge by die skool is die viering van hierdie belangrike dag op die Linton Park Wynlandgoed buite Wellington voortgesit. Hier het Linton Park ‘n tjek van R50 000 aan Dan Fenton vir die werk van die Rhinos Without Borders-projek oorhandig. Hierdie skenking is moontlik gemaak deurdat verkope van Linton Park se Rhino-wynreeks, waarvan ‘n rand van elke bottel wat verlede jaar verkoop is vir hierdie skenking ingesamel is. Linton Park, wat ‘n stigtingsgeskiedenis het wat sover terug as 1699 dateer, is deel van die Camellia-besigheidsgroep met sy hoofkantoor in Londen. Die landgoed se verbintenis met die Renoster-veldtog spruit uit die unieke Renosterveldplantegroei wat hier aangetref word. Gaste kon tydens die verrigtinge ‘n unieke veldrit deur die renosterveld op die landgoed meemaak. Hier het die landgoedbestuurder, Rudolf Jansen van Vuuren, die sensitiewe ekosisteem waarin renosterveld gedy aan die gaste verduidelik. “Daar is slegs 4% van alle renosterveld oor
en slegs 1.6% hiervan is onder bewaring,” het hy gesê. Hy het Linton Park se planne en verbintenis tot die bewaring en uitbreiding van die renosterveld uiteengesit. Volgens Berenice Barker, Linton Park se bemarkings- en verkopedirekteur, is die renosterveld die rede vir en sleutel tot hul betrokkenheid by renosterbewaring. “Hierdie unieke Suid-Afrikaanse bedreigde veldtipe was die dryfveer om ook wyer na bewaring te kyk en betrokke te raak by die bewaring van renosters wat ook deel uitmaak van SuidAfrika se eiesoortige kultuurerfenis,” sê sy. “Ongelukkig is dit so dat die renoster se voortbestaan op die kontinent van Afrika en in ons land ernstig bedreig word. Linton Park maak gevolglik graag hierdie skenking om die voortbestaan van die renoster te help verseker. Daarmee toon ons ook ons ondersteuning vir die onskatbare werk wat kampvegters soos Dan Fenton en andere in hierdie verband doen,” verduidelik Berenice. Sy het bygevoeg dat die skenking deur die verkope van die landgoed se “Rhino”-wynreeks gedurende die vorige finansiële jaar moontlik gemaak is. “Die publiek het ons ondersteun met die aankope van hierdie wynreeks en ons wil hulle ook bedank vir hul bydrae om die skenking moontlik te maak,” het sy saamgevat.
NUUS • NEWS
28 September 2016