courant Wellington
se 1ste keuse
dié
1 Weskus
Gratis • Free
Hugenotestraat 24, Malmesbury
14 September 2016
Uitgawe 387
tel: 022 487 3221
GROOTSTE onafhanklike gemeenskapskoerant in die Wes-Kaap
•DRAMAGROEP BRING TALLE WERKE NA VERHOOG
Kaleidoskoop van digters by fees •Jaomi Zeeman
Onder die nasionaal- en internasionaalbekroonde kunstenaars wat dié naweek by die Tuin van Digters gaan optree, tel ook ‘n plaaslike toneelgroep. Kaleidoskoop is die Breytenbachsentrum se eie drama-groep en hul produksie “Ons komvandaan” gaan vanjaar vir die tweede maal by die Tuin van Digters opgevoer word. Volgens een van die stigterslede, Gaireyah Fredericks, bestaan Kaleidoskoop al sedert 2012. “Kaleidoskoop het eintlik sy ontstaan gehad as deel van die Breytenbachsentrum se inisiatief vir vaardigheidsontwikkeling. Hulle het in 2012 ‘n IDT-program begin waarin hulle plaaslike mense wou bemagtig om met drama en poësie ‘n verskil in die gemeenskap te maak,” vertel sy. “Ons het aanvanklik net ‘n kort drama gedoen wat ons vir Mandeladag by Huis Silwerkruin gaan opvoer het om na die inwoners uit te reik. Aangesien ons as ‘n groep gaan optree het, het ons gevoel ons moet darem ‘n naam hê en omdat ons so ‘n klomp uiteenlopende mense was, het ons op die naam ‘Kaleidoskoop’ besluit,” verduidelik Gaireyah die herkoms van hul groep se naam. Ná hul eerste optrede in 2012 het hulle die krag van drama besef en wou hulle graag verder terugploeg in die gemeenskap. “Ons het betrokke geraak by die kinders op Welvanpas-plaas en ook begin drama-stukke ontwikkel wat ons vir die kinders wat operasies in die Paarl Hospitaal ondergaan het, kon gaan opvoer,” vertel Gaireyah. “Ons fokus en ons dryfkrag was om die kunste en drama na die gemeenskap te bring en om dit inklusief en toeganklik te maak. Baie skole het nie geld om kinders op uitstappies te neem nie, maar met ons opvoerings kan ons as’t ware die uitstappie na die skool neem deur daar ‘n poppekas of drama-vertoning te doen," verduidelik sy. Sedert Kaleidoskoop se nederige beginjare in 2012, het die groep van krag tot krag gegaan. Hulle doen steeds die optredes en vertonings wat deur die Breytenbachsentrum geïnisieer word, maar doen ook soms vertonings buite hierdie hoedanigheid. “Ons het gegroei in ons ervaring en vaardighede, maar ook ten opsigte van die gehore wat ons bedien. Ons gehore oorskry alle grense. Ons tree voor kinders, siekes, gestremdes, alle bevolkingsgroepe en alle vlakke van die samelewing op,” sê Gaireyah.
Foto: Marchelle van Zyl Volgens haar is Kaleidoskoop baie dank verskuldig aan ‘n paar mentors wat hulle deur die jare help vorm het. “Amelda Brand het ons ontsettend baie gehelp met ons ontwikkeling van poppekasstories. Sy het ons bemagtig om ons eie stories te skryf met raamwerke wat dieselfde bly, maar inhoud wat ons kan aanpas na gelang van die tipe gehoor wat ons bedien,” vertel Gaireyah. Sy bestempel ook Christine Truter, die samesteller van hul groot produksie, 'Ons komvandaan', as ‘n belangrike mentor. “Met ‘Ons komvandaan’ het Christine ‘n senuwee raakgeboor wat baie relevant is in vandag se politieke klimaat. Daardie sin van hoort en behoort – sy het ons gehelp om materiaal wat ons self gekies het, in ‘n sinvolle produksie saam te bind,” sê Gaireyah. ‘Ons komvandaan’ is gebaseer op ‘n frase uit een van die digter Diana Ferrus se gedigte en spreek die tema van herkoms aan. Dit word beskryf as “meesleurend, opruiend, oproerig, versoenend, onthutsend en omhelsend”. Die produksie bied ‘n ondersoekende en ontroerende blik op die werk van digters oor ses dekades heen – van PJ Philander en Adam Small tot Ronelda Kamfer, Nathan Trantraal en Jitsvinger. Kaleidoskoop het ‘Ons komvandaan’ by die
McGregor Gedigtefees opgevoer en is reeds teruggenooi daarheen vir ‘n opvolgvertoning. Hulle beplan ook ‘n toer in die Wes-Kaap met hierdie produksie. “Ons is net die instrumente vir hierdie storie. Hy wil vertel wees, hy wil reis. Hy wil baie mense bereik en baie harte oopmaak,” sê Gaireyah. Kaleidoskoop het al by talle feeste opgetree en hul lede het al verskeie toekennings ontvang. Buiten optredes in die gemeenskap en by verlede jaar se Tuin van Digters, het hulle al by die KKNK, die McGregor-fees, die Liggiesfees, die 40ste verjaardag van die Taalmonument, die Moedertaaldag by die Afrikaans Taalmuseum, die Woordfees en die Baxter Teater opgetree. Hulle het hierdie jaar ook uit 40 produksies by die Zabalaza-fees van die Baxter Teater drie nominasies gekry. Gaireyah is by hierdie toekennings as die beste ondersteunende aktrise aangewys. Wat is ‘n groep wat al so ‘n lang, suksesvolle pad loop se toekomsdrome? “Ons wil aanhou fokus op die werk wat ons by skole doen en ons hoop dat dit wat ons doen, mense sal aanmoedig om hul eie drome te verken,” sê Gaireyah. Vir besprekings en navrae vir die Tuin van Digters, kontak die Breytenbachsentrum by 021-873 2786, 073 435 1022 of besprekings@breytenbachsentrum.co.za.
NUUS • NEWS
14 September 2016