courant
1 Wellington
dié
11 Januarie 2017
• Free • Gratis
Wes-Kaap se #1
Bou saam met goeie nuus
Uitgawe 402
11 Januarie 2017
•LEERDERS VAAR GOED IN TALE EN WISKUNDE
Matrieks vier fees
Wellington staan saam teen brand Inwoners van dié dorp het soos een man saamgestaan om die brande om die dorp te keer en die brandbestryders by te staan. Hulle het die brandslaners van kos, water, medisyne en meer voorsien. Drie helikopters het onverpoosd water uit plaasdamme geskep en om die beurt op die vuur gaan gooi. Individue, instansies en besighede het almal hul hande, harte en beursies oopgemaak en ruim skenkings gemaak om die brandbestryders en mense wat deur die brande geraak is, te ondersteun en by te staan.
Die jaarlikse matriekuitslae is op Donderdag 5 Januarie bekendgemaak en Wellington se matrikulante het hulself goed van hul taak gekwyt. Die matrieks van 2016 en hul ouers het reeds sedert elfuur in afwagting by die onderskeie plaaslike hoërskole gestaan om hul uitslae, wat om presies twaalfuur aan die leerders beskikbaar gestel is, te ontvang. Sommige leerders was opgewonde en nuuskierig oor hul uitslae, terwyl ander ‘n bietjie meer benoud voorgekom het. “’n Mens leer hard en dan skryf jy maar so-so. Jy weet nooit wat die nasieners van jou antwoorde gaan dink nie. "Ek sal maar onseker voel totdat ek my uitslae netnou in my hande het. Ek hoop hard, maar is maar bang dat ek miskien teleurgesteld sal wees,” het een van die leerders by Bergrivier Sekondêre Skool laat hoor. Om twaalfuur was alle onsekerheid, nuuskierigheid en die lang wag uiteindelik verby. Die onderskeie skoolhoofde van die plaaslike hoërskole het dit aan die leerders uitgedeel. Alhoewel daar enkele teleurgestelde leerders was, was die oorweldigende emosie onder die matrieks van 2016 een van verligting, blydskap en trots. “Vanaand vier ons fees! Ons is bitterlik trots op ons seun wat met universiteitsvrystelling geslaag het!” het een pa gesê. “Ek het baie hard gewerk, maar het gesukkel om gedurende my matriekjaar ‘n A-gemiddelde simbool te behaal. Nou het ek dit in die eindeksamen reggekry! Ek is baie bly dat my harde werk uiteindelik beloon is,” het een van die leerders by Hugenote Hoërskool oorstelp laat hoor. Vir die leerders wat nie die paal gehaal het nie of groot teleurstellings gehad het, was daar by die meeste skole berading beskikbaar. Die onderwysers by Bergrivier Sekondêr voel baie tevrede met hul matrieks se uitslae. Dié skool se slaagsyfer is hoër as 80% en verskeie A-simbole is in die onderskeie leerareas behaal. Die leerareas waarin hul leerders die beste presteer het, is Wiskunde Geletterdheid, Engels Eerste Addisionele Taal, Afrikaans Eerste Addisionele Taal en Besigheidstudies. Hulle het ‘n groot aantal A-simbole in hierdie leerareas behaal. Hugenote Hoërskool is ook baie trots op hul matriekklas se prestasies gedurende 2016 se eindeksamen. Uit die 151 matrieks het 150 geslaag en hulle het 19 A-gemiddeldes behaal. 76% van die matrieks slaag met volle universiteitsvrystelling en die klas spog met 180 vak A-simbole en 251 vak B-simbole. Francesca Strydom is die Dux-leerder met 8 A-simbole en ‘n gemiddeld van 93,7%. Al hierdie akademiese presteerders sal tydens ‘n Akademiese Prysuitdeling op Woensdagaand, 11 Januarie, by die skool vereer word.
NUUS • NEWS