courant Wellington
se 1ste keuse
dié
1 Weskus
Gratis • Free
Hugenotestraat 24, Malmesbury
Uitgawe 393
26 Oktober 2016
GROOTSTE onafhanklike gemeenskapskoerant in die Wes-Kaap
tel: 022 487 3221
•KOMEDIANT PRIKKEL LAGSPIERE
‘Skerp’ Schalk laat skare skaterlag •Jaomi Zeeman Die komediant en skerpskertser Schalk Bezuidenhout, het Wellington behoorlik laat skaterlag met sy onlangse besoek aan dié dorp. Hy het sy vertoning, “Lewendig”, by die Breytenbach-sentrum se stampvol Bôrdienhuis-teater opgevoer. As aanbieder van die “Die Kliek” op VIA, sy rol as Danny Beyers in die kykNET-reeks, “Hotel”, en onlangs ook as aanbieder van die satiriese “Jou Nuusminuut” op dieselfde kanaal, is Schalk deesdae ‘n bekende op die kassie. Hy is ook al met die KKNK se Slurpie Kanna vir Beste Opkomende Kunstenaar in 2015 en die 2015 Comics Choice Award vir Best Intermediate Comedian beloon. Hy het selfs al optredes saam met Trevor Noah gedoen. Schalk, wat deur die televisieprogram Bravo as “Man van die jaar” beskryf is en as die nuwe goue seun van Afrikaanse komedie beskou word, het ‘n baie besige skedule en Wellingtonners was bevoorreg dat hy hier ‘n draai kon kom maak het. Hierdie vreemde mannetjie met sy helderkleurige truie, dun snorretjie en wilde bos hare vertel dat hy ‘n “hectic” jaar beleef het. “Ek was seremoniemeester by die Tempotoekennings, die ATKV-veertjies en die Pendoring-toekennings. "Tussendeur is daar verskriklik baie 'shows' en verskynings en die televisiewerk neem ook nogal baie tyd in beslag. Ek is lekker besig,” sê hy. Hy het pas twee suksesvolle vertonings in die Baxter-teater in Kaapstad agter die rug en tree in November in Johannesburg met sy nuwe vertoning “Jozi” op. Hy het ook in Augustus sy eerste Afrikaanse DVD by die Atterbury-teater opgeneem en hy gaan binnekort sy tasse pak om by die bekende West End-Teater in Londen op te tree. Die beskrywing “Lewendig” is in der waarheid ‘n onderbeklemtoning van hierdie talentvolle 24-jarige se energie, fyn waarnemingsvermoë en insig in die Afrikaner se identiteit. Met sy vertoning hou ‘n spieël op vir die absurditeite van ons nasie en laat hy die gehoor skaterlag, terwyl hy elke denkbare heilige koei bietjie vir bietjie afslag.
Bo: Sandra en Herman Blackie saam met Schalk Bezuidenhout.
“Humor diskrimineer nie” Soos vele ander suksesvolle Suid-Afrikaanse komediante voor hom, kry hy dit reg om elke klip op te lig en elke blikkie wurms uit te gooi sonder om sy gehoor te vervreem of kwaad te maak. Volgens hom kan komediante soms met moord wegkom en dinge kwytraak wat die gewone man op straat in die hof sal laat beland. “Niemand word gespaar in komedie nie. "Dit is juis ons komediante se werk om nie te diskrimineer nie – humor diskrimineer nie. Niemand is verhewe bo humor nie,” sê hy. Die vertoning was deurspek met ‘n gekskeerdery oor volkshelde, gewilde sepies, radioprogramme, bekende karakters, politici, gewilde instellings en natuurlik verkeerde whatsappgroepies.
Schalk se vlymskerp kwinkslae en impromptu interaksie met die gehoor het die vertoning uiters vermaaklik gemaak. Hy het selfs vir een van sy sketse ‘n handvol lede uit die gehoor saam met hom op die verhoog gehad en as “karakters” ingespan. Sy kleurvolle uitrustings is ook deel van sy mondering as komediant. Wanneer hy gepols word oor waar hy aan al sy interessante, eksentrieke uitrustings kom, is sy antwoord eenvoudig: “Charity shops. Jy sal nie glo wat ‘n mens partykeer daar raakloop nie.” Die Bôrdienghuis se heerlike pizzas en die plaaslike wyne was oudergewoonte goeie pasmaats vir ‘n skreeusnaakse, genotvolle aand.
NUUS • NEWS
26 Oktober 2016