courant Wellington
se 1ste keuse
dié
1 Weskus
Gratis • Free
Hugenotestraat 24, Malmesbury
16 November 2016
Uitgawe 396
tel: 022 487 3221
GROOTSTE onafhanklike gemeenskapskoerant in die Wes-Kaap
As die maanlig...: Johan
Dempers van Wellington het met Maandag se super-maan die naglug oor dié dorp dopgehou om die perfekte skoot te kry. Om dit te doen, moes hy van dubbele beligting gebruik maak om sodoende die helder maan vas te vang, maar steeds die detail in die donker berg te behou. Hy het dié foto oor die randjies van die Hawekwabergreeks geneem. Foto: Johan Dempers www.fotokursus.com
•JONG WELLINGTONNER OP WÊRELD SE RAKKE
Boek vertel suksesstorie •Jaomi Zeeman
Wanneer ‘n mens die Wellingtonse tiener, Hillary Geslin, op Google se soekenjin intik, verskyn dit op ‘n verskeidenheid internasionale platforms naas dié van die wêreld se bekendste skrywers. Hillary, ‘n 17-jarige leerder by Wellington Sekondêre Skool, het haar eie boek, “Success comes with effort”, geskryf en dit is deur Patridge, ‘n Amerikaanse uitgewersmaatskappy, opgeraap en gepubliseer. Volgens Hillary is sy nog ‘n bietjie oorbluf oor hierdie prestasie. “Dit voel vir my onwerklik om te dink dat ek, Hillary Geslin van Wellington wat uit agtergeblewe omstandighede kom, so iets kon regkry,” vertel sy. Hierdie vasberade jong meisie se deursettingsvermoë en positiewe gesindheid teenoor die uitdagings op haar pad, het haar egter nooit laat moed opgee nie. Hillary vertel dat sy, as die dogter van ‘n enkelouer, nie altyd in haarself geglo en hard gewerk het nie. “As ‘n mens met moedeloosheid, werkloosheid, dwelmmisbruik, armoede, ongeletterdheid en tienerswangerskappe rondom jou grootword, dink jy later dat dit maar jou realiteit ook sal wees,” vertel sy. Volgens haar het sy egter aan die einde van graad 9 wakkergeskrik toe sy die jaar gedruip het. “My ouers suster het nooit klaargemaak met skool nie. Toe ek in 2014 uitvind dat ek die jaar druip, moes ek moeilike gesprekke met myself voer,” sê Hillary.
“Ek moes vir myself vra of ek tevrede is met hoe hard ek werk en met waarheen ek op pad is. Ek was nie. Ek het besef dat ek iets beters met my lewe wil doen as om na graad 9 uit die skool uit te gaan. Ek het drome en ek het besef dat hulle nie vanself gaan waar word nie,” vertel sy. Hillary het daar en dan besluit dat sy vir haarself doelwitte gaan stel en haar drome gaan najaag. “My eerste doelwit was om harder aan my akademie te werk. ‘n Mens kan nêrens in die lewe kom as jy nie geleerdheid het nie. My tweede doelwit of droom was om ‘n skrywer te word. Die enigste manier om dit reg te kry, is te begin skryf,” sê sy. En dit is presies wat sy begin doen het. Sy het elke middag van die skool af gekom, haar skoolwerk gedoen en studeer en dan agter haar skryfwerk ingeskuif waar sy tot laataand gewerk het. “My ma het later gekla dat ek te veel skryf!” lag sy. “Ek kon nie wag om elke dag verder te skryf nie. Ek het gesien hoe my eie lewe kon rigting kry en ek het gedink dat dit iets is wat ek aan ander jongmense wil oordra: motivering en hoop. Daarom is die titel van my boek ook ‘Success comes with effort’,” verduidelik sy. Volgens Hillary is daar baie jongmense wat in soortgelyke omstandighede as syself grootword. Hillary het van 2014 tot 2016 elke dag geskryf en haar boek eers in Afrikaans voltooi. “Die boek se naam was eers ‘Die lewe van ‘n jongmens’”, vertel sy. Sy het op die internet begin soek na uitgewers
waarheen sy haar manuskrip kon stuur en eers by Publishing World SA vir hulp aangeklop. Hulle het haar die kontakbesonderhede van ander uitgewers gegee en sy het uiteindelik met die maatskappy Patridge Africa in Amerika kontak gemaak. “Die volgende ding wat gebeur, is dat ‘n vrou my al die pad uit Amerika bel en sê dat hulle my manuskrip ontvang het en daarin belangstel om dit te publiseer. Ek kan nie beskryf hoe ek daardie dag gevoel het nie,” vertel Hillary. Patridge in Amerika het haar boek geredigeer, laat druk en uitgegee en dit is tans op die VSA se Amazon webtuiste, Kroasië se Superbookshop webtuiste, Engeland se Foyles webtuiste, Australië se Picclick webtuiste en Mumbai se Justdial webtuiste te koop. Dit sal eersdaag ook in SuidAfrika beskikbaar wees. “Kyk waar kom ek vandaan en kyk waarheen is ek op pad. Ek sou nooit in my wildste drome kon dink dat ek my eie boek in my hande sou hou nie. Ek wil nooit ophou skryf nie en ek wil nooit ophou om ander mense te inspireer en hoop te gee nie,” sê sy oor haar toekomsplanne. Alhoewel “Success comes with effort” reeds internasionaal uitgegee is, is die amptelike plaaslike bekendstelling van die boek vir 30 November by Wellington Sekondêr geskeduleer. Hillary is ook genooi om in April 2017 na Amerika te reis om ander skrywers te ontmoet. “Ek is klaar besig met my tweede boek. Ek glo regtig in die boodskap en titel van my eerste boek: jy kan net sukses behaal deur harde werk,” sê Hillary.
NUUS • NEWS
16 November 2016