courant Wellington
se 1ste keuse
dié
1 Weskus
Gratis • Free
Hugenotestraat 24, Malmesbury
12 Oktober 2016
Uitgawe 391
GROOTSTE onafhanklike gemeenskapskoerant in die Wes-Kaap
tel: 022 487 3221
Skoolklok lui vir matrieks
Wellington se matrikulante maak nou gereed vir hul laaste skooldag wat Vrydag aanbreek. Die opwinding is tasbaar, met 'n ekstra skop stres oor die komende eindeksamen wat op 26 Oktober begin. O'Neal Williams, Ashwin Franse, Nicholas Davids, Xolisa Dyonta, Caitlin Appolis, Brogan Williams, Bianca Rudolf, Lolitha van Rooyen, Stephanie Willemse, Isherine van Rooyen, Micheala de Vries en Lyndon Bezuidenhout van Bergrivier Sekondêr is baie opgewonde oor die laaste bult van hul skoolloopbaan wat hulle nou moet aanpak.
•REYNIERSE OOR TROOSKOSSE MET ‘N TWIST
Van strokies tot kos
•Jaomi Zeeman Die Wellingtonner Iné Reynierse het groot opslae met haar eerste boek, Low Carb is Lekker, gemaak. Hierdie boek, wat deur Struik Uitgewers uitgegee is, was vir maande die top-verkoper in Suid-Afrikaanse boekwinkels. Iné het pas ‘n opvolgboek voltooi. Hierdie nuwe boek, met die titel “Die Maklike Laekoolhidraat-Hoëvet-Leefstylkookboek”, sal in Afrikaans en Engels vrygestel word en in Januarie 2017 op die winkelrakke beskikbaar wees. Volgens Iné, ‘n ma van vier en oorspronklik van Vrystaatse afkoms, sou sy haarself ‘n paar jaar gelede glad nie as die skrywer van kosboeke voorstel nie. “Ek kan myself eintlik die heel beste as ‘n entoesiastiese konsep-ontwikkelaar en ‘n entoesiastiese ontginner van potensiaal beskryf,” sê sy. “Mense dra ‘n rykdom van talent en potensiaal in hulle rond en dis lekker om te sien hoe mense, konsepte en idees kan ontwikkel. Ek is op my gelukkigste as ek tien nuwe idees in ‘n dag kan uitdink,” vertel sy. Voordat sy aan “Low Carb is Lekker” begin werk het, was Iné ‘n drama-juffrou, stemkunstenaar en regisseur. “My laaste projek was met Riaan Cruywagen en wyle Verna Vels. Ek is gevra om vir hierdie twee legendes nuwe kinderkarakters te ontwikkel en het toe die teks en regie van die CD-produksie ‘Prof Ontplof’ hanteer,” sê sy.
Volgens haar was dit ‘n hoogtepunt. Sy het ook al verskeie kinderreekse vir RSG geskryf, Afrikaanse musiek geskryf, oorspronklike verhoogproduksies vir skole geskryf en radio-advertensies vir korporatiewe kliënte gedoen. “Ek skryf ook vir die lekker gedigte en sing graag jazz,” voeg sy by. Hoe het dit dan gebeur dat ‘n mamma, drama-juffrou en kreatiewe siel ‘n topverkoperkosboek geskryf het? “Low Carb is Lekker is per ongeluk gebore nadat ek baie navorsing begin doen het om my man, ‘n pre-diabeet, en my seun wat op die outisme-spektrum is, te help met ‘n beter voedingsregime. Ek glo vas dat voeding ons eerste bron van medisyne kan wees. Dit was voor die ‘Banting’-dieet gewild geraak het en my missie was om ‘n vorm van normale gesinskos in graanvrye, glutenvrye en suikervrye formaat op my tafel te kry,” verduidelik Iné. Mense het spoedig die positiewe invloed van hierdie benadering in haar gesin raakgesien en gevra dat sy haar resepte met hulle deel. “Ek het letterlik ‘n paar resepte vir ‘n paar vriende op Facebook geplaas in ‘n blad wat ek sommer tong-in-die-kies ‘Low Carb is Lekker’ genoem het,” vertel sy. Die res is, soos hulle sê, geskiedenis. “Ek was die een dag nog in die ateljee en die volgende dag kon ek nie voor my rekenaar wegskuif soos wat die vrae ingestroom het nie,” sê Iné. “Dit is nou vier jaar en twee boeke later en ek
was nog nie weer terug in die ateljee nie. Wie sou kon raai?” sê sy oor hierdie opwindende reis. Die proses was egter nie altyd sonder struikelblokke nie. “Dit was ‘n heerlike maar intense proses wat baie vinnig ‘n lewe van sy eie aangeneem het. Ek is beslis nie ‘n sjef nie en moes my voete baie vinnig in ‘n wêreld van kosrubrieke en demonstrasies vind. Ek moes ook leer hoe om van teks-skrywer na kos-blogger te verander,” onthou sy. Volgens haar was die tweede boek ‘n ongelooflike groot uitdaging, veral omdat hul gesin oornag amper verdubbel het die koms van hul laatlam-tweelingdogtertjies. “Dit was twee boeke en ‘n tweeling in minder as twee jaar!” vertel sy. Die tweede boek fokus steeds daarop om “normale” trooskosse sonder graan of suiker op die tafel te sit, maar dit gee meer van ‘n internasionale flair. “Dit sluit my baie unieke resep vir ag deegsoorte waarmee jy amper alles kan bak in. Ek fokus ook op leefstyl, kortpaaie en bekostigbaarheid,” sê sy. “Dit is so ‘n ongelooflike voorreg. Ek hoop ek kon die leefstyl vir mense bietjie makliker maak,” sê sy. Haar wens is dat haar boeke regtig ‘n praktiese hulpmiddel word. “Ek hoop dat tussen my twee boeke dit die ‘Kook en Geniet’ van ‘n lae-koolhidraat leefstyl sal wees wat die essensie van die Suid-Afrikaaanse koskultuur op ‘n gesonde manier omvat,” sê sy.
NUUS • NEWS
12 Oktober 2016