Die courant 22 apr 2015 317

Page 1

courant

BEKROON: Weskus se 1ste keuse

swartland en weskus

Gratis • Free

Swartland

dié

1

22 April 2015

Hugenotestraat 24, Malmesbury

Uitgawe 317

tel: 022 487 3221

Weskus se GEWILDSTE en GROOTSTE Streekblad - Ons BOU saam met GOEIE NUUS

• met gebreke elke bult op en weer af

Hulle trap saam David en Estelle Botha by hul tandem waarop hulle al 6500km afgelê het.

“Dit het 'n metafoor geword van ons lewe, van ons huwelik, van ons pad saam...” 'n Kronkelpad met uitdagings – fisiek en geestelik. Só vertel Estelle Botha en haar man David, vir 30 jaar die predikantspaar van die Verenigde Gereformeerde Kerk op Darling, oor hul roete die afgelope bykans 40 jaar en meer spesifiek, die laaste 20 plus jaar saam op 'n fiets. Estelle het pas 'n boek hieroor vrygestel. Die Baaik het Twie Koppe vertel die eiesoortige verhaal van 'n vrou met liggaamsgebreke en die smeltkroes waarin hul gelouter word as hulle besluit om op die tandem die Franse platteland in te vaar. 'n Reisjoernaal met 'n verskil. Estelle, wat op Malmesbury grootgeword en in 1973 aan die Hoërskool Swartland gematrikuleer het, is twee maande ná hul troue, toe sy 'n musiekonderwyser was, met Guillain Barré-sindroom gediagnoseer. Dié virus lei tot die “vinnige verswakking en dikwels verlamming van die arms, bene, asemhalingspiere en gesig”. Dit was 'n erge geval en het haar só verlam gelaat dat sy in die waakeenheid van die Tygerberghospitaal aan lewensondersteunende-toerusting gekoppel moes word. Dit het drie maande geneem voor haar longe sonder die respirator kon funksioneer en ná nog twee maande is Estelle ontslaan. David moes haar

vir nog twee jaar in 'n rystoel rondstoot. Sy het weer leer loop met baie hulp en 'n loopraam. Van die spiere het met tyd stadig herstel, maar Estelle se beenspiere onder haar “knieë, voete en enkels het egter slap gebly”. Haar balans is steeds versteur en sy loop met 'n kierie. Ook haar handspiere wat die vingers beheer, werk nie behoorlik nie. Die twee klavierspeel-hande is sedertdien omgebuig en ingetrek. Die reis met gestremdheid het nie daar geëindig nie. Die egpaar het drie kinders, waarvan die jongste twee met Rubinstein Taybisindroom ge-diagnoseer is. David en Esther is albei in die Sunfield-tehuis op Wellington en is baie gelukkig. Hul oudste dogter, Jacki, gee onderwys op Grabouw. David se pa, ook David, en sy broer, Johan, was albei vroeër leraars by die VGK Wesbank op Malmesbury-Wes. Estelle sê David, het 14 jaar ná sy siek geword het, die idee gekry dat hulle dalk saam 'n tandemfiets kan trap. Sy vertel van daardie eerste bang opklim en die eerste hale waar haar bene (wat dit nooit alleen sal kan doen nie) saamsuier op die pedale van die tandemfiets. Só het 'n nuwe reis begin en tien jaar en honderde kilometers later het die droom gekom om hul fiets oorsee te neem. Reisagente was skepties oor die twee se planne en toe besluit hulle om dit self te beplan. Met David se volgende langverlof en baie beplanning en ure se oefen op die Swartland se paaie

en 'n ander fiets ingevoer uit Engeland, het hul die reis aangepak. Talle uitdagings het voorgelê. Laaaang opdraandes en gelukkig ook laaang vryloop-afdraandes. Hulle het hul klein tentjie saam geneem en op die meeste plekke gekamp so tussen die Europese reënweer deur wat dikwels die uithouvermoë kwaai getoets het. Daar was 'n paar valle en daar was ook tye waar hulle mekaar misverstaan het. Daar was soms heerlike warm storte (douche) maar soms ook koue water, minder skoon geriewe en ontberinge. In Frankryk was daar veral twee spesiale plekke wat hulle graag wou besoek. “By die L'Archegemeenskap in Trosly-Breuil word gestremdes versorg en by die Taizé-gemeenskap naby Cluny kom jong mense oor die hele wêreld en alle kerke saam om mekaar en God en hulself te vind.” By Taizé het hulle 'n diens bygewoon met 6000 jong mense in die kerkgebou wat stil saam aanbid. Dit was 'n reis oor 935 kilometer deur die geskiedenis van Romeine en Protestante. Naby aan die natuur teen 'n fietsrypas. David vertel dat die Franse motoriste vir kilometers agter jou bly op die nou paadjies as jy teen 'n bult uittrap sonder om ongeduldig te raak. Hul tandem-reis, ritmies saam, sonder 'n keuse van wegstap of omkyk, vertel David. 'n Reis van 34 dae, van ek kan, ten spyte van, en 'n reis van Genade. Terug op eie bodem met baie joernale van die reis, was 'n boek die logiese uitvloeisel. Estelle het stukkie vir stukkie gewerk en dikwels moed opgegee. Dan weer gebêre om maande later weer te skryf tussendeur die gemeentewerk as skriba. Sy het die rou manuskrip met haar eie twee hande getik en toe 'n goeie vriendin gevra om te help met die versorging. Een uitgewer het belang gestel en 'n volle jaar geneem om te antwoord. Die proses moes maar weer begin en ná alles het Estelle, met hulp van Naledi, die boek nou self gepubliseer en die eerste oplaag laat druk. Die Baaik het Twie Koppe, só genoem na aanleiding van 'n seuntjie langs die pad se opmerking, is beskikbaar by die Book League op Darling (022 492 2667), asook by Naledi. *David en Estelle het onlangs hul wortels op Darling uitgetrek en vandeesmaand verhuis na Tulbagh-weg waar hul met 'n nuwe projek begin waar mense in “die natuur kan kom stil word en weer heel word”.

NUUS • NEWS

22 April 2015


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.