courant swartland en weskus
Gratis • Free
Hugenotestraat 24, Malmesbury
Swartland
17 Junie 2015
Bergrivier
BEKROON: Weskus se 1ste keuse
dié
1
Uitgawe 325
tel: 022 487 3221
Weskus se GEWILDSTE en GROOTSTE Streekblad - Ons BOU saam met GOEIE NUUS
Jeugdag:
Swartland Munisipaliteit het gister in ysige winterweer 75 inheemse bome in Alfa- en Holomisastrate op Malmesbury geplant as deel van die New Beginnings-boomplantfees. Dit is deel van ‘n opgraderingsprogram wat in die volgende maande en jare momentum sal kry. Hier plant die burgemeester, raadsheer Tijmen van Essen, die eerste boom. Regs van hom die onderburgemeester, Maude Goliath en senior superintendent Neale Africa. Links is Joan Meyer, Rico Kruger en Colin Daniels.
• Harde werk met beurs beloon
‘Ek kan nou droom’ Soms kry ‘n mens ‘n sterretjie wat net uitstaan tussen die ander – en Tonique Roberts was só ‘n ster. Aan die woord is Carmen Boks, onderwyser by Schoonspruit Sekondêr op Malmesbury en een van die hande wat dié langbeen-meisiekind van Riverlands opgelig en haar drome help waar maak het. Tonique het verlede jaar matriek by Schoonspruit geslaag met een groot droom: sy wou besigheisbestuur studeer. “Ek wil ‘n geoktrooieerde rekenmeester word, my eie besigheid hê. Ek wil my ouers bystaan en my broer en susters finansieel bystaan met hul studies.” Haar towerfeë het in die persoon van haar skoolhoof, André Claasen, PPC en Boks gekom. Tonique vertel hoe bekommerd sy was oor haar studies, want die beurse waarvoor sy aansoek gedoen het, het nie een realiseer nie. Sy het egter by haar droom gehou en met behulp van “’n lening en baie geloof” is sy vanjaar Maties toe om B.Comm (Bestuurswetenskappe) te studeer. “Die idee dat ek skuld agter my naam het nog voordat ek begin studeer het, het my slapelose nagte gegee. “Hierdie stres het amper my studies beïnvloed,” vertel sy met ‘n skaam glimlag. Haar
ouers kon haar nie ten volle finansieel bystaan nie. Ma Rachel werk in ‘n fabriek in Epping en pa Jerry moet elke dag Atlantis toe. Daar is ook nog drie kinders by die huis. Sonder dat Tonique geweet het, het haar skoolhoof, André Claasen, by PPC aansoek gedoen vir ‘n beurs. Dit het só gebeur: William Samuels, die menslike hulpbronnebestuurder van PPC Riebeek, het by Schoonspruit aangekom met ‘n moontlike beurs-aanbod vir ‘n belowende student. Die student moes natuurlik belangstel in ‘n rigting wat by PPC inskakel. “Mnr Claasen het onmiddellik met ‘n lys name vorendag gekom,” vertel Samuels aan dié courant. “Tonique was een van die eerste name en uiteindelik het ons hoofkantoor op haar besluit.” “Ek kon my ore nie glo nie,” vertel Tonique van die oproep ‘n paar weke gelede. “Dit het my lewe verander. Ek het daardie dag besef dat as jy hard werk en suksesvol wil wees vir die regte redes en terselfdertyd die mense in jou lewe waardeer, respekteer en eer, gebeur daar wonderwerke.” Tonique het haar laerskoolloopbaan by Riverlands Primêr voltooi en is daarvan Schoonspruit toe. Boks vertel dat hulle haar al sedert
haar graad 9-jaar dophou. “Ons kon sien sy gaan uitstyg en suksesvol wees.” Maandag het Tonique die eerste keer geleentheid gehad om haar weldoeners te ontmoet. “Moet nooit moed opgee nie,” het Bernard Venter (algemene bestuurder PPC Riebeek) vir haar gesê. “Daar gaan moeilike tye kom, maar sien dit deur, skryf dit af en gaan aan. Onthou altyd: jou drome kan waar word.” Samuels het bygevoeg: Onthou jou toekoms is in jou hande, nie in jou ouers of vriende s’n nie.” Tonique se ma het PPC uit haar hart bedank: “Ek en my man kan net baie dankie sê dat julle ons kind gekies het.” Rachel vertel ook trots hoe goed Tonique aangepas het op Stellenbosch. En die ster van die dag self: “Ek kan nou elke dag met ‘n glimlag begin en net die Here dank dat Hy ‘n nuwe deur oopgemaak het. Die beurs het my lewe verander en my ouers van finansiële druk verlig. “Ek dank die Here elke dag dat daar mense en besighede soos PPC is wat die verskil in student se lewens maak en hulle ‘n hupstoot in die lewe wil gee. PPC het ‘n wonderlike belegging in my lewe kom maak. Ek is positief oor die toekoms en het nuwe hoop.”
NUUS • NEWS
17 Junie 2015