courant
BEKROON: Weskus se 1ste keuse
Gratis • Free hugenotestraat 24, malmesbury
Swartland
11 Maart 2015
Bergrivier
swartland en weskus
dié
1
Uitgawe 311
tel: 022 487 3221
Weskus se GEWILDSTE en GROOTSTE Streekblad - Ons BOU saam met GOEIE NUUS
Ivan van Niekerk het dié oomblik van die brandende Porterville-berge op kamera vasgevang.
• Vlamme onder beheer
Brandweer red die dag
“Ons is baie trots op ons brandbestryders en dankbaar vir wat hulle die afgelope week vir die Swartland beteken het,” het burgemeester Tijmen van Essen aan dié courant gesê. “Ek dink ons was so oorweldig deur die aandag wat die Kaapse brande in die nasionale media ontvang het, dat ons nie aldag besef met watter deursettingsvermoë ons plaaslike mense in moeilike omstandighede en oor lang ure geswoeg het nie.” Die harde werk en dikwels traumatiese omstandighede het egter vrugte afgewerp en skade is tot die minimum beperk. (Sien ook foto bl 9) Jacques Smit van Swartland het aan dié courant gesê verlede Dinsdag was een van die donkerste dae in sy 30 jaar as brandweerman. Om 09:00 het die bos tussen Chatsworth en Riverlands aan die brand geslaan en hulle was tot middernag besig. “Die wind het die brand vinnig in die rigting van Goedgegund, ‘n klein gemeenskappie wat ‘n kleinhoewe bedryf in die middel van die bos, gedruk waar hulle met baie bokke, skape, perde, hoenders en meer boer. “Ek het dadelik versterkings laat kom vanaf
Moorreesburg en die munisipale watertenker wat ons van water kon voorsien. Ek het ook Weskus Distriksmunispaliteit se brandweer gevra om te kom help. Hulle was reeds uitgedun, omdat die meeste van hul voertuie, toerusting en personeel besig was om die brande te beveg in Hermanus. “Die wind het ook kat en muis met ons gespeel, die een oomblik waai die wind in een rigting en binne minute draai dit in ‘n ander rigting en pyl die vuur op jou af. Wat die saak soveel moeiliker maak, is dat dit sandwêreld is, die voertuie sit vas en daar is omtrent geen omdraaiplek tussen die bosse nie. “As die digte rook jou skielik oorval, kan jy maklik die pad byster word. Ons het dit darem reggekry om die brand net voor Goedgegund te stop. Die enigste skade wat aangerig is, was ‘n dierekamp wat begin brand het, maar ons kon dit red.” Hulle was nog besig toe hulle ‘n digte rookwolk oor Kalbaskraal sien. “Nou moet jy een van jou beperkte voertuie stuur om ondersoek te gaan instel. Gelukkig was dit net ‘n oop erf wat gebrand het. “Die volgende oomblik het daar nog ‘n pikswart donker rookwolk by die Atlantis N7-kruising begin.
Dit het aan albei kante van die Atlantis-pad tussen die kleinhoewes gebrand, wat gevaarlik na aan die huise gekom het. Ons het darem gered wat daar te redde was - in samewerking met die gemeenskappe.” Die brand aan die suidekant van die Atlantis-pad het hulle aan Atlantis-brandweer oorgegee, net om te hoor van ‘n brand wat begin het by Highlands-stortingsterrein. Dié brand is vinnig geblus en hulle het heeltyd hul hand gehou op die bosbrand in Chatsworth en Riverlands wat van tyd tot tyd tot gevaarlik na aan die huise gevorder het. Daar was ook brande by Malmesbury gholfbaan en op die Hopefield-pad. Deon Alberts, Bergrivier munisipaliteit se rampbestuurbeampte, vertel die bergbrand wat Porterville sedert verlede Dinsdag geteister het, Vrydag eers heeltemal onder beheer gebring is. “Vrydag om 07:00 het die brandpersoneel weer oor die gebied gevlieg en gesien daar is twee kleiner kolle wat nog brand of smeul en het weer die helikopter in die lug geplaas om dit met oorhoofse water dood te gooi. Dit is nou heeltemal geblus. “Groot dele berggrond het afgebrand, maar gelukkig is daar geen skade aan woonhuise of beserings aan mense nie. Die spanne van Working for Fire het tot Saterdag nog vuurlyne opgepas om enige opvlammings te blus. “Ons bedank ook die publiek en die vrywilligers wat gehelp het.” • Intussen het raadsheer Harold Cleophas, burgemeester van die Weskus Distriksmunispaliteit, sy medelye en diepe meegevoel betuig aan die familie van brandweerman Nazeem Davies (25) wat Donderdagnag oorlede is in ‘n ongeluk op pad terug na die stasie op Vredenburg. Hulle was besig om ‘n vuur in die Groot Winterhoekberge buite Porterville te bestry. Sy kollega, Niklaas Nel, het net ligte beserings opgedoen. Die vlag voor die WKDM se gebou sal tot verdere kennisgewing halfmas hang.
NUUS • NEWS
11 Maart 2015