courant
BEKROON: Weskus se 1ste keuse
swartland en weskus Swartland
dié
1
11 Februarie 2015
Gratis • Free hugenotestraat 24, malmesbury
Uitgawe 307
tel: 022 487 3221
Weskus se GEWILDSTE en GROOTSTE Streekblad - Ons BOU saam met GOEIE NUUS
Ekspo op Môreson dié naweek
Darling Sewes reg vir vuurwerke
Wen groot met Valentynsdag
•werksgeleenthede geskep by nuwe aanleg
Darling borrel en bruis Nuwe werksgeleenthede, ‘n toerismeaantreklikheid en ontwikkeling oor ‘n breë front: dit is wat Kevin en Philippa Woods in die vooruitsig stel wanneer hulle Darling Brew eersdaags op dié dorp hervestig. Die Swartland Munisipaliteit het onlangs die verkoop van ‘n stuk grond in die nywerheidsgebied van Darling vir dié doel goedgekeur. Die perseel van 3591 m² is in Caledonstraat geleë. Daar is ‘n bestaande gebou, wat voorheen vir ‘n kunsmark gebruik is, wat hulle gaan omskakel in ‘n fabriek, met kantore en ‘n restaurant. Die ontwikkeling beloop sowat R50 miljoen en tot 45 werksgeleenthede kan hieruit voortvloei. “Dit is ‘n enorme ontwikkeling en kan net tot voordeel van Darling en sy gemeenskap wees,” het burgemeester Tijmen van Essen gesê. Sommige van die poste is hoogs geskoold, soos die broumeester wat van Duitsland kom,
Philippa Woods (links) en Henrico Rooiland in die bierwinkel van Darling Brew.
maar daar sal ook heelwat ruimte vir plaaslike mense wees. “Ons personeel gaan goeie opleiding ont-vang,” het Philippa aan dié courant gesê. “As daar potensiaal is, sal ons van hulle as brouassistente oplei.” Nog ‘n vooruitsig vir die omgewing is die voorsiening van hop. “Daar is reeds belangstelling van plaaslike boere. Gesels met ons.” Darling Brew brou op die oomblik 40 000 liter bier per maand. Die nuwe aanleg sal hulle kapasiteit verdriedubbel. Philippa sê hulle verwag die eerste toerusting volgende maand van Duitsland af. “Ons wil graag die amptelike opening in September, saam met die blommeseisoen, hê.” Darling Brew het sy oorsprong in ‘n toer deur Afrika gehad. Die twee het in Oktober 2007 op ‘n 9-maande lange reis vertrek om veral Afrika se wildlewe te verken. “Drie dae ná ons vertrek het ons André van Sneeuberg Brouery by New Bethesda ontmoet. Hier het die kiem van ‘n mikro-brouery ontstaan en nadat ons brouerye in verskeie Afrika-lande besoek het, het ons geweet dit is wat die toekoms vir ons inhou.” “Ons het verwag om aan verskillende en interessante biere blootgestel te word, maar wat ons verras het, was die bierbottels wat al groter geword het. Ons het begin met 340ml in Botswana, 630ml in Zimbabwe, 550ml in Mosambiek en 750ml in Rwanda
“Ons bierdrink-aptyt het stadig gegroei soos ons noord gereis het. Toe ons suid draai in Zambië in het die klein 340ml-bottels weer opgeduik. Dit het nie reg gesmaak nie – dit was die helfte te min en het ons onvergenoegd gelaat. Ons het besef óns bier gaan in groot bottels kom. En die bottels gaan swart wees. “Terug op Darling het ons geweet dat daar ‘n groot taak voorlê om ons gedagtes en idees in ‘n realiteit te omskep. Ons was gereed vir harde werk, maar ons het nie die rompslomp voorsien nie.” Hulle het met ‘n klein brouery op Darling begin, maar maande later het hulle nog nie ‘n dranklisensie gehad nie. “Ons het ook besef dat ons daardie omstandighede nooit ons drome sou kon verwesenlik nie. Ons was op die punt om handdoek in te gooi, toe ons Chris Barnard, ‘n meesterbrouer, ontmoet. Hy het ingestem om te help. “Dit was sy kennis en passie vir bierbrou wat Darling Brew gebring het tot waar dit deel van die huidige bedryf geword het, wat biermaak tot ‘n kuns verfyn het.” Dit het ook beteken dat hulle besigheid tydelik Kaap toe verhuis het, met net ‘n bierwinkel op Darling. “Maar nou kom ons huis toe, waar ons hoort,” glimlag Philippa. Besoek hul webblad by www.darlingbrew. co.za vir meer inligting.
NUUS • NEWS
11 Februarie 2015