courant swartland en weskus
Gratis • Free
Hugenotestraat 24, Malmesbury
Swartland
10 Junie 2015
Bergrivier
BEKROON: Weskus se 1ste keuse
dié
1
Uitgawe 324
tel: 022 487 3221
Weskus se GEWILDSTE en GROOTSTE Streekblad - Ons BOU saam met GOEIE NUUS
Grond omgedolwe in ploegdag
Alicia en Monica Loubser het die trekkers laat brul by Saterdag se Veterane Ploegdag op Swartbergsvlei, buite Yzerfontein. Hier is lande weer geploeg soos in die dae van ouds.
• 'BETREK straks KLEINER OLYF-PRODUSENTE'
‘Lok fees-voete terug’ Nege duisend kaartjies is vanjaar aan besoekers van die Riebeekvallei Olyffees verkoop – ‘n verhoging van 20% op die vorige jaar. Boonop glo Louis Steyn van die Riebeekvallei toerisme-vereniging dat heelwat meer mense as dié amptelike syfer die fees bygewoon het. Hy het Maandagaand gepraat by die fees se terugvoeringsvergadering. Alhoewel die vergadering min getalle gehad het, was daar nie 'n tekort aan 'n lewendige debat en oorspronklike idees vir die toekoms nie. “Uit ‘n toerisme-oogpunt moet ek sê dat dit meer na Wyn- en Olyffees lyk as andersom,” het Steyn gemaan en die vraag gestel: “Is dit wat ons wil hê?” Hy het telkens na dié vraag teruggekom en beklemtoon dat inwoners vroegtydig sal moet besluit in watter rigting die fees moet ontwikkel. “Ons sit met die DNS van ‘n fees wat nog baie kan groei en as dit nie nou die regte vorm aanneem nie, kan daar ‘n monster ontwikkel.” Steyn het die toerisme-vereniging se missie beskryf as die bemarking van die vallei en om voete daarheen te lok. Die naweek-paspoorte en vervoer was ook onder bespreking. Dit is duidelik dat toegang gestroomlyn sal moet word en dit moet maklik en verstaanbaar wees. Vervoer tussen die verskillende plase was volgens die terugvoer onvoldoende en het tot baie frustrasie gelei. Allerlei moontlike oplossings is genoem en dit sal weer aan die Olyfkomitee deurgegee
word. Daar sal onder meer ook gekyk word na meer parkeerruimtes. Heelwat gedagtes oor suksesse van vorige feeste is ook opgehaal. Hieronder is deelname van kleiner rolspelers. Daar is verwys na feeste waar klein vervaardigers van plaaslike olyfprodukte ‘n interessante kleur en verskeidenheid verskaf het. “Die olyfmark het die afgelope 20 jaar ontplof en dit het die kleiner spelers tot ‘n groot mate van die toneel laat verdwyn. "Wat ons moet dophou, is entrepreneurs wat op klein skaal olie en olywe aankoop en dit dan verwerk om by die fees te verkoop – nie noodwendig om wins te maak nie, maar om die fees ten volle te geniet.” Die doel van die Olyffees is om terug te ploeg in die gemeenskap. Een van die moontlikhede is om gratis stalletjies aan NGO’s te gee waar hulle kan woeker vir ‘n inkomste. Volgens die vergadering moet daar tweedens gekyk word na die emporium op Riebeek-Kasteel se plein. Hier wil hulle graag olyf- en olyfolie-proeë sien, met wyn en verversings voorsien deur die plaaslike inwoners. Verder is daar ook 'n behoefte aan ‘n speelpark vir kinders. Die huidige paspoort wat toegang verskaf, moet behoue bly, met sekere aanpassings, want dit is die hoofinkomstebron vir die toerisme-vereniging. Aandvermaak is ook bespreek aangesien besoekers wat vir die hele naweek na die fees kom,
behoefte aan ontspanning het om die dag af te sluit. Nog 'n voorstel is dat daar vir verskillende soorte markte voorsiening gemaak moet word, met die klem op ontspannende vermaak vir die Sondag. ‘n Voorstel wat heelwat byval gevind het, is om die Sondag ‘n paar sjefs te nooi vir ‘n kookkompetisie met olywe. Die kwessie van buitestaanders met goedkoop handelsware wat nie eie en uniek tot die vallei is nie, het ook onder die loep gekom. Terwyl daar ‘n gevoel is dat daar ‘n verbod op hulle moet wees, was daar ander wat gekyk het na die feit dat hulle dikwels die fees-gevoel vir die minder gegoede deel van die gemeenskap meebring. Een van die groot vrae bly: meer voete of meer besteding? Die slotsom was dat die lok van voete die rol van toerisme is. “Ons wins is nie die fees self nie, maar ons bemark ons vallei en ‘n lewenswyse wat mense weke en maande na die tyd teruglok – en daar lê ons werklike wins.” Nog ‘n stem van redelikheid: “Almal het hul eie agenda. Ons moet ophou om alles vir almal te probeer wees. Hierdie fees was die beste nog – die plaaslike ondersteuning was wonderlik!” Dit is duidelik dat daar nog baie gepraat gaan word oor die beplanning van die volgende, maar een ding is seker: dit gaan groter en beter wees as 2015. Heelwat gastehuise is reeds vol bespreek vir die 2016-fees!
NUUS • NEWS
10 Junie 2015