courant
BEKROON: Weskus se 1ste keuse
swartland en weskus Swartland
dié
1
4 Maart 2015
Gratis • Free hugenotestraat 24, malmesbury
Uitgawe 310
tel: 022 487 3221
Weskus se GEWILDSTE en GROOTSTE Streekblad - Ons BOU saam met GOEIE NUUS
Pluk en trap
Die Darling Cellars het Saterdag hul jaarlikse "crush day" aangebied. Daar is gekuier, gesing, gepluk en getrap dat die sop spat. Bo wys Pieter Genis vir sy seun, PieterJan, hoe om 'n druiwetros reg te pluk. Foto's: Neels Kleynhans www.nkphotography.co.za
• Vertroue is goed, beheer is beter
Skoon oudit vir SM ‘n Duidelik beïndrukte ouditeur-generaal, Thembekile Kimi Makwetu, het verlede week Swartland se munisipale bestuurder, Joggie Scholtz, en sy span gelukgewens met hul dienslewering aan die gemeenskap. Makwetu en sy span van nasionale en provinsiale amptenare het Swartland besoek om hul vierde opeenvolgende skoon ouditverslag te oorhandig. Dit is vir die 2013/14 boekjaar. Die ouditspan besoek alle munisipaliteite wat skoon oudits ontvang het, ten einde ‘n uitgebreide verslag oor beste praktyke op te stel. Die gedagte is om die verband tussen ‘n skoon oudit en dienslewering uit te wys. Makwebo het gesê ‘n munisipaliteit moet dikwels streng besluite neem, maar dit gee beter resultate vir inwoners. Hy het Swartland se bestuurspan geloof omdat hulle nie net op finansiële vlak goeie besluite neem nie, maar oor die algemeen na die gemeenskap omsien. “Beskerm die geld, verhoog julle voorsprong,” het hy hulle aangemoedig, “behou jul uniekheid.” Scholtz het ‘n voorlegging oor dienslewering gemaak en gesê Swartland beskou dit OG as ‘n vennoot wat waarde toevoeg tot die Swartland. Swartland het volgens die 2011-sensus ‘n bevolking van 113 762. Die gemiddelde groei tussen 1996 en 2001 was 2% per jaar. Tussen 2001 en 2011 het dit verhoog na 4,7%. Swartland was ook die tweede vinnig-groeiende munisipaliteit in die Wes-Kaap vir dié tyd. Wat bevolking betref, is Swartland nou die
sesde grootste munisipaliteit uit 24 in die WesKaap (metro uitgesluit) en die grootste in die Weskus Distrik. Scholtz het gepraat oor die veldtog vir Skoon Oudit 2014: “Ons het deur dure ondervinding geleer daar is net een manier – die munisipale bestuurder moet verantwoordelikheid aanvaar. Daar is geen maklike oplossings nie.” Dit is in kort die pad wat Swartland geloop het van ‘n gekwalifiseerde verslag in 2005/6, na amper skoon tot vandag se vier in ‘n ry. Scholtz sê die belangrikste is leierskap en goeie bestuur. Onder leierskap het hy onder meer genoem dat ‘n leier moet begin met die einde in gedagte. Etiese besigheidspraktyke, behoorlike stelsels en oorsig deur bestuur is ook belangrik Goeie bestuur sluit in dat daar nie net voldoen word aan vereistes nie, maar dat dit verbeter word. Risiko-bestuur, interne oudit en ‘n ouditkomitee en geen verdraagsaamheid ten opsigte van bedrog en korrupsie, is van die ander hoekstene. Scholtz het verskeie goeie praktyke in die Swartland onder die loep geneem. Een hiervan is die goedkeur van bouplanne, waar die tydperk van 73 dae in 2009/10 verminder het na 10 in Julie/Augustus 2014. Hy sê van die eerste stappe in die proses van goeie bestuur was om prestasiebonusse af te skaf. “Dit beteken dat ons nou aandag kan gee aan die ware kwessies, ons kan ‘n kultuur van prestasie kweek, innoverende doelwitte stel en gapings
aanspreek,” het hy verduidelik. Hierdie praktyk is ook na raadslede uitgebrei. Scholtz het ‘n opsomming gegee van die belangrikste behoeftes in die gemeenskap: toegang tot behuising, skoon water, sanitasie, elektrisiteit en vullisverwydering. Hy het die OG-span na afloop van die voorlegging op ‘n besoek aan die Highlands-vullisterrein en ook die rioolwater-aanleg geneem. Onderweg kon die groep ook die nuwe behuisingskema in Abbotsdale van naderby sien. Scholtz het erkenning gegee aan sy span wat so hard gewerk het: “Niks belangriks is al ooit deur ’n individu bereik wat alleen gewerk het nie. Kyk ’n bietjie dieper, en jy sal sien dat alle sogenaamde alleen-pogings in werklikheid spanpogings is. Die waarheid is dat spanwerk die kern van groot prestasies is. “Die vraag is nie of spanne waarde het nie. Die vraag is of ons daardie feit erken en beter spanspelers word. Dit is hoekom ek beweer dat een ’n te klein nommer is om grootheid te bereik. ’n Mens kan niks wat werklik van waarde is, alleen doen nie. As jy dit ter harte neem, sal jy begin sien hoe belangrik dit is om jou spanspelers te ontwikkel en toe te rus of op te lei.” Hy het ook ‘n pluimpie vir die raad gehad: “politieke stabiliteit is ‘n gegewe as jy finansiële stabiliteit wil hê." En met hierdie woorde het Scholtz die ouditeur-generaal met ‘n geruste hart weggestuur: “Vertroue is goed, maar beheer is beter.”
NUUS • NEWS
4 Maart 2015