Skip to main content

dié courant wellington 458

Page 1

courant

• Bergrivier 1Swartland Wellington

dié

28 Februarie 2018

• Free • Gratis

Wes-Kaap se #1

Bou saam met goeie nuus

Uitgawe 458

28 Februarie 2018

•CLARK 'N WÊRELDBEKENDE BLUES-MUSIKANT

Wellington basis vir kunstenaar •Jaomi Zeeman Gerald Clark is een van Suid-Afrika se bekendste blues-musikante en het ook al internasionaal naam gemaak. Hierdie eerlike kunstenaar is bekend vir sy ongelooflike gawe om stories met sy musiek te vertel. Gerald, wat elke jaar ‘n buitelandse konserttoer of twee onderneem, het Wellington sedert die begin van verlede jaar as sy basis gekies. Hy woon in ‘n kothuis op Bloublommetjieskloof. Dit is ook hier neffens Wellington waar sy album, Afroboer & the Golden Goose, opgeneem is. Oor sy nuutste album, Afrocoustic, is hy baie opgewonde. “Ek glo as ‘n akoestiese album is Afrocoustic ‘n outentieke verteenwoordiging van my ware klank, so gestroop as wat dit behoort te wees,” sê hy oor hierdie album. Gerald, wat sy pa op ‘n vroeë ouderdom verloor het, het in Stellenbosch grootgeword en aan Paul Roos Hoërskool gematrikuleer. Alhoewel hy destyds in die skoolkoor gesing het, het hy nie toe vreeslik aan enige ander musikale aktiwiteite deelgeneem nie. “Ek het altyd gedink ek sal miskien in ‘n regsrigting ingaan, ‘n prokureur of iets word. Daar was ‘n ou kitaar van my ma waarop ek altyd gespeel het, maar dit was bloot speel, sonder om te weet hoe dit werk. Iemand in die charismatiese kerk waaraan ons daardie tyd behoort het, het my later die drukke gewys,” vertel hy oor sy vroeë kennismaking met musiek. Volgens hom het hy eers laat in sy hoërskoolloopbaan na blues-musiek begin luister en dadelik daarvan gehou. Dit het uiteindelik ‘n groot invloed op sy eie musiek gehad. “As ek moet terugdink, was my musiek daardie tyd Rodriguez, Koos Kombuis, Eric Clapton unplugged en Cat Stevens. My vriend se suster het vir my ‘n paar ou blues cd’s gewys. Ek het ook in standard 8 daardie CNA Blues Collection cd’s gekoop, daai goedkoop goed, en toe self begin blues speel,” onthou hy. Hy is vol lof vir sy ma wat, ten spyte van baie uitdagings en struikelblokke, haar drie kinders in Stellenbosch kon grootmaak tussen van die rykste en mees invloedryke mense in die land. Een van Gerald se liedjies op Afrocoustic het die titel “No more work”. Vir hom voel dit wat hy doen egter nie altyd soos werk nie. “Soms, wanneer jy voor mense speel wat gewoond is om na cover bands te luister, of mense wat nie die authenticity van jou werk kan waardeer nie, voel dit soos werk. Maar ander kere, soos

verlede Sondag toe ek in Kirstenbosch voor 4000 mense gespeel het en die meeste van die tyd, is dit wat ek doen regtig lekker,” lag hy. Gerald het ook sedert sy kinderdae ‘n liefde vir en band met perde. Hy beplan tans ‘n perderoete aan die Weskus wat ander perdryers sal kan meemaak en waartydens hy die werk vir sy nuwe album gedaante wil laat kry. Volgens hom is sy skeppingsproses nooit dieselfde nie. “Partykeer skryf ek goed en dan kyk ek watter deuntjie daarby sal pas. Ander kere kom die deuntjie eerste en dan volg die woorde daarna. Daar is nie ‘n resep waarvolgens ek my liedjies skryf nie. Dis elke keer anders,” verduidelik hy. Gerald het al saam met baie bekendes ‘n verhoog gedeel. Onder hulle tel Albert Frost, Dan Patlansky, Koos Kombuis, Theo Crous, Luna Paige en Van Coke Kartel. Hy het al talle internasionale toere onderneem en is veral gewild in Tjeggiese Republiek, waar hy altyd uitverkoopte konserte aanbied, en die Lae Lande. Hy het ook al in Namibië, Botswana en Zambië opgetree en is al vir ‘n WoordTroFee vir die beste solo-vertoning benoem. Die musikante met wie Gerald skouers skuur en saamwerk is ook almal internasionaal bekend. Hy werk nog altyd saam met Tim Rankin en Schalk van der Merwe, maar speel nou ook saam met Simon OrangeBarry van Zyl, ‘n dromspeler wat al saam

met Johnny Clegg, Annie Lennox, Carlos Santana en Robert Plant gewerk het, het saam met hom aan sy Afrocoustic album gewerk. Hy het talle planne en vooruitsigte vir die nabye toekoms. Hy is gevra om hierdie jaar by die Okavango Delta Festival op te tree. Hy gaan ook na Zambië toer. In Swakopmund gaan hy ‘n perdryrit meemaak en hy gaan op ‘n anti-stropingsperderit by die Olifantsrivier. Hy toer in Desember deur Tjeggië en gaan ook in Istanboel optree. In Suid-Afrika gaan hy onder andere by Die Boer Teater, aan die Weskus en by verskeie ander dorpe optree. In Januarie 2019 toer hy met ‘n Tjeggiese musiekgroep in Suid-Afrika. Volgens Gerald was die grootste struikelblok in sy loopbaan tot dusver moontlik ‘n tekort aan goeie bestuur en behoorlike visie of vooruitsig wat die bestuur van sy loopbaan betref. Dit waarop hy die trotsste is, is sy vermoë om saam met die land en wêreld se beste musikante op die verhoog te klim. “Wanneer ek saam met hierdie ongelooflike musikante speel en dit voel asof dit is hoe dit hoort, I’m a part of this - dít is hoogtepunte waarop ek trots is. En dan my songs, ek hóú van my eie songs,” sê hy. Hierdie eerlike, geniale, pretensielose musikant kom egter na al sy toere en internasionale optredes terug na sy basis in Wellington.

NUUS • NEWS


2

NUUS • NEWS

28 Februarie 2018

•KINDERSENTRUM VIER FEES

Feesdag vir HAM se 120ste jaar

Links: Die trompoppies van Hillcrest Primêr het ‘n pragtige vertoning by die fees gelewer. Middel regs: Danie Theart, voorsitter van HAM se beheerraad, open die verrigtinge. Onder links: Lede van die ATKV het aan die potjiekoskompetisie tydens die feesdag deelgeneem. Onder regs: Lede van die Caledonian Roses Klopse het vir polsende musiek gesorg. Middel links: Die kulkunstenaar Chris Welsch en sy buikspraakpop, Japie, het die skare laat skater. Die Huis Andrew Murray Kinder- en Jeugsorgsentrum (HAM) het op Saterdag 24 Februarie hul 120ste bestaansjaar met ‘n spesiale feesdag gevier. Hiermee het hul hulde aan Andrew Murray se visie om kinders te bemagtig, wat in 1898 in die ontstaan van die “Meisjes Arbeid School” gestalte gekry het, gebring. Die feestelikheid het al vroegoggend met die wegspring van die 5km-pretloop afgeskop. Burgemeester Conrad Poole het saam met dr. Elna von Schlicht, uitvoerende burgemeester van die Kaapse Wynland-distrik, die skoot vir die aanvang van hierdie feesdag laat klap. Talle dorpenaars, ondersteuners van HAM en belangstellendes het saam met die inwoners en personeel aan die pretloop deelgeneem. Elkeen wat dit voltooi het, het ‘n spesiale medalje ontvang. Na afloop van die pretloop het almal hulself gereed gemaak vir die groot makietie wat om 10:00 afgeskop het. Die vure vir die potjiekoskompetisie het reeds hoog gebrand toe Danie Theart, voorsitter van HAM se beheerraad, die verrigtinge amptelik geopen het. “God se versorgende lig val deur middel van mense al vir 120 jaar op die werksaamhede van hierdie instansie. "Die oop harte en hande van ons donateurs

en die diensbaarheid van die mense wat oor die jare hier betrokke was, maak dat ons vandag hierdie fees kan vier. "120 jaar is sowaar ‘n goeie rede om fees te vier en hierdie geleentheid is maar een van die groot gebeurtenisse hierdie jaar waarmee ons dié mylpaal wil gedenk,” het hy gesê. Lede van die Caledonian Roses, algehele wenners van hierdie jaar se Klopse-kompetisie by die Boland-stadion, het die trompoppies van Hillcrest Primêr begelei, terwyl hulle op swierige wyse vermaak tydens die openingsverrigtinge verskaf het. Adriaan Rudolph het hierna ‘n duiwe-seremonie behartig waartydens talle duiwe op indrukwekkende wyse losgelaat is. Hierna kon feesgangers hul in die lekkernye van die talle stalletjies, die pretritte op die mallemeule, ponieritte, speletjies, ‘n poppekasvertoning, ‘n vertoning deur die kulkunstenaar Chris Welsch, sowel as talle ander vermaak verlustig. Die plaaslike musiekgroep, OrWellington, het ook spesiaal by die geleentheid opgetree. Die spesiale standbeeld-koek wat die kunstenaar Dot Klerck spesiaal vir die geleentheid gemaak het, is ook tydens die verrigtinge gesny. Die Feesdag was ‘n groot sukses waar die erfenis van die afgelope 120 jaar op luisterryke wyse gevier is - iets waarop daar verder in die volgende 120 jaar gebou kan word.

Wees altyd aan die voorpunt van die goeie nuus met ons sosiale media. Volg ons Facebook-blad by @diecourant. Kontak ons by 022 487 3221 of stuur 'n epos na jaomi@diecourant. co.za. Besoek ook ons webwerf by www.diecourant.co.za.


NUUS • NEWS

Marais praat oor steurnisse Die Wellington Depressie- en Angsondersteuningsgroep het op Dinsdag 20 Februarie hul eerste byeenkoms vir die jaar gehou. Dr. Fanie Marais, voorheen predikant by die Moedergemeente, het as spreker opgetree. Fanie, wat ook ‘n mensekenner en ‘n bekende kunstenaar is, het ‘n praatjie met die tema “Leef oplettend: 25 skilderye” aangebied. Hy was verheug om op sy tuisdorp te kuier. “Andrew Murray het altyd aan die einde van sy briewe met ‘Het lieve Wellington’ afgesluit. Wanneer ek hier op Wellington is, verstaan ek sy gevoel vir die dorp. Dit is ook my ‘lieve’ Wellington,” het hy tydens die opening gesê. Die fokus van sy gesprek het op ‘n aandagtige lewenswyse geval en hoe so ‘n benadering ‘n mens se lewensbeskouing en kwaliteit kan verbeter. “Aandagtigheid is om in die oomblik te wees, om oplettend te lewe en attent te wees op dinge rondom en binne jouself. Die Engelse noem dit ‘mindfulness’,” het hy verduidelik. Hy het ‘n boek van ‘n Franse psigiater, waar verskillende skilderye die aandag op ‘n oplettende lewensbeskouing fokus, as vertrekpunt vir sy gesprek gebruik. ‘n Skyfievertoning van die skilderye het sy verduideliking van hierdie benadering belig. Volgens Fanie is daar verskeie dinge wat ‘n mens kan help om meer oplettend en met aandag te lewe. “Wanneer ‘n mens meer jou fokus instel en op eenvoudige dinge soos jou asemhaling begin ag slaan, kan jy kalmer leef. Dit is wetenskaplik bewys dat jy deur middel van jou asem jou gemoed kan kalmeer en selfs jou bloeddruk kan laat daal,” het hy gesê. Hy het ook na die hedendaagse mens se vermoeienis met die liggaam verwys. “Mense vra hulself voortdurend af of hulle goed genoeg is en vergelyk hulself die hele tyd met ander mense en die ideale beeld wat die media van mense aan ons voorhou. Almal is nie ewe paraat en sterk nie. Om bewus te lewe gee ‘n mens ‘n herwaardering vir die lewe,” het hy gesê. Volgens Fanie is tyd vir stilte, bepeinsing,

3

28 Februarie 2018

meditasie en oordenking ‘n sleutel tot ‘n meer aandagtige lewe. Hy het ook na die nut hiervan om jou brein, emosies en liggaam te sinkroniseer, verwys. “As ons onsself toelaat dat ons gedagtes die hele tyd na onbenullighede dwaal en afgelei word, mis ons so baie. Om te broei op die verlede kan ‘n vrugtelose herkouing en ‘n denkmaalkolk veroorsaak. Om nader na die oomblik voor jou te kyk, help om die wonder in alles raak te sien. ‘Guilt tripping’ en ‘future tripping’ kan gevaarlik wees,” het hy benadruk. Fanie het ook na pyn as ‘n deel van die lewe verwys, maar gewaarsku dat dit nie iets is wat ons moet oorheers nie. “’n Mens moet soms jou brein stilmaak dat jou liggaam beter en meer bruikbaar kan funksioneer. Moenie die donker groter sien as wat dit is nie. Maak vrede met jou gevoelens, erken dit,” het hy gesê. Fanie het beklemtoon dat die moderne lewe vol struikelblokke is, waar almal gedurig jaag om al die “boksies getick te kry”. “Ons moet net pasop dat ons nie soos Ikarus te naby aan die son van bevrediging in ‘n vinnige wêreld vlieg dat ons ons vlerke verbrand nie,” het hy gesê.

Jungiaanse analis in gesprek met kunstenaar

Op Saterdag 24 Februarie het Marita de Wet, ‘n Jungiaanse analis, met die kunstenaar Wilna van der Walt by die Breytenbach-galery in gesprek getree. Wilna se uitstalling, Stories van ‘n lewe, is tans by die galery te sien. Die uitstalling bestaan uit ‘n verskeidenheid skilderye wat die reis na binne ondersoek en uitbeeld. Volgens Wilna was die skeppingsproses heeltemal intuïtief en ego-vreemd en die gesprek met Marita het rondom hierdie “maak”-proses gehandel. “As ‘n mens die ego wegvat, is die skeppingsproses ‘n vervlegde een. Dit is soos ‘n storm in jou brein, dit staan ‘n bietjie, prut ‘n bietjie,” het Wilna gesê. Marita het hierby aangesluit. “Die idee om na binne te gaan, is in ons kultuur eintlik ‘n ongewone een. ‘n Mens moet

soms wegkom van dinge wat jou aandag kan weglei. Dit is nie ‘n lineêre pad nie, eerder ‘n labirint, iets sirkulêr met geen definitiewe begin, middel of einde nie,” het sy verduidelik. Volgens Wilna lê die antwoorde binne jouself. Sy het verduidelik dat as ‘n mens na buite vra, jy dikwels nie na jou eie stem luister nie. “Elkeen dra ‘n natuurlike wysheid in hom saam. Jy moet net bewus word daarvan,” het sy gesê. Albei sprekers was dit eens dat ‘n meer bewuste lewenswyse talle nuwe gewaarwordinge inhou - iets wat in Wilna se kunswerke gestalte gekry het. “As ‘n mens meer bewus lewe, kan jy ‘n bietjie back paddle en nie noodwendig die hele tyd besig wees om altyd vir jou en jou ego se voortbestaan te baklei nie,” het Marita afgesluit.


courant

dié

4

28 Februarie 2018

Hou die blink kant bo

Mense is miskien ‘n bietjie soos kraaie. Dinge wat blink, letterlik of figuurlik, hou vir ons ‘n spesiale aantrekkingskrag in. Enigiets wat skitter, straal, ‘n glansie het, glinster, weerkaats of gepoleer lyk, is vir ons bekoorlik. Ons sien dit oral. Ons hou die blink kant bo. Ons ken almal Langenhoven se wysheid dat ons die swaarkry met lekkerkry moet klaarkry. Ons weet van “mind over matter” en die “halwe glas”-lessie. Maar om die blink kant bo te hou, beteken nie altyd net om na die positiewe kant van ‘n saak te kyk, om, ten spyte van uitdagings en struikelblokke positief op te tree nie. Dit beteken ook om op te tree ásof dit goed gaan. En dit is hier waar ons soms in die hek duik. Gelukkig hou die mense van Wellington nie altyd net die blink kant bo nie, maar ondersteun ook dít wat onder die blink kant verborge lê. Daar het die afgelope week talle dinge in Wellington gebeur wat die kollig op die ondersteuning van depressie en ander psigiese siektes laat val het. Ds. Fanie Marais het insiggewend by die Wellington Depressie- en Angsondersteuningsgroep oor ‘n meer bewuste lewenswyse gepraat. Tydens die paneelgesprek deur vier kundiges by die Bôrdienghuis oor psigiese siektes het die pleidooi duidelik opgeklink: ons moet die stigma rondom hierdie kwessie laat vaar. Ons moet ondersteuning bied en dit normaliseer soos wat ons met enige ander siekte sou doen. Die Jungiaanse analis, Marita de Wet, het tydens haar gesprek met die kunstenaar Wilna van der Walt beklemtoon dat ‘n reis na binne, ‘n verkenning en aanvaarding van die self, sentraal staan in mense se effektiewe funksionering. Op vele ander terreine het Wellingtonners die blink kant, ten spyte van uitdagings, bo gehou. Huis Andrew Murray het ‘n wonderlike Feesdag ter viering van hul 120ste bestaansjaar gehou. Wellington Wines het vier boere vir hul uitnemende werk vereer. Chrislie Dreyer het haar eerste solo-kunsuitstalling, wat die blink en donker kant van vroue ondersoek, geopen. Leana Engelbrecht is deur die ATKV vir haar bydrae tot taal en kultuur vereer en die internasionale musikant, Gerald Clark, noem ons blink dorp sy tuiste. Mag elkeen hierdie week die blink kant bo hou, iemand anders help om dieselfde te doen en nie dít wat onder die glanslagie is, misken nie.

Dis Goeie Nuus

NUUS • NEWS

Sondagmiddagkonserte in die Boland steeds klassiek

Dr. Andrew Bosman

Die woorde van ons mond

In die boek Numerie hoofstuk twintig, word beskryf hoe die Israeliete met Moses en Aäron getwis het. As hulle maar in Egipte gesterf het, waarom het julle die vergadering van die HERE na hierdie woestyn gebring, dat ons en ons vee hier moet sterwe. Waarom het julle ons uit Egipte laat optrek om ons in hierdie slegte plek te bring? Hier is geen vye of granate of water om te drink nie! Moses en Aäron het gaan bid en die HERE het hom die opdrag gegee om die Israeliete byeen te roep en die rots aan te spreek, dan sal daar water uit die rots vloei. Psalm honderd-en-sewe word beskryf dat dit met Moses sleg gegaan het by die waters van Meriba, want hulle was wederstrewig teen sy Gees, sodat Moses onverskillig gepraat het met sy lippe. Die Here het aan Moses en Aäron gesê dat hulle in die woestyn sal sterwe en nie die Israeliete die beloofde land sal inlei nie, want hulle het nie die eer aan die HERE gegee nie. Jesus waarsku in Matteus vyf dat elkeen wat sê : Jou dwaas! Verantwoording moet doen in die helse vuur. Paulus skryf dat ons woorde met sout besprinkel moet wees, sodat ons kan weet hoe om iedereen te antwoord.

Liefhebbers van klassieke musiek in die Boland kan hulle lippe aflek vir “Klassieke Seisoene”, ‘n reeks van vier Sondagmiddagkonserte wat binnekort in die omgewing aangebied word. Die Breytenbach-sentrum op Wellington en Le Bac Estates buite Wellington, bied die vier klassieke konserte, een in elke seisoen, aan. Bekende internasionale, sowel as nasionale klassieke musici, sal teen die agtergrond van die Bolandse wynlande en blou berge musiek vir die fynproewer optower. Die Herfskonsert is 11 Maart, die Winterkonsert 10 Junie, die Lentekonsert 9 September en die Somerkonsert vind op 9 Desember plaas. Die eerste musiekkunstenaar, wat op Sondag 11 Maart 2018 by Le Bac Estates op die R45 tussen Wellington en die Paarl optree, is die Italiaanse violis, Luca Ciarla. Die titel van sy konsert

is ‘Bach into myself’ waarmee hy op ’n moderne wyse van Johann Sebastian Bach se grootste werke verwerk en so hulde aan sy mees geliefde komponis sal bring. Ciarla besoek Suid-Afrika in Maart en het landwyd konserte. Plaaslike klassieke musiekstudente uit die plaaslike gemeenskap sal ook by elke konsert hulle talente aan die konsertgangers bekendstel. Een of meer van hierdie klassieke musiekstudente sal by elke konsert as openingskunstenaar die gaste met haar of sy musiek verwelkom. Studente uit hierdie gemeenskappe sal almal by die vierde en laaste konsert van die jaar optree. Luca Ciarla se optrede op 11 Maart by Le Bac begin om 18:00. Kaartjies kan by teater@breytenbachsentrum.co.za of by Jessica by 021 873 2786 bespreek word.


NUUS • NEWS

5

28 Februarie 2018

Jong kunstenaar se eerste Leesprojek kry boeke van Vriende van Afrikaans, ATKV solo-uitstalling geopen

Die naam Chrislie Dreyer is een wat kunsliefhebbers maar kan onthou. Hierdie jong kunstenaar se eerste solo-uitstalling het op Vrydag 23 Februarie in die Breytenbach-sentrum geopen. Chrislie, wat verlede jaar ‘n finalejaar-student aan CPUT was en kuns as een van haar hoofvakke geneem het, se kunswerke het reeds aan die einde van 2017 as deel van groepuitstalling by die Breytenbach-galery verskyn. Hierdie uitstalling het die werk van al die kunsstudente bevat en ‘n verskeidenheid kunswerke ingesluit. Chrislie, wat as student ‘n gereelde besoeker aan die galery was, se werk was van so ‘n uitstaande gehalte dat sy nou haar eerste solo-uitstalling kon hou. Die uitstalling, met die tema “Women”, bestaan uit ‘n verskeidenheid kunswerke wat die verskillende fasette van vrouwees verbeeld. Volgens haar is dit ‘n droom wat waar geword het. “Dit is vir my ‘n ongelooflike voorreg en ‘n eer om vanaand hier by die opening van my eerste, eie kunsuitstalling te kan staan. Dit was van kleins af ‘n droom van my om ‘n kunstenaar te wees. Dankie aan elkeen wat in my geglo het,” het sy tydens die opening gesê. Sy het ook die keuse van haar tema en die belangrike rol wat vroue volgens haar in die

gemeenskap speel, belig. “Vroue is die draad wat deur al my kunswerke loop. Vroue is ook die goue draad wat deur die samelewing loop en ‘n ongelooflike rol in die versorging, die opbou en die wese van ‘n gemeenskap kan speel,” het sy gesê. Volgens haar is elke kunswerk ‘n storie. “Ek hoop dat elkeen wat voor ‘n kunswerk staan die storie daarin sal kan raaksien, lees en ervaar en ook dele van jouself daarin sal kan herken. ‘n Kunstenaar is eintlik ‘n herskepper en daarom is die kunswerk ‘n spieël van iets wat reeds bestaan,” het sy verduidelik. “Dit is vir my belangrik dat julle weet en sal besef dat elke kunswerk ‘n oop boek, ‘n visuele uitbeelding, ‘n draadloos-boekvoorlesing teen die muur is. Dit is iets wat geskryf word met letters wat elke siel op hierdie aarde kan lees, verstaan, kan volg en tog op sy eie manier kan interpreteer,” het sy afgesluit. Gaste kon heerlik tussen die kunswerke met plaaslike wyn en roosterkoek, wat Chrislie se ma al die pad van Burgersdorp af vir die opening gebring het, kuier. Die uitstalling sal nog tot 8 Maart by die Breytenbach-sentrum te sien wees. Belangstellendes kan die galery by 021-864 2988 of galery@ breytenbachsentrum.co.za kontak.

Laerskool Van Wyksvlei het op Donderdag, 22 Februarie, ‘n heerlike geskenk van die Vriende van Afrikaans en ATKV ontvang. Leermateriaal ter waarde van byna R8000 is aan die skool oorhandig. Chareldine van der Merwe, projekorganiseerder van Vriende van Afrikaans/ATKV, het kratte vol leesboeke en ander leermateriaal aan Riaan

Ross, skoolhoof van Laerskool Van Wyksvlei in Wellington, oorhandig. Die skool is een van die skole waar die Breytenbach-sentrum se projek, Doen, lees- en leer, onder leiding van Charmaine Rhode, aangebied word. Die projek help kinders om goed in Afrikaans te leer lees. Die boeke is aan die Gr. R-klas van juffrou Jill Perrins oorhandig.

‘n Kleurvolle kunsuitstalling met die gepaste tema, Colour my Soul, open op 6 Maart by die Monte Vidéo Gastehuis. Studente van Dalene Buckle se kunsskool, D’Kunsart, sal hul kunswerke volgens hierdie tema by die geleentheid uitstal. Volgens Dalene kon studente die tema volgens hul eie persepsies interpreteer. “Die tema Colour my Soul het seker net soveel verskillende interpretasies as wat ek studente het. Die kunswerke wat hieruit gebore

is, is uiteenlopend en die verskeidenheid resultate is iets wat ‘n mens net weer laat besef dat stimuli en die skeppingsproses by verskillende mense verskillende dinge wakker maak en laat gestalte kry. Ek is baie opgewonde oor die kuns van my studente,” het sy gesê. Die uitstalling open op 6 Maart om 18:30 en sal op 7 en 8 Maart vir besigtiging van 10:00 tot 19:00 oop wees. Vir besprekings en navrae kan belangstellendes Dalene by 082 082 9737 kontak.

Kleurvolle uitstalling gehou


6

28 Februarie 2018

Plaaslike onderwyseres deur ATKV vereer Die kore van die Hugenote Laerskool het onlangs ‘n dubbele provinsiale oorwinning in die nasionale “Sing in Harmonie”-koorkompetisie behaal. Hierdie prestasie is ‘n eerste vir enige skool in die land en Leana Engelbrecht, koorleidster van Hugenote Laerskool se junior- en seniorkore, het ‘n toekenning van die ATKV vir dié welslae ontvang. Die plaaslike ATKV-tak het tydens hul jaarvergadering op 22 Februarie hulde gebring aan Leana se toewyding en bydrae tot die uitbou van taal en kultuur. Volgens Sybil Kotze van die ATKV was die besluit om die toekenning aan Leana te oorhandig, ‘n maklike een. “Leana is ‘n onderwyseres aan Hugenote Laerskool wat Afrikaans as vak aanbied en die kinders ‘n liefde vir die Afrikaanse taal leer. Ons maak hierdie toekenning aan haar nie net omdat sy ‘n toegewyde taalonderwyseres is nie, maar veral ook vir haar ongelooflike insette oor baie jare in die skool se kore. Sy neem gereeld met die seniorkoor aan die ATKV se nasionale Applous-koorkompetisie deel, waar hulle gereeld goue toekennings inoes. Verder is dit ook die eerste keer dat dieselfde skool en dieselfde koorleidster die provinsiale afdeling van die nasionale Sing in Harmonie-koorkompetisie wen,” het Sybil tydens die oorhandiging van die toekenning gesê. Volgens Leana is dit vir haar ‘n ongelooflike eer om op hierdie manier erkenning van die ATKV te ontvang. “Dit is vir my ‘n ongelooflike voorreg en ek is baie trots op elke koorlid wat sy of haar beste gee. Martha du Plessis, my regterhand en die begeleidster van altwee kore, deel ook in hierdie prestasie,” het sy dankbaar gesê. Die ATKV erken en ondersteun taal- en kultuur

in ons land. Leana se welslae met Hugenote se skoolkore is iets wat tot hierdie visie bydra. Haar veelsydigheid as kultuur- en taalmens het haar ‘n geskikte kandidaat vir die toekenning gemaak. “Ek onderrig al vir jare lank Afrikaans by Hugenote Laerskool. Dit is vir my belangrik dat kinders suiwer Afrikaans moet praat en ek moedig hulle aan om baie aandag aan die korrekte spelling te gee,” sê Leana oor haar passie vir Afrikaans. Sy het baie drome, ideale en doelwitte vir die toekoms. “Ek wil natuurlik voortbou op wat ons nou bereik het en beide die Junior- en Seniorkore Hugenote Laerskool se trots maak. Vir die volgende vyf jaar voor my aftrede wil ek steeds deelneem aan kompetisies. Genot is ook baie belangrik in koorsang. Dit moet ‘n spanpoging wees. Koordissipline is van uiterste belang. Daar moet ook by die koorlede ‘n liefde vir goeie musiek gekweek word,” deel hierdie kultuurkrag haar drome.

NUUS • NEWS

Dagboek • Diary

Wellington CLC Matriek-aandklasse by Wellington CLC, Hospitaalstraat. Dinsdae en Donderdae vanaf 18:00 tot 20:00. Navrae skakel 021 864 2418 Wellington-rugbyklub Wellington-rugbyklub se oefeninge vind plaas vanaf 19:30 by die Wellington-rugbyklub, reg langs Boland-stadion. Vir meer inligting kontak Jaco van Deventer 081 488 5457 of Francois Coertze 083 443 3081 HAM 120 Jaar 24 Februarie - Huis Andrew Murray vier hul 120ste bestaansjaar. Kontak 021 873 3834 met navrae. Silwerkruin Basaar 2 Maart 2018: Hou die datum oop. Silwerkruin hou basaar vanaf 16:00 tot 21:00 Vir enige navrae kontak Melanie by 021 873 1040

Kompetisie: Misken in sy

geboorteland Suid-Afrika, maar een van die belangrikste vegvlieëniers in die Tweede Wêreldoorlog. Stuur jou antwoord aan welmus@telkomsa. net of bel in na 021 873 4710 of besoek Wellington Museum. Die antwoord van die vorige kompetisie: Philip Sarembock. Kompetisiewenner: Arina Grobbelaar

XTNFIGFESTIVAL 17 & 18 Maart - 'n Heerlike vyefees word op 17 en 18 Maart op die Uitkijk-plaas, Voor-paardeberg, gehou. Voorafbesprekings beloop R160 per persoon. Daar is beperkte kaartjies by die hek beskikbaar teen R180 per persoon. Om seker te maak jy deel in die vye-pret, bespreek nou by xtnfigfestival@gmail. com Swartland Charity Bikers Braai 6-8 April - Die jaarlikse Swartland Charity Bikers Braai word op die Moorreesburg-skougronde gehou. Voorafskrywings beloop R140. Hektoegang beloop R170 en kenteken R20. Kinders onder 10 is gratis. Voorafinskrywings sluit op 9 Maart. Kontak Francois by 083 956 0606, Erhardt by 082 898 1026 of Herman by 083 568 5020.

Albert Frost 10 March: Albert Frost live at Indie Ale, Porterville. Doors open at 12:00 Pre-sale tickets @ webtickets - R100 Tickets sales through Indie Ale - R120

Pinotage & Biltong Festival 2018 14 & 15 April - Come join in the fun at Perdeberg Winery, Agter Paarl Tickets from www.computicket.com or www.plankton.mobi

Darling-familiefees 17 Maart - Die Darling Familiefees word gehou van 09:00 tot laat by die Darling NG-kerk. Talle aktiwiteite soos 'n mark, boeresport, kinderaktiwiteite, kuiertent en Jo Black om 19:00

The Darling Trust 4 May: Black tie dinner and auction with tannie Evita & chef Jenny Morris at Evita se Perron, Darling R950/ticket To book visit : THEDARLINGTRUST.ORG

Kerke • Churches Anglican Church Sunday morning: April to Sept at 08:00; Oct March at 07:30; Wed. Morning : 09:30 (end Jan to mid Dec); 4 Milner Street, Wellington. Enquiries: 021 873 1425. Joshua Generation Sunday morning 09:00 (English), Sunday evening (Afrikaans) 17:00. Provence, Milner Road. Enquiries: 021 873 6541. Kerk van Macedonië Sondagdiens om 10:00; Groenberg. Navrae: 062 836 1316 of 074 608 0519 NEW Sunday morning at 09:00 (English service); HJN Training Centre, College Street, Wellington. Enquiries: 082 355 3280. NGK Moeder-gemeente Sondagoggend om 09:00. Sondag-aanddiens Leefkerk om 18:00. H/v Kerk- en Piet Retiefstraat, Wellington. Navrae: 021 873 1561. NGK Noord-gemeente Eerste en vierde kwartaal begin die dienste om 9:00 en tweede en derde kwartaal is die diens

op Sondagoggende om 09:30: MacCronestraat 11, Wellington. Navrae: 021 873 2763. NGK Wellington-Oos Sondagoggend om 9:00 en Sondagaand om 19:00 op die h/v Barlinka en Cummingsstraat, Wellington. Navrae : 021 873 2690 St George's Presbyterian Church Sunday mornings at 09:30 (English); 22 Jan van Riebeeck Street. Enquiries: 021 873 2021. Shofar Sondagoggend om 09:00 Laerskool Hugenote, Kerkstraat 41. Navrae: 021 873 7677 AGS Wellington Dienstye en Junior Kerk : Sondae 09:00 asook 18:00 by Terracestraat 3, Wellington. Kontak: 083 258 8717 of 021 873 3375 Crystal Gates Outreach Ministries Sondag-oggende om 10:00 en Vrydag-aande om 19:00, te Bergrivierstraat 32, Vanwyksvlei, Wellington. Alle besoekers welkom.


NUUS • NEWS

28 Februarie 2018

Kundiges praat oor psigiese siektes

Op Saterdag 24 Februarie het ‘n groep kundiges die moeilike onderwerp van psigiese siektes, depressie en selfdood by die Bôrdienghuis-teater onder die loep geneem. Professor Lizette Rabe, hoof van die Joernalistieke Departement by die Universiteit van Stellenbosch, die skrywer Dana Snyman, die psigiater dr. Cobus McCallaghan en die pediater, dr. Gerrit de Villiers, was die gespreksgenote tydens hierdie bespreking. Lizette en Dana is twee professionele mense in die openbare oog wat die gevolge van depressie en selfdood maar te goed ken. Lizette het haar seun as gevolg van depressie aan selfdood verloor, terwyl Dana se verloofde ook onlangs haar stryd teen depressie verloor het. Prof. Rabe het tydens die opening van die gesprek voor ‘n stampvol Bôrdienghuis-teater gepleit dat die stigma rondom psigiese siektes afgegooi moet word. “Mense praat nog steeds van geestesiektes,

maar dit is egter ‘n siekte wat die grootste orgaan in die liggaam, die brein, nie reg laat funksioneer nie. Dit is ‘n biologiese siekte, ‘n behandelbare siekte en selfdood is ‘n voorkombare tragedie. Ons het ‘n verpligting om reg te laat geskied teenoor mense wat ontsettend swaarkry,” het sy gesê. Lede van die besprekingspaneel het die kwessies rondom die oorsake, simptome, stigma, stilte, skande, selfdood, optrede, opsies en behandeling van depressie bespreek. Die psigiater, dr. McCallaghan, het die psigiatriese proses met dié van ‘n chirurgiese mediese prosedure vergelyk. “By enige mediese prosedure waar dokters iemand van die rand van die dood moet red, is daar ‘n hele span betrokke om dit suksesvol te laat verloop. Die psigiatriese proses behoort net so te wees. Psigiatriese siektes is dikwels meer kompleks as fisiese siektes. Om die psigiater te gaan sien, is nie die einde van die behandeling

nie - dit is bloot die begin daarvan,” het hy gesê. ‘n Aangedane Dana Snyman het op sy eerlike manier die ervaring rondom depressie beskryf. “Ek wens ek kon ‘n jaar terug dié ding bywoon. Ek het self na ‘n vorige liefdesteleurstelling met depressie gesukkel - ek het gedink dít wat ek gehad het was depressie. Ek het al van bipolêre steurnisse gehoor en gedog dis soos wat ek gehad het, net met ‘n turbo aan,” het hy sy aanvanklike onkunde verduidelik. Dana het eers na sy verloofde se dood uitgevind dat sy bipolêr was. “Dit is ‘n siekte anderkant woorde. Vir Anette was die dood ‘n verlossing,” het hy gesê. Volgens die pediater, dr. De Villiers, is jeugdepressie iets wat aan die groei is. “Depressie is ‘n onsigbare siekte met geen fisiese tekens nie. Daarom is dit soms so moeilik om ter herken. Met kinders is dit nóg moeiliker. Mense moet bewus wees van tekens wat gedragsafwykings aandui en wat nie in lyn met die kind se persoonlikheid is nie,” het hy gemaan. Al die sprekers was dit eens dat die ondersteuning van mense met depressie kardinaal in hul herstelproses kan wees. “Jy’t nie nodig om ‘n ekspert in psigiese siektes te wees om die ‘protective factor’ in iemand se lewe te wees nie. Met deernis, begrip, geen oordeel en ondersteuning kan jy iemand help gesond word,” het dr. McCallaghan gesê. “Veral kinders moet veilig voel en liefde en koestering, selfs ten spyte van gebroke gesinne, ervaar,” het dr. De Villiers hierby aangesluit. Volgens Dana is daar ‘n fyn lyn waarop ‘n mens moet balanseer wanneer jou depressie en pyn deel van die sosiale media word. “Sosiale media is deel van die werklikheid. Hoe beskerm ‘n mens jouself? Dis moeilik om nie te veel te gee nie, maar ook nie te min nie. Jy raak soms lief vir jou eie pyn. Sosiale media maak een van die aartsondes, selfbejammering, moontlik en jy kan maklik begin teer op simpatie. Daar is ‘n gevaarlike grens waar dit gou ‘n Jerry Springer show kan raak,” het hy gesê. Tog voel Dana dat mense se ondersteunende reaksie ‘n bron van herstel kan wees en dat sosiale media ‘n platform vir die bewusmaking van psigiese siektes bied. Die slotsom waartoe al die sprekers gekom het, is dat die stigma wat aan psigiese siektes kleef vir eens en vir altyd afgeskud moet word. “Ons het die woorde, ons moet begin om meer daaroor te praat,” het Lizette afgesluit.

Vyefees vol verrassings

7

Op 17 en 18 Maart sal die plaas Uitkijk buite Wellington weer gasheer speel vir die jaarlikse XTN Vyefees. Besoekers sal op hierdie twee dae van 10:00 tot 18:00 op verskeie lekkernye, aktiwiteite, ervarings en natuurlike stroopsoet vye getrakteer word. Die hoofdoel van hierdie fees is om ‘n familiegeleentheid te skep waar daar fondse vir die XTN Stigting ingesamel kan word. Die wins van die fees sal vir die oprigting van ‘n Gemeenskap- en Opleidingsentrum tot voordeel van die plaaswerkers en hul kinders benut word. Daar word beplan om ‘n kombuis, ontspanningsaal, toilette en rekenaarvertrek vir die werkers op te rig. Volgens die organiseerders kan besoekers aan hierdie fees na ‘n verskeidenheid aktiwiteite vir die hele gesin uitsien. Buiten ‘n spesiale speelarea vir die kleinspan, sal daar ook springkastele, gesigverf en plaasdiere wees. Run the Vines beplan ‘n spesiale plaaswedloop vir die Saterdagoggend. Trekkerritte vir die hele gesin sal besoekers na die vyeboore neem waar hulle meer oor die verbouing van vye vertel sal word en waar hulle hul eie boksie vye kan pluk. Stalletjies met vyesap, koeldranke, water, vyebier, vyestroop saam met “craft gin” en wyne van die omgewing sal sorg dat die kele nat bly. Optredes deur van ons land se voorste kunstenaars sal besoekers deur die loop van die hele fees vermaak. Matt Carstens, Chris Rain, Bottomless Coffee, Newton & Co, TWEE en Albert Frost is van die kunstenaars waarna feesgangers kan uitsien. Die hele Vyefees het ook ‘n “groen” aanslag en werkers op die plaas sal deurgaans herwinning tydens die fees doen. Die meeste van die afval sal as deel van die plaas se komposprojek gebruik word. Daar sal natuurlik ook talle vyeprodukte by die fees te koop wees. Vyekonfyt, vyeblatjang, gedroogde vye, vyesap, vyehamburgers, vye-peperboerewors, sowel as kaas-en-vye-varkwors sal by die fees te kry wees. Kaartjies vir die fees is by www.computicket. com beskikbaar en sluit ‘n stylvolle wynglas en boksie vye in.


courant

NUUS • NEWS

28 Februarie 2018

dié

8

WELLINGTON SPORT

Tel: 022 487 3221

28 Februarie 2018

Hugenote Laerskool: Die volgende atlete het op 17 Februarie aan die Bo-

land atletiek-kampioenskappe deelgeneem. Die uitslae is soos volg: Connor de Vries – 4de (70m Hekkies); Anja Grobbelaar – 2de (Verspring), 1ste (Hoogspring); Grace de Vries – 3de (Verspring); Sean van Schalkwyk – 3de (Gewigstoot) en Jessi Baxter – 2de (80m). Hulle is in die Boland atletiekspan opgeneem wat aan Wes-Kaap Kampioenskappe op 3 Maart te Oudtshoorn gaan deelneem.

Boland:

Nege atlete van die Laerskool Hugo Rust is opgeneem in die Boland-atletiekspan. Hulle gaan aan die Wes-Kaap byeenkoms op in Oudshoorn op 3 Maart, deelneem.

•SIT PNIEL ORE AAN

Newton se span skitter op veld

Hugenote se top-atlete het deelgeneem aan die Helpmekaar Kollege se Goue Liga Atletiekbyeenkoms. Die byeenkoms is aangebied by die atletiekstadion van die Universiteit van Johannesburg. 16 van ons 21 atlete is onder die top 8 geplaas. Ons verower 3 brons, 2 silwer en 4 goue medaljes.Bo is : Gideon Louw (o/14 - 1ste plek – 1500m), Brent Manual (o/19 - 3de in verspring en 2de in driesprong), Juan Smith (o/19 – 1ste Spiesgooi), Reinard Reitsma (o/19 – 1ste plek in 800m), Vince-Lee Louw (o/15 – 1ste Hoogspring). Voor: Rachelle van Waardhuizen (o/15 – 1ste Hoogspring), Hanlie Visser (o/16 – 3de plek in 400m hekkies), Jay-Cee Hoogbaard (o/16 – 3de plek in 100m Hekkies), Cari Groenewald (o/15 – 2de plek in 400m)

Newton het die afgelope naweek met sjampanje-rugby die hoogaangeskrewe Pniel/Villagers ore aangesit in ‘n vriendskaplike wedstryd op Bombelapark (Newton). Die Booysen-tweeling, Keaton en Keanon, het weereens gewys waarom hulle so ‘n bedreiging is vir enige span met hulle intelligente hardloop lyne en finesse. Hulle het albei twee keer agter die doellyn gaan kuier in die eerste helfte nadat hulle die Pniel/Villagers verdedigers telkemale uitoorlê het. Voorlangs het die Newton agtal ook hulle teenstanders laat kreun in die skrums en harde bene laat kou in die vaste los. Die manne het gaan water drink op 26-5 in Newton se guns. Pniel/Villagers het met meer ondernemingsgees in die tweede helfte begin en vinnig twee drieë gedruk om die telling 26-15 te maak. Net hierna het Newton ontwaak en begin speel asof hulle ‘n dam water ontdek het en eers

het Randall Hefca (flank) oorgebars vir ‘n krag drie, en daarna het Ryan Solomons (vleuel) met krag en finesse die verdedigers in die lug laat gryp en onder die pale oorgeduik. Net hierna het die Booysen-tweeling gekombineer en die drie van die dag aangeteken nadat hulle van hulle kwartgebied begin aanval het. Voorlangs het veral Wayde Schoor(slot) en John Jantjies(haker) soos trojane uitgestaan en telkemale met stormram-lopies bresse geslaan in die verdediging. Agterlangs het Theo Marinus en Kiddo(skrumskakel) goed gekombineer. Eindtelling 52-22, die tweede span wen 49-0 en die derde span verloor 7-3. Die klub begin sy liga verpligtinge op 10 Maart 2018 teen Delicious (tuis) en 17 Maart 2018 teen Roses United. Die span word tans afgerig deur Abe Davids Springbok A-spanafrigter, en alle oudspelers word uitgenooi na die klub se 75ste bestaansjaar in 2018.


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
dié courant wellington 458 by DieCourant - Issuu