Skip to main content

478 dié courant Wellington

Page 1

c urant

• Bergrivier 1Swartland Wellington

dié

18 Julie 2018

• Free • Gratis

Wes-Kaap se #1

Bou saam met goeie nuus

Uitgawe 478

18 Julie 2018

•ROEI STORM LOS IN INTERNASIONALE KOMPETISIE

Bartho jongste ooit op Berg-podium Die plaaslike 17-jarige skoolseun, Bartho Visser, het geskiedenis gemaak by die onlangse Bergrivier Kanomarathon. Bartho, ‘n graad 11-leerder aan Hugenote Hoërskool, en sy spanmaat het uitstekend presteer deur ‘n algehele derde plek in dié prestige kano-wedvaart te behaal. Met hierdie prestasie word hy ook die eerste junior en die jongste deelnemer in die geskiedenis van die Bergrivier Kanomarathon om op die podium te verskyn. Die formaat van die wedvaart het hierdie jaar verander en dit was die eerste keer dat die marathon in spanne aangedurf is. Vir Bartho het dit aanvanklik probleme ingehou, omdat dit moeilik was om ‘n junior roeier te kry wat saam met hom in ‘n span kon roei. Om hierdie rede het hy dit selfs in ‘n stadium oorweeg om glad nie hierdie jaar aan die Bergrivier kano-wedvaart deel te neem nie. “Die nuwe formaat het die hele dinamika van die Berg verander. Dit was moeilik om ‘n junior te kry wat dieselfde spoed en sterkte as ek was en wat bereid was om die 4 dae aan te pak. Jy kry ook nie altyd seniors wat bereid is om saam met n junior te roei nie. Indien jy enkel deelneem, sou dit beteken dat jy elke dag heel agter sou wegspring,” vertel hy. Gelukkig het hy later uitgevind dat die 32-jarige Gavin White van Century City Canoe Klub nog nie ‘n spanmaat het nie en hom gekontak. “Gavin het dadelik ingestem. Ons het mekaar al by wedvaarte raakgeloop, maar het nog nooit saam geoefen nie. Gavin het ook eers twee weke voor die Berg besluit om deel te neem, aangesien sy pa ‘n operasie sou ondergaan. Hy het nie baie kans gehad om te oefen nie, maar ken gelukkig die rivier goed aangesien hy voorheen vyf Berge voltooi het. Hy het nog nooit die geleentheid gekry om op die podium te kom nie,” sê Bartho. “Wanneer ek ekstra tyd gehad het, het ek probeer om saam met Chrisjan Coetzee te oefen. Die tye wat daar min water was, het ek gaan surfski en daar aan ’n paar wedvaarte deelgeneem. Surfski het weer ander tegnieke, maar dit maak jou baie sterk en jy is altyd gewaarborg van genoeg water. Die see droog nooit op nie,” lag Bartho. Hy het ook soveel as moontlik tyd saam met gesoute roeiers op die rivier spandeer. “So word baie verhoudings gebou. Die rivier bly gevaarlik en daarom moet ‘n mens soveel as moontlik probeer leer en mekaar help,” sê Bartho. Buiten die feit dat hy gelukkig genoeg was om Gavin as ‘n spanmaat te kry, het hulle boonop ‘n borg gekry wat hul inskrywing betaal het. “Die inskrywing is op die oomblik baie duur. Dit is ook een van die redes waarom daar roeiers

is wat nie inskryf nie. Borge help baie om sport lewendig te hou,” sê Bartho dankbaar. “Ons het in die eerste skof baie foute gemaak, maar kon gelukkig die ander roeiers inhaal. Ons was die eerste en tweede dag net ‘n paar sekondes voor die span wat ook vir ‘n posisie op die podium gewerk het. Die lang skof van 75 km op die derde dag, maak dit moeilik om tyd te wen. Ek het boonop daardie oggend met maagkrampe opgestaan en glad nie lekker gevoel nie,” vertel hy. “Ek het geweet ons het omtrent 20 km om hul in te haal om ‘n voorsrpong te kry en daarom het ek alles ingesit. Ek het vir 15km my spaanmaat in my slip laat roei om hul in te haal. Toe dit begin moeilik raak, het ek net begin sing! Ons het uiteindelik daarin geslaag om hul in te haal en ons kon ons derde posisie behou met ‘n voorsprong van 1.30 minute. Dit het gemaak dat ons minder druk op dag vier gehad het,” vertel hy oor die moeilike derde skof. Tydens so ‘n uitmergelende marathon is dit baie belangrik om na elke skof te rus en vir die volgende dag te herlaai. Volgens Bartho het hy hierdie les verlede jaar op die harde manier geleer. “Dis baie belangrik om jou liggaam op te bou en gesond te eet gedurende die wedvaart. ‘n Groot fout wat ek verlede jaar gemaak het, was om nie

tydens die wedvaart genoeg in te neem nie. Ek het gesorg dat ek genoeg elektroliete tydens die wedvaart inneem en saans genoeg proteïene eet. Aartappels en jellybeans het my op dag drie gered!” lag hy. Alhoewel Bartho en Gavin voor die wedvaart geen drome van ‘n plek op die podium gekoester het nie, het hul ná die eerste skof besef dat dit dalk moontlik is. “Ons het saam besluit om hard te werk, dit net te geniet en so min as moontlik foute te maak. Gavin het in ‘n grap gesê dat ons vir die top vyf moet mik. Na die eerste skof het ons ons mikpunte ‘n bietjie hoër gestel,” vertel Bartho. “Ek was baie emosioneel omdat dit nog altyd ‘n groot droom was. Ek het baie hard gewerk daarvoor. Ek is die eerste junior en jongste persoon wat nog ooit op die Bergrivier Marathon se podium geklim het en dis vir my ‘n groot eer om dit saam met Gavin te kon doen. Dis vir my belangrik dat ‘n mens dit altyd moet geniet, maak nie saak of jy eerste of laaste is nie. Om die Berg te kan voltooi, is vir almal ‘n groot prestasie,” sê Bartho dankbaar. Intussen is hierdie nederige jong man ‘n gewone, gebalanseerde skoolseun wat aan skoolsport deelneem, ernstig is oor sy skoolwerk en selfs ‘n voordanser in Hugenote se onlangse produksie van Grease was.

NUUS • NEWS


2

18 Julie 2018

•'WORLD CHOIR GAMES' GEHOU

NUUS • NEWS

Hugenote se koor presteer op internasionale vlak

Hugenote Hoërskool se koor, onder leiding van Johann Enslin, het die afgelope week aan die World Choir Games in Pretoria deelgeneem en uitstekend presteer. Dit is die eerste keer dat hierdie geleentheid op die Afrika-kontinent plaasvind en die koor is reeds verlede jaar gekeur om aan hierdie “Olimpiese Spele van Kore” met internasionale kore mee te ding. Die openingseremonie, wat op Woensdag 4 Julie by die Sun Arena plaasgevind het, is tydens ‘n direkte uitsending op televisie uitgesaai en honderde kore van regoor die wêreld het hieraan deelgeneem. Kore uit altesaam 62 lande was slaggereed om hul staal op hierdie internasionale platform te wys. Hugenote se koor het in twee kategorieë meegeding, naamlik die Ope Afdeling vir Gemengde Kore, sowel as die Folklore Acapella Afdeling, wat tradisionele, onbegeleide liedere

behels het. Vir laasgenoemde afdeling het die koor hul gewone koordrag in kleurvolle Afrika-uitrustings omskep. Tydens die prysuitdeling op Saterdag 7 Julie is die koor se harde werk en ure se oefening met uitstekende resultate beloon. Hugenote het in die Ope Afdeling algeheel vierde uit altesaam 16 kore wat in hierdie afdeling meegeding het, geëindig. Met hierdie prestasie het hul stof in die oë van talle volwasse kore van regoor die wêreld geskop. In die Folklore Afdeling het die koor net so goed presteer deur sesde uit 13 kore te eindig en ‘n Goue Toekenning te ontvang. Benewens die koorsang, sowel as die fokus en ysere dissipline wat die koor tydens die kompetisie aan die dag moes lê, het hulle darem tyd vir ontspanning en ander aktiwiteite ook gehad. Hulle het die voorreg gehad om ‘n meestersklas by professor Johan Rooze van Nederland en Suid-Korea by te woon. Die koor het ook die

Voortrekkermonument, Apartheidsmuseum, Gold Reef City en die Pretoria Dieretuin besoek. Hulle het ook aan ‘n vriendskaplike konsert saam met kore van ander lande deelgeneem. Met hul uitstekende prestasie by hierdie internasionale geleentheid, het die koor die kroon op hul harde werk en al die skool en gemeenskap se positiewe insette gespan. Hulle het die kompetisie beslis op ‘n hoë, suiwer noot afgesluit. Die koorleier, Johann Enslin, is in ekstase oor die koor se uitstekende prestasie. “Ons is baie trots op hierdie 89 leerders wat ons naam tydens hierdie kompetisie hoog gehou het. Dit is ‘n reuse-prestasie! Ek verdien min van die gelukwense, die kinders is die helde in hierdie prestasie,” het hy dankbaar gesê. Na ‘n lang busrit terug Wellington toe, is die koor Sondagnag deur hul trotse ondersteuners op eie bodem terugverwelkom.


NUUS • NEWS

18 Julie 2018

Oupa Jasper se hande staan steeds vir niks verkeerd nie •Jaomi Zeeman Jasper Myburgh is ‘n Wellingtonner wat ‘n mens definitief nie op sy baadjie, of ouderdom, moet takseer nie. ‘n Mens sou nooit sê dat dié lewendige man binnekort 83 jaar oud word nie. Hy doen nog werk en maak parte vir ‘n ingenieursonderneming, doen houtwerk en maak leerprodukte. Met sy pittige sêgoed, helder geheue, humoristiese kwinkslae en nugter manier waarop hy die lewe beskou, sal hy talle jongmense in die stof laat byt. Jasper, of “Oupa Jasper” soos wat hy bekend staan, vertel met blink oë van sy grootwordjare op die plaas Middelpos buite Moorreesburg. Hy het sy skooloopbaan by Dirkie Uys Laerskool afgeskop en in 1952 in Worcester begin werk. “Ek het vyf jaar in-diens-opleiding gedoen en my ambag as passer en draaier geleer. Ek het maar altyd daarvan gehou om met my hande te werk. In die oorlogsjare kon hulle nie parte vir goed in die hande kry nie, en ons het dit gemaak,” vertel hy. Nadat hy sy vaardighede in Worcester geslyp het, het Jasper by die De Hoek Sementwerke op Piketberg gaan werk. Hierna is hy na die kopermyne by Nababeep en Okiep, waarna hy weer na die sementwerke by Piketberg teruggekeer het. Daarna het hy Wellington toe getrek en by die destydse Bakke begin werk. Hy het later sy ingenieurswerk by Bakke vir ‘n aanstelling by AKURA verruil. Jasper se professionele loopbaan in die ingenieursbedryf is ingekleur deur sy wye verskeidenheid belangstellings en stokperdjies. Hy het onder andere die geweerwinkel in Lady Greystraat in die Paarl gehad, al talle leerhandsakke en ander leerartikels gemaak, houtwerk gedoen, ‘n kleiduifbaan by Groenberg bedryf en as sjef vir gaste kosgemaak. Jasper lag wanneer ‘n mens hom uitvra oor dié verskeidenheid belangstellings. “Die Here het mos vir my hande gegee. Ek kan nie net stilsit nie. Ek moet elke oggend iets hê om te doen as ek opstaan,” sê hy. Sy interessante stories oor die “hippie” wat

leerprodukte by sy geweerwinkel verkoop het, sy kindertyd-ontmoeting met generaal Jan Smuts en al die kleurvolle mense wat hy al in sy lewe ontmoet het, getuig van sy fyn waarnemingsvermoë en onblusbare nuuskierigheid. “Ek onthou hoe ons hande vol droëvrugte uit die doodskiste op die solder gaan haal het as kind. Ons was mos maar selfversorgend op die plaas. Miskien het my liefde vir leergoed juis dáár begin, by ‘Bont Johannes’ wat op die plaas gewerk het en altyd gesit en leergoedjies maak het. Ek het ‘n hele paar goed by hom geleer,” vertel Jasper. Alhoewel hy homself nie as geduldig of perfeksionisties beskou nie, getuig sy handewerk van tydsame prosesse en uiterste presisie. ‘n Mens sou sweer dat die steke van sy leersakke, jagsakke en ander leerprodukte met ‘n masjien gestik is, want die steke is almal presies ewe groot. Tog is dit nie die geval nie. “Kyk, hier is die naald en gare nog in die leer. Dit is alles met hand gedoen,” wys Jasper. ‘n Paar geweerkolwe wat op die tafel lê, is ook sy handewerk. Die ruitwerk op die kolwe en die afwerking daarvan is só presies dat ‘n mens jou nie kan voorstel dat dit met die hand gedoen is nie. Jasper gaan haal egter ‘n instrument, wat hy óók self gemaak het, waarmee hy die ruitwerk met die hand kon uitkerf. ‘n Ploegie wat hy as 16-jarige gemaak het, staan ook in sy werksarea. “Hierdie ploegie gaan nou na die Koringmuseum in Moorreesburg toe,” sê hy. Die kleiduif-klub wat hy by Groenberg bedryf het, blyk ‘n ryke deel van die omgewing se sosiale geskiedenis te wees. “Die baan het, amper soos ‘n gholfbaan, uit verskillende punte bestaan vanwaar besoekers die kleiduiwe kon skiet. Daar was ‘n hele uitgewerkte roete waarlangs besoekers moes beweeg. Ek het ‘n lapa gehad waar ek dan vir die mense kos gemaak het. Ek het ook al die masjiene vir die kleiduif-skiet self gebou. Ek het in der waarheid vir 33 kleiduif-klubs masjiene gebou,” vertel Jasper. Buiten sy geweerwinkel, werk as ingenieur en kleiduif-avonture, het hy boonop ook gereeld

3

Jasper, met ‘n paar van die items wat hy maak. Op die voorgrond is ‘n geweerkis waarvan hy elke deel, van die inhoud tot die buitekant, self gemaak het.

Die kennisgewing van die geweerwinkel wat Jasper in die Paarl gehad het.

Vrydagaande sjef gespeel vir gaste wat by sy keurig gedekte tafel kom aansit het vir ‘n uithaler-spyskaart - alles uit sy eie kombuis en met sy eie hande gemaak. Talle meubelstukke in sy huis is ook sy eie handewerk.

Aan stilsit en aftree dink “Oupa Jasper” nog glad nie. “Aftree? Hoe kan mense aftree? Ek weet ek raak nou 83, maar stilsit? Nee, ek kan nie stilsit nie,” sê hy.


4

18 Julie 2018

Dis Goeie Nuus

Dr. Andrew Bosman

Die Ou Testament - 'n Voorbeeld en waarskuwing aan ons

Paulus skrywe aan die Korinthiërs dat die voorbeelde in die Ou Testament dien as voorbeelde en waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het. Hy begin deur te sê dat ons nie begerig moet word soos sommige in die Ou Testament begerig was na slegte dinge nie. Ons moet ook nie afgodedienaars wees soos sommige van hulle was nie. Ook moet ons Christus nie versoek soos sommige van hulle gedoen het nie, en hulle het deur giftige slange omgekom. Daar is ook voorbeelde van manne wat vasgestaan het in die geloof, bereid om te sterf vir hulle geloof, dink aan Daniël se drie vriende wat nie voor die goue beeld wou buig nie. Hulle het aan koning Nebukadnesar gesê dat God in staat is om hulle te red, of Hy dit gaan doen of nie, maak nie saak nie, maar voor hierdie beeld sal hulle nie buig nie. Ons is reeds meer as tweeduisend jaar in die laaste dae, tussen hemelvaart en die wederkoms van die Here Jesus, is ons gereed om Hom te ontmoet? Jesus self het gesê, nie almal wat vir My sê, Here, Here sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Ons moet Jesus aanneem as Verlosser en getuig dat Jesus die Christus is.

dié

courant

Almal ken die spreekwoord dat ledigheid die duiwel se oorkussing is. Dat ‘n gesonde liggaam ‘n gesonde gees huisves, is ook iets wat ons van jongs af leer. Elkeen leer dit een of ander tyd: dat geen sukses sonder die herhaaldelike inoefening van vaardighede, die repetisie van sekere noodsaaklikhede en die instudeer van die nodige inligting moontlik is nie. Daar is ‘n prentjie wat onlangs op sosiale media die rondte gedoen het waarop die voete van ‘n ballerina uitgebeeld word. Een voet is in ‘n pragtige pienk balletskoen en die ander een is kaal. Die kaal voet is vol blase, bloukolle en littekens. Dit byskrif lui dat almal graag suksesvol wil wees, totdat hulle besef watter harde werk dit verg. Dit is ongelukkig so dat daar nie sommer kortpaaie na sukses is nie. Oefening baar kuns. Oefening maak die meester. Malcolm Gladwell het selfs al ‘n boek geskryf waarin hy beweer dat dit sowat 10 000 uur van harde oefening en toewyding verg om wêreldklas-sukses in enigiets te behaal. In Wellington was daar die afgelope week talle voorbeelde van mense wat ver van die duiwel se oorkussing bly, definitief ‘n gesonde gees nastreef en die vrugte van ure se herhaaldelike oefening pluk. Tydens die Cravenweek Rugby Toernooi wat verlede week in ons vallei plaasgevind het, het talle skoolseuns hul vaardighede en ure se oefening teen ander spanne op plaaslike rugbyvelde getoets. Die Drakenstein Munisipaliteit het hierdie spelers op egte Bolandse gasvryheid getrakteer. Die Wes-Kaapse Interstreek Netbaltoernooi wat op Hugenote Hoërskool se netbalbane plaasgevind

Aanhou oefen het, was eweneens ‘n toonbeeld van gesonde liggame, gesonde sportmangees en die verfyning van vaardighede wat oor jare geslyp is. Euclea Cavernelis, wat die Boland Dogtersrugbyspan by die SA Toernooi verteenwoordig het, is ‘n toonbeeld van iemand wat geleenthede op sportgebied aangryp, hard oefen en sukses behaal. Die jong roeier, Bartho Visser, se uitstekende prestasie by die onlangse Bergrivier Kanomarathon is ook die resultaat van ure en jare se oefening, deursettingsvermoë en absolute toewyding. Met sy algehele derde plek het hy as eerste junior en jongste podium-roeier ooit, die geskiedenisboeke van hierdie groot wedvaart herskryf. Die koor van Hugenote Hoërskool se onlangse prestasie by die World Choir Games, waar hulle onderskeidelik vierde en sesde wêreldwyd in hul afdelings geëindig het, is die produk van ure en maande se opoffering en toewyding. Oupa Jasper se handewerk getuig van vaardighede wat oor 83 jaar geslyp en ingeoefen is. En Nelson Mandela se nalatenskap, wat vanjaar met ‘n uitstalling by die Breytenbach Galery en op talle ander maniere met sy 100ste verjaardag gevier word, vergestalt dié ikoon se lewenslange toewyding en deursettingsvermoë vir dit waarin hy geglo het. Aristotle het eeue gelede reeds geskryf dat ons is wat ons herhaaldelik doen. Om uitnemend te wees, het hy gesê, is dus nie ‘n aksie nie, maar gewoonte wat uit herhaaldelike inoefening gebore word. Mag elkeen hierdie week aanhou om aan hul goeie gewoontes te oefen. Wêreldklas-uitnemendheid is net 10 000 ure ver.

NUUS • NEWS

Plaaslike kunstenaar werk aan solo-uitstalling

Die plaaslike kunstenaar Charles Small het al ‘n ongelooflike versameling van meer as 700 kunswerke geskep en werk tans aan ‘n nuwe solo-uitstalling wat deur die pragtige omgewing van die Boland geïnspireer is. Small is een van die studente van die kunstenaarsontwikkelingsprogram wat onlangs van stapel gestuur is en deur die Drakenstein Plaaslike Toerisme Vereniging gefasiliteer word. Die program word deur die Drakenstein Munisipaliteit befonds. Small se pad as kunstenaar het reeds op laerskool begin toe hy ‘n groot liefde vir kuns en teken ontwikkel het. Alhoewel hy met pastelle, waterverf en akrielverf werk, bly sy gunsteling medium olieverf. Sy kunswerke bestaan meesal uit emotiewe stillewes en landskappe. Charles bou ook skaal-modelle uit vuurhoutjies. Hierdie modelle is al by die Paarl Museum, sowel as die McGregor Museum in Kimberley uitgestal. “Kuns en houtwerk was my twee hoofvakke op hoërskool en ek is nog altyd deur die tegnieke van die Renaissance kunstenaars soos Leonardo da Vinci, sowel as die skoonheid van die mooi omgewing en mense rondom my geïnspireer. Om met olie te werk kan baie tydsaam wees en dit kan dae neem om ‘n skildery te voltooi. Ek spandeer soms tot ses ure per dag in my poging om die voorwerp waarmee ek besig is, vas te vang op doek,” verduidelik Charles. Hy is trots op die feit dat hy onlangs een van sy kunswerke oorsee kon stuur nadat iemand sy kuns op ‘n YouTube-insetsel raakgesien het. Dit volg nadat sy werk by die Rheebokskloof Wynlandgoed, by die Paarl Museum, by die Kaapstad Internasionale Konvensie Sentrum, sowel as by Boland Park uitgestal is. Charles was ook bevoorreg om onlangs, op 56-jarige ouderdom, as een van ‘n groep kunstenaars geïdentifiseer te word wat die “Product of Place”-kursus wat deur die Craft and Design Institute van Suid-Afrika aangebied is, kon bywoon.

Tydens die kursus kon Charles sien hoe sommige van sy kunswerke tot poskaarte omskep word. Dit het hom laat besef dat werk met ‘n plaaslike tema sy bemarkbaarheid as kunstenaar ‘n hupstoot kan gee. Volgens Annelize Stroebel, algemene bestuurder van die Drakenstein Plaaslike Toerisme Vereniging, was dit ‘n voor-die-hand-liggende besluit om die ontwikkelingsprogram waarvan Charles deel is, te ondersteun. “Een van die redes waarom ons hierdie ontwikkelingsprogram ondersteun, is die feit dat kunstenaars soos Charles werk wat op plaaslike inhoud fokus, skep. Dit sal groot byval by besoekende toeriste vind. Verbeel jou jy kan ‘n skildery of poskaart wat die skoonheid van ons omgewing uitbeeld tydens jou besoek aan ons vallei bekom. Dit sal die ideale aandenking wees om huis toe te neem na ‘n onvergeetlike vakansie in ons omgewing,” het sy gesê. “Deur kunswerke te skep wat bemarkbaar is, kan hierdie kunstenaars ook ‘n volhoubare besigheid vir hulself skep - wat een van die doelwitte van die program is,” het sy verder verduidelik.


NUUS • NEWS

18 Julie 2018

5


6

Dagboek • Diary

Wellington CLC Matriek-aandklasse by Wellington CLC, Hospitaalstraat. Dinsdae en Donderdae vanaf 18:00 tot 20:00. Navrae skakel 021 864 2418 Wellington-rugbyklub Wellington-rugbyklub se oefeninge vind plaas vanaf 19:30 by die Wellington-rugbyklub, reg langs Boland-stadion. Vir meer inligting kontak Jaco van Deventer 081 488 5457 of Francois Coertze 083 443 3081 Darling Museum 20 June: Darling Museum presents candlelight theatre and dinner, with sort stories "Theatre of the Mind" at 19:00. Costs are R125 per head with a 2 course meal (lamb potjie and cheese cake) Bookings by 15th latest For any further enquiries, please contact Dianne 022 492 3361 NG Kerk Riebeek-Wes 20 Junie: Die NG Kerk Riebeek-Wes hou wynveiling met die gaskunstenaar en afslaer, Pietman Geldenhuys by Groenrivier om 18:30. Kostes beloop R200 per persoon en kontantkroeg beskikbaar. Vir enige navrae kontak Altus Gilenhuys by 082 468 8273 Darling Brew 30 June: Darling Brew presents Winter Beer Festival from 10:00 till 18:00. Live music: The Stone Jets and Sunset Sweatshop As per last year - there will be food stalls Ticket Price: R120 per person (includes a free DB beer glass for over 18’s. Big Kids: R80 (12 – 18 years) Kids under 12 is free For enquiries please contact - 021 286 1099

18 Julie 2018

The Stage Door 17 -18 August: Wellington High in affiliation with Defying Gravity Theatre Productions is hosting a musical: 'The Stage Door' at 20:00. Admission fee: Adults and kids R20. The aim of the event is to educate young people of the importance of the finer arts in our community. Also educating the youth in music and dance as part of our arts and culture. Riebeek Valley MTB & Trail Run 18 August: The MTB distances are 60 at 08:00, 40 at 08:05 and 12 km at 08:10. Trail distance - 12 km at Riebeek Cellars at 08:15 Registration from 06:00 on 18 August at Riebeek Cellars. Pre-online entries available. Late entries on the day. Enter online - www.roag.co.za !Khwa ttu 6-7 Oct: 24 hour MTB. Teams can be solo, team of two or team of four - 10km multi lap relay challenge For any further enquiries, please contact 022 451 2202 or send an email to info@darlingttu.co.za Swartland Heritage Festival 2-3 Nov: The Swartland Independent Producers will be back in Paternoster on the West Coast for an incredible celebration of Swartland wine, food and two international guest speakers

Kerke • Churches Anglican Church Sunday morning: April to Sept at 08:00; Oct March at 07:30; Wed. Morning : 09:30 (end Jan to mid Dec); 4 Milner Street, Wellington. Enquiries: 021 873 1425. Joshua Generation Sunday morning 09:00 (English), Sunday evening (Afrikaans) 17:00. Provence, Milner Road. Enquiries: 021 873 6541. Kerk van Macedonië Sondagdiens om 10:00; Groenberg. Navrae: 062 836 1316 of 074 608 0519 NEW Sunday morning at 09:00 (English service); HJN Training Centre, College Street, Wellington. Enquiries: 082 355 3280. NGK Moeder-gemeente Sondagoggend om 09:00. Sondag-aanddiens Leefkerk om 18:00. H/v Kerk- en Piet Retiefstraat, Wellington. Navrae: 021 873 1561. NGK Noord-gemeente Eerste en vierde kwartaal begin die dienste om 9:00 en tweede en derde kwartaal is die diens

NUUS • NEWS

Drakenstein-toerisme loods Mandeladag-inisiatief Mandela Dag word op 18 Julie gevier en hierdie jaar word Mandela se 100ste verjaardag ook tydens die viering gedenk. Die Drakenstein Plaaslike Toerisme-vereniging het hul gewig agter die wêreldwye beweging om gratis, goeie dade op Mandela Dag te doen, gegooi. Die Toerisme-vereniging doen ‘n beroep op alle plaaslike besighede, organisasies en gemeenskappe om hul in hul veldtog te ondersteun. Die Drakenstein Plaaslike Toerisme-vereniging sal hierdie jaar die nie-winsgewende organisasie, Ma’s vir Wellington, met hul Mandela Dag inisiatief ondersteun. Ma’s vir Wellington bestaan uit ongeveer veertig vroulike vrywilligers wat na sowat 160 kinders tussen die ouderdomme van vier en vyf op ‘n daaglikse basis omsien. Die gemeenskap en besighede kan by die inisiatief betrokke raak deur donasies by die toerismekantore in Wellington of die Paarl af te laai. Hul kan ook fisies met die kosvoorbereiding op Donderdag, 19 Julie, help. Kosdonasies kan produkte soos mieliepap, suiker en langlewe melk of -vleis, sous of aftrekselblokkies, groente soos aartappels, wortels of groenbone wat in gesonde maaltye vir die kinders gebruik kan word, insluit. Bederfbare items vir die vrywilligers sal ook verwelkom word. Volgens Anneliese Stroebel, algemene bestuurder van die Drakenstein Plaaslike Toerisme-vereniging, het die gemeenskap van Drakenstein nog altyd ‘n besondere verbintenis met Mandela Dag gehad. “Voormalige president Mandela het die laaste jare van sy gevangeneskap by die Victor Verster tronk deurgebring. Dit is nou die Drakenstein Korrektiewe-fasiliteit en dit is hier waar hy sy bekende ‘Long Walk to Freedom’ met sy vrylating in Februarie 1990 begin het. Vandag is dit een van ons groot toeriste-trekpleisters,

veral omdat die standbeeld van Madiba voor die hekke staan en sy huis as ‘n Nasionale Erfenis-terrein verklaar is,” het sy gesê. “Ons wil graag probeer om Madiba se nalatenskap te laat voortleef en moedig die plaaslike gemeenskap aan om by ons aan te sluit in ons poging om Ma’s vir Wellington te help. Hierdie organisasie doen ongelooflike werk met die kinders in hul sorg,” het sy afgesluit. Belangstellendes kan die Drakenstein Plaaslike Toerisme Vereniging by 021-872 4842 vir meer inligting oor hoe om by hierdie inisiatief betrokke te raak, kontak.

Die Drakenstein Munisipaliteit het op Donderdag 12 Julie ‘n gesellige funksie vir die afrigters, spanbestuurders en ander betrokkenes by die Cravenweek Rugby-toernooi wat die afgelope week in ons vallei plaasgevind het, gehou. Die funksie was by Oppiestoep-restaurant en verteenwoordigers van die verskeie deelnemende provinsies kon op informele wyse die Bolandse gasvryheid van ons gemeenskap ervaar. Die Cravenweek Rugby Toernooi, wat hierdie jaar as deel van hul 150ste bestaansjaarvieringe deur Boys High aangebied is, het hierdie jaar vir groot opwinding gesorg. Busse vol jong rugbyspelers het gereeld deur Wellington se strate gery en besienswaardighede in ons omgewing besoek, terwyl hul van verblyf in ons plaaslike CPUT-koshuise gebruik gemaak het. Talle hooggeplaastes, waaronder uitvoerende raadslede van die Drakenstein Munisipaliteit, burgemeester Conrad Poole, verteenwoordigers van die Suid-Afrikaanse Rugby Unie (SARU), sowel as verteenwoordigers van die Westelike Provinsie se Jeug Rugby het die geleentheid bygewoon. Richard Visagie, adjunkhoof van Boys High, het as seremoniemeester opgetree. Hy het die Drakenstein Munisipaliteit tydens sy verwelkoming vir hul borgskap en gasheerskap van die funksie bedank. “Ons is dankbaar vir die inisiatief van Drakenstein Munisipaliteit om op hierdie wyse by dié groot geleentheid betrokke te raak. Die tema van die aand is ‘Letting your hair down’ en ons hoop dat almal die gasvryheid van ons vallei sal ervaar,” het hy gesê. Boys High se skoolhoof, Derick Swart, het die skool se Fees-Jaarboek aan verskeie hooggeplaastes oorhandig. Yusuf Jackson van SARU, burgemeester Conrad Poole, Danny Jones, hoof van WP Jeug Rugby, sowel as Joël Ingle, president van Suid-Afrikaanse Skole Rugby Unie, het jaarboeke ontvang.

Volgens Noël is hulle positief oor die verloop van die week se rugby, sowel as die nuwe formaat waarin die toernooi plaasgevind het. “Die toernooi het baie goed verloop en as ‘n mens na die uitslae van veral die wedstryde wat op Woensdag en Donderdag gespeel is kyk, sal jy merk dat dit baie nader aan mekaar is. "Ons is baie gelukkig met die uitslae wat weerspieël dat al die wedstryde baie kompeterend was. As rugbywedstryde nie op gelyke kompetisievlakke gespeel word nie, kan dit negatief wees. Met die nuwe formaat waarin die toernooi gespeel is, blyk dit, en ons hoop so, dat dit ‘n stap in die regte rigting was. Die uitslae sal bepaal of dit wel die geval was, en sover blyk dit so te wees,” het hy gesê. Noël was hoopvol dat die finale wedstryde wat op Saterdag gespeel is die vaardigheidsvlakke van die spanne en spelers sou weerspieël. “Hopelik sal die spanne met die beste vaardigheidsvlakke as die wenners uit die stryd tree,” het hy gesê. Wat die gasvryheid van die gemeenskap betref, was Noël vol lof vir die wyse waarop die plaaslike mense en instansies wat die spelers en beamptes gehuisves het, hul welkom laat voel het. “Dit is maklik om oppervlakkige opmerkings oor die wonderlike gasvryheid van die Drakenstein te maak. "Ons is egter opreg beïndruk met die hartlike manier waarop daar na die spelers en beamptes omgesien is. ‘n Mens moet in gedagte hou dat basies almal wat by die toernooi betrokke is, vrywilligers is. Hierdie funksie en al die ander gasvrye gebare uit jul gemeenskap is ‘n wonderlike manier waarop daar aan hierdie mense erkenning gegee word. "Dit is wonderlik om te sien hoe ‘n hele gemeenskap inkoop op die passie vir sport, en veral rugby, wat so ‘n groot opbouende rol onder ons jeug speel,” het hy dankbaar gesê.

Drakenstein Munisipaliteit onthaal sportmanne

op Sondagoggende om 09:30: MacCronestraat 11, Wellington. Navrae: 021 873 2763. NGK Wellington-Oos Sondagoggend om 9:00 en Sondagaand om 19:00 op die h/v Barlinka en Cummingsstraat, Wellington. Navrae : 021 873 2690 St George's Presbyterian Church Sunday mornings at 09:30 (English); 22 Jan van Riebeeck Street. Enquiries: 021 873 2021. Shofar Sondagoggend om 09:00 Laerskool Hugenote, Kerkstraat 41. Navrae: 021 873 7677 AGS Wellington Dienstye en Junior Kerk : Sondae 09:00 asook 18:00 by Terracestraat 3, Wellington. Kontak: 083 258 8717 of 021 873 3375 Crystal Gates Outreach Ministries Sondag-oggende om 10:00 en Vrydag-aande om 19:00, te Bergrivierstraat 32, Vanwyksvlei, Wellington. Alle besoekers welkom.


NUUS • NEWS

18 Julie 2018

7

Vernuf met Blokhuis 2016 Taking a new look safety at home for third term se Grenache Blanc

In sy strewe om die beste wyndruiwe te vind, het wynmaker en mede-eienaar van Truter Family Wines, Hugo Truter, 'n paar jaar gelede heel toevallig op 'n dertigjarige Grenachewingerd op die kruin van Piekenierskloofpas afgekom. Hierdie ontdekking het gelei tot die bekendstelling van Blokhuis 2016 Grenache Blanc waarvan net 300 bottels uit ‘n enkelvat vrygestel is. Hierdie beperkte uitgawe is handgenommer, wasverseël en verpak in 'n pragtige unieke leer en bamboes houer. Dit is die eerste kultivar wat onder die Blokhuisetiket bekendgestel sal word waaruit daar jaarliks 'n aantal innoverende handgemaakte wyne voortgebring sal word. Alhoewel Grenache taamlik onbekend is in Suid-Afrika, word die variëteit met sy vermenging van Sauvignon Blanc se skerp, suur, tintelinde geure en die volrondheid van Chardonnay reeds hoog aangeskryf. Hugo en sy vrou Celeste, albei wynmakers, het Grenache met sy uitstaande kwaliteite as die voorloper vir die Blokhuisreeks gekies omdat dit hul passie vir wynmakery vasvang. Die wyn verras met aromatiese sitrus-, vars klapper- en heuningbosgeure. Tropiese vrugte, blomgeure en 'n botterige romerigheid smelt sagkens met die verfynde suurheid saam. Voortreflik om net so te geniet, effens verkoel, of saam met ryk gekruide geregte soos Hoender Satay, Marokkaanse Tagine of mediumharde, neutagtige kase soos Emmentaler of Gruyère.

Alhoewel daar meesal teeplantasies in die area voorkom, is die bergagtige terrein van Piekenierskloof ideaal vir die aanplant van Grenachedruiwe. Sowat 520 meter bó seespieël in ‘n droë, rotsagtige area word die wingerde aan uiterste temperature blootgestel wat wissel van warm, droë somers tot snerpende koue winternagtemperature. Die druiwe is einde Februarie met die hand gepluk, in 'n mandjiepers gepars en na gisting is die sap na 'n tweede-vul Franse eikehoutvat vertap. Na die gistingproses is die wyn vir agt maande in dieselfde vat verouder en ná bottelering vir nog ses maande, om so die uitsonderlike, ryk karakter van die wyn voort te bring. Hugo en Celeste, beide gesoute wynmakers van formaat, het hul eerste wyn in 2010 vrygestel en albei werk sedert 2013 voltyds aan die Truter Familie Wyne. Sedertdien het hulle 'n aantal wyne geskep met druiwe afkomstig van regoor die Wes-Kaap. Die naam Blokhuis verwys na die behoue blokhuis buite Wellington, in die rigting van Tulbagh, 'n nasionale monument wat tydens die Anglo-Boereoorlog van die laat 1800's deur die Britse Magte opgerig is. Een van ongeveer 8000 regoor Suid-Afrika is die blokhuis in Wellington die mees suidelike en dit, saam met die westerse wingerde waar die Grenache-druiwe vir die eerste Blokhuis-vrystelling verkry is, toon 'n naam wat beide geskiedenis en visie in sy DNA het.

School’s back – time for a refresher on being safe at home, on your way to school, and on the world wide web. With the second half of the school year about to start, a local private security company has reminded parents of the safety measures their children should follow when walking to and from school. Verena Hulme, District Manager for Fidelity ADT (Cape Town North), has some advice that can help increase peace of mind. “We could look at the start of the second part of the year as the perfect chance for a refresher course, to make sure our kids know what to do and what to avoid.” She suggests the following tips are shared with the kids, and that they are encouraged to practise them every day: • Children must always walk to or from school with a friend or friends. If your child walks alone, it’s a good idea to ask a teacher or other parents if they know of other kids from the area who do the same. • Stick to streets you know and never take short cuts through unfamiliar or quiet areas. • If you get picked up at school, always wait inside the grounds for your lift to arrive; do not leave the premises to go and look for them in the street. • Remember, your parents would never send someone you don’t know to fetch you. Never get into a stranger’s car even if they claim that someone you love is hurt and that they are supposed to pick you up. • If a stranger approach you, do not talk to them no matter how friendly they may seem. If someone tries to grab you, fight, kick and scream that they are not your mom or dad. Hulme recommends that parents also talk to their children about being safe when they are alone at home: • It is important that they know to always keep entry and exit doors locked, and that

nobody is to enter the property without your permission. • If you have a home security system installed teach them how to activate and de-activate it and how and when to use other security devices like panic buttons. • It is a good idea to have a list of emergency contacts – including the 10111 number - near the telephone and to explain to children when and how it must be used. Any conversation about safety should also include a talk about online safety, says Hulme: • Never post any personal information online – like an address, email address or mobile number. • Think carefully before posting pictures or videos of yourself. Once you’ve put a picture of yourself online most people can see it and may be able to download it, it’s not just yours anymore. • Keep your privacy settings as high as possible. • Never give out your passwords. • Don’t befriend people you don’t know. • Don’t meet up with people you’ve met online. Your child should always tell you if an online contact they have never met suggests they meet up. • Remember that not everyone online is who they say they are. • Think carefully about what you say before you post something online. • Respect other people’s views, even if you don’t agree with someone else’s views don’t mean you need to be rude. • If a child sees something online that makes them feel uncomfortable, unsafe or worried: they should leave the website, turn off their computer and tell someone immediately. “Safety should ideally be something we talk about all year long. Let’s not waste this chance to again have this important talk with our kids,” says Hulme.

Wees altyd aan die voorpunt van die goeie nuus met ons sosiale media. Volg ons Facebook-blad by @diecourant. Kontak ons by 022 487 3221 of stuur 'n epos na jaomi@ diecourant.co.za. Besoek ook ons webwerf by www.diecourant.co.za.


courant 18 Julie 2018

dié

8

NUUS • NEWS

WELLINGTON SPORT

Tel: 022 487 3221

18 Julie 2018

Wellingtonner speel barshou by SA’s •Jaomi Zeeman Euclea Cavernelis is ‘n matriekleerder by Hugenote Hoërskool. Hierdie kranige sportvrou het die Boland o.18-meisierugbyspan tydens die eerste week van die skoolvakansie by die SA Rugbytoernooi vir dogters in Johannesburg verteenwoordig. Euclea, wat haar laerskoolloopbaan aan Hugo Rust Laerskool voltooi het, is die dogter van Anthony en Angela Cavernelis. Sy is ‘n gebore Wellingtonner en het twee ouer broers. Alhoewel sy haar lewe lank aan rugby blootgestel is, het sy hierdie jaar vir eerste keer begin rugby speel. “Ek het in Meimaand die proewe op Boland Stadion bygewoon en is toe uiteindelik in die Bolandspan opgeneem. Ek het nog nooit vantevore rugby gespeel nie,

maar het vinnig my plek op slot gevind,” vertel sy. As lid van die Bolandspan het sy aan die SA Rugbykampioenskappe vir dogters by Jeppe Hoërskool gaan deelneem. Hier het ongeveer 20 spanne met mekaar meegeding. Die Bolandspan het teen die Sharks, die SWD en die Bulldogs gespeel en uitstekend gevaar deur slegs hul wedstryd teen die Bulldogs te verloor. Euclea se ontluiking as belowende rugbyspeler is geen verrassing as ‘n mens haar sportiewe geaardheid en natuurlike sportaanleg in ag neem nie. Buiten die feit dat sy nou ‘n provinsiale rugbyspeler is, is sy ook lid van Hugenote Hoërskool se o/18 A-netbalspan. Sy het ook al ‘n hele paar keer die Boland en Wes-Kaap Atletiekspanne vir

gewigstoot en diskus verteenwoordig. Sy het boonop half-erekleure vir atletiek by haar skool verwerf. Volgens haar is die grootste uitdagings ten opsigte van vroue-rugby die feit dat dit baie fisiek is en nie iets is waarmee sy al in die ander sportsoorte wat sy beoefen gekonfronteer is nie. Hierdie uitdaging keer haar egter nie om groot drome te droom nie. “Ek hoop om eendag vir die Nasionale Vroue Rugbyspan gekies te word,” sê sy. Haar raad aan ander voornemende dogtersrugbyspelers is eenvoudig. “Moenie bang wees nie. Dit is maar net nog ‘n sportsoort waaraan ‘n persoon kan deelneem en dalk ‘n loopbaan van kan maak,” laat sy hoor.

Plaaslike spanne vaar goed by inter-streek-netbaltoernooi

Die Wes-Kaapse Inter-Streek Netbaltoernooi het van 12 tot 14 Julie in Wellington by die bane van Hugenote Hoërskool plaasgevind. Dit was ‘n miernes van bedrywighede terwyl honderde netbalspelers, beamptes, skeidsregters en toeskouers van regoor die Wes-Kaap op ons dorp toegesak het om die netbalaksie gade te slaan. Die distrikte wat aan die toernooi deelgeneem het, was Kaapstad, die Kaapse Wynlande, Sentraal-Karoo, Eden, Overberg en die Weskus. Spanne van verskillende ouderdomsgroepe, vanaf so jonk as onder 11 tot en met onder 18, het met mekaar meegeding. Volgens die president van die Wes-Kaapse Netbal Unie, Bennie Saayman, was dit ‘n eer om die meer as 150 beamptes en skeidsregters, sowel as ongeveer 600 spelers by die toernooi in Wellington te verwelkom. “Hierdie toernooi is die belangrikste een in die Wes-Kaap omdat dit die geleentheid aan spelers wat net-net nie die Wes-Kaap spanne gehaal het nie, die geleentheid bied om met mekaar te kompeteer. Sulke geleenthede is baie belangrik vir jong spelers omdat dit hulle aanmoedig om aan te hou droom om provinsiale en nasionale spelers te word,” het sy gesê. Marie le Roux, voorsitter van Wes-Kaap Skole Netbal, het hierby aangesluit. “Hierdie toernooi erken die potensiaal van spelers wat in die proewe uitgeblink, maar nie vir finale insluiting in die Wes-

-Kaap span gekwalifiseer het nie. Die toernooi bied ook die geleentheid aan beamptes en skeidsregters om hulself op provinsiale en nasionale vlak te bekwaam deurdat dit ‘n platform skep waar hulle hul gradering kan verbeter,” het sy gesê. Die toernooi is volgens ‘n “round robin”-formaat besleg waar spanne in wedstryde, bestaande uit twee rondtes van 12 minute elk, teen mekaar te staan gekom het. Die onder 18-spanne het wedstryde bestaande uit vier kwarte gespeel. ‘n Allemintige 184 wedstryde is tydens die toernooi gespeel. Die plaaslike spanne van die Kaapse Wynlande het uitstekend in die toernooi gevaar. Die o/11 en o/12-spanne het beide sesde in hul afdelings geëindig, terwyl die o/13-span ‘n vyfde plek en die o/16-span ‘n vierde plek behaal het. Die plaaslike o/14-span het ‘n bronsmedalje in hul afdeling behaal en beide die o/15 en o/17-spanne het silwermedaljes losgespeel. Die o/18-span het die kroon gespan op die plaaslike spanne se welslae deur as die kampioene in hul afdeling te eindig. ‘n Plaaslike skeidsregter, Chantelle Grobler, het ook presteer deur as een van die skeidsregters te kwalifiseer wat hul gradering na ‘n C+ verbeter het. Tydens die afsluiting en prysuitdeling van die toernooi is daar hulde gebring aan almal wat die geleentheid moontlik gemaak het en ‘n bydrae tot die sukses daarvan gelewer het. Die spelers is as die ware helde van die toernooi bestempel.

Bo: Die Kaapse Wynlande was die kampioene in die o.18-afdeling. Links: Die plaaslike spelers het dit behoorlik op die netbalbaan uitgespook tydens die Wes-Kaapse Interstreek Netbaltoernooi. Onder: Die plaaslike skeidsregter, Chantelle Grobler (heel regs), het uitstekend presteer en is saam met ander skeidsregters vereer vir hul verbeterde graderings.


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
478 dié courant Wellington by DieCourant - Issuu