Skip to main content

467 dié courant wellington

Page 1

courant

• Bergrivier 1Swartland Wellington

dié

2 Mei 2018

• Free • Gratis

Wes-Kaap se #1

Bou saam met goeie nuus

Uitgawe 467

2 Mei 2018

•KYK NA BOEINGS VANUIT HAAR AGTERPLAAS

Fatima vlieg hoog •Jaomi Zeeman Fatima Jakoet se gelukkigste kinderherinneringe is dié waar sy as vierjarige in hul agterplaas in Wellington vir die Boeing gesit en wag het om oor hul huis te vlieg. Vandag is dié boorling van Wellington ‘n Senior Eerste Offisier by die South African Airways. Fatima staan ook aan die hoof van die Sakhikamva Organisasie wat onder andere lugvaart-bewustheid onder die jeug kweek en verwante vaardighede onder leerders van graad 1 tot 12 ontwikkel. Sakhikamva is die Xhosa vir “om die toekoms te bou” - heel gepas vir die wonderlike werk wat Fatima in hierdie verband doen. Hoe het dit gebeur dat ‘n Moslem-meisie van Wellington vir haarself ‘n naam in ons land se lugvaart-kringe gemaak het, haarself as ‘n leier op die gebied gevestig het en boonop terugploeg in die gemeenskap? “Destyds, as vierjarige in ons agterplaas in Wellington, sou ek met die geringste geluid van ‘n vliegtuig die hele buurt se kinders roep en ‘n groot kabaal opskop. Almal moes na die vliegtuig kom kyk wat eendag vir my iets spesiaal sou bring. Ek het destyds eintlik gedink dat die vliegtuig miskien vir my ‘n boetie of sussie sou bring, want dis waar ek gedink het babas vandaan kom,” lag sy. Fatima se ma het haar op vyfjarige ouderdom skool toe gestuur. Dit is hier waar haar liefdesverhaal met lugvaart vlerke gekry het, alhoewel die vlug nie altyd sonder uitdagings en turbulensie was nie. “Tydens my grootwordjare het my drome die hele tyd verander. Ek het daarvan gedroom om ‘n vlieënier, ‘n dokter, ‘n vlieënier, ‘n ruimtevaarder of ‘n spioen word. En dan was daar natuurlik die droom om ‘n supermodel, wat die wêreld vol toer en miskien selfs in ‘n James Bond-fliek speel, te word,” vertel sy. Tydens haar hoërskooljare het sy dit ernstig oorweeg om ‘n dokter te word. In haar hart het Fatima egter geweet dat dit waarskynlik nie moontlik sou wees nie. As gevolg van apartheid en die feit dat sy ‘n Moslem-dogter was, het sy besef dat sy baie hard sou moes werk om haar drome te verwesenlik. Dit was vir haar ‘n groot teleurstelling toe sy nie vir medies gekeur is nie, maar het haar studies in haar tweede keuse, naamlik chemie, met mening aangepak. Fatima se loopbaan in chemie het haar in die fassinerende veld van forensiese wetenskap laat beland waar sy in toksikologie gespesialiseer en as ‘n narkotiese dwelmspesialis gewerk het. “Alhoewel dit nou nie so glansryk is soos CSI dit laat lyk nie, was dit ‘n bevredigende loopbaan waar ek my vaardighede as ‘n wetenskaplike,

spesialis-ondersoeker van misdaadtonele en spesialis-getuie ontwikkel het. Ek het baie insig in die wêreld van dwelms, moord, ons regstelsel en die algemene rykwydte van misdaad in Suid-Afrika gekry,” vertel sy. Dit was juis tydens ‘n dwelm-konfiskeringsmissie by die lughawe dat sy eendag in verwondering na ‘n Boeing 747-400 gestaan en kyk het. “Daardie vliegtuig het iets in my wakker gemaak en ek was weer die vierjarige meisie in my ouers se agterplaas. Ek het na my kollega gedraai en hom vertel dat hierdie vliegtuig my roep en dat ek nog eendag agter só een se stuur sal sit,” onthou sy. Dit was ‘n moeilike reis om vir die SAA se kadet-vlieërprogram gekeur te word. Fatima onthou die psigometriese toetse, mediese evaluerings, twee rekenaar-simulasietoetse, ‘n agtuurlange psigologiese profieltoets en die senutergende persoonlike onderhoud baie goed. “Uit omtrent 6000 aansoekers is net 16 uiteindelik gekies,” sê sy. Hierna het haar opleiding in Suid-Afrika, sowel as in Australië begin. Nadat Fatima haar opleiding voltooi en ‘n internskap by Airlink gedoen het, het sy in 2005 by SAA aangesluit waar sy die Boeing 747-400 en later die Airbus 340 op internasionale roetes begin vlieg het. Fatima vlieg tans die Airbus 320. Sy het in 2009 met ‘n MBA aan die Universiteit van Stellenbosch (US) gegradueer en ‘n onderskeiding vir haar tesis behaal. Sy is sedertdien aktief by die aktiwiteite van die US betrokke en is in 2013

as ‘n handelsmerk-ambassadeur vir die instansie aangewys. In 2010 het Fatima die Sakhikamva Stigting begin. Hierdie organisasie bedryf meer as 12 programme en projekte wat lugvaartvaardighede en -belangstelling onder die jeug ontwikkel en ondersteun. Deur middel van strategiese samewerking met ander instansies bied hul ook beurse aan belowende studente en werk hulle in vennootskap met universiteite om ‘n betekenisvolle, volhoubare platform vir die jeug in die lugvaartbedryf te skep. Fatima het ook die wêreld se eerste “Science Technology Robotics Engineering Aerospace and Mathematics” (STREAM)-laboratorium in 2015 ontwikkel en van stapel gestuur. Die STREAMlaboratorium is ‘n interaktiewe ruimte waar jongmense se vaardighede in die lugvaartsektor ontwikkel kan word. Sy het boonop ‘n Harvard-beurs ontvang en in 2016 hul program in leierskapontwikkeling suksesvol voltooi. Fatima het verlede jaar ook as direkteur van Besigheidsontwikkeling by die Cape Aerospace Technologies aangesluit. Hierdie dinamiese boorling van Wellington is dankbaar vir die stewige fondament wat tydens haar kinderjare hier in ons vallei gelê is. “Die enigste vlieëniers wat ek as kind geken het, was skoenlappers en voëls. Ek is geseënd dat ek my roeping kan uitleef. Soms vlieg ek oor my ou huis in Wellington en ek wonder of daar ‘n klein dogtertjie iewers is wat wens dat my vliegtuig eendag vir haar iets spesiaal sal bring,” sê hierdie vrygewige, dinamiese vrou.

NUUS • NEWS


2

2 Mei 2018

Wen met Piet Musikant nou tuis op Wellington Botha en Die Middernagtrein

Drie gelukkige lesers sal elk met die splinternuwe CD van Piet Botha, Die Middernagtrein, spog. Botha het onlangs, na 'n stilte van sewe jaar, sy nuutste CD aan die Wes-Kaap bekendgestel. "Ek het old school gegaan met hierdie een," vertel Botha. “Daar is goed in die lewe waarvoor mens nie kan weghardloop nie,” sê Piet. “Dis maar die noodlot, dís wat die Middernagtrein is. Dis spookagtig, verbode, soos wanneer mens huis toe ry ná ‘n gig in die middel van die nag. Die Middernagtrein is maar ‘n metafoor vir life on the road.” Piet het onlangs by die Vonk-familie aangesluit, wat die verspreiding behartig. Die Middernagtrein is by Musica-winkels landswyd, asook op alle aanlyn-musiekplatforms, beskikbaar. Om in aanmerking te kom vir 'n kopie van Die Middernagtrein moet jy net die volgende doen: stuur 'n Whatsapp-boodskap met die slagwoord PIET, saam met jou naam en van, tuisdorp en die antwoord op die onderstaande vraag, na 084 8333 813 voor 5 Mei om 12:00. Die wenners sal telefonies in kennis gestel word.

Die 74-jarige Les Witz woon sedert Desember 2017 in Wellington. Hierdie inwoner van Fyngoud is egter allesbehalwe ‘n ledige afgetredene. Les, wat sy lewe lank al as musikant in verskeie bekende orkeste opgetree het, is steeds besig om sy groot liefde vir musiek uit te leef. Les is al amper 50 jaar lank in die musiekbedryf. Volgens hom was sy ma en pa beide baie musikaal en moes hy baie teësinnig op sesjarige ouderdom met klavierlesse begin. Hy het egter baie vinnig die magiese wonder van musikale kreatiwiteit ontdek en hom uiteindelik as gesoute musikant bekwaam. “Dit is sekerlik een van die hartseerste stellings as iemand in hul latere lewe sê dat hulle wens dat hul maar ‘n musiekinstrument leer bespeel het. Ek is bly dat my ma my maar destyds na die klavierlesse gesleep het,” sê hy. Les het voortgegaan met sy musiekopleiding in klavier, klawerbord en saksofoon en uiteindelik ‘n diploma in Musiek in die Primêre Graad, in die Intermediêre Graad, sowel as in die Gevorderde Graad by UNISA verwerf. Hy het sy eerste orkes, The San Antones, in die laat sestigerjare begin en het gereeld by klubs en musiek- en rockfeeste gespeel. Hy het daarna as vryskut-musikant in verskeie dansorkeste soos The Henry Morkel Dance Band en The Albert Koen Dance Band opgetree. In die sewentigs het hy na Gauteng en KZN verhuis en by verskeie plekke en saam met verskeie orkeste in Johannesburg, Pretoria en Durban opgetree. Les het ook werk in opname studios in Johannesburg gedoen en as sessie- en ondersteunende musikant opgetree. Met sy terugkeer na die Kaap in 1975 het hy die bekende groep, The Drifters, gestig. Hulle het vir meer as 20 jaar as kontrakmusikante by verskeie bekende uithangplekke soos die Ambassador Hotel in Kampsbaai, die Hohenhort Hotel in Constantia, die Plaza Espana in Houtbaai, die Van Riebeeck Hotel in Gordonsbaai, sowel as in

die Newlands Hotel musiek gemaak. Hierna het Les weer as vryskut-musikant saam met verskillende orkeste begin optree. Hy kan genres soos Kaaps Maleis, Boeremusiek, Jazz en Blues op sy curriculum vitae skryf en tot onlangs as ondersteunende musikant in county-toere saam met die bekende country-sanger Matt Hurter opgetree. Ander bekende musikante met wie Les al skouers geskuur en saamgespeel het, is onder andere Flippie van Vuuren en Nico Carstens. Benewens Les se ryke musiekagtergrond, het hy ook al talle ander interessante dinge in sy lewe gedoen. Hy was onder andere in die Handelsvloot en ook in die SA Vloot. Sy liefde vir die see het ook gestalte gekry in ‘n groot projek wat hy as jongman aangepak het. “Ek het in my 20’s vir ag jaar lank eiehandig ‘n 30m-lange seiljag gebou. Ek het vir twee jaar met ‘n bemanning van vyf lede met hierdie jag om die wêreld gevaar,” vertel hy oor sy interessante wedervaringe. Les het ook vir amper 20 jaar as personeelbestuurder in die konstruksiebedryf gewerk. In hierdie tyd het hy saans na werk saam met sy orkes by funksies of hotelle gaan speel. Hy het onder andere ook op ‘n keer saam met ‘n Nederlandse orkes, die Dutch Swing College Band, opgetree. Nou tree hy alleen of as deel van trio by geleenthede op. Hy bied ook musieklesse aan. Volgens Les gooi musiekstudente of leerders dikwels tou op, omdat hulle dink dat hulle geen talent het nie of omdat hulle die verkeerde keuse ten opsigte van ‘n musiekinstrument gemaak het. “Ek het gedurende my navorsing oor opleidingstelsels met die Ben-Tovin Boyd-assesseringprogram kennis gemaak. Dit is uiters suksesvol om ‘n persoon met die geskikte instrument te vereenselwig. Volgens hierdie program volg ‘n leerder vir drie maande ‘n kursus in klavier, waarna hul musiek kan lees en ook van gehoor

NUUS • NEWS

kan speel. Gedurende die kursus sal voortdurende assessering gedoen word om te bepaal of die persoon met klavier as eerste instrument moet voortgaan en of hul na ‘n meer geskikte alternatiewe instrument moet oorslaan,” verduidelik hy. Intussen het Les al sedert hy in Desember in Wellington woon by verskeie plaaslike funksies opgetree. Dorpenaars wat al sy musiektalent gehoor en hul aan sy verstommende interpretasies van gewilde jazz-, blues-, boeremusiek en “golden oldies”-musiek kon verwonder, kan net nie genoeg van hierdie musikant kry nie. Belangstellendes kan Les by 072 851 7178 of leswitz@gmail.com kontak.

Wees altyd aan die voorpunt van die goeie nuus met ons sosiale media. Volg ons Facebook-blad by @diecourant. Kontak ons by 022 487 3221 of stuur 'n epos na izelle@diecourant.co.za. Besoek ook ons webwerf by www.diecourant.co.za.


NUUS • NEWS

3

2 Mei 2018

•SPEEL ROL IN OPVOEDING VAN PLAASLIKE JEUG

Plaaslike Scouts kry tweede asem “Deur kinders en die jeug te leer hoe om selfvertroue te hê en self-onderhoudende spanspelers te wees wat ‘n verskeidenheid lewensvaardighede het en inisiatief kan neem, is die Scouts Suid-Afrika Organisasie besig om generasies van jongmense te bemagtig om wegbaners in die geveg teen armoede te wees en die land se groei te versterk.” Só het Patricia Glyn, ‘n mediapersoonlikheid, skrywer en eko-avonturier oor die Scouts getuig toe sy oor die rol van die Scouts in die opvoeding van die jeug uitgevra is. Volgens die Wellingtonner Ampie de Vries slaan Patricia die spyker op sy kop met hierdie uitlating. “Die Scouts het hulself oor baie jare as ‘n organisasie wat karakter bou en opheffingswerk doen, gevestig,” sê hy. Ampie is een van Wellington se oud-Scoutslede en ken die ryke geskiedenis van hierdie organisasie in ons dorp goed. “Die Scouts in Wellington was oor die jare ‘n

baie aktiewe organisasie wat uitnemende persoonlikhede opgelewer het. Die grondslag wat die Scouts in baie jongmense se lewens gelê het, het vir sukses in hul latere lewe gesorg,” sê hy. Ampie vertel van hoe hierdie organisasie sedert die vroeë 1950’s in Wellington aktief was. Hyself het in die 70’s by die Scouts aangesluit. “Dit was ‘n lewendige organisasie wat selfs twee Springbok-Scouts opgelewer het wat ons land in die buiteland gaan verteenwoordig het,” vertel hy. Alhoewel die oorspronklike groep doodgeloop het, wil hulle nou hierdie positiewe inisiatief onder die jeug laat herleef. “Ons wil weer nuwe lewe in hierdie organisasie blaas en dit van nuuts af op die been bring in ons gemeenskap. "Hier is ‘n Scouts-plaas buite Wellington, maar dit word op die oomblik hoofsaaklik deur Scout-groepe van elders gebruik. "Die Scouts is vir seuns én meisies en ons wil strukture daarstel vir ons kinders se ontwik-

Wellingtonner kurator van Suidoosterfees-uitstalling Die Wellingtonner Anne-Ghrett Erasmus, kurator van die Breytenbach-galery, is hierdie jaar ook die kurator van die kunsuitstalling by die Suidoosterfees. Dit is ‘n besondere eer dat sy hierdie jaar as kurator vir die feesuitstalling gekies is, veral omdat die fees dié jaar sy vyftiende bestaansjaar vier. Dit is ook die vyftiende bestaansjaar van die fees wat die tema vir die uitstalling geïspireer het. Met die “Fantastiese 15/Fabulous 15”-tema kon Anne-Ghrett haar kreatiwiteit vrye teuels gee en 15 uiteenlopende kunstenaars nooi om aan die uitstalling deel te neem. Sy het besluit om eietydse kuns wat die hedendaagse kunsliefhebber en feesganger se belangstelling en blik sal prikkel, vir die uitstalling te kies. Die jong, vars uitstalling sluit kunswerke in verskillende mediums, onder andere olie op doek, beeld-

keling, hul karakterbou en aandag skenk aan opheffingswerk,” sê hy. Vir hierdie doel word alle belangstellendes en oud-Scoutslede genooi om ‘n vergadering op Sondag 6 Mei om 16:00 by die saal van die Vaardigheidskool op Wellington by te woon. “Ons doen ‘n beroep op alle oud-Scoutslede, of hulle nou offisiere of net lede was, sowel as ander belangstellendes oor die ouderdom van

houwerk, keramiek, ontwerpersmeubels, sowel as keramiek en grafiese werk in. Swaargewig-kunstenaars soos Nanette Ranger, Michelle Nigrini, Theresa Jo, Louis Jansen van Vuuren, Hennie Nieman, Christiaan Diedericks, Willie Bester, Bastiaan van Stenis, Wiid Design, Gerhard Human, Selwyn Pikeur, Conrad Theys, JP Meyer en die Wellingtonners van Ceramic Matters se werk is almal by die uitstalling te sien. Baie van hierdie kunstenaars stal internasionaal uit en feesgangers sal ‘n versameling kunswerke uit eie bodem, wat ‘n weerspieëling van die ongelooflike plaaslike talent is, by die fees kan sien. Wanneer mense van 26 April tot 1 Mei dié “Fantastiese 15”-uitstalling by die Suidoosterfees besigtig, sal hul hul ook aan die kuratorskap van ons eie Wellingtonse kunsghoeroe, Anne-Ghrett Erasmus, kan verwonder.

18 jaar, om hierdie byeenkoms by te woon. Ons wil graag ‘n groep volwassenes kry wat as Scouts opgelei kan word en die strukture kan vorm wat ons jeug weer by hierdie positiewe organisasie betrokke kan kry,” sê Ampie. “As almal inkoop, sal die Scouts weer, soos van ouds, momentum kry in ons dorp en ‘n positiewe invloed op ons jongmense se lewens hê,” sluit hy af.


courant

dié

4

Fatima Jakoet het as jong dogter tydens haar grootwordjare in Wellington al iets van die waarde en towerkrag van lugvaart vermoed. Om die wêreld van bo uit die lug op ‘n afstand te sien, bring ‘n heel ander perspektief as die horisontale blik wat ons elke dag op ons omgewing en die dinge rondom ons het. Baie wyshede oor ‘n arendsblik op dinge, of die vermoë om die groter prentjie te sien, is al in die literatuur en in talle liedjies kwytgeraak. Confucius het geskryf dat ‘n leeu hom in ‘n boom gejaag het, en dat die uitsig uit die boom vir hom genotvol was. Die Amerikaanse kletsrymer, JayZ, voel dat om terug te staan van situasies, jou ‘n perfekte blik op die werklikheid kan gee. Visie beteken soms om te kan sien wat vir ander se persepsies onsigbaar is. In Wellington is talle voorbeelde van mense en instansies wat ‘n arendsblik op die lewe en die dinge rondom ons het. Daar is talle individue en organisasies wat nie bloot in die probleme voor hulle, die klein detail in die grond voor hul voete of die moeilike omstandighede reg voor hul deure vasstaar nie, maar ‘n toekomsvisie het en die groter prentjie raaksien. Die plaaslike Lions help al vir dekades lank waar daar nood is en het onlangs weer die senior burgers van ons dorp met ‘n heerlike ete en dag vol vermaak vereer.

Dis Goeie Nuus

2 Mei 2018

Arendsblik bring visie

Die musikant Les Witz laat hom nie deur sy ouderdom kniehalter nie en dra steeds die ewigdurende waarde van musiek aan gehore en studente oor. Anne-Ghrett Erasmus ken die betekenis van kuns in die groter storie van die mensdom en wend haar kennis as kurator by die Suidoosterfees aan. Die oud-Wellingtonner Fatima Jakoet se kinderdrome oor lugvaart het haar laat vlerke kry in haar beroep - ‘n arendsblik-visie wat sy nou ook tot voordeel van ander mense in haar nie-winsgewende organisasie gebruik. Belgiese studente het hul vlerke gesprei en hul horisonne in ons pragtige dorp kom verbreed. Hul getuigskrif oor ons mense, dorp en taal getuig van hul nuwe visie en persepsie oor opvoeding en Suid-Afrika. Die Grease-produksie wat volgende week by Hugenote Hoërskool op die planke is, verbreed nie net die wêreld van die leerders wat bevoorreg is om daaraan deel te neem nie, maar bring ook die groter wêreld van kuns en vermaak na mense in Wellington. Daar is talle voorbeelde van plaaslike mense met ‘n arendsblik wat ‘n ander visie of persepsie tot gevolg het - soms met verrassende, positiewe gevolge. Mag elkeen hierdie week uitstyg bo die alledaagse, ‘n ekstatiese arendsblik beleef en ‘n vars visie en persepsie op die koop toe kry.

Dr. Andrew Bosman

Hoe tree ons op onder druk

In 1 Samuel hoofstuk 15 lees ons van koning Saul wat die opdragte wat hy ontvang het nie uitgevoer het nie. Op die vraag van Samuel waarom koning Saul dan nie die opdragte van die HERE uitgevoer het nie, het koning Saul geantwoord dat hy bevrees was vir die manskappe en na hulle geluister het. Koning Saul het Samuel gevra om met hom saam te gaan dat hy die HERE kan aanbid, maar Samuel het hom geantwoord dat hy nie sal saamgaan nie, want die Here het koning Saul verwerp om koning oor Israel te wees. Dawid en sy manskappe keer terug na hulle stad Siklag, en vind dat hulle vroue en kinders en al hulle vee geroof is. Die manskappe was baie ontsteld en wou vir Dawid stenig. Dawid het egter vir Abjatar, wat die priesteramp vervul het geroep en gevra om die HERE vir hom te raadpleeg. Die HERE het hom geantwoord dat hy die vroue en kinders en vee sal terugkry as hy die vyand aanval. Koning Saul en Dawid was beide deur hulle manskappe bedreig, Dawid het hom versterk in die HERE sy God, terwyl koning Saul na sy manskappe geluister het.

NUUS • NEWS

Leerders leer betekenis van vakansiedae

Op Donderdag 26 April het die leerders van Wamakersvallei Primêr die slapies voordat hulle weer hoef terug te gaan skool toe op hul vingers bereken: ‘n volle ses nagte. Hierdie skool se leerders het almal in hul skoolsaal vergader om na ‘n praatjie oor die betekenis van hierdie ekstra-lang langnaweek te luister. Alle Wellingtonners en Suid-Afrikaners is dankbaar vir die meevallertjie van die afgelope paar vakansiedae. Die werksweek is hierdie week vir baie mense immers net drie dae lank ‘n welkome blaaskans in die dolle gejaag van die tweede kwartaal van 2018. Hier in Wellington is 1 Mei veral betekenisvol, omdat dit tradisioneel die dag is waarop die Safari-halfmarathon plaasvind en talle tekkies oor die paaie rondom ons dorp hul weg vind. Maar wat is die eintlike rede en betekenis agter die afgelope langnaweek se vakansiedae? Weet ons wat gedenk word? En watter relevansie het die vakansiedae in ons hedendaagse realiteit? 27 April: Vryheidsdag Op Vrydag 27 April het ons Vryheidsdag gevier. Hierdie vakansiedag word sedert 1995 elke jaar gevier om Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing te herdenk. Alle Suid-Afrikaners bo 18 jaar kon vir die eerste keer op 24 April 1994 hul kruisies by die stembusse trek. In 1995 is 27 April tot ‘n nasionale vakansiedag verklaar. Alhoewel die vryheid wat ons mense 24 jaar gelede vir die eerste keer by ons land se stembusse gehad het op hierdie datum gevier word, het die datum, ironies genoeg, ook ‘n ander konnotasie. Op dieselfde dag 44 jaar tevore, op 27 April 1950, is een van Apartheid se mees gehate wette, die Groepsgebiedewet, uitgevaardig. Hierdie wet het tot die onteiening en gedwonge verskuiwing van duisende mense aanleiding gegee. By Wamakersvallei Primêr het die kinders egter verlede Donderdag op die betekenis vryheid en die verantwoordelikhede wat daarmee gepaard gaan, gefokus. Volgens hulle beteken vryheid om nie beperk te word nie, nie belemmer te word nie, verlos te wees en openhartig te kan doen wat jy moet en wees wie jy is. Hulle het ook geleer dat die misbruik van mag vandag, net soos voor 1994, tot die inperking van mense se vryheid kan lei. Daarom word die vryheid van mense in ons land se Grondwet en Handves van Menseregte beskerm. Elke mens is geregtig op die vryheid van alle vorme van geweld. Ons het die vryheid van godsdiens, oortuiging en mening. Ons

geniet die vryheid van uitdrukking, akademiese vryheid, die vryheid van kreatiwiteit, van spraak en van assosiasie. Ons het die reg op vrye verkiesings, vryheid van beweging en verblyf en die vryheid van bedryf, ‘n beroep en professie. Dit is maar ‘n paar van die vryhede waarop ons geregtig is. Of almal werklik vry is van armoede, werkloosheid, geweld, misdaad, onderdrukking en mishandeling, kon die leerders van Wamakersvallei nie met sekerheid sê nie. Hulle weet wel dat daar strukture bestaan wat jou kan help om van hierdie euwels vry te word. Kortom, hulle verstaan dat vryheid ook verantwoordelikheid, harde werk en moed verg. 1 Mei: Werkersdag Werkersdag het lank gelede as “May Day” in die noordelike halfrond bekendgestaan. Dit het die eerste dag van die somer aangekondig en is met groot vure gevier. Mense het ook rondom ‘n paal, wat hulle die “Maypole” genoem het, gedans. Dit het tot ‘n groot mate hulde gebring aan die belangrike werk wat die werkersklas verrig het. Die 1ste dag van Mei het in die hedendaagse geskiedenis ‘n soortgelyk, maar nuwe betekenis gekry. Na die eerste demokratiese verkiesing in 1994 in Suid-Afrika plaasgevind het, is Internasionale Werkersdag, of 1 Mei, ook hier as ‘n amptelike vakansiedag verklaar. Die geskiedenis van Werkersdag dateer terug na die 1886 Haymarket-gebeurtenis wat in Chicago plaasgevind het. ‘n Groot groep werkers het tydens hierdie gebeurtenis vir meer billike werksure (8 ure per dag) betoog. Dit was egter eers in 1891, na herhaaldelike betogings op 1 Mei elke jaar, dat Werkersdag ‘n publieke vakansiedag in talle lande geword het. Sedertdien word Werkersdag deur die werkersklas regoor die wêreld, maar ook in Suid-Afrika, gebruik om klem op regverdige arbeidspraktyke te plaas. Die skoolhoof van Wamakersvallei Primêr, Pieter Solomons, het Donderdag met die leerders gespot dat slegs die onderwysers eintlik op 1 Mei ‘n vakansiedag moet hê, omdat net hulle werkers is. Miskien het die leerders van Wamakersvallei Primêr die essensie van Vryheidsdag en Werkersdag saamgevat toe hul in kletsrym-styl, nogal met ‘n “off-beat”, die volgende oor die pas afgelope twee vakansiedae gesê het: “Vryheidsdag, Vryheidsdag. Almal stem vir die eerste slag. Werkersdag, Werkersdag. Die werkers gee ons land sy krag.”


NUUS • NEWS

2 Mei 2018

5


6

Dagboek • Diary

Wellington CLC Matriek-aandklasse by Wellington CLC, Hospitaalstraat. Dinsdae en Donderdae vanaf 18:00 tot 20:00. Navrae skakel 021 864 2418 Wellington-rugbyklub Wellington-rugbyklub se oefeninge vind plaas vanaf 19:30 by die Wellington-rugbyklub, reg langs Boland-stadion. Vir meer inligting kontak Jaco van Deventer 081 488 5457 of Francois Coertze 083 443 3081 Storie-oggend @ Piketberg 26 April - Luister na die verhale van gister vertel deur Andries (Wolf) Liebenberg en Jannie Lategan. Kontak 022 913 2177 met navrae. Sea Rescue Yzerfontein 28 April: Open Day from 10:00 till 15:00. Come and join us on our Rescue Boat and meet the crew for a donation. Adults at R50 and children at R25 (no children under 6 years). 4x lucky draw winners will also get a trip to Dassen Island. For any further enquiries contact 082 990 5974 or email - nsri34yzerfontein@ gmail.com The Darling Trust 4 May: The Darling Trust presents a black tie dinner and auction at Evita se Perron with tannie Evita & Chef Jenny Morris. Tickets are R950.

2 Mei 2018

To book visit THEDARLINGTRUST.ORG Damesoggend 11 Mei: Maak my mooi damesoggend met Hannon Bothma en Linda Kriel by die Malmesbury Stadsaal vanaf 9:30 tot 12:30. Koste beloop R200 pp (wyn en snacks ingesluit) Vir besprekings en navrae kontak Dirkie Gildenhuys by 082 415 8000 of e-pos na dirkieproduksies@gmail.com Ikhaya Le Themba 12 May: A great fundraiser taking place at Provence in Wellington for the whole family with a market, kids activities and entertainment. All proceeds to go Ikhaya Le Themba for their hungry Tummy Pack Initiative (feeding scheme) For more info visit www.ikletemba. co.za

Joshua Generation Sunday morning 09:00 (English), Sunday evening (Afrikaans) 17:00. Provence, Milner Road. Enquiries: 021 873 6541. Kerk van Macedonië Sondagdiens om 10:00; Groenberg. Navrae: 062 836 1316 of 074 608 0519 NEW Sunday morning at 09:00 (English service); HJN Training Centre, College Street, Wellington. Enquiries: 082 355 3280. NGK Moeder-gemeente Sondagoggend om 09:00. Sondag-aanddiens Leefkerk om 18:00. H/v Kerk- en Piet Retiefstraat, Wellington. Navrae: 021 873 1561. NGK Noord-gemeente Eerste en vierde kwartaal begin die dienste om 9:00 en tweede en derde kwartaal is die diens

'Grease' op die planke

As “Grease” die woord is wat jou voete laat ritme hou en jou aan die ruk en rol kry, is daar goeie nuus. Hierdie gewilde musiekblyspel sal van 8 tot 11 Mei by die Hugenote Hoërskool op die planke wees. ‘n Hele span talentvolle leerders oefen reeds maande lank om die bekende storie en onvergeetlike musiek van die “Pink Ladies” en die “Burger Palace Boys” aan te bied. Die uitstekende toneelspel en sang, energieke danspassies, ongelooflike stel, uitspattige kostuums en lewendige orkes sal van hierdie produksie ‘n weergalose ondervinding maak. Tussen al die kattekwaad wat die bendes aanjaag, word daar op die maat van geliefde liedjies soos Summer Nights, We go together, Hand Jive, Look at me I’m Sandra Dee en Beauty School Dropout gesing en gedans. Grease is Hugenote Hoërskool se derde musiekblyspel in die afgelope drie jaar. Na die wegholsukses en uitverkoopte sale van Beauty and the Beast en The Sound of Music, was hierdie jaar se keuse ‘n maklike een. Die volledige, lewendige orkes wat die sangers en dansers begelei sal die voete laat jeuk en Wellingtonners vir die vol-

gende paar maande Grease-treffers laat neurie. Johann Enslin is aan stuur van sake en behartig die musiek. Leandé Strömbeck en André Terblanché is die regisseurs. Nicolene During is weer terug as choreograaf. Volgens Johann gaan Hugenote se Grease-produksie ‘n hoogtepunt wees. “Ons staan elke jaar verstom oor die talent en deursettingsvermoë van die leerders en hele span wat by ‘n produksie soos hierdie betrokke is. Ons kan nie wag om hierdie een op die planke te kry nie. Dit gaan, soos vorige jare, onvergeetlik wees,” sê hy. Die rolverdeling bestaan uit 50 lede, onder andere Suné van Niekerk (Sandy), Emile du Plessis (Danny), Henk van der Spuy (Kenicke), Danré de Beer (Rodger), Gert Jordaan (Doody), Reece Poole (Sonny), Paula Zeeman (Frenchy), Mija Zeeman (Jan), Jana Malan (Marty) en Megan de Waal (Rizzo). Kaartjies vir Grease is by Hugenote Hoërskool te koop. 11 Mei is die Gala-aand. Kaartjies in die saal sluit ‘n ete in. Galery-kaartjies is steeds vir hierdie aand teen normale pryse te koop. Vir enige navrae, kontak 021-873-2111 of jenslin@hugenoteskool.co.za.

Belgiese studente lê besoek af op Wellington

Wintech - Vinpro 29 Mei: Inligtingsdag te Nelson Estate, Paarl. Koste beloop R230 per persoon. Vir enige navrae kontak Gaynor Fortuin by 021 276 0432 of stuur e-pos aan gaynor@vinpro.co.za Riebeek Valley MTB & Trail Run 18 August: The MTB distances are 60, 40 and 12 km. Trail distance - 12 km at Riebeek Cellars. Enter online - www.roag.co.za Swartland Heritage Festival 2-3 Nov: The Swartland Independent Producers will be back in Paternoster on the West Coast for an incredible celebration of Swartland wine, food and two international guest speakers

Kerke • Churches Anglican Church Sunday morning: April to Sept at 08:00; Oct March at 07:30; Wed. Morning : 09:30 (end Jan to mid Dec); 4 Milner Street, Wellington. Enquiries: 021 873 1425.

NUUS • NEWS

op Sondagoggende om 09:30: MacCronestraat 11, Wellington. Navrae: 021 873 2763. NGK Wellington-Oos Sondagoggend om 9:00 en Sondagaand om 19:00 op die h/v Barlinka en Cummingsstraat, Wellington. Navrae : 021 873 2690 St George's Presbyterian Church Sunday mornings at 09:30 (English); 22 Jan van Riebeeck Street. Enquiries: 021 873 2021. Shofar Sondagoggend om 09:00 Laerskool Hugenote, Kerkstraat 41. Navrae: 021 873 7677 AGS Wellington Dienstye en Junior Kerk : Sondae 09:00 asook 18:00 by Terracestraat 3, Wellington. Kontak: 083 258 8717 of 021 873 3375 Crystal Gates Outreach Ministries Sondag-oggende om 10:00 en Vrydag-aande om 19:00, te Bergrivierstraat 32, Vanwyksvlei, Wellington. Alle besoekers welkom.

Bo is Julie Willems, Maud Cornelissen en Nori Coene. Agter is Tim Reynaert en Adriaan Pietermans. Vyf studente van die Karel de Grote Hogeschool (KDG) in Antwerpen, België het die afgelope drie maande in Wellington vertoef. Hulle is finalejaar-onderwysstudente wat praktiese onderwysondervinding by Hugenote Laer- en Hoërskool kom opdoen het. Studente van die KDG besoek elke jaar ons dorp. Dit spruit uit ‘n samewerkingsooreenkoms wat jare gelede tussen die KDG en OKB (nou CPUT) in hierdie verband aangegaan is. Alhoewel CPUT nie meer by die jaarlikse besoek van die KDG-studente betrokke is nie, het hierdie instelling bly voortleef en stuur die KDG steeds elke jaar van sy topstudente om by die Hugenote skole op Wellington te kom proef. Dit is al die veertiende groep studente wat op hierdie wyse na Wellington kom. Volgens die vyf studente, wat verwonderd is oor hoe goed Vlaamse en Afrikaanse mense mekaar in gesprekke kan volg, is dit hul almal se eerste keer in Suid-Afrika. Hul moes almal die afgelope drie maande voltyds by Hugenote Hoër- en Laerskool klasgee en daagliks, weekliks, sowel as maandeliks van hul lesse verslag lewer. “Ons moes eers deur ‘n keuringsproses by KDG gaan voordat ons na Suid-Afrika kon kom. Ons moet ook volledig verslag gee van wat ons in elke les hier doen. Uiteindelik moet ons ‘n hele voorlegging in Antwerpen gaan doen oor ons wedervaringe hier,” verduidelik hulle. Volgens die studente is daar ooreenkomste, sowel as verskille tussen die skoolstelsels in België en Suid-Afrika. “Klasse is baie groter in Suid-Afrika, wat ‘n invloed op die dissipline in die klasse het. In België dra kinders ook nie skooluniforms nie.

Sportafrigting in België is glad nie deel van skoolonderrig nie en kinders wat daar sport wil beoefen, moet dit na skool by klubs doen. Hulle het wel, soos hier, elke week of siklus liggaamlike opvoeding in skooltyd,” sê hulle. Die studente van KDG gaan elke jaar by Gerhard en Elra Rademeyer tuis. Vir hierdie gashere is dit net ‘n plesier om die buitelanders te huisves. Hulle neem ook die studente op uitstappies om ons omgewing en provinsie beter te leer ken. Die Belgiese studente is mal oor die dorp, taal en land. Van hul ouers het selfs tydens die drie maande dat hul hier gebly het, kom kuier om ook die mooi omgewing te beleef. “Dit is vir ons ongewoon om in ons moedertaal met mense hier te praat en dat hul ons volkome verstaan. Die mense is almal vriendelik en gasvry - veral hier in Wellington - en die omgewing is pragtig. Die kos en die wyn is iets wat ons nooit sal vergeet nie. Dit is van die beste kos wat ‘n mens in die wêreld kan kry, en dit is vir ons so goedkoop! Die sterre hier by julle is ook meer en duideliker as by ons, waar dit deur onnatuurlike lig verbloem word,” sê hul oor ons mooi dorp. Volgens die studente, wat op 26 April na België moes terugkeer, is dit beslis nie die laaste keer dat hul Wellington en Suid-Afrika besoek nie. “Ons is bly om huis toe te gaan, maar baie hartseer om hierdie pragtige, gasvrye plek te groet. "Die mense, en veral die kinders by die skole waar ons gewerk het, het ‘n groot indruk op ons gemaak en ons sal beslis terugkom hierheen,” laat hul almal hoor.


NUUS • NEWS

7

2 Mei 2018

Boekklub luister na Rudie van Rensburg Die plaaslike Boekklub het op Dinsdag 24 April in die Bôrdienghuis by die Breytenbach-sentrum vergader. Tydens hierdie geleentheid kon hulle na die skrywer Rudie van Rensburg luister. Rudie, wat pas twee nuwe boeke gepubliseer het, het oor sy nuutste publikasies gesels. Sy twee nuwe boeke, “Hans steek die rubicon oor” en “Ys”, is tydens die byeenkoms bespreek. Rudie het bekendheid as misdaadskrywer verwerf en het al talle titels in hierdie genre uit sy pen laat verskyn. Slagyster, Judaskus, Kopskoot, Kamikaze en Pirana tel onder sy bekende miskdaadpublikasies. Met “Hans steek die rubicon oor” het Rudie ‘n nuwe rigting ingeslaan deur ‘n meer humoristiese boek te skryf. “Hans se storie het eintlik eers as ‘n kortverhaal, wat in die Woordfees se kortverhaalbundel opgeneem is, ontstaan. "Die storie het my egter bly pla en ek het gevoel dat ek ‘n volledige boek daaroor moet skryf. "Ek het die eerste ag hoofstukke na die uitgewer gestuur en dit is goedgekeur,” het Rudie die agtergrond van die storie verduidelik. Volgens hom gaan Hans se storie oor ‘n man wat deur sy kinders gedwing word om ouetehuis toe te gaan. Lesers sal hul in Hans se wedervaringe in die ouetehuis, wat ongekende streng reëls het, kan verkneukel. Die matrone was onder andere eers in die korrektiewe dienste en Hans stig ‘n organisasie wat die streng reëls in die ouetehuis teenstaan. “Die skryf van hierdie boek was ‘n baie lekker oefening,” het Rudie oor Hans se storie gesê. Rudie het ook lig op sy nuutste misdaadboek, “Ys”, gewerp. Hy het die skryfproses, die navorsing wat hy vir die boek moes doen, sowel as ‘n paar karakters in die boek onder die loep geneem. Oor die storielyn het hy egter geheimsinnig gebly. “Vir ‘n misdaadboek soek ek nie noodwendig eers na karakters of ‘n storie nie, maar eerder

na ‘n geskikte plek waar ‘n lekker misdaadstorie sal kan afspeel. Vir ‘Ys’ was die sneller ‘n artikel in ‘n News Week wat ek op die lughawe gekoop het. Hierdie artikel oor die Noordpool en die smelting van die poolys het my op die spoor van ‘n storie oor ‘n omgewingsaktivis wat in die Kaap kom praat en al die intriges wat daarrondom ontstaan, gesit,” het Rudie verduidelik. Volgens hom het sy navorsing oor hierdie onderwerp hom op baie interessante feite laat afkom en ook sy eie bewustheid ten opsigte van natuurbewaring en aardverwarming ‘n hupstoot gegee. “Die smelting van die perma-ys in die Noordpool laat metaangas in die atmosfeer vry. Volgens wetenskaplikes kan dit weghol-klimaatsveranderinge tot gevolg hê waarvan die eerste tekens reeds sigbaar is. "Dit was regtig vir my lekker om aan ‘Ys’ te werk - en as ek so lekker skryf aan ‘n boek, is dit gewoonlik ‘n teken dat lesers dit ook sal geniet,” het hy gesê. In reaksie op vrae uit die gehoor, het Rudie verduidelik hoedat hy, met die aanvang van sy skryfproses, nog geen idee van die verloop of einde van die storie het nie. “Die storie ontvou soos wat dit geskryf word. Ek weet nooit aan die begin van ‘n storie hoedat dit gaan eindig nie. Die karakters in elke boek bepaal op watter afdraaipaaie die storie loop,” het Rudie verduidelik. Hy het ook, na aanleiding van ‘n vraag uit die gehoor, oor sy ryke loopbaan as joernalis en as deel van Sanlam se reklame-afdeling gepraat. “Skryf is egter loshande die lekkerste ding wat ek nog ooit gedoen het,” het hy afgesluit.

Die plaaslike Lions Klub het op Saterdag 21 April ‘n heerlike ete en funksie vir die senior burgers van die omgewing aangebied. Hierdie geleentheid het in die skoolsaal van Hugenote Laerskool plaasgevind. Alle inwoners ouer as 65 wat in Wellington of die omliggende omgewing woon, is na die geleentheid uitgenooi. Die Lions bied jaarliks hierdie funksie as deel van hul diensbaarheidsdoelwit in die dorp aan. Ongeveer 450 senior burgers wat aan verskeie dienssentrums, huise vir bejaardes en ander liggame behoort het die geleentheid bygewoon. Die Lions-lede het reeds sesuur Saterdagoggend die vure aangesteek om met die voorbereiding van die kos vir hierdie groot funksie te begin. Teen agtuur het hulle begin braai en teen twaalfuur het hulle met 450 lamstjops, stukke ribbetjies en wors gereed gestaan om die senior burgers te bedien. In die kombuis het lede van die Lions, sowel as vrywillige helpers, reeds vroegoggend begin regstaan om die twee slaaie, rolletjies en nagereg vir die ete reg te maak. Saam met die ongeveer 15 braaiers het hulle ‘n gedugte span gevorm om soos ‘n wafferse top-restaurant ‘n menigte mense van heerlike kos te voorsien. Alhoewel die Lions sap- en wynskenkings vir die geleentheid gekry het, het hulle die afgelope

jaar fondse ingesamel om hierdie jaarlikse inisiatief te finansier. Gaste is deur die plaaslike Herfsvreugde Koor vermaak. Die musikant Les Witz het met sy klavier- en saksofoonspel nog luister aan die geleentheid verleen. Pieter Myburgh, voorsitter van die plaaslike Lions Klub, het tydens sy verwelkomingstoespraak na die belangrikheid van senior burgers in die samelewing verwys. “Kennis is belangrik, maar ervaring is net so belangrik. En dit is iets wat senior burgers tot die gemeenskap kan bydra. Hulle is die mense wat bydra om die wêreld ‘n beter plek te maak - ‘n bietjie sagter, ‘n bietjie meer geduldig en met ‘n bietjie meer begrip,” het hy gesê. Pieter het ook die doelstellings van die Lions onderstreep. “Die Lions is ‘n diensorganisasie. Ons leuse is nie verniet ‘We serve’ nie. In ons streek, ons provinsie, ons land en selfs internasionaal staan ons organisasie vir diensbaarheid in die gemeenskap. Met ons geel onderbaadjies het mense ons selfs al met motorwagte misgis - maar selfs dít is iets wat ons ook sal doen,” het hy geskerts. Die ongeveer 450 gaste is elk flink deur die Lions en vrywilligers met ‘n heerlike bord kos bedien. Agterna kon hulle aan die nagereg smul en tot diep in die namiddag rondom ‘n koppie koffie gesels.

Lions bederf senior burgers

Karate: Leoné Croukamp, Bernard du Toit en Hannah Beselar van die Laerskool Hugo Rust het deelgeneem aan die Karateliga van Boland Dragons en is medaljeswenners.

Fotokompetisie:

Sy is alombekend en is onlangs deur die Britse Koningshuis vereer. Sy is op Wellington gebore en het hier grootgeword. Wie is sy? Stuur jou antwoord per epos aan welmus@ telkomsa.net of handig in by Wellington Museum. Die antwoord van die vorige fotokompetisie is Dr Abdullah Abdurahman.


courant 2 Mei 2018

dié

8

NUUS • NEWS

WELLINGTON SPORT

Tel: 022 487 3221

2 Mei 2018

•ENTRIES FOR YEARLY MARATHON NOW OPEN

Shake up to Berg racing format

Entries for the boldly revamped Berg River Canoe Marathon opened this week, with the organisers offering two tiers of entries for the new team format that will govern the competitive element of the famous four day race from Paarl to the West Coast fishing town of Velddrif from 11 to 14 July. The title will now be decided in a team format of two paddlers per team, using a formula now well established in mountain biking, adding whole new dynamic to the racing tactics for the event. “The top paddlers will probably have a different technical approach and it will be very interesting to see how they manage this new dynamic,” said race committee head André Collins. “The rest of the field will enjoy the camaraderie of a partner who will work together through the difficult challenging sections of the river but especially supporting one another on the long flat pools on the last two days,” he added. The new race entry reveals a two tier option for elite paddlers entering the new team competition. In addition to the

Safari: Die jaarlikse Safari-halfmarathon wat op Wellington plaasvind, het gister weer hier plaasgevind. Drawwers het van vroeg reeds hul staal gewys. In die mansafdeling het Sibusiso Madikizela die resies kafgedraf in 1:06:37, met Colleen Malaudzi tweede en Mbongeni Ngxazozo derde. Die eerste vroueatleet oor die eindstreep was Zintle Xiniwe. Foto: Facebook - Safari Halfmarthon

option of entering two athletes, there is the option of entering a commercially branded and owned team, offering sponsors an opportunity to own commercial rights at the race, with guaranteed branding and commercial rights delivered by the event. Collins said the race would continue to offer solo paddlers the opportunity to take on the 240km in an individual K1, as was the race tradition since its inception in 1962. “With the option still open to do the race solo, we are comfortable that the race caters for the personal preferences of all,” said Collins, adding that the race was evolving the remain relevant and contemporary without shedding its roots and traditions. There is also an option for less experienced paddlers to enter the race in a three paddler relay team, putting the legendary Berg challenge within reach of paddlers who might not have done the base training miles to take on the full 240km challenge. Normal entries are now being taken online at www. berg.org.za until Wednesday 27 June after which a R250 late entry penalty will apply.


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook