Skip to main content

463 dié courant wellington

Page 1

courant

• Bergrivier 1Swartland Wellington

dié

4 April 2018

• Free • Gratis

Wes-Kaap se #1

Bou saam met goeie nuus

Uitgawe 463

4 April 2018

Die span van Roses Unitedrugbyklub het die naweek aan die Paastoernooi op Saldanha deelgeneem en stof in die teenstanders se oë geskop toe hulle as die wenners van die toernooi aangewys is. Links: Betram Vraagom, voorsitter van die Saldanhabaai-rugbyklub en burgemeester Marius Koen oorhandig die wenbeker aan Thurlow March, kaptein van Roses United. Hy is ook as Agterspeler van die Toernooi aangewys.

Roses, jou doring! •'EK KAN JUL NET KOMPLIMENTEER'

Dankie - Dr. Rust •Jaomi Zeeman Dr. Manie Rust het op Dinsdag 27 Maart ‘n hele groep van die plaaslike SAPS-lede na sy huis genooi vir ‘n geselligheid waartydens hy hul vir hul puik diens tydens die moordondersoek van sy vrou, die bekende skrywer Winnie Rust, bedank het. Vriende en lede van die Wellington Aksie Groep (WAG/Stopmisdaad) het ook die geleentheid bygewoon. Dr. Manie het vroeër in ‘n verklaring gesê dat hy dankbaar is vir die wyse waarop die plaaslike SAPS die hele aangeleentheid hanteer het en hulle geprys vir die wonderlike werk wat hulle, ten spyte van moeilike werksomstandighede, doen. Hy het hierdie sentiment tydens die spesiale geleentheid wat hy vir die SAPS-lede gereël het, bekragtig. “Julle het my in ‘n baie moeilike situasie bygestaan. "Die manier waarop julle almal my hanteer het, en die deeglikheid waarmee julle gewerk het, is iets waarop ek julle net kan komplimenteer,” het hy dankbaar gesê. Volgens dr. Manie het hy nie voorheen veel ervaring van die werkswyse van die polisie gehad nie, maar hy het wel onlangs ‘n paar keer die polisiestasie besoek. “Dit skok my om te sien in watter omstandighede julle moet werk. Ten spyte hiervan doen julle ongelooflike deeglike werk. Daar is baie vet katte met groot salarisse wat met groot, slap karre rondry, terwyl julle onbaatsugtige, geweldige belangrike werk met min hulpbronne doen. Ek was baie beïndruk met hoe julle werk. Ek wil ‘n glasie klink op die SAPS,” het hy hulle geprys. Die SAPS-lede was dankbaar vir die erkenning

Francois Theron en Stephan Landsberg van WAG/Stopmisdaad, kol. J. Barkhuizen, stasiekommissaris, dr. Manie Rust, kaptein L. Burden, luitenant-kolonel A.D. Brown, sersant I. Karriem en AO N. de Lange (afwesig sersant P. Koordon). wat op hierdie wyse aan hulle gegee is. “Dit is min dat die deeglike werk wat ons doen raakgesien en geprys word. Ons weet dat dit ook ‘n moeilike pad vir dr. Manie en sy familie was en ons wens hom alle sterkte toe,” het die SAPS-lede gesê. Volgens Francois Theron van WAG/Stopmisdaad was dit van die begin af dr. Manie se behoefte om na afloop van die saak ‘n verklaring uit te reik waarin sy dankbaarheid, tevredenheid en bewondering teenoor die werk wat die plaaslike SAPS tydens die moordsaak gelewer het, beklemtoon word. “Ons wil hê dat hierdie boodskap ook na die

groter SAPS-organisasie deurgedra word. Ons wil namens WAG/Stopmisdaad ook vir julle baie dankie sê vir wat julle in en vir die gemeenskap doen. Baie van die suksesse wat die plaaslike polisie behaal is as gevolg van die feit dat ons ‘n georganiseerde gemeenskap is wat mekaar se hande wedersyds versterk,” het Francois gesê. Dr. Manie het self die spyskaart vir die geselligheid beplan en eiehandig die kos waarop hy die SAPS-lede getrakteer het, voorberei. “Dit is vir my ‘n eer en ‘n voorreg om julle vanaand hier by my huis te ontvang. Ek is oneindig dankbaar vir die manier waarop julle hierdie hele saak hanteer het,” het hy gesê.

NUUS • NEWS


2

4 April 2018

•VIER MENSEREGTEDAG MET BYEENKOMS

NUUS • NEWS

Polisie hou biddag vir gemeenskap Wellington se SAPS dien daagliks ons gemeenskap. Hulle het onlangs hul gemeenskapsdiens ‘n treetjie verder geneem en ‘n biddag vir Wellingtonners, sowel as mense van die omliggende gebiede gereël. Hierdie biddag het heel gepas op Menseregtedag, Woensdag 21 Maart, by Boland Stadion plaasgevind. Die SAPS het die geleentheid in samewerking met Wellington se Gemeenskaps Polisiëring Forum (GPF) georganiseer met die doel om mense uit Wellington, maar ook uit die breër gemeenskap te verenig om teen dinge wat almal se lewens raak, saam te staan. Kwessies soos die droogte, misdaad en dwelmverwante probleme is tydens die inisiatief aangespreek. Honderde mense uit alle plaaslike gemeenskappe het die geleentheid bygewoon om ‘n verenigde front teen die hedendaagse aanslae op ons vallei te vorm. Die byeenkoms het met ‘n optog deur die dorp afgeskop. Mense het al singend na Boland Stadion beweeg, waar hul hul plekke vir die byeenkoms op die pawiljoen ingeneem het. Almal het entoesiasties aan die voorafsang en lofprysing deelgeneem. Die GPF het tydens die dag ‘n inisiatief geloods waar mense nie-bederfbare produkte in aangewese houers kon plaas. Hierdie skenkings is agterna aan verdienstelike hulpbehoewende instansies en individue geskenk. Die sprekers en eregaste Is deur die Wellington Kerskoor na hul sitplekke vir die aanvang van die geleentheid begelei. Kaptein Seekoei het die verwelkoming behartig, waarna Pastoor Mettler die skriflesing en gebed behartig het. Kerse is as simboliese gebaar aangesteek en ‘n paar manne het ook seremonieel op ramshorings geblaas. Onder die sprekers was die burgemeester van Drakenstein Munisipaliteit, Conrad Poole, wat sy gewig heelhartig agter die inisiatief ingegooi het. Verteenwoordigers van verskeie geloofsinstansies het tydens die geleentheid opgetree. Pastoor Mouries, Apostel Benjamin, Apostel Phillips en Pastoor Groenewald het onder andere spreekbeurte gehad. Die sprekers is deur sangitems, ‘n mimiekgroep en koorsang afgewissel.

Majoor-generaal Lincoln, cluster-kommandant van die Kaapse Wynlande, het sy spreekbeurt by die biddag as ‘n eer bestempel. Hy het ook almal wat by die reëlings van die geleentheid betrokke was, bedank. “Ek wil my dank teenoor die burgemeester, Conrad Poole, uitspreek vir sy volgehoue ondersteuning in ons geveg teen misdaad. Ons benodig die hulp van die hele gemeenskap in hierdie reuse-taak. Ek wil ook die Wellington SAPS bedank vir hierdie inisiatief waar hulle gemeenskappe bymekaar bring en polisie-gemeenskapsverhoudinge help bou,” het hy gesê. Hy het ook ‘n beroep op gemeenskapslede, maar ook op geloofsgebaseerde instansies gedoen om almal hande te vat in die stryd teen misdaad. “Die wêreld ly nie as gevolg van die wreedheid van slegte mense nie, maar ook as gevolg van die stilswye van goeie mense. Dit is teen hierdie agtergrond dat ons vandag hier saam is en ons maak ‘n beroep op elke gemeenskapslid in elke deel van die samelewing om die swye rondom misdaad te breek. Die geskiedenis bewys dat gemeenskapspolisiëring een van die mees suksesvolle metodes van polisiëring is. Ek wil almal aanmoedig om betrokke te raak by teen-misdaad strukture, sektor-groepe en buurtwaggroepe in hul areas. Hierdie platforms help ons nie net in die stryd teen misdaad nie, maar gee ons ook ‘n aanduiding van die behoeftes in die gemeenskappe wat ons bedien,” het hy voortgegaan. Kommandant Lincoln het klem gelê op die SAPS se voortgesette pogings om beter diens te lewer en misdaad in ons omgewing uit te wis. “Kom ons vat hande en laat dít waaroor ons vandag by hierdie geleentheid praat, ons verenig in ons stryd teen misdaad,” het hy afgesluit. Met die SAPS se organisering van hierdie geleentheid was hul doelstelling duidelik. “Ons wil ‘n gevoel van samehorigheid onder ons mense kweek. As ons saam ‘n pad kan stap, of as die dag selfs net ‘n verskil in één mens se lewe maak, sal dit ‘n sukses wees. "Ons doen soveel verskillende goed, maar ons beweeg eintlik almal in dieselfde rigting.

Bo: Daar is seremonieel op ramshorings geblaas. Onder: Mense uit verskillende dele van die gemeenskap het die dag bygewoon.

Ons wil die krag wat hierin opgesluit lê, ontgin,” het Kaptein Basil Seekoei voor die geleentheid gesê. As die sukses van hierdie biddag aan die

entoesiasme, samehorigheid en positiewe gesindheid van die honderde mense wat dit bygewoon het gemeet kon word, het dit beslis geslaag.


NUUS • NEWS

4 April 2018

•INTERNASIONALE KUNSTENAARS SKROP NES OP WELLINGTON

Keramiek wat vir duo saakmaak •Jaomi Zeeman Soms is daar in die gewone gang van die lewe, in die middel van ‘n plattelandse dorp, tussen klerke, diakens en onderwysers, onder ons neuse iets so ongewoon en wonderlik dat ‘n mens dit amper nie kan glo nie. Ceramic Matters is so iets. Anthony Harris en Gerhard Swart is twee Wellingtonners wat in die oorspronklike plaashuis van die plaas Klipvlei, waarop ‘n groot deel van dorp ontwikkel het, woon. Hierdie twee kunstenaars is die meesterbreine en kreatiewe hande agter een van ons land se grootste suksesverhale in keramiekkuns - Ceramic Matters. Die naam van hul onderneming is nie net tekenend van die stof, inhoud, materie of voorwerpe van hul keramiekkuns nie, maar verwys ook na die manier waarop hulle dinge aanpak en dít wat saakmaak deur middel van hul kuns aanspreek. Hierdie twee kunstenaars se pad saam het as studente aan die destydse Johannesburgse Kunsskool begin waar hulle onderskeidelik Skone Kunste, Drukwerk en Keramiek studeer het. Hierdie agtergrond vorm vandag die basis van Ceramic Matters, wat Anthony en Gerhard saam in 1997 begin het, se werk. Sedert die afskop van hul spanpoging by Ceramic Matters het dié twee kunstenaars al talle toekennings ontvang, op die glasblaaie van die voorste internasionale tydskrifte verskyn en verskeie groot opdragwerke vir dinamiese maatskappye en organisasies gemaak. Onder die toekennings wat hul al ontvang het, tel die National Design Award, asook die International Design Award wat deur ELLE Decoration toegeken is. Hulle was ook finaliste in die Design Indaba se “Most desirable object”-afdeling en het al met die Internasionale Toekenning (EDIDA Award) vir die “Best ceramic Tabletop and Accessories” weggestap. Ceramic Matters is ook al deur die VISI-tydskrif as die Ontwerpers van die Jaar aangewys en hul “Inflatable Teddy” ontwerp is boonop as een van die 50 beste internasionale ontwerpe in die afgelope 12 jaar aangewys. Internasionale kliënte vir wie hul al gewerk het, sluit The Conran Shop in Londen, Parys,

Hong Kong, Milaan, Dublin en New York, sowel as winkels soos Anthropology in Londen en die VSA, die Globus Stores in Switserland, die ABC Home Furnishings winkels in New York en O-live in Nederland in. Hul werk pryk ook in winkels en galerye in Botswana, Australië, Miami en Genova, Italië. Ceramic Matters is gereelde uitstallers by van die voorste internasionale kuns-, ontwerp- en dekortentoonstellings. Talle televisie-insetsels is al oor hierdie dinamiese kunstenaars gemaak en hulle, sowel as hul kunswerke, het al in internasionale tydskrifte soos House & Leasure, ELLE Décor, Bloom, VISI, Conde Nast en die Top Billing-tydskrif verskyn. Hul werk verskyn ook in verskeie koffietafelboeke en is selfs vir die voorblad van die boek “South” deur Karen Roos en Annemarie Meintjies gekies. Gerhard en Anthony het ook al werk vir Sun City gedoen en ‘n reuse vyf meter-kandelaar vir ‘n bekende casino gemaak. In die Da Vinci Hotel kan mense hul kuns, waar die internasionale ontwerper, Stephan Falcke, hul aangestel het om die wit-en-swart retro-tema te interpreteer, bewonder. Besoekers aan OR Thambo Internasionale-lughawe se SAA-privaatsitkamer, sal ook die installasie wat hul vir hierdie ruimte gemaak het, kan aanskou. Hulle is tans besig om spesiale teëls vir een van Suid-Afrika se “adellike”-families vir hul kombuis te maak. “Ons moes saam met die mense in die berg op hul nuwe plaas gaan stap en plante eie aan hul plaas pluk wat op die kombuisteëls wat ons vir hulle maak, afgedruk moet word. "Daar moet nog op ‘n kleur besluit word,” vertel hul oor dié arbeidsintensiewe proses. Anthony en Gerhard het ook pas ‘n kunswerk, wat as deel van die Weskus Fossiel Park se projek vir hul nuwe uitstalruimte beplan word, voltooi. Hierdie kunswerk is nie net tekenend van hul betrokkenheid en aanvraag by nasionale plekke van belang nie, maar getuig ook van hul eties bewuste aanslag ten opsigte van hul kuns. “Verskeie kunstenaars uit verskillende genres is gevra om kunswerke vir die Fossiel Park te maak wat hul persepsie van die fondse daar en ons verbintenis met ons geskiedenis en die aarde

Gerhard Swart en Anthony Harris van Ceramic Matters. verbeeld. "Ons het ‘n keramiekwerk wat die moontlike fondse wat oor ‘n paar duisend of miljoen jaar van die mens sal agterbly, probeer uitbeeld. Ons was diep bewus dat daar geen teken of invloed van die mens is by dít wat ‘n mens by die Park sien nie. "Die mens het intussen ‘n invloed op alles wat natuurlik is kom afets en daar sal waarskynlik eendag baie rommel en menslike gebruiksitems tussen ons fossiele rondlê,” verduidelik hulle hul kunswerk wat eersdaags by hierdie internasionale besoekpunt sal pronk. Gerhard en Anthony lyk tuis in hul studio en werkswinkel wanneer hulle tussen hul klei, oonde en kunswerke staan. Hul huis, met sy outentieke karakter en interessante versameling en uitstalling van unieke kunswerke, memorabilia en artefakte getuig ook van twee mense wat met ‘n passie vir die fynere dinge in die lewe leef. Hul nasionale en internasionale roem ten spyt, is hul voete is plat op Wellington se grond en geniet hulle die plattelandse lewe in ons mooi dorp. “Dit is ‘n bietjie unnerving as mense ons herken, so dis lekker om net die ‘twee ou mans wat potte maak’ in Wellington te wees,” sê hulle.

3


courant

dié

4

4 April 2018

Wat saak maak

Gerhard Swart en Anthony Harris van Ceramic Matters maak die mooiste keramiekware. Die naam van hul onderneming verwys egter nie net na hul produkte nie, maar ook na die manier waarop hulle dinge doen en aandag gee aan dít wat saak maak. Ons het almal ons eie dinge wat saak maak. Ons beroepe, verhoudings, doelwitte, gesondheid, fiksheid en geliefdes is die dinge wat ons harte warm of vinniger laat klop. In die groter prentjie is ons omgewing, sosiale kwessies, geregtigheid en die toestand in ons land en die wêreld ook dinge wat saak maak. Goethe het gesê dat dié dinge wat die meeste saak maak, nooit ondergeskik aan dié dinge wat minder saak maak moet wees nie. Martin Luther King Junior het gevoel dat ons lewens begin eindig dié dag dat ons begin stilbly oor dinge wat saak maak. Ons almal weet dat die dinge wat regtig saak maak, soms klein is en nie ‘n prysetiket dra nie.In Wellington weet mense wat dit is wat saak maak en doen mense dinge wat saak maak. Die plaaslike Depressie- en Angsondersteuningsgroep reël elke maand ‘n interessante byeenkoms om begrip en ondersteuning vir lyers van hierdie siekte te bewerkstellig. Die onlangse werkswinkel by die Breytenbach-sentrum ten opsigte van onkruid, laat ons met ‘n nuwe bril na die waarde van onkruid en ons natuurlike hulpbronne kyk. Elke maand se VLV-vergadering fokus op persoonlike ontwikkeling en talle dinge in ons gemeenskap wat saak maak. Philip de Vos het met die bekendstelling van sy nuwe boek weer die belangrikheid van lees en wonder van klassieke musiek kom onderstreep. Die SAPS se biddag en dr. Manie Rust se mooi huldeblyk aan hierdie instansie getuig van gemeenskapsbetrokkenheid en deeglike diens - alles dinge wat van belang is en waarde het. Hugo Rust se diensraad wat na Bergrivier Primêr uitgereik het, is ‘n mooi voorbeeld van ‘n groep jongmense wat fokus op dié dinge wat belangrik is en Reinard Reitsma se atletiekprestasies getuig van ‘n jong man wat beslis weet wat sy prioriteite is en wat werklik saak maak. Mag elkeen hierdie week loskom van dinge wat nie regtig belangrik is nie, glimlag oor iets wat waarde het tyd kry vir dít wat regtig saak maak.

It’s Good News

Dr. Marc Blackwell Snr

Words of Grace

During the struggles of life, even true Christians can be temporarily “weighed down, but assurance - amidst life- pressures is a result of faith and a life that honour’s God” “Not everyone who says to Me, 'Lord, Lord,' shall enter the kingdom of heaven, but he who does the will of My Father in heaven. Many will say to Me in that day, 'Lord, Lord, have we not prophesied in Your name, cast out demons in Your name, and done many wonders in Your name?' And then I will declare to them, 'I never knew you; depart from Me, you who practice lawlessness!’” (Matt.7:21-23 2 Matt. 7:15-20; 24-27 3 Eph.2:8-10) Jesus placed these warnings in Matthew between teaching about fruit and foundations. An intimate relationship with Jesus will result in God honouring fruit because it is built upon the essential foundation of faith and repentance. Genuine Faith comes through grace enabled trust in Christ as the One who has paid for our sins. We believe in our hearts and confess with our mouths that Jesus obtained victory for all who place their faith in Him and His resurrection. To be assured of your relationship with the Lord - ask yourself: Reading 1 JOHN: • Is your walk consistent with your talk? (1:5-7) • Do you fellowship with God and confess your sin? (1:8-10) • Do you study to show yourself approved unto God? (5:3-5) • Do you demonstrate love for Christians? (4:7-11, 19-20) • Do you publicly confess Christ as your Saviour? (2:23; 4:15) • Is there evidence of the fruit of the Spirit in your life? (4:13; 5:10; See Gal. 5:22-26) • Do you rely upon the promises of God? (5:11-13)

NUUS • NEWS

Philip de Vos se nuwe boek bekendgestel

Die oud-onderwyser, oud-operasanger, fotograaf en bo alles skrywer van Afrikaanse en Engelse gedigte en kinder- en jeugverhale, Philip de Vos, het onlangs sy nuwe boek in Wellington bekendgestel. Philip het sy nuutste versameling versies, Vandag is ek ‘n windlawaai, op Woensdag 28 Maart tydens ‘n byeenkoms van die plaaslike Boekklub in die Bôrdienghuis voorgehou. Philip, wat ook bekendheid vir sy ligte rympies en limerieke, sowel as sy werk as rymvertaler en skrywer en radio-aanbieder van reekse oor klassieke komponiste verwerf het, het meer oor hierdie nuwe publikasie van hom vertel. Sy gespreksgenoot was die bekroonde pianis, Tertia Visser-Downie, wat ook later die komposisies waarop sy gedigte in die nuwe boek gebaseer is, gespeel het. Die amper-80-jarige Philip het kleurvol vertel hoe sy skryfproses van die verse vir “Vandag is ek ‘n windlawaai” verloop het. Volgens hom het hy eers die verse in Engels geskryf en daarna aan die Afrikaanse weergawes daarvan begin werk. Die boek is dus in beide tale beskikbaar. “Mense moet net besef dat ek nooit verse vertaal nie. Dit is eenvoudig nie moontlik nie. Die gevoel, tema, idees en inhoud van beide die Afrikaanse en Engelse verse is egter ooreenstemmend,” het hy verduidelik. Al die verse in die boek is deur die 13 kort komposisies van Robert Schumann se Opus 15 geïnspireer. Vir elke komposisie is daar ‘n ooreenstemmende vers. Volgens Philip sou dit ideaal wees as die verse en komposisies saam gelees en geluister kon word. “Ek het sekere dinge wat in die komposisies duidelik is op my manier geïnterpreteer en in versvorm probeer weergee. Ek is baie lief vir

klassieke musiek en ek dink dat hierdie aanslag Schumann se musiek meer toeganklik, ook vir kinders, sal maak,” het hy gesê. Tertia het opgemerk dat Philip se verse amper soos “Pixar-flieks” voor jou afspeel as jy dit lees. “Op die oog af lyk dit asof jy die gedigte vir kinders geskryf het, maar grootmense vind ongelooflik aanklank daarby. Vir wie skryf jy eintlik?” het sy aan Philip gevra. “Ek skryf vir myself. Party mense sê ek is ‘n kind wat nooit grootgeword het nie. Vir wie skryf ek? Ek het geen idee nie,” het hy gelag. Na die gesprek met Tertia het sy voor die klavier ingeskuif, waarna Philip se voorlesings van die verse in sy nuwe boek met haar vertolking van elke komposisie afgewissel is. Tertia, wat ‘n gerekende pianis is, onder plaaslike en internasionale klaviermeesters studeer het, die wenner van die gesogte Mabel Quick-beurs was en haar uitvoerende, sowel as onderrig- lisensiaat in klavier met onderskeiding geslaag het, het na Philip se voorlesings aan elke komposisie reg laat geskied. Dit was ook baie spesiaal dat haar destydse hoërskool-musiekonderwyseres by Hugenote Hoërskool, Edith Hofmeyer, ook die geleentheid bygewoon het. Mense kon agterna Philip se nuwe boek koop en deur hierdie bekroonde skrywer laat onderteken.

Die wingerdbestuurder en wynmaker by Napier Wynlandgoed, Leon Bester, het rede om sommer baie trots te wees. Een van Napier se wyne, die Napier Saint Catherine Single Vineyard Chardonnay 2015, het onlangs met die goue medalje by die Berlynse Internasionale Wynkompetisie weggestap. Leon, wat op Stellenbosch gebore is en ook daar skoolgegaan het, se pad in die wynbedryf het eers ‘n wye draai geloop. Hy het na skool by die vloot aangesluit en as vlootduiker gekwalifiseer. Hier het hy twee jaar as vloot-opruimingsduiker gewerk, waarna hy die vloot verlaat en in wingerde en kelders in die VSA, Duitsland en Frankryk gaan werk het. “Nadat ek ondervinding in die buiteland opgedoen het, het ek na Suid-Afrika teruggekeer en as wynmaker by Elsenburg gekwalifiseer. Ek het toe weer oorsee gaan werk en die destydse eienaar van Napier Winery daar ontmoet. Hy het my gevra om by hulle aan te sluit,” vertel Leon oor sy pad in die wynbedryf. Hy is sedert 2000 as wingerdbestuurder, algemene bestuurder en wynmaker by die Napier Wynlandgoed betrokke en woon saam met sy vrou, Nelia, en drie kinders tussen die wingerde waar hy elke dag werk. Die onlangse prestasie by die Berlynse Internasionale Wynkompetisie span die kroon op die talle toekennings wat Leon en sy span reeds oor die jare ingepalm het. In hierdie kompetisie moes hulle met die inskrywings van 15 ander lande en meer as 300 wyne in elke afdeling meeding. Leon en sy span by Napier het ook al ‘n Dubbel Platinum, twee Dubbel Goue toekennings, twee Dubbel Silwer-toekennings en twee Silwer-toekennings in die laaste jaar by die National Wine Challenge gewen. Hulle het boonop ‘n

Silwer-toekenning by die Decanter Asia Wine Awards en twee Silwer en twee Goue toekennings by die Berliner Wine Trophy kompetisie losgeslaan. Hulle spog ook met die toekenning as die Beste Produsent, “Still Wine” in Suid-Afrika en vier Goue toekennings vir verskeie van hul wyne. Volgens Leon is hul jongste internasionale toekenning in Berlyn egter ‘n hoogtepunt. “Omdat die beoordelaars trade mense is en hulle die aankopers is vir restaurante, wynwinkels en hotelle, beteken dit vir ons baie want dit maak die deure oop vir ons na nuwe markte in die buiteland. Vir my beteken dit baie, want die toekenning bevestig dat ons wyn van hoogstaande gehalte in die internasionale wynmarkte kan voorsien, en dit uit die redelik onbekende wynstreek van Wellington,” sê hy trots. Ten spyte van talle uitdagings soos die droogte, verhoogte verwerkingskoste, moeilike arbeidswetgewing, wisselvallige wisselkoerse, geen staatshulp en ‘n persepsie dat Suid-Afrika net goedkoop wyn kan maak, glo Leon nog steeds in dit wat hy doen. “Die belangrikste is dat ek hou van wat ek doen. Ek werk met n natuurlike produk waarin die natuur 'n groot invloed op het, dus moet jy heeltyd planne maak en dit hou jou gemotiveerd. Ek het te doen met die natuur, die produk asook die kliënte. Dit maak dit baie interresant,” sê hy. Leon se visie en doelwitte vir die toekoms is optimisties. “Ons strewe om regtig die terroir van ons vallei in ons wyne te reflekteer. Ons wil ook graag ons top-wyne se kwaliteit verbeter en elke liter wyn wat ons produseer in ‘n bottel sit en daarmee waarde toevoeg tot die druiwe wat ons op ons plaas produseer,” sê hierdie dinamiese wynmaker.

Napier Wyne wen goud op internasionale platvorm


NUUS • NEWS

Poppekas spreek depressie by vergadering aan

Links: Johan Laten en Gerjo Ben van der Merwe wat die poppekas aangebied het. Die plaaslike Depressie- en Angsondersteuningsgroep het onlangs hul maandelikse byeenkoms gehad. Tydens hierdie byeenkoms in die Martha-saal is ‘n baie interessante poppekasvertoning wat die tema van depressie aanspreek, aangebied. Volgens Petro Greeff, organiseerder van die groep se byeenkomste, het sy van hierdie unieke vertoning te hore gekom en dadelik die persone daarby betrokke in hierdie verband gekontak. Na ‘n ontmoeting het Johan Laten en Gerjo Ben van der Merwe dadelik ingestem om die vertoning op Wellington te kom aanbied. Johan en Gerjo Ben, die een ‘n oud-onderwyser en die ander een voltyds in die bediening, is die span wat hierdie vertoning na mense regoor die land bring. “#puppet” is hul poppekasvertoning van 40 minute waarmee hul tieners en volwassenes bewus maak van depressie. Depressievegters word bemoedig en ondersteun, terwyl mense wat nie die siekte ten volle verstaan nie leiding gegee word om die siekte en lyers daarvan beter te begryp. ‘n Kort inligtingsessie waarin die teks gekontekstualiseer word en mense se ondersteu-

5

4 April 2018

ningsrol ten opsigte van hierdie siekte verduidelik word, het die vertoning voorafgegaan. Die vertoning handel oor ‘n suksesvolle akteur en skrywer, Jaco, wat ook ‘n depressielyer is. Al die uitdagings, hoe hy sy siekte probeer onderdruk en wegsteek, sowel as sy moeilike persoonlike verhoudings word met die poppeteater onder die loep geneem. "Uiteindelik kan hy, met die ondersteuning van sy vriende, terapie en medikasie, weer aangaan met sy lewe, sy depressie beter bestuur en ‘n sinvolle lewe lei. Die teks gee subtiel inligting rakende die tipiese eienskappe van die siekte, hoe lyers dit probeer wegsteek, die gebrek aan kommunikasie en ook die moontlike oorsake van hierdie kwaal. Uiteindelik is die oplossings in hierdie verband ook in die storie verweef. Teenwoordiges by die byeenkoms was dit eens dat die poppekasvertoning ‘n baie sinvolle, prettige en unieke manier was om die hele spektrum van kwessies rondom depressie onder die soeklig te plaas, maar ook om oplossings en ondersteuningsmeganismes daarvoor aan te bied.

Deelnemers aan die sensoriese toetsing word deur Jeanne Brand van die US begelei in die proses.

US hou sensoriese wynproe op Wellington Die Universiteit van Stellenbosch het onlangs kragte met Wellington Wines saamgespan om navorsing oor mense se sensoriese ervaring van wyn te doen. Op Donderdag 29 Maart het wynliefhebbers, wynkringlede en lede van die publiek die kans gekry om soos wafferse kenners wyn vir hierdie doel te proe. Die deelnemers aan hierdie inisiatief het by die Bovlei-proelokaal van Wellington Wines bymekaargekom, waar hulle deur Jeanne Brand van die Universiteit van Stellenbosch (US) touwys gemaak is in die prosedure wat hierdie sensoriese toetsing sou volg. Jeanne is die koördineerder van alle sensoriese aktiwiteite, die bestuurder van die sensoriese laboratorium van die US, sowel as ‘n sensoriese analis. Rye vol pikswart glase, elkeen met ‘n unieke nommer en ‘n doppie oor die bokant, het die deelnemers ingewag. Vorms waarop verskillende gewaarwordinge ten opsigte van die geur, smaak, kompleksiteit en nasmaak van die wyne geëvalueer moes word, moes as deel van die sensoriese toetsing voltooi word. Aangesien die swart glase die deelnemers se sig van die wyne belemmer het, kon hul alleenlik op hul reuk- en smaaksintuie staatmaak om die wyn te evalueer. Volgens Jeanne

is hulle by die US besig om met ‘n nuwe metode van toetsing te eksperimenteer. “Ons wil ‘n metodologie ontwikkel en data versamel vir wynprofilering. Ons betrek wynkenners, sowel as lede van die algemene publiek in hierdie toetsing en het besluit om met Wellington Wines saam te werk vir hierdie doel,” het sy verduidelik. Volgens haar is dit soms interessant om te sien hoedat die uitslae van die wynkenners en publiek met mekaar ooreenstem. Deelnemers aan die toetsing moes die wyne volgens interessante kriteria evalueer. Verskillende bekende reuke en smake, selfs dié van sweet, grond, stof en dierlike uitskeiding is as moontlikhede op die vorms waar sensoriese gewaarwordinge aangedui moes word, gelys. “Wanneer ‘n mens nie weet wat jy drink nie, begin jy jou gewoonlike voorkeure bevraagteken. In ‘n swart glas, sonder die bottel wat langs jou staan, wonder jy of dit nou ‘n sauvignon blanc of ‘n chenin is - al weet jy wat jy gewoonlik verkies,” het een van die deelnemers laat hoor. Die deelnemers is na die toetsing op heerlike eetgoed getrakteer. Hulle kon ook aan Wellington Wines se splinternuwe wit Pinotage proe.


6

NUUS • NEWS

4 April 2018

Dagboek • Diary Wellington CLC Matriek-aandklasse by Wellington CLC, Hospitaalstraat. Dinsdae en Donderdae vanaf 18:00 tot 20:00. Navrae skakel 021 864 2418 Wellington-rugbyklub Wellington-rugbyklub se oefeninge vind plaas vanaf 19:30 by die Wellington-rugbyklub, reg langs Boland-stadion. Vir meer inligting kontak Jaco van Deventer 081 488 5457 of Francois Coertze 083 443 3081 Badisa Wellington 6 April: Badisa Wellington bied aan Mnr & Mej Badisa Wellington 2018 om 18:00 by Breedt saal, Wellington. Die kostes beloop R30 per persoon. Vir enige navrae skakel 021 873 4274 Swartland Charity Bikers Braai 6-8 April - Die jaarlikse Swartland Charity Bikers Braai word op die Moorreesburg-skougronde gehou. Voorafskrywings beloop R140. Hektoegang beloop R170 en kenteken R20. Kinders onder 10 is gratis. Voorafinskrywings sluit op 9 Maart. Kontak Francois by 083 956 0606, Erhardt by 082 898 1026 of Herman by 083 568 5020. Wellington Dienssentrum 7 April: Wellington Dienssentrum hou hul jaarlikse basaar in die kerksaal van die Moedergemeente in Kerkstraat vanaf 08:00 Gospel Konsert 7 April: Kom geniet 'n wonderlike Gospel Konsert by die Malmesbury AGS Kerk in die

Wingerd met Emile Smit. Ander gaste vir die aand is Lindzi Abrahams van Suidooster, asook Ivan Abrahams (pastoor Roland Peters van Suidooster). Die koste beloop R40 vir volwassenes en R20 vir kinders onder 12. Vir enige verdere navrae kontak - 076 897 9651 Porterville Toerisme 14 April: Porterville Toerisme bied aan Honde Safari om 09:00 tot 10:30. R20 per inskrywing (hond en eienaar). Pryse om te wen in 5 afdelings. Reëls: * Alle honde moet op leiband wees * Geen honde wat op hitte is nie * Geen kwaai honde nie Afdelings: * Hond lyk soos sy baas * Beste geklede paartjie (hond en eienaar) * Hond met die mooiste persoonlikheid * Koddigste hond * mnr of mej Hond van Porterville

Kerke • Churches

Pinotage & Biltong Festival 2018 14 & 15 April - Come join in the fun at Perdeberg Winery, Agter Paarl Tickets from www.computicket.com or www. plankton.mobi

Anglican Church Sunday morning: April to Sept at 08:00; Oct March at 07:30; Wed. Morning : 09:30 (end Jan to mid Dec); 4 Milner Street, Wellington. Enquiries: 021 873 1425.

The Darling Trust 4 May: The Darling Trust presents a black tie dinner and auction at Evita se Perron with tannie Evita & Chef Jenny Morris. Tickets are R950. To book visit THEDARLINGTRUST.ORG

Joshua Generation Sunday morning 09:00 (English), Sunday evening (Afrikaans) 17:00. Provence, Milner Road. Enquiries: 021 873 6541.

Wintech - Vinpro 29 Mei: Inligtingsdag te Nelson Estate, Paarl. Koste beloop R230 per persoon. Vir enige navrae kontak Gaynor Fortuin by 021 276 0432 of stuur e-pos aan gaynor@ vinpro.co.za Berg River Marathon 11-14 July : Riebeek Valley MTB & Trail Run 18 August: The MTB distances are 60, 40 and 12 km. Trail distance - 12 km at Riebeek Cellars. Enter online - www.roag.co.za

Kerk van Macedonië Sondagdiens om 10:00; Groenberg. Navrae: 062 836 1316 of 074 608 0519 NEW Sunday morning at 09:00 (English service); HJN Training Centre, College Street, Wellington. Enquiries: 082 355 3280. NGK Moeder-gemeente Sondagoggend om 09:00. Sondag-aanddiens Leefkerk om 18:00. H/v Kerk- en Piet Retiefstraat, Wellington. Navrae: 021 873 1561. NGK Noord-gemeente Eerste en vierde kwartaal begin die dienste om 9:00 en tweede en derde kwartaal is die diens

op Sondagoggende om 09:30: MacCronestraat 11, Wellington. Navrae: 021 873 2763. NGK Wellington-Oos Sondagoggend om 9:00 en Sondagaand om 19:00 op die h/v Barlinka en Cummingsstraat, Wellington. Navrae : 021 873 2690 St George's Presbyterian Church Sunday mornings at 09:30 (English); 22 Jan van Riebeeck Street. Enquiries: 021 873 2021. Shofar Sondagoggend om 09:00 Laerskool Hugenote, Kerkstraat 41. Navrae: 021 873 7677 AGS Wellington Dienstye en Junior Kerk : Sondae 09:00 asook 18:00 by Terracestraat 3, Wellington. Kontak: 083 258 8717 of 021 873 3375 Crystal Gates Outreach Ministries Sondag-oggende om 10:00 en Vrydag-aande om 19:00, te Bergrivierstraat 32, Vanwyksvlei, Wellington. Alle besoekers welkom.


NUUS • NEWS

4 April 2018

Plaaslike VLV-tak hou interessante byeenkoms Die plaaslike VLV-tak het onlangs hul maandelikse byeenkoms in die kerksaal van die Wellington-Noord gemeente gehou. Lede kon oudergewoonte winskopies by die marktafel, wat onder tuisgemaakte en vars produkte gekreun het, bekom. Die oggend is deur interessante gesprekke, demonstrasies en die aankondiging van die wenners by die onlangse VLV-Konferensie by Fraaigelegen gekenmerk. Petro Greeff het ‘n demonstrasie gelewer waar sy gewys het hoe ‘n mens gebruikte glasflesse kan herwin, versier en as alternatiewe verpakking kan hergebruik. Lede kon ook na ‘n interessante praatjie en demonstrasie van die plaaslike pilates-instruktrise, Lynette Viljoen, luister en kyk. Lynette het die voordele van hierdie tipe oefeninge vir mense van alle ouderdomme verduidelik. Die Wellington VLV-tak het uitstekend tydens die onlangse Konferensie gevaar deur talle pryse vir hul handwerk, kunswerke en woordkuns in te palm. Die oorhandiging van die pryse en huldeblyk aan die wenners is ook tydens die onlangse byeenkoms gedoen. Na afloop van die vergadering kon lede heerlik rondom tee en smullekker eetgoed kuier.

Links: Die bekerwenners by die onlangse VLV-Konferensie was Gerda Smit, June Smith, Dawn Greyling, Marieta Serdyn en Susan Hodgson. Regs: Die marktafel was oudergewoonte ‘n groot trekpleister tydens die byeenkoms.

Onkruid se bates ondersoek

Dit lyk asof al hoe meer mense besig is om hul gifbottels te bêre en die onkruid wat siklies hul verskyning in ons tuine maak, met ‘n nuwe bril te bekyk. Daar is onlangs ‘n werkswinkel, praatjie en demonstrasie oor die gebruike en bates van onkruid by die Breytenbach-sentrum aangebied. Die werkswinkel is deur Trudy Oosthuizen en Anne-Ghrett Erasmus georganiseer. Trudy bedryf Wineland Vitamins, ‘n onderneming wat daarin spesialiseer om die onontdekte skatte van ons omgewing aan mense bekend te stel. Die besluit om die potensiaal van onkruid te help ontgin was dus ‘n heel gepaste onderwerp om hierdie doelwit te ondersteun. Die hele onderwerp sluit ook aan by die uitstalling van landskapkuns deur André Knoesen, Vier gebede by jaargetye, wat tans in die Brey-

7

tenbach-galery te sien is. Talle belangstellendes kon na die interessante praatjie van Gundula Deutschlander, ‘n kunstenaar en die hoof-tuinier by Babylonstoren, oor die talle gebruike van onkruid luister. Sy het die potensiaal van talle eetbare onkruidsoorte bespreek en voorbeelde van die gebruik van onkruid in alledaagse geregte voorgehou. Gudula het ‘n hele bos voorbeelde van varsgeplukte onkruid uit die omgewing as wegspringplek gebruik. Brandnetels, marog, nastergal en paardebloem se medisinale waarde en algemene gebruike is onder andere bekyk en bespreek. Die feit dat boere hul landerye tussen oeste laat rus en met onkruid laat toegroei, is ook nie net toevallig nie. Die genesende invloed van onkruid op grond en die talle minerale wat dit bevat, is onder die

Gundula Deutschlander spreek almal oor die bates van onkruid toe.

loep geneem. Almal wat die bespreking bygewoon het, kon tydens middagete aan die heerlike tee, waarvan die paardebloem se wortel ‘n hoofbestanddeel was, teug.

Tydens die tweede sessie van die dag kon mense self iets bruikbaars uit onkruid en plante maak. Louise Steenkamp van “Wild bunch” het ‘n demonstrasie oor die gebruik van onkruid en veldplante in boeresjiek rangskikkings gelei. "Elkeen kon met hierdie plante speel en ‘n gebruiksartikel met raffia en interessane plante uit ons omgewing maak. Hierdie prikkelende werkswinkel is, veral nou in die droogte, miskien juis insiggewend - veral ten opsigte van hoe ons na die natuurlike hulpbronne en die kanniedood onkruid in ons tuine kyk.

Hugenote en Hermanus meet kragte op sportveld

Hugenote Hoërskool se sportspanne het onlangs met Hoërskool Hermanus in die Overberg gaan kragte meet. ‘n Sportdag tussen hierdie twee skole is ‘n jaarlikse instelling en hierdie jaar moes Hugenote vroegoggend na Hermanus reis vir die kragmeting. Altesaam 5 seunshokkie- en 5 meisiehokkiespanne het teen Hermanus meegeding. 7 rugbyspanne en ‘n allemintige 19 netbalspanne het ook teen Hermanus kragte gemeet. Hugenote se leerders, afrigters en personeel is hartlik in Hermanus ontvang en die ondersteunersareas rondom die sportvelde was stampvol met ondersteuners van beide skole. Hermanus het veral op die hokkie en rugbyvelde sterk kompetisie gebied. Hugenote se hokkiespanne het 4 wedstryde gelykop gespeel, 4 verloor en 2 gewen. Twee van Hugenote se rugbyspanne kon met die louere wegstap. Die twee skole se netbalspanne het kop-aan-kop-uitslae behaal met Hugenote se netbalspanne wat 9 wedstryde kon wen en een gelykop gespeel het. Hugenote se sportspanne is ook bevoorreg om gedurende hierdie skoolvakansie sporttoere na verskeie plekke te onderneem.

Nica Otto, hoofdoel van Hugenote se o/16A-netbalspan, teken ‘n doel aan, terwyl haar hulpdoel, Jana Malan, toekyk. Hugenote het die wedstryd 23-16 gewen.

Cara Steyn van Hugenote se o/14 A-hokkiespan onderskep die bal van Hermanus. Hugenote het Hermanus 2-1 geklop.


8

courant

dié

4 April 2018

NUUS • NEWS

WELLINGTON SPORT

Tel: 022 487 3221

4 April 2018

Die rugbyspan van Roses United het die naweek aan die Paastoernooi op Saldanha deelgeneem. Die span het uit die stryd getree as wenners van die toernooi. Foto's: Alida Buckle

•JONG ATLEET HAAL REEDS OP 2 DIE KOERANTE

SA-medalje vir Hugenote se Reinard

•Jaomi Zeeman Reinard Reitsma, hoofseun van Hugenote Hoërskool, het onlangs ‘n silwer-medalje in die 800m by die Suid-Afrikaanse Skole Atletiekkampioenskappe losgehardloop. Hierdie uitstekende prestasie span die kroon op sy toewyding, harde werk, ure se oefening en atletiekloopbaan tot dusver, maar is ook vir hom ‘n aansporing in sy doelwitte vir die toekoms. Reinard, wat interessant genoeg op ‘n unieke datum, 2 Februarie 2000, gebore is, het op sy tweede verjaardag die eerste keer die koerant gehaal. “Ek was twee op 02-02-02. Die mense het gedink dis nuuswaardig,” lag hy. Sedertdien haal hierdie innemende, nederige jongman gereeld die koerante vir prestasies wat min met sy geboortedatum te doen het. Hy het sedert sy laerskooljare gereeld provinsiale kleure in verskeie sportsoorte behaal. Hy het BolandSentraal kleure vir gewigstoot, diskus en krieket gekry en Bolandkleure vir tennis behaal. Hy het ook Bolandkleure vir tweekamp gekry en hierdie span al by die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe verteenwoordig. Volgens Reinard het sy vormingsjare bygedra tot die sukses wat hy nou behaal. “Ek het in 2005 saam met my ma en suster Wellington toe getrek. Hugenote Laerskool is die skool waar ek vir sewe jaar geleer lees en skryf het, en ook om sport te speel. Dit is hier waar my liefde vir sport sy oorsprong het,” vertel hy.

Hy het in sy laerskooljare aan feitlik elke sportsoort deelgeneem. Hokkie, tweekamp, swem, landloop, tennis, atletiek en krieket is op die lang lys sportsoorte waaraan hy as jong seun deelgeneem het. “Ek het nog altyd ‘n dryfkrag gehad en ‘n lus om te verbeter en te wen. Uitputting is nou nog ‘n liefde, maar ek wend dit positief aan. Ek het gelukkig nog altyd afrigters gehad wat dit raakgesien het en dit so gebruik het dat ek my volle potensiaal kan bereik, waarvoor ek baie dankbaar is,” sê hy. Alhoewel Reinard eers in graad 7 ernstig met atletiek begin het, het hy vinnig ‘n passie daarvoor ontwikkel. In graad 9 het hy tennis en krieket laat vaar om slegs op sy atletiek te konsentreer. Dit is ook in graad 9 dat sy pad met sy huidige afrigter, Tinus van Rensburg, gekruis het. “Dit is aan Tinus te danke dat ek vandag sukses in die 800m kan behaal. Hy het my aan die begin van graad 9 as atleet aangeneem. Die 800m is ‘n baie spesiale item. Dit is ongelooflik veeleisend omdat dit teen ‘n hoë pas gehardloop word, maar ook taktiek vereis. Dit is ‘n wedloop waar ‘n mens moet dink, maar tog is dit een van die wedlope waar jy perfek gekondisioneer moet wees ten opsigte van spoed, krag, fiksheid en uit-

houvermoë,” vertel hy. Reinard se afrigter het twee jaar gelede ‘n pos by Kaizer Chiefs gekry en dié twee korrespondeer sedertdien deur middel van e-posse en Whatsapp-boodskappe. “My oefenprogram is perfek uitgewerk volgens dit waartoe ek in staat is. Ek draf gewoonlik vier oggende per week, so tussen 6 en 9 km en op Sondae is dit ‘n lang draf van 10 tot 14km. In die middae het ek sessies wat kragsessies, faartlek, baansessies, drempelsessies en herstelsessies insluit. Ek oefen alleen, so dis ek teen die tyd sonder enige eksterne aansporing,” vertel hy oor sy oefenprogram. Hierdie oefenprogram het reeds goeie vrugte afgewerp. Reinard het vroeër die jaar ‘n 40-jaar oue rekord by die skool verbeter. “Ek het al van graad 9 af die droom om daardie rekord te verbeter. Dit was ‘n ongelooflike gevoel om dit te breek. My span, en eintlik die hele skool, was agter my en dit was so lekker met almal se gelukwensings en wat my ondersteun het,” sê hy. Die breek van hierdie rekord was egter net die eerste treetjie op sy prestasiepad die res van die seisoen. Hy is hierdie jaar die skoolkampioen, die streekkampioen, die Bolandkampioen

en ook die Wes-Kaap kampioen in die 800m. En nou spog hy met ‘n silwer medalje by die SA’s. Sy tyd het ook gedurende die seisoen van 1:57.30 na 1:51.74 verbeter. Reinard se volgende mikpunt is om in 2019 die beste onder 20-atleet in die land te wees. Wat sy toekomsplanne betref, wil hy graag ‘n aanlyn-Bybelkursus doen en B.Com.Rek aan die Universiteit van Potchefstroom gaan studeer, terwyl hy steeds sy atletiekdrome najaag. “Dit waaruit ek bestaan, is drie-ledig: passie, toewyding en volharding. En in elke aspek, in elke opsig van my lewe pas ek hierdie metafoor toe, selfs in die manier hoe ek koffie drink, musiek luister, verhoudings aanpak en skoolwerk doen. Ek glo dat jy jouself moet druk om ‘n beter persoon te word, beter te dink, meer te weet, meer te doen,” verklap hy sy motivering. Volgens Reinard is dit egter nie sy prestasies waarvoor hy onthou wil word nie. “Ek hoop dat mense my teenwoordigheid, eerder as net die fisiese komponent van my as mens, sal onthou,” sê hy. Wat is hierdie opregte, gedrewe, plat-op-dieaarde jongman se raad aan ander kinders wat graag hul drome wil najaag? “Moet nooit verskonings maak nie, nooit ooit nie. Maak nie saak wat mense sê nie, jy kan altyd probeer om beter te doen,” sê hy. Nou is Reinard eers gefokus op die ASA-Atletiekkampioenskappe waaraan hy op Donderdag 5 April by Dal Josaphat deelneem.


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
463 dié courant wellington by DieCourant - Issuu