Skip to main content

453 dié courant Wellington

Page 1

courant

• Bergrivier 1Swartland Wellington

dié

24 Januarie 2018

• Free • Gratis

Wes-Kaap se #1

Bou saam met goeie nuus

Uitgawe 453

24 Januarie 2018

•WELLINGTONNER VIND GELUK NA DIE ONGELUK

Heleen gee hoop •Jaomi Zeeman “Waar daar lewe is, is daar hoop.” Só glo die Wellingtonner Heleen Pretorius - en sy praat uit ondervinding. Hierdie hartlike vrou met haar skerp humorsin en sorgvrye lag se lewe het in 1989, na haar en haar man Mike se drie weke lange wittebrood, vir altyd onherroeplik verander toe hulle in ‘n grusame motorongeluk was. Hulle het op pad terug Kaap toe in Bloemfontein stadig oor ‘n robotkruising, wat vir hulle groen was, beweeg. ‘n Motor wat teen’n geweldige hoë spoed oor ‘n rooi robot gejaag het, het Heleen en Mike se motor aan die passasierskant getref en hulle sowat 17 meter ver laat tol. Alhoewel Mike en die vier insittendes van die ander motor feitlik ongedeerd was, was Heleen in die wrak vasgekeer en lede van die brandweer moes haar met ‘n koevoet bevry. Heleen was só ernstig beseer dat die omstanders op die ongelukstoneel gedink het sy is dood. Sy is na die waakeenheid van die Universitas Hospitaal geneem waar sy steke aan haar kop moes kry. Haar blaas was gebars, haar bekkenbene was aan albei kante op twee plekke gebreek, haar linkerbeen se potjie was vergruis, haar regterheup was gekraak, haar lyf was vol kneusplekke en sy was in ‘n diep koma. “Alhoewel Mike geweet het dat hy onskuldig in die ongeluk was, het hy ongelooflike skuldgevoelens gehad. "Hy het baie magteloos gevoel. Ons was net drie weke getroud en hy het nie geweet of ek gaan lewe nie. My ouers was verslae toe hulle my die eerste keer in die hospitaal sien,” sê Heleen. Heleen was vir meer as twee maande in die hierdie hospitaal. Dokters het verskillende menings oor haar toestand gehad. Party het gereken dat sy geen kans op herstel het nie, ander het voorspel dat sy verstandelik gestremd sou wees. Sy is later na Panorama Hospitaal in die Kaap oorgeplaas. Sy was nog steeds onbewus van wat om haar aangaan het en het ‘n skrale 38kg geweeg. Die dokters en Heleen se vriende en

Bo: Heleen Pretorius deel haar verhaal. familie het haar van die hospitaal op uitstappies na bekende plekke geneem om te kyk of sy haar geheue kon terugkry. Dit het haar gehelp om geleidelik uit die koma te kom. Eers nadat sy ‘n maand in Panorama was, drie maande na die ongeluk, het sy haar bewussyn herwin. Heleen het haar korttermyngeheue verloor, sy kon nie loop, staan of praat nie en was feitlik vir alles van ander mense afhanklik. Sy kon nie met haar linkeroor hoor nie en sy het net 4% sig gehad. As gevolg van die pille wat sy moes drink om te verhoed dat sy epileptiese aanvalle kry, het sy baie geslaap. “In ‘n rolstoel, eers vier maande na ons troue, kon ek en Mike op my ouers se plaas ons trougeskenke begin oopmaak,” onthou sy. Na ‘n heupvervangingsoperasie moes Heleen van voor af met ‘n loopraam leer loop. Sy moes ook oefeninge doen wat die gebruik van haar regterhand kon herstel. Sy moes die alfabet van nuuts af leer sodat sy weer kon leer lees en skryf. “Ek moes leer om ‘n bal vas te hou en prentjies in te kleur, soos ‘n kleuter,” vertel Heleen oor haar moeisame herstelproses.

Volgens haar het sy besef dat dit in hierdie lewe nie gaan oor wat jy verloor het nie, maar wat jy oorgehou het. “En daarmee moet jy woeker. Die enigste pad vir my, was die harde, lang pad. Die breinbesering wat ek opgedoen het, het nege jaar geneem voordat my linkerbrein en regterbrein weer kon saamwerk,” sê sy. Heleen en Mike het uiteindelik in die Paarl, en later in Wellington, kom woon en sy moes daagliks aan haar herstel werk. Sy het weer leer motor bestuur en het by die bure gaan kuier. “Ek het gevoel hoe ek stadigaan weer mens word. Tog was ek bewus daarvan dat mense my soms vermy het omdat hulle nie geweet het hoe om my te hanteer nie. Hulle lewens het aangegaan, maar myne het agtergebly,” onthou sy. Heleen het ‘n kursus in rekenaarwetenskap en een in entrepreneurskap voltooi. Sy het ook weef- en pottebakkery-kursusse gedoen. Sy het saam met Mike op ‘n tandem begin fietsry en hulle het saam ‘n Argus Fietstoer voltooi. Alhoewel die kans op kinders na haar ongeluk skraal was, het Heleen tog swanger geraak en sy is vandag die trotse ma van twee suksesvolle dogters. Alhoewel sy talle uitdagings moes oorkom en daagliks nog ‘n stryd voer teen die gevolge van die ongeluk wat haar lewe verander het, lei Heleen ‘n vol lewe waar sy onbaatsugtig aan die gemeenskap teruggee. Sy reël elke jaar ‘n dinee vir die inwoners van Sunfield Home, help mense met liefdadigheidswerk, is by die organisasie van talle geleenthede betrokke en lewer gereeld motiveringspraatjies. Sy het selfs al die Rapportryers by hul Landsberaad toegespreek. “Ek dink dat al hierdie dinge waaroor ek passievol is, God se plan met my was. Ek kan die gebrokenheid in ander se lewens raaksien en daarmee empatie hê omdat ek dit ken. Ek weet hoe dit voel om moedeloos te wees. Maar ek weet ook dat daar altyd hoop is. Daar is lewe anderkant ‘n mens se ergste beproewings,” getuig sy.

NUUS • NEWS


2

NUUS • NEWS

24 Januarie 2018

•DIETMANN-FABRIEK SE LAASTE OORLEWENDE BOUER

Jasper: Dorp se laaste klaviermaker •Jaomi Zeeman Wellington het oor die jare vir baie dinge bekend geword. Die wynbedryf, droëvrugte-bedryf, Andrew Murray en die talle opleidingsentrums in ons dorp is maar ‘n paar van die bakens wat al sinoniem met ons dorp geword het. Nog so ‘n baken was vir jare lank die klavierfabriek. Alhoewel die fabriek in die negentigerjare sy deure moes sluit, is daar nog een van die klavierbouers, Jasper Cloete, vir wie hierdie era nog helder in die geheue lê. Jasper is, sover bekend, die enigste oorlewende klavierbouer van die Dietmann Klavierfabriek in Suid-Afrika wat ‘n klavier van die heel eerste stap tot die voltooide produk kon bou. Die 80-jarige Jasper woon al sedert 1974 in Wellington. Dit is ook geen verrassing om te weet dat sy vrou, Hetta, met wie hy in 1970 getroud is, ‘n klavieronderwyseres was en steeds aktief by Wellington se musiek en kultuuraktiwiteite betrokke is nie. Hy het aan die Hoërskool Drostdy gematrikuleer, waarna hy in ‘n meubelfabriek gaan werk het. Hierna het hy by die Dietmann-klavierfabriek begin werk. “In daardie jare het ons een klavier in ‘n week klaargemaak,” onthou hy. Terwyl hy daar gewerk het, het die fabriek hul produksie tot vyf klaviere per week opgestoot. “Ons werksplek was agter in die erf. Alle dele van die kabinet, sowel as die snare is self gemaak. Daar was verskillende stasies waar sekere dele van elke klavier gemaak en voltooi is. Die houtwerk, die aanmekaarsit met die binnegoed, die spuitwerk, die klankbord, die 'back frames' - alles is met die hand aanmekaar gesit. Ons het ook die klavier met poliëster gespuit om dit ‘n sterk afwerking te gee. Jy kon ‘n sigaret op

Buiten klaviere het die Dietmann Klavierfabriek ook orrelkabinette gebou. Hulle het verskeie klaviermodelle gebou, waaronder die Otto Bach, die Dietmann, die Ludwig Meister, die Model 100 en die Super. “Alhoewel baie van die klaviere eintlik maar dieselfde instrument met ‘n verskillende naam op was, was daar tog verskille. Die afwerking van die Model 100 en die Super het byvoorbeeld taamlik verskil,” sê Jasper. Sy oë blink wanneer hy entoesiasties en in detail beskryf hoe snare gespin word, ‘n stempen en ‘n basbrug gemaak word en hoe elke hamertjie op ‘n baie presiese manier geprik word. Vir hom was dit veel meer as ‘n werk - dit was ‘n passie en ‘n liefdestaak.

die klavier neersit en dit sou nie ‘n brandmerk maak nie,” vertel hy. Die produksie van die klavierfabriek is later nóg verder verfyn en hulle kon tot 27 klaviere op een dag voltooi. “95% van ons klaviere is uitgevoer na die buiteland,” sê Jasper. Hy is ook as jong klavierbouer vir meer as ‘n maand na Duitsland gestuur om spesialisop-

Nuwe skooljaar skop af

2018 is reeds in volle swang en die plaaslike skole het onlangs amptelik vir die nuwe skooljaar geopen. Alhoewel personeel reeds sedert Maandag 15 Januarie in die tuig staan, moes die leerders op Woensdag 17 Januarie vir die eerste keer in hul rye vir die nuwe skooljaar aantree. Plaaslike hoër- en laerskole het hul nuwe leerders met ope arms ontvang en moeite gedoen om groentjies welkom te laat voel. Talle graad 1’s moes vir die eerste keer die “groot skool” aandurf en hul ouers het hul met hul aankoms op hierdie belangrike dag vergesel. Nuwe graad 8-leerders wat vir die eerste keer hoërskool toe is, moes ook in baie gevalle reeds voor die aanvang van die eerste skooldag vir oriëntering by hul nuwe skole opdaag. In sommige gevalle was daar trane en graad 1’s wat moeilik van hul ouers afskeid geneem het, maar volgens die skoolhoofde van ons plaaslike laerskole het die aankoms van hul nuwe graad 1’s oor die algemeen glad verloop. “Dit is lekker om die bekende gesigte wat van ons Doemsie Kampus na graad 1 gekom het nou in die groot skool te sien. Hulle lyk almal te mooi in hul splinternuwe skoolklere en die ouers is ook baie opgewonde. Op ons Doemsie Kampus het dinge ook baie goed verloop met die aankoms van ons nuwe Doemsies vir ons 4 graad R en 4 graad RR-klasse. Ons skop af met ‘n voltal personeel en ‘n paar nuwe personeellede en ons is opgewonde om die jaar op die Hugenote manier aan te durf,” sê Henry Schemper van Hugenote Laerskool. Johann Bruwer van Hugo Rust Laerskool is

ook opgewonde en positief oor die nuwe leerders wat vir die eerste keer oor sy skool se drumpel gestap het hierdie jaar. “Dit was ‘n hartlike, warm begin vir 2018. Stralende gesiggies vertel die verhaal van kinders wat hier wil wees en gelukkig is. Laerskool Hugo Rust is gereed om drome te laat begin,” sê hy. By Hillcrest, Pauw Gedenk, Wellington en St. Albans Laerskole het dinge ook seepglad vir hul graad 1’s op die eerste skooldag verloop. “Alles by ons skool was in plek om die eerste skooldag glad te laat verloop. Enkele leerders het nog vir ‘n rukkie aan hul ouers vasgeklou, maar het sommer gou tuis gevoel. Die eerste dag het baie goed verloop en die akademiese program kon dadelik begin. Ons het 152 graad 1’s wat in vier klasse geplaas is en ons skool is vol. Ons is baie opgewonde en positief ten spyte van talle uitdagings. Ons sien dit as ons taak om by te dra tot opvoeding en verbetering van gemeenskap,” sê T. de Jongh, skoolhoof van Hillcrest Primêr. Volgens Julius Williams, skoolhoof van Pauw Gedenk Primêr, het alles by sy skool ook glad afgeskop in 2018. “Alles het baie vlot verloop op ons eerste skooldag en die meeste kinders is geholpe. Ons skool is nou tot sy volle kapasiteit vol. Ek voel ‘n bietjie bekommerd oor kinders wat nog nie iewers geplaas is of plek het nie. Ons het 130 graad 1’s in ons vier klasse verwelkom en is optimisties oor die jaar. Ons gaan die bul by die horings pak en sien uit na al die uitdagings,” sê hy.

leiding in die kuns van klavierbou te ontvang. Hier het hy die presisie en veral die kuns om ‘n perfekte agterste raam vir ‘n klavier te bou, bemeester. Volgens Jasper kan hy, alhoewel hy letterlik álles van ‘n klavier af weet, nie self die instrument bespeel nie. “Ek het wel ‘n baie goeie oor en ‘n groot waardering vir musiek,” sê hy.

“Dit was harde werk, maar dit was wonderlik. Dit was iets wat ‘n mens ongelooflike satisfaksie gegee het. Jy het iets gebou, amper ‘n wonderwerk laat gebeur met die bou van elke klavier. Dit is ‘n kombinasie van vakmanskap en ‘n kunsvorm,” vertel hy met ‘n glimlag. Jasper het ook drie klaviere self ontwerp. Een van hulle was ‘n meer bekostigbare model. Deesdae hou hy homself nog steeds met houtwerk, houtsneewerk en inlegwerk besig. Sy linkerhand, waarvan twee vingers in ‘n ongeluk in die klavierfabriek afgesny is, is die stille getuie van sy jarelange ambag. Die ou Dietmann Klavierfabriek is deesdae ‘n woonkompleks en Jasper is die laaste lewende mens wat elke geheimenis van hierdie spesiale ambag en baken in ons dorp in sy geheue koester. Tog is daar regoor die wêreld duisende mense wat steeds genot put en die mooiste klanke voortbring uit die vrug van die arbeid wat hier verrig is.

Gaireyah wen weer met haar skryfwerk

Die plaaslike skrywer, dramaturg en aktrise, Gaireyah Fredericks, het onlangs weer ‘n prys vir haar skryfwerk ingepalm. Gaireyah het reeds verskeie toekennings en benoemings vir haar teaterwerk, digkuns en skryfwerk, waaronder ‘n benoeming vir die Eugene Marais Literêre Prys, gekry. Haar nuutste prys is dié van Nal’ibali se Story Bosso storieskryf-kompetisie. Sy is as die provinsiale wenner van hierdie kompetisie aangewys. Nal’ibali is ‘n nasionale inisiatief wat poog om lees genotvol te maak. Hulle fokus veral daarop om lees onder kinders te bevorder en het talle interaktiewe leesprogramme vir hierdie doel ontwikkel. Gaireyah se kinderstorie, “Elkeen het ‘n krakie”, is as die Wes-Kaapse wenner van dié kompetisie aangewys. “Die storie gaan oor ‘n Paashaas, Meisie, Ouma en die eier Krakie. Die inspirasie agter die storie was my eie ervaring met my outistiese kind en hoe mense so maklik die foute in almal raaksien, al is ons almal maar vol krakies,” vertel sy. Gaireyah is ook met talle ander projekte doenig waar sy haar skryftalent tot die voordeel van kinders en die gemeenskap aanwend. Sy is onder meer besig met ‘n projek waar sy vir Boland Kollege ‘n module in ‘n drama omskep om die begrip en aanbieding daarvan vir studente te vergemaklik. “Ek is besig om die hele module van die sirkelkaart, wat oor probleemoplossing en die bou van vrede gaan, in ‘n drama te ontwikkel. Die tema wat ek gekies het, is ‘n goeie aanknopingspunt wat tot al die studente se verwysingsraamwerk kan spreek,” verklap sy. Haar nuwe boek, Ramadaan Cronicles, word ook in Maart bekendgestel en die dramagroep wat sy in agtergeblewe gebiede gestig het, neem in Februarie aan die finaal van die Western Cape Drama Festival deel. Sy is boonop besig om vir mense wat aan die SAFE Schools Projek ver-

bonde is, ‘n toneelstuk oor dronkbestuur onder tieners te skryf. “Ek is ook besig om ‘n revue vir ‘n plaaslike laerskool te skryf wat dan in September op die planke sal wees en ek werk aan ‘n poppekas vir die Afrikaanse Taalmonument en Museum oor waterbesparing. Dan is daar nog die poppekas, ‘My naam is Feboewharie’, wat ek ook vir die Taalmonument geskryf en opgevoer het. Dit gaan oor die geskiedkundige agtergrond van slawerny in die Kaap en ook oor die vrystelling van die slawe,” gesels hierdie besige vrou. Gaireyah gaan ook binnekort saam met die bekroonde skrywer, Diana Ferrus, ‘n kreatiewe skryfwerkswinkel by die Drakenstein Gevangenis aanbied. Wat motiveer en dryf haar om so onverpoosd te skryf en by te dra in haar gemeenskap? “Solank as wat ek exposed is aan kinders en die issues van ons tyd waarmee ons gemeenskappe struggle, so lank sal ek aanhou skryf. Ek voel ek het ‘n responsibility om my talent terug te ploeg. Elkeen het seker ‘n doel hier op aarde. Dít is myne,” antwoord sy.

Wees altyd aan die voorpunt van die goeie nuus met ons sosiale media. Volg ons Facebook-blad by @diecourant. Kontak ons by 022 487 3221 of stuur 'n epos na izelle@diecourant.co.za. Besoek ook ons webwerf by www. diecourant.co.za.


NUUS • NEWS

24 Januarie 2018

•'DIS VIR MY LEKKER OM MENSE TE HELP'

Handwerk en ontwikkeling loop vir haar hand aan hand Die 65-jarige Elma Hugo is ‘n sprekende voorbeeld van groot karakters wat soms in klein gedaantes verpak is. Hierdie klein vroutjie is haar lewe lank al ‘n Wellingtonner en is ‘n lopende ensiklopedie wat ‘n mens enigiets van handwerk én die dorp se ontwikkeling oor die laaste paar dekades kan vertel. Elma het as ‘n nooi Van Eeden haar skoolloopbaan in die destydse Oefenskool (vandag Hugo Rust) afgeskop, waarna sy na Hugenote Laerskool is. Sy het in 1969 as deel van die laaste matriekklas van Hugenote Hoërskool wat nog in die ou gebou skoolgegaan het, gematrikuleer. “Ek het na skool ‘n paar maande verpleeg en toe by die ou Dick ‘n Allsop begin werk. Hulle het ‘n vuurwapenafdeling, ‘n hardeware-afdeling, ‘n 'fancy' department en ‘n Spar-gedeelte gehad,” vertel sy. Elma is in 1970 met Louwtjie Hugo getroud en het later by Ackermans begin werk. “Ackermans het mos gesit waar Spar vandag is. Hulle het later oorgeskuif na waar Shoprite is en die hele gedeelte waar Shoprite en die drankwinkel is, beslaan. Ek het hulle nog destyds met die oorskuif na die nuwe winkel toe gehelp. Alhoewel ek in die rokke-afdeling gewerk het, moes ek met die oorskuif ook agter die kasregister uithelp. Dit was omtrent ‘n vertrapping toe die nuwe winkel oopmaak,” onthou sy. Elma is later weer terug om in Dick ‘n Allsop se Spar-afdeling te gaan werk. Dit was toe in die gebou waar Spar vandag nog is en sy het hulle ook met die oopmaak van die nuwe winkel gehelp. “Oorkant die straat, waar Nikki Siebrits se juwelierswinkel nou is, was Rudolph Basson se groentewinkel. Hy het as bestuurder van Dick ‘n Allsop se nuwe Spar oorgekom,” sê sy. Later het “Fashion Fabrics” skuins oorkant Dick ‘n Allsop oopgemaak en Elma het daar gaan werk. Volgens haar is dit hier waar kennis van en belangstelling in handwerk en naaldwerk vonk gevat het.

“Ek sou nie sê dat naaldwerk eintlik my lyn was nie. Op skool was ek maar onnosel daarmee en dit het my nie eintlik geïnteresseer nie. By Fashion Fabrics het ek vinnig geleer hoe lekker dit kan wees. Daar sou vandag ‘n nuwe Butterick-patroon en materiaal inkom en môre kon ek die rok dra,” vertel sy oor hoe sy die wonder van naaldwerk ontdek het. Sy het ook groot lof vir die mense wat haar kliënte by Fashion Fabrics was en by wie sy baie oor die fynere kunsies van naaldwerk geleer het. “Mense het hul kennis aan my oorgedra. ‘n Lapwinkel is mos ‘n plek waar ‘n mens aan die gesels raak. Naaldwerk is eintlik logika en logiese redenasie. As jy dít eers snap, is jou kop deur,” sê Elma. Na die geboorte van haar kinders het sy eers haar werk bedank om by die huis te wees. In 1988 het sy en haar man hul eie tuindienste

Swem: Die bordjieswem-item is altyd eerste op die program by Laerskool Hugenote se swemgala. Lara de Waal in Graad 1 gee hier haar heel beste, terwyl hoofmeisie Ghida Gerber 'n wakende ogie hou. Foto: Engela Duvenhage

begin - ‘n onderneming wat hulle tot in 1998 bedryf het. Volgens Elma het sy hierna “aan en af” by Gavin se winkel, Astra Boetiek en Boland Bazaar gewerk. Toe die winkel “Snip” oopmaak waar die destydse Edgars, en die Chinese winkel vandag is, het sy daar gaan werk. Daarna het sy haar naaldwerk en handwerkkennis verder verbreed toe sy by die destydse Demtex as assistent ingeval het. “Ek het ontsettend waardevolle kennis daar opgedoen. Hulle voorraad was net groter en my liefde vir haberdashery het ook daar begin. Ek kon dit goed gebruik toe ek later by Fabrics & Décor, skuins oorkant Dick ‘n Allsop, gaan werk het,” vertel sy. Elma het nege jaar gelede haar eie, eksentrieke naaldwerkwinkel van haar huis af begin. Die naam “Haaihoei” het sy oorsprong by die lappoppe wat sy na haar man se dood begin maak het. Elke lappop is saam met ‘n geboortesertifikaat verkoop en hierdie sertifikate het verklaar dat die pop in die “Republiek van Haaihoei” gebore is. “Haaihoei is volgens Pansegrouw se blokraaiwoordeboek ‘n deurmekaarspul, ‘n hele gedoente. Dit is ook ‘n rasta-groet. Dit het vir my na die perfekte naam vir my winkel geklink,” lag sy. Alhoewel die beginjare van die winkel vir haar soms moeilik was, het sy haar as ‘n gewilde heenkome vir handwerkers in die dorp gevestig. “Ek kan sweer dat die hele Wellington aan ‘n rek rondhop, want rek is my grootste verkoper. Dit, en zips en gare,” skerts Elma. “Dit is vir my lekker om mense te help om hul probleme op te los, al is dit net om die regte knoop te kry. My liefde vir mense motiveer my. Moenie mense van my wegvat nie. Die moeilikste tye in my lewe was dié sonder mense,” sê dié klein vroutjie met die groot hart - iemand wat altyd potensiaal in die ongewone raaksien en selfs die onkruid voor haar huis in die Kerstyd met versierings behang.

3


courant

dié

4

24 Januarie 2018

Waar hoop is, is lewe

Die Wellingtonner Heleen Pretorius se lewenspad het haar geleer dat waar daar lewe is, is daar ook hoop. Die teenoorgestelde is egter ook waar, want hoop is dikwels die vonk wat lewe laat voortbeur. ‘n Mens kry deesdae soveel draadwoorde, woorde op harte, woorde op houtplankies, sleutelhouers, groetekaartjies en potplanthouers, dat ons bykans afgestomp geword het vir die woord “hoop”. Tog wemel ons dorp van mense en instansies wat daardeur gedryf word, elke dag hul dagtaak as gevolg daarvan aanpak, nuwe planne beraam en inisiatiewe loods om dit lewendig te hou en daaraan vasklou omdat dit hul lewenslyn is. Al ons skole se goeie akademiese prestasies in 2017, sowel as die nuwe inname van leerders in 2018, gee ons hoop op die toekoms. Die ouers van al die nuwe graad 1’s is vol hoop dat hul kinders hul skoolloopbane met sukses sal voltooi. Elke nuwe student wat by die tersiêre instellings op ons dorp geregistreer het, hoop om hulself vir hul toekoms te bekwaam. Lizz Meiring hoop om met haar fondsinsamelingsprojek by Hugenote Kollege ‘n verskil in studente se lewens te maak, wat op húl beurt weer hoop in gemeenskappe sal bewerkstellig. Die koor van Hugenote Hoërskool se hoop om vir die World Choir Games gekeur te word, het nie beskaam nie. Nou hoop hulle om genoeg fondse vir elke behoeftige koorlid in te samel sodat die hele koor hierdie ondervinding kan meemaak. Elma Hugo se verbintenis met ons dorp en haar unieke benadering tot die lewe gee ‘n mens hoop dat alles uiteindelik vir elkeen sal uitwerk. Jasper Cloete se vakmanskap en die talle klaviere wat hy deur die jare gebou het, eggo nog steeds die klank van hoop regoor die wêreld. Die hoop beskaam nie. Ons hoop op die beste. Ons lê nie buite hoop nie. Ons is nie hopeloos nie. Mag hoop elke Wellingtonner deur die laaste week van Januarie aanpor.

It’s Good News

Dr. Marc Blackwell Snr

So, what do you believe about yourself in 2018?

I Peter 4:10-11 “As each one has received a gift, minister it to one another, as good stewards of the manifold grace of God. If anyone speaks, let him speak as the oracles of God. If anyone ministers, let him do it as with the ability which God supplies, that in all things God may be glorified through Jesus Christ, to whom belong the glory and the dominion forever and ever. Amen.”

Do you believe you will be tomorrow what you have been thinking about yourself yesterday? My psychology teacher assured me that was true. Do you believe that your “positive self-image’ is the key to happiness or success? This is certainly a popular outlook on life. Well, Peter wanted us to humbly view ourselves as stewards or servants - actually good stewards. Peter explained that this was a result of looking to God for the ability that He supplies to us. Then possibly, it is not a question of what we think of ourselves, but rather what we prayerfully and honestly look to God to supply for our use and to accomplish through us. By God’s grace, these days ahead could well be the best part of your life. Ask God to give you His ability for today and tomorrow, as well! Humbly, give Him the “credit’ - due to Him and Him alone. Soli Deo gloria: “to the glory of God alone!”

NUUS • NEWS

Hugenote-koor op pad na internasionale kompetisie

Die skoolkoor van Hugenote Hoërskool, o.l.v. Johann Enslin, het hulself reeds op talle platforms as ‘n koor van uitnemendheid onderskei. Nie net het hulle al by herhaling Goue toekennings by die gesogte Nasionale ATKV Applous Koorkompetisie gewen nie, maar hulle tree ook elke jaar saam met ‘n bekende kunstenaar op. Hulle hou elke jaar ‘n gala-konsert voor ‘n stampvol saal en het verlede jaar na Namibië getoer. Hulle word elke jaar ook genooi om by talle instansies en voor verskeie gehore op te tree. In 2018 sal die koor egter al hierdie prestasies oortref wanneer hulle aan die World Choir Games gaan deelneem. “Die skoolkoor is na ‘n streng keuringsproses gekeur om aan die World Choir Games vanaf 4 tot 8 Julie in twee kategorieë te gaan deelneem,” vertel die trotse koorleier, Johann Enslin. Die koor moes reeds in 2017 opnames om vir keuring by hierdie prestige internasionale geleentheid aansoek te doen, maak. Talle elite-kore van regoor die wêreld word elke jaar met die hand uitgesoek voordat ‘n finale lys vir deelname aan hierdie kompetisie gekeur word. Die skoolkoor van Hugenote Hoërskool tel

hierdie jaar onder hierdie uitgelese groep kore. “Dit is vanjaar die eerste keer dat die kompetisie in Afrika plaasvind. Die feit dat dit in Pretoria is en dus ‘n bereikbare en meer bekostigbare plek van deelname sal wees, het ons laat besluit om ‘n kans met ‘n inskrywing te waag. Dit is ‘n reuse voorreg en eer om deel te wees van so ‘n internasionale kompetisie en ons is baie trots daarop dat ons koor gekeur is,” sê Johann. Alhoewel die kompetisie in Suid-Afrika plaasvind, sal dit steeds groot uitgawes vir koorlede meebring. “Ons wil baie graag ons hele koor saamneem om aan hierdie kompetisie te gaan deelneem. Dit is ‘n ongelooflike geleentheid vir elkeen wat deur die jaar so hard werk in die koor. Die toerkoste beloop R6000 per leerder en ons wil alles in ons vermoë doen om dit vir elke koorlid moontlik te maak. Enige hulp van mense of instansies wat finansieel kan bydra tot behoeftige kinders, kan aan daardie kinders ‘n kans tot ‘n onvergeetlike geleentheid help moontlik maak,” sê Johann. Belangstellendes kan Johann Enslin by jenslin@hugenoteskool.co.za kontak.


NUUS • NEWS

5

24 Januarie 2018

Lizz Meiring herlaai haar batterye op Wellington Die bekroonde aktrise, skrywer en regisseur, Lizz Meiring, het verlede week ‘n Bolandse draai kom gooi en in Wellington tuisgegaan. Lizz het al gereeld in die verlede ook in Wellington gekuier. Hierdie bekende persoonlikheid is besig met verskeie projekte en toer ook op die oomblik met ‘n opvolg-produksie van haar toneelstuk, “Met ander woorde.” Sy het oor al haar planne, idees en liefde vir ons dorp gesels. Lizz staan nie verniet as “Bizzy Lizzy” in die vermaaklikheidsbedryf bekend nie. Al is sy klein van postuur, is haar persoonlikheid, energie en algemene kennis omvangryk en kolossaal. Haar flambojante teenwoordigheid, formidabele belesenheid, vlymskerp opmerkings, warmte en plat-op-die-aarde menslikheid maak van haar ‘n geliefde fenomeen. “My vriend Coenie de Villiers sê altyd dat ‘n mens ‘n olifant happie vir happie eet. Dan sê ek: ‘Nee wat, ek vat hom sommer met een hap, die lewe is kort!’” skerts sy. Buiten die opvoedkundige motiveringsprojek, “Be more, be change”, wat Lizz verlede jaar by skole regoor die land behartig het, het sy ook met haar eenvrou-toneelstuk, “Met ander woorde”, deur die land getoer. Hierdie jaar gaan sy gehore met die opvolgweergawe van dié toneelstuk bekoor. “’Met ander woorde’ verwys na ‘n anderse manier van kyk na dinge en stories. "Ek hou daarvan dat ‘n show evolve. Ek doen nou ‘n tweede weergawe wat nog ‘anders’ is met ander woorde met nóg ‘ander woorde’. "Ek is baie lief vir die mitologie en ek het dieper gaan delf in die ou, minder bekende mitologie en die nuwe weergawe van my stuk daarop gebaseer. Ek korreleer dit met moderne stories om te wys dat die menslike bestel nie eintlik verander het nie,” verduidelik sy. Lizz gaan hierdie wonderlike nuwe toneelstuk op Vrydag 2 Februarie ten bate van die Hugenote Kollege in Wellington. Met hierdie projek wil sy fondse insamel vir dié plaaslike privaat opleidingsinstansie wat mense met ‘n begeerte om hulself in ‘n diensgerigte loopbaan te bekwaam, huisves. Die feit dat Lizz gereeld ‘n draai in Wellington kom maak en nou ook haar gewig agter ‘n

fondsinsameling vir Hugenote Kollege gooi, het met haar vrygewige geaardheid, sowel as ons dorp se bekoring te doen. “Hier is vir my ‘n ongelooflike charm aan Wellington. Die plek voel soos ‘n veilige klein juweel, ‘n wegsteekplek. Daar is ‘n warmte hier - nie net die fisiese hitte nie - dit voel soos die huis. ‘n Mens kan asemhaal hier,” vertel sy oor haar liefde vir ons dorp. Dit is egter nie net Wellington se bekoring wat Lizz hierheen lok nie. Sy is iemand wat ongesiens daarvan hou om haar kennis en talent tot voordeel van ander mense aan te wend. Volgens haar is haar behoefte om te deel, deel van haar DNS. “As ‘n mens net geld en rykdom najaag, is dit soos ‘n koekie seep wat die heeltyd uit jou hande bly glip. Ek het nog altyd gehad wat ek nodig het. Daar is mense wat nie in so ‘n bevoorregte posisie is nie. Ek het in ‘n huis grootgeword waar daar altyd gegee is. My ouers het mense gehelp sonder om te oordeel of onderskeid te tref oor waar hul vandaan kom of hoe hulle in ‘n slegte posisie beland het. Om PG du Plessis aan te haal: ‘Elke mens wil van geweet wees.’ Dis partykeer so eenvoudig soos dit,” sê Lizz oor haar onbaatsugtige gemeenskapsdiens. Sy is ‘n mentor vir talle opkomende kunstenaars in die vermaaklikheidsbedryf en voel positief oor die toekoms van hierdie bedryf in Suid-Afrika. “Kreatiwiteit is ‘n ding wat blom en bloei wanneer dit ‘n krisis beleef of wanneer dinge rof

‘n breinprofiel-ontleding van my gedoen sonder om te weet wie ek is. Hy het bevind dat my regter- en linkerbrein perfek in ‘n 50/50-balans funksioneer. Ek het natuurlik nie daarmee saamgestem nie, want ek is dan ‘n kunstenaar. Agterna het ek en hy ‘n gesprek oor die uitkoms van sy bevindings gehad en hy het gesê dat ek nie wíl glo dat my brein perfek in balans is nie, want dit klink vir my meer opwindend,” lag sy. Vir Lizz sal intuïsie egter altyd bo logika seëvier. “Ek glo dat intuïsie die stem is wat die eerlikste met jou praat. Mense dink altyd dis maklik om intuïsie te volg, maar dit is nie, want jy moet baklei teen alles wat jy geleer is. Intuïsie het nie ego nie, dit het nie vrees nie, dit het nie vooropgestelde idees nie. Ek het al te veel in my lewe my kop gestamp wanneer ek teen die intuïtiewe gewerk het,” sê sy. Lizz word herhaaldelik intuïtief na Wellington gelei. Dit is haar onbaatsugtige geaardheid en die bekoring van die dorp wat haar nou weer hierheen bring. Dorpenaars kan op 2 Februarie na haar nuwe toneelstuk in die Hugenote Kollege Saal gaan kyk wanneer sy ten bate van hierdie instelling sal optree. Vir besprekings en meer inligting kan belangstellendes Esmé Bronkhorst by 021 873 1181/ 071 294 8840 of ebronkhorst@hugenote.com kontak.

gaan. Kreatiwiteit is veel meer as net ontsnapping - dit is probleemoplossing. It’s making sense of the chaos. En dít is wat ons nou meer as ooit vantevore nodig het,” sê sy. Lizz se pa was ‘n mediese spesialis en haar ma ‘n taalkundige en geskiedeniskenner. Sou haar ongelooflike werkywer en kreatiwiteit ‘n perfekte kombinasie wees van wat sy by haar ouers geërf het? “Kobus Neethling het eenkeer vir ‘n tydskrif


6

NUUS • NEWS

24 Januarie 2018

Stasiefees 2018 vier Wellington se erfenis op nuwe terrein Die jaarlikse Stasiefees is reeds sedert 2013 ‘n instelling op ons dorp se sosiale kalender. Hierdie jaar sal dié fees dieselfde doelwitte as vorige jare nastreef, naamlik om die erfenis van ons dorp se geskiedenis en kultuur, en veral dié van ons Stasie, te vier. Daar wag egter ‘n paar heerlike verrassings op mense wat die Stasiefees hierdie jaar op 4 en 5 Mei sal bywoon. Buiten die feit dat die fees in 2018 op ‘n nuwe terrein sal plaasvind, is daar ook talle hoogtepunte en nuwe aktiwiteite wat vir die feesprogram beplan word. Die plaaslike ATKV-tak, tesame met verskeie ander rolspelers, is reeds kliphard met die beplanning vir hierdie groot gebeurtenis besig en het die aap uit die mou gelaat oor die formaat en aktiwiteite wat feesgangers hierdie jaar kan verwag. Die Stasiefees het ontstaan toe die Welling-

ton Stasie in 2013 sy 150ste bestaansjaar gevier het. Die eerste fees het aanvanklik as die “ATKV Konsternasie op die Stasiefees” bekendgestaan. Hierdie eerste fees was so ‘n groot sukses dat dit oor die jare uitgebrei en uiteindelik as ‘n “fees-wat-nie-misgeloop-kan-word-nie” gevestig is. Volgens Tharina Schweidler van die ATKV is daar ‘n paar redes dat die fees hierdie jaar ‘n effense ander gedaante sal aanneem. “Dit gaan dieselfde feestelikheid, samehorigheid, lekker aktiwiteite, interessante kunstenaars en viering van ons erfenis wees as vorige jare. Ons gedenk hierdie jaar egter soveel mylpale in ons dorp dat ons die fees in 2018 op ‘n ander terrein gaan aanbied,” verduidelik sy. Die ander mylpale waarna sy verwys, is onder andere die viering van Huis Andrew Murray (HAM) se 120ste bestaansjaar, sowel as die feit dat Bainskloof hierdie jaar 165 jaar oud is.

“Om praktiese redes en omdat Bainskloof hierdie jaar ook ‘verjaar’ het ons besluit om die fees aan die voet van Bainskloof by die Kleinevalleij Landgoed te vier. "Hierdie terrein leen hom uitstekend tot dit wat ons in gedagte het,” sê Tharina. Alhoewel die terrein van die Stasiefees verskuif, sal die Wellington Stasie en treine nog steeds die eregas by hierdie jaar se fees wees. “Daar sal ‘n spesiale deel van die fees afgestaan word om hierdie erfenis van ons te gedenk en hulde te bring aan hierdie baken in ons dorp se geskiedenis,” sê Tharina. Volgens haar sal die feestelikhede reeds op Vrydag 4 Mei met ‘n spesiale geleentheid, waaroor sy nog nie te veel wil verklap nie, afskop. Die makietie sal op Saterdag 5 Mei by die Kleinevalleij Landgoed voortgesit word. Feesgangers kan uitsien na vertonings deur Refentse, Wynand en Cheree, die nuwe sang-

sensasie Elandré Schwartz, sowel as die plaaslike groep Adagio. Die gebruiklike stalletjies, spesiale burgemeestersontvangs, wyntuin, rieldansers en ook die oorhandiging van die 2018 Winnie Rust-oekenning is maar ‘n paar van die heerlikhede waarna feesgangers kan uitsien. “Daar sal ‘n spesiale deel van die fees en ‘n uitstalling aan die viering van Bainskloof se 165ste jaar afgestaan word. "Ons wil ook die kostent uitbrei en onder andere die dorp se dominees en pastore teen mekaar laat meeding in ‘n kookkompetisie,” is al wat Tharina nog wil verklap. Volgens alle aanduidings gaan hierdie jaar se fees nie net die suksesse van vorige jare ewenaar nie, maar heel waarskynlik ook oortref. Die Stasiefees gaan hierdie jaar ‘n opskop wees wat die erfenis, verskillende kulture en gees van gemeensaamheid in ons omgewing meesterlik gaan saamsnoer en vier.

Studente registreer vir nuwe akademiese jaar

Op Maandag, 22 Januarie, het talle studente en hul ouers vir kursusse by die Hugenote Kollege, sowel as CPUT geregistreer. Studente en hul ouers van regoor die provinsie en die land het in ons dorp opgedaag vir die afskop van die akademiese jaar by ons tersiêre opvoedkundige inrigtings. By Hugenote Kollege kon studente vir die kursus van hul keuse registreer. Hierdie instelling se formele akademiese opening vind op Maandag 29 Januarie in die Moederkerk plaas. “Ons sal alles in ons vermoë doen om ‘n klimaat van akademiese uitnemendheid aan te moedig. Dit beteken dat studente klasse moet bywoon, lees, debatteer en die beskikbare fasiliteite moet benut. Kortom, om te doen waarvoor studente in die eerste plek hier is, en dit is om te studeer. Met wedersydse vertroue, same-

werking, entoesiasme en geloof gaan ons 2018 ‘n ongelooflike jaar maak,” het dr Willie van der Merwe, Rektor van Hugenote Kollege gesê. By CPUT het die registrasie van nuwe eerstejaarstudente ook glad verloop. Daar is 165 onderwysstudente by die Wellington Kampus geregistreer en hulle het reeds Maandag met hul oriëntering begin. Tydens hierdie oriëntering is hulle aan die dorp en al die fasiliteite, sowel as aan die kampus bekendgestel. Gekeurde, opgeleide mentors het hul tydens hul oriëntering vergesel. Voornemende studente kan ook hul plek vir Hugenote Kollege se tweede inname in April 2018 verseker deur nou al daarvoor te registreer. Belangstellendes kan Hugenote Kollege by 021 873 1181 of www.hugenote.com kontak.

Regs: Kim le Roux, Robin Tiras, Lesley-Ann Cyster en Morton Mileham Murphy tree as mentors vir die eerstejaar-onderwysstudente by CPUT op.


NUUS • NEWS

24 Januarie 2018

Dagboek • Diary

Bolandse boere vir “Boer soek ‘n Vrou” 2018 gesoek KykNet se Boer soek ‘n Vrou werklikheidsreeks is al sedert 2007 baie gewild onder televisiekykers. Talle boere het al met die hulp van dié reeks liefde gevind en die volk sit met elke nuwe reeks vasgenael om die proses en mannewales van die boere en meisies gade te slaan. KykNet is nou op soek na boere om vir 2018 se reeks van hierdie program in te skryf - en hul hoop om ook inskrywings van boere uit die Boland te ontvang. Volgens Wilmer Muller, verantwoordelik vir die publisiteit van die reeks, kan boere of plaasbestuurders, manlike of vroulik vir die elfde seisoen van Boer soek ‘n Vrou inskryf. “Belangstellendes en voornemende deelnemers op kykNET se webtuiste, www.kyknet.

Wellington CLC Matriek-aandklasse by Wellington CLC, Hospitaalstraat. Dinsdae en Donderdae vanaf 18:00 tot 20:00. Navrae skakel 021 864 2418 Wellington-rugbyklub Wellington-rugbyklub se oefeninge vind plaas vanaf 19:30 by die Wellington-rugbyklub, reg langs Boland-stadion. Vir meer inligting kontak Jaco van Deventer 081 488 5457 of Francois Coertze 083 443 3081 Elvis Blue op Wellington 26 Januarie - Die gewilde Elvis Blue, wenner van die sesde Idols-kompetisie en ‘n kunstenaar met verskeie trefferliedjies op sy kerfstok, begin 2018 met ‘n vertoning in die Breytenbach-sentrum se Bôrdienghuis. Hy gaan van sy gewildste liedjies, sowel as ‘n paar nuwe treffers sing. Die konsert vind plaas op Vrydagaand, 26 Januarie, en begin om 20:00. Kaartjies kan by 021 873 2786 of teater@ breytenbachsentrum.co.za bespreek word. Silwerkruin Basaar 2 Maart 2018: Hou die datum oop!!! Silwerkruin hou basaar vanaf 16:00 tot 21:00 Vir enige navrae kontak Melanie by 021 873 1040 Piketberg Toerisme Somermark 3 Februarie - Die Piketberg Toerisme hou

7

tv, aanlyn inskryf of ‘n inskrywingsvorm aflaai. Hulle moet onthou om afskrifte van hul identiteitsdokumente en foto’s saam met hul inskrywing in te stuur. Die sluitingsdatum is voor middernag op 9 Februarie 2018 en die gekose boere sal teen 8 Maart in kennis gestel word,” sê hy. Hy maan ook dat voornemende deelnemers ongetroud en ouer as 21 jaar moet wees om aan die reeks deel te neem. Die elfde reeks sal van Oktober op kykNET uitgesaai word. Die laaste episode van die huidige seisoen van Boer Soek ‘n Vrou word op 26 Januarie uitgesaai. Marche Media kan by 079 335 5137 of boer@ marche.media vir navrae gekontak word.

vanaf 09:00 tot 14:00 'n somermark op die museumgronde. Die mark sluit kontreivrugte, tuisgebak, handwerkstalletjies, vermaak en 'n historiese staproete in. Vir meer inligting, kontak 022 913 2063.

Darling-rugbyklub 7's-toernooi 3 Februarie - Die Darling-rugbyklub bied hul jaarlikse sewestoernooi aan by die Gabriel Farao-rugbyveld op dié dorp. Toegang beloop R20, R10 vir kinders en R10 vir voertuie. Prysgeld van R19 000 is op die spel. Swartland Charity Bikers Braai 6-8 April - Die jaarlikse Swartland Charity Bikers Braai word op die Moorreesburg-skougronde gehou. Voorafskrywings beloop R140. Hektoegang beloop R170 en kenteken R20. Kinders onder 10 is gratis. Voorafinskrywings sluit op 9 Maart. Kontak Francois by 083 956 0606, Erhardt by 082 898 1026 of Herman by 083 568 5020.

Hugenote Hoërskool het op Woensdag 17 Januarie al sy akademiese presteerders tydens ‘n Prestige Akademiese Toekenningsaand vereer. Alle beste vakpresteerders, leerders wat A-gemiddeldes gedurende 2017 behaal het, sowel as die 20 matriek A-kandidate en Dux-leerder van 2017 het tydens hierdie geleentheid spesiale toekennings en pryse ontvang. Op die foto is die matriek A-kandidate van 2017 wat die geleentheid kon bywoon. In die middel voor is Philip Visagé, die Dux-leerder.”

Pinotage & Biltong Festival 2018 14 & 15 April - Come join in the fun at Perdeberg Winery, Agter Paarl Tickets from www.computicket.com or www.plankton.mobi Riebeek Valley Olive Festival 5 and 6 May - The annual Riebeek Valley Olive Festival takes place on the 5th and 6th of May. Get your passport at www. webtickets.co.za

Kerke • Churches Anglican Church Sunday morning: April to Sept at 08:00; Oct March at 07:30; Wed. Morning : 09:30 (end Jan to mid Dec); 4 Milner Street, Wellington. Enquiries: 021 873 1425. Joshua Generation Sunday morning 09:00 (English), Sunday evening (Afrikaans) 17:00. Provence, Milner Road. Enquiries: 021 873 6541. Kerk van Macedonië Sondagdiens om 10:00; Groenberg. Navrae: 062 836 1316 of 074 608 0519 NEW Sunday morning at 09:00 (English service); HJN Training Centre, College Street, Wellington. Enquiries: 082 355 3280. NGK Moeder-gemeente Sondagoggend om 09:00. Sondag-aanddiens Leefkerk om 18:00. H/v Kerk- en Piet Retiefstraat, Wellington. Navrae: 021 873 1561. NGK Noord-gemeente Sondagoggend om 09:30: MacCronestraat 11, Wellington.

Navrae: 021 873 2763. NGK Wellington-Oos Sondagoggend om 9:00 en Sondagaand om 19:00 op die h/v Barlinka en Cummingsstraat, Wellington. Navrae : 021 873 2690 St George's Presbyterian Church Sunday mornings at 09:30 (English); 22 Jan van Riebeeck Street. Enquiries: 021 873 2021. Shofar Sondagoggend om 09:00 Laerskool Hugenote, Kerkstraat 41. Navrae: 021 873 7677 AGS Wellington Dienstye en Junior Kerk : Sondae 09:00 asook 18:00 by Terracestraat 3, Wellington. Kontak: 083 258 8717 of 021 873 3375 Crystal Gates Outreach Ministries Sondag-oggende om 10:00 en Vrydag-aande om 19:00, te Bergrivierstraat 32, Vanwyksvlei, Wellington. Alle besoekers welkom.

Tweekamp:

Neil Buchner het hierdie naweek aan die Boland Tweekamp ligabyeenkoms, wat by Paarl Gimnasium gehou is, deelgeneem. Hy is een van die Wellingtonners wat opgeneem is in die Bolandgroep wat aan die interprovinsiale byeenkoms op Oudtshoorn gaan deelneem."

Wees altyd aan die voorpunt van die goeie nuus met ons sosiale media. Volg ons Facebook-blad by @diecourant. Kontak ons by 022 487 3221 of stuur 'n epos na izelle@diecourant.co.za. Besoek ook ons webwerf by www.diecourant.co.za.


8

courant

dié

24 Januarie 2018

NUUS • NEWS

WELLINGTON SPORT

Tel: 022 487 3221

24 Januarie 2018

Hillcrest gasheer vir sewestoernooi

Die Hillcrest United-rugbyklub van Wellington het die afgelope naweek hul jaarlikse sewestoernooi aangebied op Pelikaan-park. Hierdie toernooi is vir die derde jaar aangebied en soos beloof, was dit groter met meer aksie. Ongeag die hitte en winderige weersomstandighede, het talle toeskouers opgedaag om sewesrugby op sy beste te kom aanskou. Spanne wat hierdie jaar sake uitgespook het was Hillcrest United, Newtons, Roses United, Evergreens Wesbank, Never Dispears, Abbotsdale, Coronations (almal spanne uit die Boland) Rebels, Whistling Wheels, Young Peoples, Paarl Rangers, Spartans, Warras (uit die WP-liga) en Barbarians al die pad van Mosselbaai. Toeskouers is vermaak met goeie rugby opgedus deur die spanne vanaf die afskop. Na die groepwedstryde is die plaat semi-finale gespeel met Coro-

nations (Kalbaskraal) teen Abbotsdale en Young Peoples teen Newtons, waarby Newtons en Coronations die plaatfinaal uitgespook het. Die tuisspan (Hillies) was onkant betrap deur Warras in die een bekersemifinaal met ‘n uitslag van 21-12 in die guns van die Warras. In die ander semifinaal het Rebels met die Spartans (albei van Kraaifontein) 31-7 afgereken. In die bekerfinaal moes die Rebels buig teen ‘n baie sterk Warras-span met die eindtelling op 14-7. Warras stap weg met ‘n spog-trofee en ‘n kontantprys van R7000 wat moontlik gemaak is deur Davey’s Transport. Die dag is ingekleur met goeie rugby, goeie sportmangees, goeie atmosfeer, asook lekker musiek en stalletjies. Die wenners vir die dag was: speler van die dag – Keaton Booysen - Newtons; Plaat wennersNewtons; Naaswenners - Rebels; Cup wenners - Warras.

Foto's: Roswall de Vries

Gear up for road cycling challenge in Paarl Early Bird entries for the Bouckaert-Soenen Road Cycling Challenge on Sunday 4 February are open until 22 December. The races, organised by the Rotary Club of Paarl, are held under the auspices of the Pedal Power Association (PPA) and start at the De Poort heritage centre in Pine Street, Paarl. There are three races around Paarl Mountain that day, measuring 123 km, 72 km and 46 km. The longer 123 km route is suitable for league and more experienced riders and will be a seeding race for the Cape Town Cycling Challenge 2019. It will pass through the towns of Wellington, Hermon and Riebeek Kasteel, with a tough climb over Bothmanskloof Pass. After the descent, the route turns back to Paarl via the Voor-Paardeberg area, before returning via Agter Paarl to the finsish near Strawberry King. The 72 km route follows the long route but

cuts out Hermon and Riebeek Kasteel and joins the long route again at the Sonop turn-off to Voor Paardeberg before returning to the finish via Agter-Paarl. The 46 km route goes directly around Paarl Mountain and has no serous climbs. It joins the other two routes at the R44/Paardeberg Road junction and back to the finish via Agter Paarl. It is a fun-ride event aimed at the whole family and will have plenty of entertainment, food and drink available at the finish venue at De Poort. Families must please note no under 16s may ride the 123 km route, no under 14s may ride the 72 km route, and under 12s must be accompanied by an adult on the 46 km route. Visit www.paarlrotary.co.za for details. Proceeds go to childhood development projects supported by Paarl Rotary. For enquiries, contact Dave Moss on 082 575 4063.


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
453 dié courant Wellington by DieCourant - Issuu