courant
• Bergrivier 1Swartland Wellington
dié
13 Desember 2017
• Free • Gratis
Wes-Kaap se #1
Bou saam met goeie nuus
Uitgawe 450
13 Desember 2017
•ONTMOET WELLINGTON SE SINGENDE "SPIETKOP"
Cedric laat verkeer en note vry vloei •Jaomi Zeeman Mense wat gereeld die besige paaie in ons vallei gebruik, sou al die vriendelike gesig van Cedric Klaasen langs die pad teëgekom het. Hierdie verkeerspuntdiensbeampte reguleer die verkeer gereeld met sy breë glimlag en energieke, ritmiese passies. Daar steek egter veel meer as wit handskoene, ‘n behoefte om padgebruikers veilig by die huis te kry en ‘n goeie kennis van verkeersreëls in hierdie interessante man. Cedric het ‘n groot liefde vir musiek, hy beskik oor ‘n engel-stem en hy tree gereeld as seremoniemeester by verskeie geleenthede in die vallei op. Volgens Cedric het sy liefde vir sang reeds op ‘n jong ouderdom begin. “Ek het al toe ek maar ses jaar oud was, as ‘n jong klonkie van Chicago, op die straathoek gestaan en sing. Die mense het vir my geld gegee en ek kon dit nie glo nie. Daar het ek besef dat musiek iets wonderliks is. Dit iets wat al van jongs af in my brand,” vertel hy. Mense wat Cedric al hoor sing het, sal kan getuig van sy toon- en nootvastheid. Alhoewel hy al op verskeie verhoë opgetree en mense met sy stem betower het, het hy egter geen formele musiek- of sangopleiding nie. “Ek het geen boekkennis van musiek nie. Dis net iets hierbinne my. Ek het my eie ingeboude stem-orkes,” lag hy. Cedric se talente strek egter veel verder as net sy sang en stem. Hy het ‘n natuurlike aanleg vir die uitvoerende kunste en het reeds op skool aan toneelkompetisies deelgeneem. Volgens hom was dit as jong seun sy droom om ‘n akteur te word.
Sterre blink uit op rugbyveld
“Ek het in die hoërskool aan ‘n teaterstuk deelgeneem wat vir die ATKV-toneelkompetisie ingeskryf is. Daar het ek die prys as die beste byspeler by die Joseph Stone Teater in die Kaap vir die hele kompetisie gewen,” onthou hy. Hy was vir sy hele skoolloopbaan ‘n lid van die skoolkoor. Cedric was ook vir 15 jaar lank ‘n omroeper by die plaaslike radiostasie, Radio KC, waar hy heel gepas die program, “Musiek met die woord”, aangebied het. Hy is boonop ook verantwoordelik vir die lofprysing by sy kerk en het ook al in verskeie televisie advertensies gespeel. Hy is vol lof vir sy vrou en 16-jarige dogter wat hom nog altyd in sy loopbaan ondersteun het.
“Sonder hulle sou ek nie al hierdie dinge kon aanpak nie,” sê hy. Tussen sy pligte as verkeersbeampte deur, is Cedric gedurig na een of ander funksie heen op pad. Sy energieke aanslag as seremoniemeester, gekombineer met sy sangtalent, maak van hom ‘n gesogte gas by talle plaaslike geleenthede. “Ek tree elke week iewers as seremoniemeester op of ek moet iewers gaan sing. "Ek was nou onlangs weer die seremoniemeester by die Liggiefees in die Paarl. Dit het van 1 tot 3 Desember geduur en dit verg nogal uithouvermoë om die pas vol te hou en die hele tyd energiek te bly en die feestelikheid aan die gang te hou so oor 3 dae en tot laat saans. Maar ek is mal daaroor!” vertel hy entoesiasties. Hy tree ook gereeld as motiveringspreker by geleenthede op en vertel stories vir die kinders by plaaslike biblioteke. “Die storievertellery by die biblioteke is een van my gunsteling aktiwiteite. Kinders lees mos nie eintlik meer nie en die biblioteke het met ‘n inisiatief begin wat kinders se liefde vir stories en boeke wil aanwakker. Ek het ook ‘n diploma in remediëring en dit help my met hierdie taak. Die biblioteke het my genader om vir die kinders voor te lees en dis so lekker om die groot oë en meelewing in die kinders se gesigte te sien wanneer ek die stories vir hulle lees en ‘n bietjie drama bysit,” sê hy. Hoe hou hierdie man met die mooi stem, akkurate verkeersmaneuvers, liefde vir geestelike en klassieke musiek en fyn humorsin sy energievlakke op ‘n so ‘n hoë vlak? “Ek wil altyd net die beste aan mense gee, of hulle nou in ‘n gehoor voor my sit of in hul motors by my verbyry. Ek probeer hulle lees en aansteek met my energie. Dit is iets waarvoor ek ‘n passie het,” deel hy sy geheim.
Boland se elitegroep bekend
Hugenote derde met beste kaas
NUUS • NEWS
2
13 Desember 2017
NUUS • NEWS
OrWellington en kie tokkel Victoria Park se donateurs vereer vir ondersteuning die kitare se snare
Toast Coetzer en The Buckfever Underground saam met die lede van die OrWellington Orkes. Die Wellingtonse orkes, OrWellington, het op Vrydagaand, 8 Desember saam met The Buckfever Underground by die Bôrdienghuis-teater opgetree. Gaste kon na beide groepe se digterlike aanslag waarmee hulle stories vertel in hul lirieke luister. OrWellington, waarvan die naam na mense se vraag “are you from Paarl or Wellington?”, sowel as na George Orwell, die bekende skrywer, verwys, bestaan uit drie Wellingtonners wat al jare op die dorp woon. Louis Duvenage, hoofsanger en kitaarspeler, Ian Smith, baskitaarspeler en Christie Botha op perkussie is die gedugte drie-
manskap wat OrWellington se meesleurende musiek maak. Hul lirieke verwys na en lewer kommentaar op die geslag net duskant die sogenaamde “millenials”. Gaste kon hul in hierdie plaaslike groep, sowel as The Buckfever Underground se musiek verlustig. The Buckfever Underground bestaan uit onder andere Toast Coetzer, bekende reisjoernaal skrywer van die Weg-tydskrif en gepubliseerde digter. Hul musiek het vir ‘n unieke ervaring met ‘n digterlike aanslag gesorg. Gaste kon oudergewoonte die gemoedelike atmosfeer en pragtige musiek met heerlike pizzas en plaaslike drinkgoed afrond.
Die amptelike opening van die verbeterde Victoria Park in Kerkstraat het onlangs plaasgevind. Op Dinsdag, 5 Desember, is daar ook hulde gebring aan die talle donateurs wat hierdie inisiatief moontlik gemaak het. ‘n Spesiale program, propvol vermaak en musiek, het as agtergrond vir die bedanking van al die rolspelers wat die park se nuwe gedaante moontlik gemaak het, gedien. ‘n Spesiale gedenkplaat met die donateurs se name op, is ook tydens die geleentheid onthul. Onder die items op die program was sang deur die plaaslike kunstenaar, Muldene Hollaway, ‘n item deur die Busy Beez Damesgroep, sang deur Cedric Klaasen, sowel as ‘n vreugde-dans deur een van die Rejoice Dance School se onderwysers. In sy toespraak het die parkdirekteur, Devi Lategan, na die visie van die park in sy nuwe gedaante verwys.
“Dit is ons visie en missie om die Victoria Park as ‘n trotse baken in ons middedorp te laat herleef. "Ons wil hierdie waardetoevoeging gebruik om ons dorp as ‘n bestemmingspunt vir toeriste te bevorder. "Ons het bakens in ons gemeenskappe nodig, ons het almal nodig om ‘n sin vir ‘behoort’ aan te kweek. Hierdie park kan tot al hierdie doelstellings bydra,” het hy gesê. Devi het al die rolspelers en donateurs wat die opgradering van die park moontlik gemaak het, bedank. “Die vriende van Wellington is ook die vriende van die Park. Hier is ‘n nuwe energie vir Wellington losgelaat,” het hy gesê. Na die onthulling van die gedenkplaat met die donateurs se name op, is elke donateur en bydraer tot die park se nuwe gedaante persoonlik bedank.
NUUS • NEWS
13 Desember 2017
•AS BESTE IN SA GEKROON
Huguenot derde met beste kaas
Kersvader besoek Voor-Groenberg Primêr
Bo: Die wenspan van Dalewood Fromage. Links: Kobus Mulder, Rebecca Visser, Petrina Visser, Rob Visser, Johan Ehlers (Hoof Uitvoerende Beampte, Agri-Expo) en Breyton Milford (Operasionele Bestuurder, Agri-Expo) met die Agri-Expo wisseltrofee vir die Beste Suid-Afrikaanse Kaas by die 2017 World Cheese Awards. Wat het jy nodig om ‘n wenkaas te maak? Goeie melk én ‘n goeie span. Gelukkig beskik die plaaslike Dalewood Fromage oor albei. Dalewood se Huguenot is by die pas afgelope 2017 World Cheese Awards in Londen as die gesamentlike derde beste kaas in die wêreld aangewys. Hulle deel hierdie toekenning met ’n Oostenrykse Capellaro van Almenland Stollenkaese. Die Huguenot is ook bekroon met die Agri-Expo-wisseltrofee vir die Beste Suid-Afrikaanse Kaas by die WCA, die wêreld se grootste kaaskompetisie met 230 beoordelaars van 29 lande wat 3 000 kase van 35 lande beoordeel. Agri-Expo het in Desember ‘n prysoorhandingsgeleentheid gehou om Dalewood se hele span van 60 mense, van die Jersey-melkery en die kaasmakery tot die bestuur, geluk te wens. Agri-Expo het ‘n sertifikaat aan Dalewood
oorhandig, terwyl die internasionale kaasbeoordelaar, Kobus Mulder, oor die beoordelingsproses gesels het en ‘n paar spanlede met spesiale geskenke verras het. Die Huguenot is ook as die 2017 Wêreldkampioen Jersey-kaas aangewys. Volgens Johan Ehlers, Hoof Uitvoerendebeampte van Agri-Expo, is dit ‘n besondere prestasie om by die WCA as een van die top-kase in die wêreld bekroon te word. “Ons wens graag vir Rob en Petrina Visser en hulle hele span geluk – hierdie internasionale erkenning vir Dalewood se spesialiskaas is welverdiend,” het hy gesê. Agri-Expo is sedert 1834 in die SA Suiwelbedryf betrokke, waaronder as organiseerder van die SA Suiwelkampioenskappe en die SA Kaasfees en het die Qualité-merk van gehalte vir suiwelprodukte van uitstaande gehalte in 2000 bekendgestel.
Die leerders van Voor-Groenberg Primêr kon op 5 Desember hul oë nie glo toe Kersvader by hul skool opdaag nie. Hierdie verrassing was te danke aan die inisiatief van AO Pierre Hugo van die plaaslike SAPD en sy vrou, Sandra. Pierre, wat verantwoordelik is vir Sektor 4, of die landelike gebied, het besluit dat die kinders by Voor-Groenberg die skooljaar op ‘n hoogtepunt moet afsluit. Hy en sy vrou het met die hulp van donateurs en ander rolspelers toegesien dat geskenkpakkies vir elke kind opgemaak word. Hierdie pakkies het alledaagse benodigdhede soos seep, ‘n tandeborsel en tandepasta, ‘n waslap en heerlike eetgoed ingesluit. Kersvader het met loeiende sirenes agterin ‘n
3
Links: AO Pierre Hugo, Carl en Charl Lotze en Sandra Hugo saam met Kersvader (Stephan Landsberg van WAG/Stopmisdaad) en leerders van Voor-Groenberg Primêr. polisievoertuig by die skool opgedaag. Die voertuig is begelei deur die veiligheidsmotor van die Lotze-tweeling, Carl en Charl. Die kinders was baie opgewonde toe hulle sien wie agter uit die polisievoertuig klim. Volgens Doreen Fortuin, waarnemende skoolhoof by Voor-Groenberg Primêr, is hulle ongelooflik dankbaar vir hierdie gebaar. “Ons het nooit gedink dat ons vir Kersvader vandag sou sien nie. Ons wil almal wat hierdie geleentheid moontlik gemaak het uit ons harte uit bedank. Julle sal nie weet wat dit vir ons kinders beteken nie. AO Hugo doen soveel vir hierdie klein gemeenskap - hy beteken veel meer vir ons as net die beveiliging van ons mense en ons waardeer sy mooi hart en opregte omgee,” het sy gesê.
courant
dié
4
13 Desember 2017
Gee erkenning
Almal hou van ‘n klop op die skouer, ‘n huldiging, ‘n bietjie aanmoediging, iemand wat hulle aanspoor en so nou en dan ‘n tikkie erkenning gee. Om te weet dat ons pogings nie ongesiens verbygaan nie en dat ons inspanning iewers ‘n verskil maak en waardering ontlok, is soms die grootste aansporing tot nog groter doelwitte. Ongelukkig werk die lewe nie altyd só dat daar goue sterre, sertifikate, medaljes en plekke op podiums toegeken word nie. Die meeste mense vervul daagliks hul dagtaak of onbaatsugtige liefdesdiens sonder die belofte van ‘n beloning of erkenning. Ons is ook dikwels traag om die erkenning wat ons self verlang, aan ander te gee. In hierdie seisoen van afsluitings en prysuitdelings is Wellingtonners egter nie inhalig met hul dankies, erkenning en uitdeel van blyke van waardering nie. Ons dorp is propvol mense wat hierdie jaar talle prestasies behaal het en bydraes in die gemeenskap gelewer het - en hulle word raakgesien. Die Wamakersvallei Opleidingsentrum het onlangs diplomas uitgereik aan al hul studente wat hul kursusse suksesvol voltooi het en nou ‘n positiewe verskil in hul gemeenskappe gaan maak. Die “Hugenote” kaas het erkenning as die derde beste kaas in die wêreld gekry. Daar is aan die Victoria Park se donateurs erkenning gegee deur die onthulling van ‘n gedenkplaat. Die ACVV Dienssentrum het tydens hul aflsluiting alle rolspelers wat hul wonderlike werk gedurende die jaar moontlik gemaak het, bedank. Tydens Silwerkruin se Kersete is daar hulde gebring aan al hul donateurs en vrywilligers. Die Breytenbach-sentrum het diplomas uitgereik aan al die studente wat hul jaarlange kursusse suksesvol voltooi het. En ons dorp se twee blink rugbysterre spog met talle toekennings wat erkenning gee aan hul harde werk en deursettingsvermoë. Daar is ook talle helde in ons dorp wat ongelooflike dinge vermag waarvoor hul miskien nooit krediet kry nie. Dit maak hulle pogings nie minder waardig nie. Dwight Frindt het eenkeer geskryf dat erkenning en die viering van goeie dinge belangrik is vir die aanvuring van passie, om mense waardig en waardevol te laat voel en om ‘n span ‘n gevoel van progressie en sinvolheid te gee. Mag elkeen hierdie week iewers ‘n klop op die skouer kry, maar ook erkenning gee aan dít wat mense rondom jou vermag en beteken.
Dis Goeie Nuus
Dr. Andrew Bosman
Jerusalem
Dit is ‘n interessante tyd waarin ons leef. Hierdie tyd van die jaar hou meeste besighede op met werk, en sluit tot vroeg in die nuwe jaar. Vir die kinders is dit vakansie en almal sien uit na Kersfees. Baie gaan weg met vakansie. In Israel is daar opgewondenheid oor die besluit van die VSA om hulle ambassade van Tel Aviv na Jerusalem te verskuif, dan erken die VSA dat Jerusalem die hoofstad van Israel is. Vir die res van die wêreld, en dit sluit ongelukkig Suid Afrika in is daar ongelukkigheid oor die besluit. Die Pous asook die res van Europa en veral die Arabiese lande is baie ontsteld hieroor, hulle wil dat die Palestyne Jerusalem as hoofstad sal kry. In die boek Sagaria hoofstuk 14 verse twee en drie lees ons dat die Here die nasies sal versamel om oorlog te voer teen Jerusalem, maar dat die Here sal uittrek en stryd voer teen die nasies op die dag van sy stryd, die dag van oorlog. In Jesaja hoofstuk 62 verse ses en sewe lees ons dat die Here wagte op die mure van Jerusalem uitgesit het, en dat julle wat die Here herriner aan sy beloftes nie moet rus nie, en laat Hom nie met rus nie totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot ‘n lof op aarde. Ons moet bid vir die herstel van Jerusalem.
NUUS • NEWS
Silwerkruin vier Kersfees Malene Hartmann, maatskaplike werker by die ACVV, Ryn Stroebel van Geratec en Dr. Elna von Schlicht, uitvoerende burgemeester van die Kaapse Wynland Distrik het die geleentheid bygewoon. Die Silwerkruin Huis vir Bejaardes het op Vrydag, 8 Desember, hul jaarlikse Kersete gehou. Tydens hierdie geleentheid het inwoners saam met donateurs en ander rolspelers wat Silwerkruin gedurende die jaar ondersteun het, gekuier. Gaste kon aan ‘n heerlike driegang-maaltyd, wat keurig deur Silwerkruin se personeel berei is, weglê. Daar is ook talle Kersliedere, onder begeleiding van een van die inwoners, gesing. In haar toespraak het suster Yvonne Booysen al die vrywilligers en donateurs vir hul bydraes bedank. “Dit is julle wat elke inwoner se lewe positief aanraak en ons help om Silwerkruin suksesvol te bestuur. Ons kan terugkyk op ‘n baie suksesvolle jaar, een waarin ons selfs ons eie, splinternuwe gimnasium gekry het,” het sy gesê. Sy het ook na die groot bedrag geld wat tydens Silwerkruin se basaar ingesamel het,
verwys en almal wat daarvan ‘n sukses gemaak het, bedank. Silwerkruin se badkamers kon ook gedurende 2017 opgegradeer word, te danke aan skenkings en fondsinsamelings. “Ek wil ook die mense wat nie net hul beursies oopmaak vir ons nie, maar ook tyd met ons inwoners spandeer, bedank. "Elke inwoner se lewenskwaliteit word direk deur julle geraak en julle voeg waarde toe tot elke inwoner se menswees,” het suster Booysen dankbaar gesê. Sy het ook lig gewerp op Silwerkruin se planne vir 2018. “Ons is tans besig om ons boorgat aan ons wassery te koppel om sodoende ons munisipale waterverbruik te beperk en te bespaar. "Ons wil ook graag ‘n koffiewinkel in Silwerkruin oopmaak, ‘n dak oor ons stoep bou en die gebou aan die binnekant uitverf,” het sy gesê.
NUUS • NEWS
13 Desember 2017
5
Breytenbach-sentrum hou diplomaplegtigheid Elsibe Loubser McGuffog, spreker by die geleentheid, kursusaanbieders Marguerite Scheepers en Charmaine Rhoda saam met Cloete Breytenbach, Francois Lötter, dr. Janine Maske en Jessica Ruiters van die Breytenbach-sentrum.
Studente wat die Dagsorg-kursus voltooi het.
Hierdie studente het ook hul onderskeie kursusse suksesvol voltooi.
Wees altyd aan die voorpunt van die goeie nuus met ons sosiale media. Volg ons Facebook-blad by @diecourant. Kontak ons by 022 487 3221 of stuur 'n epos na izelle@diecourant. co.za. Besoek ook ons webwerf by www.diecourant.co.za.
Studente wat diplomas vir die naaldwerkkursus ontvang het saam met Marguerite Scheepers, die aanbieder van die kursus. Die Breytenbach-sentrum het as deel van hul projekte hierdie jaar kursusse in Dagsorg en Naaldwerk vir verdienstelike studente aangebied. Studente wat die kursusse suksesvol voltooi het, is op Woensdag, 6 Desember, tydens ‘n deftige geleentheid in die Bôrdienghuis-teater vereer. Die opleiding en kursusse strek oor ‘n tydperk van 8 tot 10 maande en word deur bekwame spesialiste aangebied. Marguerite Scheepers is vir die Naaldwerk-kursus verantwoordelik en die gesoute me. Charmaine Rhoda vir die Dagsorg en Leesfassilitering. Die Dagsorg-kursus word by twee terreine aangebied, nl. die Breytenbach-sentrum en Butterfly House. Elsibe Loubser McGuffog het as gasspreker by die Diplomaplegtigheid opgetree. Sy het in haar toespraak klem gelê om die belangrikheid van dissipline by kinders en haar boodskap met voorbeelde uit haar eie lewe toegelig. Haar interaktiewe aanslag het groot byval by die gaste gevind. Sy het die ontvangers van diplomas die taak
gegee om wysies vir gepaste kinderrympies te maak - iets wat hulle met groot welslae reggekry het. “Elke kind het ‘n outoriteitsfiguur nodig, iemand wat die grense neerlê. Lees, bemagtig jouself waar jy werk, bly in kontak met jou mede-studente en ruil idees uit om mekaar aan te spoor en positief te hou,” het sy hulle aangemoedig. Nadat al die studente hul diplomas ontvang het, het Francois Lötter, uitvoerende bestuurder van die Breytenbach-sentrum, alle rolspelers bedank. “Hierdie geleentheid is vir my ‘n groot inspirasie. Dit laat ‘n mens glo dat daar antwoorde is op al dinge wat ons in die land bekommer. En dit waarmee julle hier besig is en waarvoor julle vandag vereer is, is waarvoor die Breytenbachsentrum staan,” het hy gesê. Die verrigtinge is op ‘n hoë noot met ‘n heerlike ete en gesellige saamkuier afgesluit. Enige belangstellendes in die kursusse wat by die Breytenbach-sentrum aangebied word, kan Jessica Ruiters by 021 873 2786 kontak. Klasse vir 2018 begin reeds in Februarie.
6
NUUS • NEWS
13 Desember 2017
Studente voltooi opleiding by Wamakersvallei
Studente wat diplomas in tuisversorging ontvang het.
Bo: Studente wat diplomas in kindersorg ontvang het. Regs. Die student van die kwartaal, Caroline Page.
Studente wat diplomas vir die noodhulpkursus ontvang het.
Studente wat diplomas as ontvangsdames ontvang het.
Die Wamakersvallei Opleidingsentrum het op Donderdag 7 Desember hul studente tydens ‘n diplomaplegtigheid vereer. Hierdie sentrum, wat reeds in 1998 hul deure geopen het, fokus veral op die opleiding van persone om die gemeenskap te dien. Hul benadering is aksie-georiënteerd en holisties – iets wat die behoeftes in die gemeenskap aanspreek en deur leierskap in die gemeenskap gedryf word. Die Opleidingsentrum het hierdie jaar verskeie kursusse in o.a. Kookkuns, Kindersorg, Tuisversorging en opleiding as Salonassistente aangebied. Hulle het hierdie kwartaal ook vir die eerste keer ‘n kursus vir ontvangsdames aangebied. Talle studente is deur die bekwame fassiliteerders se hande en het die geakkrediteerde kursusse suksesvol voltooi. Volgens Elsabé Lintveld, die sentrumbestuurder, is dit elke jaar ‘n besondere geleentheid om hierdie studente te vereer. “Hierdie mense en wat hulle vermag, ten spyte van soms moeilike omstandighede en negatiewe dinge, is iets wat
vir ons elkeen hoop gee en as motivering vir baie ander kan dien,” het sy gesê. Die studente wat tydens die Diploma-plegtigheid vereer is, het kursusse in Kindersorg, Noodhulp, Tuisversorging, as ontvangsdames en salonassistente voltooi. Drie oud-studente, een wat intussen by Sunfield Home en as tuisversorger gewerk het, een wat intussen haar graad in verpleging ontvang het en een wat onlangs by CPUT in die graad R-kursus ontvang het, het as motiveringsprekers by die plegtigheid opgetree. Die diplomas is deur die verskillende fassiliteerders aan die studente oorhandig en die tuisversorging-studente het ook ‘n eed, waarmee hul hulself tot etiese dienslewering in die mediese veld verbind, afgelê. Die sentrum het ook hul top-student vir die kwartaal, Caroline Page, met ‘n spesiale toekenning vereer. Die student van die jaar, Venesia Morilly, is ook aangewys. Belangstellendes kan die Wamakersvallei Opleidingsentrum by 021-873 5942 of elsabe@ wamakerstraining.org.za kontak.
NUUS • NEWS
Dagboek • Diary
Wellington CLC Matriek-aandklasse by Wellington CLC, Hospitaalstraat. Dinsdae en Donderdae vanaf 18:00 tot 20:00. Navrae skakel 021 864 2418 Wellington-rugbyklub Wellington-rugbyklub se oefeninge vind plaas vanaf 19:30 by die Wellington-rugbyklub, reg langs Boland-stadion. Vir meer inligting kontak Jaco van Deventer 081 488 5457 of Francois Coertze 083 443 3081 Yzerfontein Annual Snoek Classic 15-16 December: Be part of the Yzerfontein Annual Snoek Classic 2017. Entry fee for YBC members are R330 and non-members the amount of R380. The Junior o/16 is R200. For any further information please contact Theunis Kruger at 083 306 5510 or visit www. yzerboatclub.co.za Adagio Kerskonsert 17 Desember: Die immergewilde Adagio van Wellington, bied hul jaarlikse Kerskonsert aan te VGK Wellington-Bergrivier gemeente om 18h00. Hierdie konsert is ten bate van hul jaarlikse gemeenskapsprojek waartydens hulle op Kersdag kospakkies en geskenkies aan die minderbvoorregtes uitdeel. Vanjaar se konsert is in samewerking met Canser-Crusaders van Wellington. Kaartjies is beskikbaar teen R30 by lede asook by die deur. Vir meer besonderhede kontak Graham
Joshua Generation Sunday morning 09:00 (English), Sunday evening (Afrikaans) 17:00. Provence, Milner Road. Enquiries: 021 873 6541. Kerk van Macedonië Sondagdiens om 10:00; Groenberg. Navrae: 062 836 1316 of 074 608 0519 NEW Sunday morning at 09:00 (English service); HJN Training Centre, College Street, Wellington. Enquiries: 082 355 3280. NGK Moeder-gemeente Sondagoggend om 09:00. Sondag-aanddiens Leefkerk om 18:00. H/v Kerk- en Piet Retiefstraat, Wellington. Navrae: 021 873 1561. NGK Noord-gemeente Sondagoggend om 09:30: MacCronestraat 11, Wellington.
Thali die Kokkedoortjie bak vir Mia Cara en kanker
Hendricks - 076 350 1547 of Jovan-ré Cupido 073 296 3575 Groote Post Country Market 17 December: Groote Post Winery in Darling have their country market from 10:00 till 15:00. For any further enquiries please contact Eldre Strydom or Mariaan Heyns at 022 451 2202 or send an email to: info@iloveyzer.co.za Yzerfontein Toerisme 19 Desember: Yzerfontein Toerisme bied aan Jannie du Toit sing Koos du Plessis, ander gunstelinge en kersliedere om 19:00 by Yzerfontein Gemeenskapsaal. Kostes beloop R110 per persoon. Bring eie piekniekmandjie en wyn. Vir enige verdere kontak Jopie by 072 460 5568 of Leane by 022 451 2985 !Khwa ttu 20 December: Saarkie Band is at !Khwa ttu, R27 West Coast road at 19:00. Tickets for adults are R100 and kids between 2 and 12 for R50. Foods and drinks not included in ticket price. For bookings send an email to : info@iloveyzer. co.za or call 022 451 2202 Yzerfontein 22 December: I love Yzer show with Arno Carstens at the Delarey Guest Farm, Yzerfontein. Gates open at 15:00 and the ticket prices are R185. For your bookings visit : www.quicket.co.za
Kerke • Churches Anglican Church Sunday morning: April to Sept at 08:00; Oct March at 07:30; Wed. Morning : 09:30 (end Jan to mid Dec); 4 Milner Street, Wellington. Enquiries: 021 873 1425.
7
13 Desember 2017
Navrae: 021 873 2763. NGK Wellington-Oos Sondagoggend om 9:00 en Sondagaand om 19:00 op die h/v Barlinka en Cummingsstraat, Wellington. Navrae : 021 873 2690 St George's Presbyterian Church Sunday mornings at 09:30 (English); 22 Jan van Riebeeck Street. Enquiries: 021 873 2021. Shofar Sondagoggend om 09:00 Laerskool Hugenote, Kerkstraat 41. Navrae: 021 873 7677 AGS Wellington Dienstye en Junior Kerk : Sondae 09:00 asook 18:00 by Terracestraat 3, Wellington. Kontak: 083 258 8717 of 021 873 3375 Crystal Gates Outreach Ministries Sondag-oggende om 10:00 en Vrydag-aande om 19:00, te Bergrivierstraat 32, Vanwyksvlei, Wellington. Alle besoekers welkom.
Wellington se jonge Kokkedoortjie, Thali Hugo, het haar gewig gegooi agter die “Hope for Mia Cara” fondsinsamelingsprojek. Daardeur word gepoog om R10 miljoen in te samel sodat die 6-jarige Mia Cara Ferreira kankerbehandeling in die VSA kan gaan ondergaan. Thali het op Saterdag, 9 Desember, by De Poort se mark in Suider-Paarl spesiale kolwyntjies ten bate van hierdie fonds verkoop. Hiermee wil sy die 6-jarige Mia Cara van Somerset-Wes, wat aan leukemie ly, ondersteun. Daar is nog nie ‘n geskikte beenmurgskenker vir Mia Cara gevind nie. Die bestraling wat daarmee gepaard gaan, is slegs omtrent 50% suksesvol en hou nadele soos moontlike breinskade in. Haar ouers, José en Sumien Ferreira, hoop dat sy danksy nuwe radikale behandeling in die VSA gesond sal kan raak. Dié CAR T-selterapie het ‘n sukseskoers van tussen 86% en 96%. Die familie het in November The Children’s Hospital of Philadelphia (CHOP) in die VSA besoek. Na toetse is Mia Cara in een van die behandelingsproewe ingesluit. Haar ouers hoop om haar binne die volgende twee maande weer VSA toe te kan neem om daarmee te begin. Dit kom egter teen ‘n prys - $726,200 oftewel by die R10 miljoen rand. ‘n Groep ma’s werk al vir die afgelope paar maande onverpoosd om
die familie te ondersteun, en hou onder meer funksies en verkoop items. Sodoende is al oor die R3,4 miljoen vir die behandeling ingesamel. Hierdie ondersteuningsgroep het Saterdag, saam met Thali, onder meer drasakke en penne verkoop. Daar was, saam met die kolwyntjies, ook geskenke, plante, gebak en handwerk te koop. Belangstellendes kan hierdie projek op die “Hope for Mia Cara” Facebook-blad, of op Twitter en Instagram volg. Vir meer inligting oor die fondsinsamelingsprojek, kan Ilze Basson (083 459 5946) of José Ferreira (076 977 7808) gekontak word.
Eben Sadie is vereer vir sy bydrae tot die streek se wynbedryf toe hy die Santan Swartland Wynen Olyfroete se voorsitterstrofee ontvang het. Santam het ook weer hul voortgesette borgskap aan die roete vir nog 'n jaar bekendgemaak en Niel Esterhuyse van Santam het die trofee aan Sadie oorhandig. Die trofee word op die diskressie van die dagbestuur en voorsitter van die Wyn- en Olyfroete toegeken aan 'n persoon of instansie wat
baanbrekerswerk gedoen het om die Swartland-streek as 'n kwaliteit wyn en/of olyfproduksiearea te bevorder. Die trofee is in 2007 vir die eerste keer toegeken aan Paul Feyt vir sy werk as grondkundige in die streek. Vorige wenners sluit Zakkie Bester, Sandra Lotz, Henk Bruwer, Annalene du Toit, Hennie Hanekom, Kobus Basson, Marius Erasmus, Klaas de Jongh, Willie Hewett en Paul Feyt in.
Sadie en sy wyne wen gesogte toekenning
8
courant
dié
13 Desember 2017
WELLINGTON SPORT
Tel: 022 487 3221
Spelers spog in elite-groep Die Boland Rugbyunie het onlangs ‘n eliteoefengroep aangewys om deel te neem aan die voorseisoense oefenprogram van die Boland Kavaliers. Dié uitnodigingsgroep, wat bestaan uit spelers uit die klub- en onder 20 strukture van Boland Rugby, het verlede week saamgetrek by die Boland Stadion in Wellington. Die doel van die elite groep is om spelers te beloon wat in 2017 goeie vorm vertoon het op klub- en juniorvlak, deur hulle bloot te stel aan die oefeninge en strukture van Boland Rugby se professionele span, die Boland Kavaliers. ‘n Span sal saamgestel word uit die groep om op 20 Januarie 2018 in ‘n opwarmingswedstryd te speel teen die Universiteit van Stellenbosch (Maties) se Varsitybeker span te Stellenbosch, met die uiteindelike doelwit om geselekteerde spelers vanuit die groep te betrek by die Boland Kavaliers se provinsiale groep vir 2018. Volgens Randall Modiba, hoofafrigter van die Boland Kavaliers, is dit “belangrik om geleenthede te skep vir begaafde spelers binne die grense van die Boland Rugbyunie. “Daar is ‘n groot sprong vanaf klub- na senior provinsiale vlak, dus is dit belangrik om ‘n middelvlak te skep, waar spelers stelselmatig betrokke kan raak by die professionele strukture van Boland Rugby.” Die Boland Kavaliers se afrigtingspan was direk betrokke by alle prosesse rakende die elite-groep, met ‘n voorlegging wat aangebied was deur die hoofafrigter, gevolg deur verskeie krag- en fiksheidstoetse wat aangebied was deur die fiksheidsafrigter. “Ons is tevrede met dit wat ons bereik het tydens dié fase van die proses,” sê Modiba. “Sekere spelers het goed gevaar in verskeie van die toetse, terwyl ander spelers harder sal moet werk aan hul fiksheid en kondisionering. “Die entoesiasme van die spelers was egter opvallend en verblydend. Ons probeer juis ‘n trotse en mededingende kultuur handhaaf, waar spelers bereid is om te veg vir ‘n plek in die Kavaliers-span. Volgens Modiba is die deur beslis ook nie toe
NUUS • NEWS
vir ander spelers binne die unie nie. “Daar sal deurlopend geleenthede geskep word aan spelers wat hul hande opsteek, om betrokke te raak by Boland Rugby se elite groep”. Boland Rugby Elite Oefengroep 2018: STUTTE Van Wyk, Clarence, Roses United Hoffmeester, JR Roses United Adams, Robin Majestics SLOTTE / LOSVOORSPELERS Booysen, Emile Hillcrest RFC Erasmus, Francois, Darling RFC Rossouw, Francois, Abbotsdale RFC Adendorf, Heinrich, Grabouw RFC Jacobs, Phillip, Boland o.20 Booysen, Taine Randall, Boland o.20/Montagu Villagers; Dwayi, Benjamin, Safcol SKRUMSKAKELS Le Fleur, Gerdwill, Wesbank RFC Langdown, Mervyn, Boland o.20/Montagu RFC Nortje, JP, Invincibles RFC, Vredendal LOSSKAKELS Willemse, Colin Robertson RFC Van Wyk, William Ceres RFC SENTERS Abels, Tyrone Roses United Snyman, Earl Robertson RFC Nelani, Mtile Boland o.20 / Wesbank RFC Van Schalkwyk, Chemandre, Coronations, Malmesbury; Vermeulen, Damion, Ceres RFC; Hahn, Llewellyn,Van Rhynsdorp, Eagles VLEUELS Engeldoe, Damian , Roses United, Adonis, Barry Boland o.20 / Young Hearts, Pella; Foute, Enzo Boland o.20 / Hamiltons, Worcester; Nel, Werner Delicious RFC, Ceres; Rana, Rowan Roses United, Wellington HEELAGTERS Solomons, Jade Young Hearts; Conradie, Ryno Rangers Robertson;
13 Desember 2017
•VERTEENWOORDIG SA-SPAN
Wellingtonners blink rugbysterre Die twee jong Wellingtonners, Campwill Willemse en Diego Appollis, is besig om vinnig opgang in die rugbywêreld te maak. Hulle presteer nie net op provinsiale vlak nie, maar beide is onlangs vir die Suid-Afrikaanse o.18 7’s-span gekies. Diego is boonop lid van die die SA o.18 Rugbyspan. Campwill en Diego se wortels lê diep in Wellington geanker. Alhoewel hulle altwee leerders aan die Hoërskool Garsfontein in Pretoria is, sien hulle elke vakansie daarna uit om by die huis te kom kuier. Beide rugbysterre kom uit groot Wellingtonse families. Campwill het vyf broers en vier susters en sy ma, Charmaine, is ‘n raadslid by die Drakenstein Munisipaliteit. Diego het vier broers en vier susters en sy familie woon en werk op die Bosman-plaas. Campwill het sy laerskoolloopbaan aan St. Albans Primêr voltooi en is reeds sedert sy laerskooldae ‘n kranige sportman. Hy het reeds as jong kannetjie in rugby en atletiek uitgeblink. Diego het sy laerskoolloopbaan aan Wagenmakers Primêr voltooi en was ook reeds sedert sy laerskooldae ‘n goeie ruby- en krieketspeler en het ook in atletiek presteer. Nie een van die twee het vir die o.13 Cravenweekspanne gespeel nie, maar hul talent is nietemin deur keurders en talentsoekers raakgesien. Diego is in graad 7 ‘n beurs by Garsfontein Hoërskool aangebied en Campwill is deur Hoërskool Linden vir ‘n beurs genader. Die twee moes as 13-jarige plattelandse seuns die lang pad na Gauteng vir hul hoërskoolloopbane aandurf. “Dit was maar ‘n groot aanpassing om as jong seuns so ver van die huis te wees in ‘n groot stad waar jy niemand ken nie,” vertel hulle. Hulle het egter die geleentheid aangegryp en moes hard werk om hulself te bewys. Campwill is hierdie jaar ook ‘n beurs by Garsfontein aangebied en die twee Wellingtonners kon saam hul drome begin waar maak. “Ons beurse behels dat jy sekere doelwitte moet bereik, wat sport- en akademiese prestasies insluit. Dit kos kophou en baie harde werk om ‘n balans te vind tussen die baie oefening én om jou akademie op ‘n goeie standaard te hou,” sê hulle. Hul volg ‘n baie strawwe oefenprogram wat baie van hul tyd in beslag neem. “In die pre-season doen ons elke dag soggens vyfuur fiksheid. Na skool gaan ons gym en na gym doen ons veldsessies, fiksheid en skills,” sê Campwill. “In die seisoentyd begin ons vieruur elke middag oefen en ons doen een keer per week ‘n top up op ons spiere in die gim. Saterdae speel ons wedstryde. Tydens vakansies volg ons van Maandag tot Donderdag ‘n oefenprogram,” brei Diego uit. Hul harde werk het egter vinnig begin vrugte afwerp. Campwill kon verlede jaar vir die Leeus se
Grand Khomo o.16-span uitdraf en is ook vir die Leeus se o.16 7’s span gekies. Diego het verlede jaar die Blou Bulle se o.16-span, sowel as hul 7’s span verteenwoordig. Hierdie jaar het hulle net van krag tot krag gegaan. Campwill, ‘n losskakel en heelagter, is vir die Blou Bulle se Akademie-pan, sowel as hulle 7’s span gekies. Diego, ‘n buite- en binnesenter, het hierdie jaar vir die Bulle se o.18 Blou Bul Cravenweek span en 7’s span uitgedraf. Beide spelers het hierdie jaar verder presteer deur vir die SA 7’s-span gekies te word en Diego is ook in die SA Skole-rugbyspan opgeneem. Albei het groot toekomsdrome. “Ek wil graag eers matriek slaag en dan verder studeer. Ek sal graag vir die senior 7’s wil speel, dan dalk Springbok en later in Frankryk,” sê Campwill. “Ek wil ook matriek voltooi en gaan studeer. Ek sal graag Super Rugby wil speel, dan vir die Springbokke en uiteindelik miskien ook oorsee,” laat Diego hoor. Dié twee nederige jong manne se voete is stewig op die aarde. Hulle weet waar hulle vandaan kom en hulle weet wat hulle wil bereik. Boonop is hulle baie lief vir hulle tuisdorp. “Dis mooi hier. Ons vriende is jaloers dat ons van so ‘n mooi, vriendelike plek af kom,” sê Diego. “Wellington is waar my familie en my huis is. Ek kry elke keer ‘n lekker gevoel as ek huis toe kom. Dis ‘n kleiner dorp waar mense omgee,” sê Campwill. Waar hulle vandaan kom en waarheen hulle op pad is, motiveer hierdie twee blink nuwe rugbysterre. “Alles gaan oor harde werk. Dit maak nie saak waar jy vandaan kom nie, maar wel wat jy insit,” sê Campwill. ’n Mens weet nooit hoe goed jy in iets kan wees voor jy nie alles ingesit en jou bes probeer het nie,” sê Diego.