courant
• Bergrivier 1Swartland Wellington
dié
15 November 2017
• Free • Gratis
Wes-Kaap se #1
Bou saam met goeie nuus
Uitgawe 446
15 November 2017
•WERKE GEPUBLISEER IN 14 DIGBUNDELS
Ink en woorde bruis in Caren se are •Jaomi Zeeman Die Wellingtonner Caren Kearley is iemand wat met haar talente en drome woeker. Sy het hierdie jaar twee boeke die lig laat sien en is onlangs met ‘n INK-toekenning vir haar skryfwerk vereer. Caren, wat oorspronklik van Namibië kom, woon al vir 14 jaar op Wellington. Sy is die trotse ma van twee dogters en is bedrywig in die eiendomswêreld. Haar liefde vir taal en vir woorde is egter iets wat sy haar lewe lank met haar saamdra. “Ek het op laerskool al baie van my tyd in biblioteke spandeer. "My liefde vir woorde is deel van my liefde vir Afrikaans en my trots op ons kultuur,” sê sy. Caren het reeds op hoërskool gedigte geskryf en om te skryf was nog altyd haar gunsteling tydverdryf. “Dagboek-stukkies, briewe vir my vriende en soms sommer net los gedagtes op enige stukkie papier beskikbaar wanneer woorde my kop oorval. "Ek het egter nooit gedink dat skryf ‘n noemenswaardige talent is nie, want almal kan mos skryf. Ek het my skryfwerk maar net met mense naby my gedeel, tonne weggegooi en hordes uitgedeel,” vertel sy. Nadat ‘n vriendin haar drie jaar gelede aangemoedig het om haar gedigte op ‘n Facebook-blad te plaas, was die koeël deur die kerk. Alhoewel Caren aanvanklik senuagtig was om haar skryfwerk aan ‘n breër gehoor bekend te stel, het sy dit tog uiteindelik gewaag. Die reaksie op haar gedigte was vir haar verrassend en oorweldigend. “Week na week het my gedigte onder die top drie geëindig en ek het hope boeke en skilderye as pryse gewen. In 2016 was daar ‘n groot kompetisie op ‘n Facebook-blad en daar was ongeveer 80 inskrywings. "Tot my groot verbasing het ek dit gewen. Daarna het ek my eie Facebook-blad, ‘Nimfoleptiese Woorde', begin en ook gereeld gedigte en kortverhale ingestuur vir goedkeuring om in saamgestelde bundels gepubliseer te word. Daar is tans omtrent 14 saamgestelde bundels met van my skryfwerk in. Litnet het ook al ‘n paar op hul webblad geplaas,” vertel Caren.
Sy het ‘n maand gelede ook van Malherbe Uitgewers verneem dat ‘n kinderboek, “Neelsie en die geel monster”, wat sy saam met ‘n paar woordvriendinne geskryf het, by die drukkers is. “Die storie gaan oor die vernietiging van natuurlike habitat om geboue en woonbuurte op te rig. Ek voel dis belangrik om ons kinders van kleins af bewus te maak daarvan dat ons hierdie mooi planeet van ons moet oppas,” sê sy oor hierdie boek. Caren het in 2016 by die webblad “INK skryf in Afrikaans” aangesluit en haar digkuns verder geslyp. Haar gedigte was op ‘n gereelde basis onder die top drie op hierdie blad se maandelikse dig-uitdagings en hulle het ook ‘n bundel geloods - iets waarin sy haar hart en siel begewe
het en ‘n manuskrip saamgestel het. Die INK-paneel het gedurende die jaar alle plasings van lede beoordeel en uiteindelik die wenners in verskillende kategorieë aangekondig. Caren het ‘n uitnodiging na hul glansgeleentheid in Pretoria gekry en sy is met die trofee vir “Gedig van die Jaar” vir haar gedig, “Tussen seisoene”, vereer. Sy het ook ‘n derde plek as “Digter van die Jaar” verower. Haar manuskrip het ook ‘n derde plek verwerf. “Ek kon vir die eerste keer in my lewe tien gedrukte bundels van my eie in my hande vashou. Die bundel is ‘Tussen Woorde’ genoem,” vertel sy oor hierdie spesiale ervaring. Alhoewel 2017 tot dusver ‘n hoogtepunt vir Caren was, het sy al hierdie dinge ten spyte van baie persoonlike uitdagings reggekry. “2017 was die jaar wat alles in my lewe handomkeer verander het. Ek het in Januarie onverwags ‘n egskeidingsbevel van my man gekry. Ek is tans hard aan die werk om te verseker dat ek selfonderhoudend my ken hoog kan hou, my dogters kan onderhou en my drome kan bewaarheid. "Die enigste manier om die tipe struikelblokke te oorkom, is om groter en meer passievol te droom, harder te werk en elke dag positief aan te pak,” vertel sy oor dié wipplankjaar. Caren is met reg trots op en opgewonde oor die toekenning wat sy gewen het. “Daar is nie woorde wat dit kan beskryf nie. My grootste droom is om iets te skryf en te publiseer wat ek vir my kinders kan nalaat. Tweedens sal dit die grootste voorreg ooit wees as ek net ‘n druppeltjie in die emmer kan bydra tot die groei en instandhouding van ons taal. Om jou drome te sien vlamvat, is nogal ‘n hemelse belewenis,” sê sy. Miskien is die slotreëls van hierdie positiewe vrou se wengedig, sprekend van haar lewensuitkyk: “Nou is my hart na herfs hergiet (in grys skakerings van niks vermom) want geen seisoen is kwytgeskel van verdriet, en selfs die koudste liefde smag na ‘n lentevlam om te blom.”
NUUS • NEWS
2
NUUS • NEWS
15 November 2017
Kerspartytjie vir inwoners Smul aan eetbare onkruid van Sunfield gehou
Die vroue van die Wellington-Oos-gemeente wat die Kerspartytjie vir die inwoners van Sunfield Home moontlik gemaak het. Die Wellington-Oos-gemeente het onlangs ‘n feestelike Kerspartytjie vir die inwoners van Sunfield Home gehou. Kersbome, liggies, versierings, pragtig gedekte tafels en ‘n hele klomp presente het die kerksaal in ‘n Kersfees-atmosfeer getooi. Al die inwoners was baie opgewonde oor die geleentheid en het weggelê aan die heerlike ete wat vir hulle voorgesit is.
Die hoogtepunt van die aand was toe Kersvader, met sy klok al luiend, by die saal opgedaag en die geskenke aan die inwoners uitgedeel het. Die afwagting met die uitlees van elkeen se naam, was merkbaar en die opgewondenheid aansteeklik. Sommige inwoners het hulself op Kersvader se skoot tuisgemaak en almal was baie opgewonde oor die geskenke wat hulle ontvang het.
Kunstenaar en sjef Frans Mulder, kunstenaar Theresa Jo, kurator Anne-Ghrett Erasmus, kunstenaar Theresa Collins, kunstenaar Willie Steyn en Gundula Deutschländer van Babylonstoren. ‘n Baie interessante praatjie oor eetbare onkruid, met ‘n gepaardgaande proe-sessie, is op Saterdag 11 November by die Breytenbachgalery gehou. Die gesprek en rondleiding het onder leiding van Gundula Deutschländer van Babylonstoren geskied. Gundula, ‘n plantkenner wat vir die tuine by Babylonstoren verantwoordelik is, het interessante raad ten opsigte van onkruid gedeel. Sy het die verskeie gebruike en geure van hierdie klaarblyklike ergenisse in tuine verduidelik. “Die mees bevredigende manier om onkruid te oorwin, is om dit te eet,” het sy gesê. Sy het daarop gewys dat die meeste eetbare onkruidsoorte op soortgelyke wyse as spinasie of ander blaaragtige groente gebruik kan word. Die feit dat Gundula se oupa op paardebloem (“dandelions”) gedurende die oorlog oorleef
het, is iets wat haar belangstelling in onkruid geprikkel het. Die kunstenaar en sjef, Frans Mulder, het gaste vervolgens op ‘n verskeidenheid disse wat met onkruid berei is, getrakteer. Hulle kon aan suurdeegbrood en varkvet met prosciutto ham en wilde knoffel, ‘n broodjie met joghurt, kaas, uie, olyfolie en paardebloem, sowel as wilde vinkel met bokmelkkaas weglê. Ander items op die interessante spyskaart was ‘n filet wat in neutmuskaat, moskonfyt, soja, grondboontjie olie en wilde roosmarynsout verouder het en ‘n malvalekker gegeur met “horlosie-plantjies” (geranium). Verskeie kunstenaars wat aan die KOS-groepuitstalling in die Breytenbach-kunsgalery deelgeneem het, het hierna meer oor hul werk en die verbintenis met kos vertel.
Oud-WOK-dosente hou reünie
Bo: Al die oud-dosente wat die reünie bygewoon het. Oud-dosente van die destydse Wellington Onderwys Kollege (WOK), het op Saterdag 11 November ‘n reünie by die Bôrdienghuis-teater gehou. Dosente en ander personeel wat by hierdie instansie gewerk het, het van heinde en verre gekom om mekaar weer te sien en stories uit hierdie instelling se ryke verlede te deel. Sommige van die dosente wat by die geleentheid teenwoordig was, was sélf ook studente aan die WOK. ‘n Hele paar het ook by die instansie in al sy gedaantes klasgegee: toe dit nog WOK was, later die Onderwys Kollege Boland (OKB) geword het, en nog later die CPUT Wellington-kampus geword het. Die idee vir ‘n reünie het reeds meer as ‘n jaar gelede onder sekere van die dosente posgevat. Johan Conradie, dr. Erica Jordaan, Gertie Smit en Elsabé du Toit het reeds verlede jaar met die beplanning en reëlings vir hierdie geleentheid begin. Elra Rademeyer het later by hulle aange-
sluit en gehelp met die reëlings en die regmaak van die funksielokaal. Behalwe vir die heerlike ete en eindelose gesels, het almal teenwoordig ook formeel ‘n kans gekry om staaltjies uit die verlede te deel. Albert Hoek het as seremoniemeester opgetree en interessante stories, soos dié van ‘n sekere dosent wat beskuitjies met ‘n katkos-en-brandewyn-vulsel uit nood na funksie moes neem, ‘n musiekdosent wat ‘n hele klavier-concerto met ‘n maagaandoening moes aandurf, die interessante lynstaanroepe van hul rugbyspanne en die noue ontkoming met ‘n bus vol studente tydens ‘n toer in Namibië, is vertel en herleef. “Ek kan regtig sê dat my lewe deur WOK gevorm is. Ek was self ‘n student aan hierdie instansie en later ook ‘n dosent. "Herinneringe is baie belangrik en hierdie is goeie herinneringe,” het dr. Jurie Joubert gesê. Albert Hoek het by hom aangesluit: “Vandag is ‘n wonderlike geleentheid. Ons sal dit nooit vergeet nie.”
Links: Die groep musiekdosente het ook saamgekuier.
NUUS • NEWS
15 November 2017
Handsakke gee hoop
Bo: Pierre Burger, Sandra Schlechter, Adriana Carstens en AO Pierre Hugo. Voor is Gavin Fraser, Chalene Landsberg, Annemarie Edwards en Amanda Swarts. ‘n Projek waar handsakke met basiese benodigdhede aan vroue in landelike areas uitgedeel word, is onlangs van stapel gestuur. AO Pierre Hugo, die bestuurder van Sektor 4, is die dryfveer agter hierdie inisiatief. Met hierdie projek word daar gepoog om handsakke, gevul met basiese vroulike benodigdhede, aan vroue wat waarlik behoeftig is, te voorsien en sodoende ‘n positiewe verskil in hul lewens te maak. “Veral noudat ons die feestyd nader, is daar mense, en veral vroue, wat nie eers die basiese dinge het nie - wat nog te sê van iets om hulle mee te bederf. Ons hoop om met hierdie projek iets goeds in hierdie vroue se lewe te beteken,” sê Stephan Landsberg wat ook by die projek betrokke is. Die eerste groep handsakke sal teen middel November in die Agter-Groenberg-area uitgedeel word en die res van die handsakke teen die
einde van November. “In elke handsak wil ons graag iets insit wat vroue normaalweg in hul handsakke sal dra, soos lipstiffie, room, sanitêre produkte, ‘n lekkertjie, ens. Die behoefte bly groot in die areas en die SAPD, saam met Wellington se Gemeenskap Polisiëringsforum wil dit graag ‘n jaarlikse instelling maak,” sê Stephan. Volgens hom het sekere besighede in Wellington reeds elk meer as 20 handsakke, gevul met al die nodige goed, geskenk. Enige individue of besighede wat belangstel om by die projek betrokke te raak of ‘n bydrae wil maak, kan met Alison Turner by 072 374 1347 of aturner@paarlboysp.co.za of AO Pierre Hugo by 082 498 8338 of pierrealbertus@gmail.com kontak maak. Handsakke kan ook by Ina Erasmus, wat dit teen ‘n baie klein fooi self maak, bestel word. Haar kontaknommer is 072 010 6980.
3
•IRMA JOUBERT DEEL KENNIS
Skrywer besoek plaaslike boekklub
Bo: Izak de Vries van Lapa Uitgewers, Steven von Schlicht van Simonsvlei Wyne, die skrywer Irma Joubert, Esther Kotze van die Book Traders en Elsabe du toit wat die geleentheid georganiseer het. Die bekende en gewilde skrywer, Irma Joubert, gestaan en gedink: hoe kon mense in die Eurohet boekentoesiaste en leesgieriges op Donder- pese winter in sulke omstandighede oorleef? Hierdie gedagtes was die eerste idees vir my dag 9 November kom toespreek. Hierdie geleentheid is deur die plaaslike Mentje-boek,” het Irma verduidelik. Sy het ook na die Slag van Arnhem, die John Boekklub, onder leiding van Elsabe du Toit, voormalige bibliotekaresse en Esther Kotze, eienaar Frost-brug en die valskermspringers wat hul lewens moes waag deur agter die vyandige linies van The Book Traders, gereël. Belangstellendes en boekwurms het die Bôr- in te spring as stimuli vir haar nuutste roman dienhuis-teater volgepak om na Izak de Vries van verwys. “Ek skryf graag uit ‘n kinderperspektief. Die Lapa Uitgewers se gesprek met Irma Joubert te luister. Izak het sommer met die intrapslag na tema van oorlog en dit wat daarmee gepaard Irma se energieke aard en haar agtergrond as gaan, kan baie swaar wees. Wanneer ‘n mens uit jarelange geskiedenis- en Afrikaans-onderwyse- ‘n kind se perspektief na die gebeure kyk, is dit makliker om humor daarby in te roer. ‘n Kind het res verwys. Irma, wat onlangs van ‘n toer uit die buiteland geen bagasie nie en sien die lewe op ‘n eerlike, teruggekeer het, het op entoesiastiese wyse naïewe manier. So kan ‘n mens ‘n situasie ligter die verloop van haar navorsing, werkwyse en hou, al is dit hóé hartseer,” het Irma gesê. Die gesprek is met ‘n verwysing na die bronne skryfproses beskryf. Sy het veral die agtergrond, stimuli en raamwerk van haar nuutste geskied- wat sy in haar navorsing gebruik het, sowel as kundige roman, “Mentje, kind van Pas-Opkamp”, ‘n demonstrasie tussen Irma en Izak oor hoe ‘n regte historiese moment of gebeurtenis, geloofonder die loep geneem. “Ek het in 2012 in die woud waar mense waardig met fiksie vervleg kan word - iets wat sy ondergronds vir die Nazi’s weggekruip het, meesterlik in haar boek reggekry het.
courant
dié
4
15 November 2017
Woorde is wonderlik
Baie is al oor die wonder van woorde gesê, geskryf en gesing. “Words don’t come easy”, “Lost for words” van Pink Floyd, “Speak the word” van Tracy Chapman, “Beautiful words” van Johnny Cash en “More than words” van Extreme is maar ‘n paar van die bekende liedjies oor die fantastiese verskynsel van lettergroepe: woorde. Chris Chameleon sing in sy liedjie, “Die Taal van liefde”, dat sy hart in sy taal grootgeword het. En dít is presies wat woorde vir ons is. Ons dink, lewe, verwonder, glo, stry en droom in woorde. Ons woorde is die skelet wat ons herinneringe regop hou, die inhoud van ons dae vul, ons verhoudings bou of breek en ons drome laat gestalte kry. In Wellington is dit asof woorde ‘n soort towerkrag bekom. Bekende skrywers, sangers en kunstenaars het immers hier hul woorde geleer. Breyten Breytenbach is ‘n internasionale woordmeester, Rolanda Marais vertolk woorde op ‘n ongelooflike manier, Valiant Swart omskep sy woorde in die pragtigste liedjies en het heel gepas al ‘n boek met die titel “Toorwoorde roep my” gepubliseer. Miskien staan die “W” van Wellington vir “Wonderlike Woorde”. As ‘n mens kyk na wat ons mense steeds met woorde vermag, is die wonder van woorde steeds besig om te gedy. Die plaaslike Boekklub is besig om met hul interessante inisiatiewe die woorde van die beste boeke ‘n ereplek te gee. Die skrywer en digter, Caren Kearley, woeker met woorde en laat haar drome een vir een só waar word. Die oud-dosente van WOK het onlangs ‘n hele dag vol onthou-woorde tydens hul reünie geniet. Die oud-Wellingtonner, Conrad van Breda, gebruik sy woorde kreatief saam met elektroniese musiek in die groep Mymymy en by die Bôrdienghuis-teater is wonderlike woorde ‘n gegewe. Gert Vlok Nel sê in een van sy gedigte oor Beaufort-Wes ‘n ding oor die woord. Miskien kan ons die Beaufort-Wes met “Wellington” vervang: “In die begin was die woord en die woord was by Wellington. En die woord wás Wellington. En die woord was beautiful.” Mag elkeen hierdie week mooi woorde hoor, droom, voel en sê.
It’s Good News
Dr. Marc Blackwell Snr
Repay no evil for evil
Romans 12:17-18 “Have regard for good things in the sight of all men. If it is possible, as much as depends on you, live peaceably with all men. Beloved, do not avenge your- selves, but rather give place to wrath; for it is written, ‘Vengeance is Mine, I will repay,’ says the Lord. There- fore if your enemy is hungry, feed him; If he is thirsty, give him a drink; for in so doing you will heap coals of fire on his head. Do not be overcome by evil, but over- come evil with good.” “Jesus did not promise to change the circumstances around us. He promised great peace and pure joy to those who would learn to believe that God actually controls all things.” Corrie Ten Boom. Although her sister, Betsie, died in the German’s Ravensbruck Concentration Camp, Corrie Ten Boom survived in the providence of God. Corrie was miraculously released from prison due to a ‘clerical error.’ A week after her release, all of the female prisoners from her age group were killed.” When people wrong us, we are not to repay them with harm. “Have regard for good things” Whenever we can, we must live peaceably with others. W are not to have a spirit of revenge. Our pain is a means to magnify His grace. The deeper our pain, the greater His grace. The greater His grace, the greater His glory.
NUUS • NEWS
Sentrum fokus op meer bewustheid oor outisme Die plaaslike Neurodiversity Centre is tans besig met ‘n groot projek waarmee hulle graag die publiek se aandag op die outisme-veld wil vestig. Onder leiding van Ben Truter wil hierdie sentrum ‘n opleidingsinisiatief, waar spesialiste hulself beter vir die assessering in hierdie veld kan bekwaam, van stapel stuur. Volgens Petra Conradie van die sentrum, is hulle baie opgewonde oor dr. Judith Gould wat die formele opleiding in die Drakenstein-area gaan kom doen. “Sy is een van die internasionale leiers in die veld van outisme en sy kom in Desember, op uitnodiging van die Neurodiversity Centre na ons vallei. Sy en haar span kom om formele opleiding in ‘n diagnostiese assesseringsraamwerk, die ‘Diagnostic Interview for Social Communication Disorders’, of DISCO, aan te bied,” verduidelik sy. Die opleiding sal oor twee dae in Desember, opgevolg deur nog twee dae in Maart 2018 geskied. Dr. Gould is een van die outeurs van die DISCO-assesseringsraamwerk, ‘n instrument wat internasionaal as een van ‘n handjievol “goue standaard” assesserings-instrumente beskou word.
Petra verduidelik dat hierdie gespesialiseerde opleiding behels. “Dit is gemik op sielkundiges, pediaters en psigiaters wat in die veld van outisme werk. Daar is nogal ‘n groot behoefte in Suid-Afrika aan professionele persone wat verdere gespesialiseerde opleiding in die outisme spektrum het, en omdat Ben Truter self opleiding by haar in Londen gekry het, het hy die geleentheid raakgesien om haar hierheen te nooi om die hele Neurodiversityspan, sowel as enige ander belangstellendes op te lei,” sê Petra. Ouers en lede van die algemene publiek kan ook by Dr. Gould se besoek aan die vallei baatvind, want op 7 Desember sal jy ‘n praatjie rondom die onderwerp, “Girls and Women on the Autism Spectrum”, aanbied. Hierdie geleentheid sal by Bridgehouse aangebied word en ouers, onderwysers, studente, enige belangstellendes en professionele persone sal hierby kan baatvind. Vir meer inligting kan belangstellendes Ilse Crous by die Neurodiversity Sentrum by 021-200 8327 of training@neurodiversitycentre.co.za kontak.
Conrad van Breda is ‘n boorling van Wellington wat deesdae ‘n nuwe asem in Afrikaanse musiek blaas. Saam met Jana Oosthuizen is hy deel van die groep Mymymy wat hul oorspronklike lirieke met elektroniese musiek kombineer - iets wat ‘n nuutjie op die Suid-Afrikaanse musiekfront is. Conrad het sy skoolloopbaan in Wellington voltooi en is steeds versot op die dorp. Behalwe vir sy betrokkenheid by Mymymy is hy ook ‘n pilates-instrukteur, ‘n media musiekkomponis en ‘n deeltydse musiekonderwyser. Sy groepmaat, Jana, staan aan die stuur van ‘n dramaskool. Volgens Conrad is dit die feit dat sy ouers hom in sy vormingsjare gereeld aan musiek en teater blootgestel het, heel waarskynlik die geboorteplek van sy liefde vir hierdie kunsvorm. “Ek was van kleins af ‘n obsessiewe luisteraar van alles waarop ek my hande kon lê. Tot ek jare later in Londen elektroniese musiek ontdek het en besef het dít is die klanke wat my raak. Ek was byvoorbeeld vroeër die jaar heeltemal versot op vroeë House en uit hierdie obsessie is ons laaste enkelsnit, ‘Strange Place’, gebore. Musiek ‘n verslawing sonder ‘n 'comedown'. Daar is altyd iets nuuts, altyd nog om na te luister,” sê Conrad. Hy en Jana het mekaar reeds jare gelede tydens ‘n projek ontmoet en vriende geword. Aan die begin van 2016 het hulle besluit om weer ‘n projek te begin en hul enkelsnit “Ons s’n is beter” was Mymymy se eerste suksesvolle resultaat. Hulle maak op die oomblik “Synth Pop” musiek, wat beteken dat al die instrumentele dele deur ‘n sintetiseerder geskep word. Volgens Conrad is Jana se stem perfek vir Blues en Rock-musiek en skep dit ‘n lekker kontras tussen die elektronika en haar stem. “Mense verwag met elektroniese popmu-
siek meer ‘n helder en perfekte sopraanstem. Maar Jana bring iets verbasend nuuts en interessants,” verduidelik hy. Vir Conrad was die maak van hul musiekvideo, “Strange place”, ‘n hoogtepunt. Mymymy tree ook gereeld by klubs en verskeie funksielokale op. Hulle aanhangers is uiteenlopend. “Ek het laasweek CD’s gepos na Boksburg en ‘n plaas duskant Steytlerville. Die afgelope jaar het ons in verskeie Kaapse venues opgetree, insluitende The Waiting Room, Nomad en die Blah Blah bar. Ons maak ons Stellenbosch-debuut vroeg in volgende jaar,” sê hy. Mymymy tree Saterdag, 18 November, in Wellington by die Bôrdienghuis-teater op. Hoe voel Conrad om in sy tuisdorp op te tree? “Ons heel eerste vertoning was in Wellington. Dit was lank voor ons ‘vernuwing’ ‘n jaar terug en ons het baie verander intussen. Daar gaan heelwat vriende en familie wees so dis altyd lekker om ‘n gehoor te hê wat positief is – of so hoop ons,” sê hy. Hulle is baie opgewonde oor twee nuwe liedjies wat binnekort opgeneem word. “Die eerste se naam is ‘Wakker Skrik en feature Churchill Naude'. Die tweede se naam is ‘In Hierdie Dorp’ en gaan oor vergane liefde, brande en eensaamheid,” vertel Conrad. Volgens Conrad lê Mymymy se identiteit daarin dat hulle absoluut getrou aan hulself is. “Ons is net onsself. Ons meelewing is subtiel, maar eg. "Dit help nie om jouself die heeltyd met ander groepe te probeer vergelyk nie. Dit kan ‘n eindelose spiraal van selfondersoek word wat baie onproduktief kan wees,” sê hy. Belangstellendes kan kaartjies vir Mymymy se Wellington-vertoning op Saterdag 18 November by teater@breytenbachsentrum. co.za of 021-873 2786 bespreek.
Plaaslike Synth-musikant by Bôrdienghuis te sien
NUUS • NEWS
15 November 2017
5
6
15 November 2017
Prestige-aand:
Die Prestige-musiekaand van Laerskool Hugo Rust het op Donderdag, 2 November, plaasgevind. Tydens die feestelike geleentheid het die musiekleerders van Rita Moodie met hul harde werk en ure se oefening gespog. Daar is na ‘n verskeidenheid van instumente, blokfluit, klavier solo’s, duette en trio’s geluister. Die gehoor is ook deur ‘n twee-klaviere-uitvoering vermaak. Bo: is Rita Moodie saam met ‘n paar van haar musiekleerders.
Links: Tydens die geleentheid is die Cecile Coetzee-Wisseltrofee aan Nalene Visser oorhandig vir die hoogste totale punt in musiek. Hier is Nalene Visser saam met Johan Bruwer, skoolhoof van Hugo Rust.
NUUS • NEWS
Sport: Op Vrydag, 27 Oktober het leerders van Hugo Rust gewys waar hul lojaliteit lê deur hul gunsteling rugbyspan se kleure aan te trek. As “toegang” vir die dag het elke leerder ‘n nie-bederfbare produk skool toe gebring, wat aan minderbevoorregte leerders geskenk word.
Karel Dampies, gemeenskapswerker vir die Drakenstein en Kaapse Wynland, was een van die beoordelaars by die afgelope Mej Saron Bergwater-kompetisie. Links is hy saam met die wenner, Tarryn. Dampies is bygestaan deur Mervan Heswick en Nico August.
NUUS • NEWS
7
15 November 2017
Dagboek • Diary
Vierdejaar studente hou kunsuitstalling
Die kunsstudent, Chrislie Dreyer, saam met prof. Johan Anker en die kunsdosent Kobie Meiring.
Wellington CLC Matriek-aandklasse by Wellington CLC, Hospitaalstraat. Dinsdae en Donderdae vanaf 18:00 tot 20:00. Navrae skakel 021 864 2418 Wellington-rugbyklub Wellington-rugbyklub se oefeninge vind plaas vanaf 19:30 by die Wellington-rugbyklub, reg langs Boland-stadion. Vir meer inligting kontak Jaco van Deventer 081 488 5457 of Francois Coertze 083 443 3081 Porterville - Voorberg 17-18 November: Come and have fun at Voorberg Carnival. Entry fee is R40 for adults and kids for R20. For any further enquiries please contact Ms Wilmie Doman at 022 931 8021 Roses United 18 November: Time to honour our players at the Roses United awards evening at the Bergrivier Hostel. Entrance fee is R100,00 and starts at 19:00 till late. Two course meal, bring own XYZ. Dress code is semi-formal and the music by DJ Lovell Aand van Sang 25 November: Aand van Sang met Sammy Banda en Evangelis Andrew Seekoei by St Thomas Laerskool om 18:00. R30 vir volwassenes en R15 vir kinders onder 19. Vir enige navrae kontak Br Samuel 076 690 4626 Abbeyfield-vereninging 30 November: U word vriendelik uitgenooi na die algemene jaarvergadering van Abbeyfield
Vereniging, Wellington om 10:30 te Milnerstraat 2A, Wellington Vir enige navrae kontak me H. Fredericks by 074 706 8386 Tiere Kersmark 5-9 Desember: Tiere-kersmark word aangebied deur Hoërskool Tygerberg, Fairfieldstraat, Parow. Maandag - Vrydag vanaf 09:00 - 19:00 Saterdag vanaf 09:00 tot 17:00 Vir enige navrae skakel Ina Viljoen by 083 463 4090 of Karen Esterhuizen by 083 733 5025 Hopefield Night Ride 9 Desember - Fietsry-entoesiaste kan om 19:00 aan die Hopefield Night Ride deelneem. Die roete strek oor 31km. Kontak Willem by 082 923 2553 of Gert by 082 940 5002 met navrae. Yzerfontein Annual Snoek Classic 15-16 December: Be part of the Yzerfontein Annual Snoek Classic 2017. Entry fee for YBC members are R330 and non-members the amount of R380. The Junior o/16 is R200. For any further information please contact Theunis Kruger at 083 306 5510 or visit www. yzerboatclub.co.za Yzerfontein Toerisme 19 Desember: Yzerfontein Toerisme bied aan Jannie du Toit sing Koos du Plessis, ander gunstelinge en kersliedere om 19:00 by Yzerfontein Gemeenskapsaal. Kostes beloop R110 per persoon. Bring eie piekniekmandjie en wyn. Vir enige verdere kontak Jopie by 072 460 5568 of Leane by 022 451 2985
Kerke • Churches Anglican Church Sunday morning: April to Sept at 08:00; Oct March at 07:30; Wed. Morning : 09:30 (end Jan to mid Dec); 4 Milner Street, Wellington. Enquiries: 021 873 1425. Joshua Generation Sunday morning 09:00 (English), Sunday evening (Afrikaans) 17:00. Provence, Milner Road. Enquiries: 021 873 6541. Kerk van Macedonië Sondagdiens om 10:00; Groenberg. Navrae: 062 836 1316 of 074 608 0519 NEW Sunday morning at 09:00 (English service); HJN Training Centre, College Street, Wellington. Enquiries: 082 355 3280. NGK Moeder-gemeente Sondagoggend om 09:00. Sondag-aanddiens Leefkerk om 18:00. H/v Kerk- en Piet Retiefstraat, Wellington. Navrae: 021 873 1561. NGK Noord-gemeente Sondagoggend om 09:30: MacCronestraat 11, Wellington.
Navrae: 021 873 2763. NGK Wellington-Oos Sondagoggend om 9:00 en Sondagaand om 19:00 op die h/v Barlinka en Cummingsstraat, Wellington. Navrae : 021 873 2690 St George's Presbyterian Church Sunday mornings at 09:30 (English); 22 Jan van Riebeeck Street. Enquiries: 021 873 2021. Shofar Sondagoggend om 09:00 Laerskool Hugenote, Kerkstraat 41. Navrae: 021 873 7677 AGS Wellington Dienstye en Junior Kerk : Sondae 09:00 asook 18:00 by Terracestraat 3, Wellington. Kontak: 083 258 8717 of 021 873 3375 Crystal Gates Outreach Ministries Sondag-oggende om 10:00 en Vrydag-aande om 19:00, te Bergrivierstraat 32, Vanwyksvlei, Wellington. Alle besoekers welkom.
Die vierdejaar kunsstudente van die plaaslike CPUT-kampus het onlangs ‘n uitstalling van hul kunswerke gehou. Hierdie uitstalling het in die Breytenbachsentrum geskied en alle studente se kunswerke wat hulle gedurende die jaar gemaak het, is by hierdie geleentheid uitgestal. Studente, dosente, kunsliefhebbers en belangstellendes het hulle aan die kuns verwonder, terwyl hul die heerlike eetgoed, sap en wyn wat bedien is, geniet het. Kunswerke in verskeie media het die mure en uitstalruimtes van die Breytenbac-sentrum versier. Beeldhouwerke, kunswerke uit gemengde media, skilderye, sketse, etse en afdrukke met ‘n verskeidenheid temas kon besigtig word. Chrislie Dreyer, een van die studente, het die verrigtinge geopen en almal wat die uitstalling moontlik gemaak het of ‘n aandeel daarin gehad het, bedank. Van die studente se werk is ook te koop aangebied. Volgens Anne-Ghrett Erasmus, kurator van die Breytenbach-galery, is sy beïndruk met die kwaliteit van die studente se kunswerke. “As ‘n mens in ag neem dat hierdie studente nie kunsstudente is nie, maar onderwysstudente
met kuns bloot as een van hul vakke, staan jy verstom oor wat hul hier vermag het,” het sy gesê. Prof. Johan Anker het in sy geleentheidstoespraak hulde gebring aan die kreatiwiteit van die studente en die inisiatief wat hulle met die uitstalling aan die dag gelê het. “’Die wit papier’ is dikwels iets wat ‘n soort vrees by kunstenaars inboesem. Ek is bly om te sien wat dié studente op al die ‘wit papier’ laat gebeur het,” het hy gesê. Prof. Anker het ook na ‘n gedig van T.T. Cloete van God as ‘n digter verwys. “Ons is in die skepping, en as skeppers is julle besig om te herskep,” het hy gesê. Hy het ook na Breyten Breytenbach se woorde oor die Breytenbac-sentrum verwys. “Breyten het gesê dat hier plegtig afgespreek word dat dit om die sluiting van vennootskappe gaan. Hierdie is nie ‘n plek van opgee of afgee of weggee nie; dit gaan oor aangee. Nie om verdeel of opdeel nie, maar om deelname en deelwórd. "Dít is presies wat julle met hierdie kunswerke en hierdie uitstalling reggekry het,” het prof. Anker afgesluit.
courant
8
dié
15 November 2017
NUUS • NEWS
WELLINGTON SPORT
Tel: 022 487 3221
15 November 2017
Krieketklub skitter in liga Die Three Ships Wellington-krieketklub se eerstespan het goed gevaar in die Boland Premierliga se 50-beurtwedstryd teen Young Peopleskrieketklub. Young Peoples het eerste gekolf. Lindley Hendricks 50 (115) en Jade Adams 19 (31) het goed die beurt begin op 43/1. Young Peoples het bietjie fokus verloor en Tiaan Cloete 7/16 in 10 beurte kon maklik van die kolwers ontslae raak met 'n goeie driekuns. Young Peoples was op 'n stadium op 99/4, maar is vinnig uitgeboul vir 106 lopies. Wellington het tweede gekolf en was na twee beurte 5/2. Warren Groeneveld 26 (41) en Junaid Cassiem 28 (45) het 'n goeie derde paaltjie vennootskap van 50 lopies aangeteken. R Damonse 3/27 in 9 beurte het goed teruggeveg, maar dit was nie genoeg nie. Wellington Wolves wen met vier paaltjies. Wellington-krieketklub se derdespan het
Saterdag ook teen Young Peoples KK gespeel. Wellington teken 147/10 aan. Marvin Booysen 47, Jaydan Fransman 20 en Curtley Monk 19. Young Peoples se bouler, Jacque, het goed geboul en neem 4/28 in 7 beurte. Young Peoples kolf tweede en kon gemaklik die lopies afteken 148/3. H. Jacobs 55, N. Adams 44* en ook W. Raubenheimer 37. Young Peoples se derdespan wen met sewe paaltjies. Sondag het Three Ships Wellington-krieketklub se tweede span teen Young Peoples II gespeel. Young Peoples II kolf eerste en teken 231/9 aan in 50 beurte. Frank Abrahams 3/28 en Gershwin Williams 4/39 het goed geboul. Wellington kolf tweede 232/6 Daniel Du Plessis met 'n onoorwonne 114 is goed bygestaan deur Frank Abrahams 28 en Edward Small 22. Wellington Wolves wen met 4 paaltjies.
Anneli Joubert is as Hugo Rust Laerskool se Sportvrou van die Jaar, 2017, aangewys. Sy is deel van die Boland o.13A-tweekampspan en sy kwalifiseer vir WP-Vlak 3 Swem.
Die Skoolhooftoekenning van die Laerskool Hugo Rust is aan John Coetzee (Gr. 6) toegeken. Hy het vanjaar die SA o.12-tennisspan verteenwoordig in Madagaskar en Italië waar hy aan toernooie deelgeneem het. Hy is verkies tot die SA o.14-groep vir 2018, waar hy tans die nommer twee posisie beklee. John se prestasies by die skool is nie net beperk tot die sportveld nie, maar hy vaar ook uitstekend op akademiese gebied.
•OOK GENOMINEER VIR IAAF
Luvo gekroon as SA se blinkste ster Luvo Manyonga, ‘n boorling van Mbkweni en die wêreld se verspringkampioen, is Sondagaand, 12 November, as Suid-Afrika se Sportman van die Jaar, sowel as die land se Sportster van die Jaar aangewys. Die Suid-Afrikaanse Sporttoekenningsplegtigheid het in Kempton Park tydens ‘n glansgeleentheid plaasgevind en sportsterre uit verskeie sportsoorte het dit bygewoon. Manyonga, wat die Suid-Afrikaanse verspringkampioen is, het hierdie jaar ook die wêreldkampioen in hierdie item geword toe hy by die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) se Wêreldkampioenskappe in Londen met ‘n allemintige sprong van 8.48m die eerste plek behaal het. Hy het die Suid-Afrikaanse verspringrekord hierdie jaar twee keer gebreek en by vier geleenthede verder as 8.60m gespring - ‘n ongekende prestasie in hierdie item. Hy was vir ‘n volle kalenderjaar onoorwonne
in 10 byeenkomste en het ook die Diamond League Trofee in verspring hierdie jaar gewen. Manyonga is ook een van die IAAF se 10 genomineerde Wêreld Atlete van die Jaar. Sy nasionale rekord van 8.65m, is die beste sprong van die dekade. Die wenner van hierdie toekenning word op 24 November in Monaco aangekondig. Luvo het met sy twee toekennings twee motors en R400 000 gewen, waarvan R200 000 aan ‘n welsynorganisasie van sy keuse moet gaan. Manyonga was oorstelp oor hierdie twee toekennings wat aan hom gemaak is. “Ek is ‘n bietjie emosioneel, maar dit sal nou-nou weggaan. "Die toekenning is myne en ek is die Sportman van die Jaar. Ek wil aanhou om hierdie golf te ry tot ek eendag aftree. "Ek sien uit na die volgende jaar,” het hy tydens die seremonie gesê.