Skip to main content

445 dié courant wellington

Page 1

courant

• Bergrivier 1Swartland Wellington

dié

8 November 2017

• Free • Gratis

Wes-Kaap se #1

Bou saam met goeie nuus

Uitgawe 445

8 November 2017

•JOHAN DEMPERS EN SPAN TERUG OP WELLINGTON

Avonturier tuis ná Amasone-reistog •Jaomi Zeeman Johan Dempers van Wellington het onlangs, na twee maande in Suid-Amerika, na sy tuisdorp teruggekeer, nadat hy ‘n ekspedisie in die Amasone-reënwoud onderneem het. Hy het hierdie avontuur saam met drie ander spanlede, Joe Brooks (80), Muldene Holloway (32) en Hennie van Rooyen (47) aangedurf. “Ons was vier mense, dit was twee maande en ons het een doelwit gehad, naamlik om die harde maar wonderlike biosfeer van hierdie unieke gebied te ontdek. Ons wou hierdie gebied ondersoek en die inligting met mense en studente regoor die wêreld deel,” het Johan gesê. Dit wil voorkom asof dít presies is wat hierdie avonturiers tydens hul ekspedisie vermag het. Johan, wat met die eerste oogopslag aansienlik ligter as voor sy vertrek lyk, vertel dat hy bykans 19kg gedurende die ekspedisie afgeskud het. “Ons het vis geëet en water gedrink en ons het geoefen. Ons kon geen gaskoeldrank drink of brood, suiker en verfynde kos eet nie. Ek het ook nie een keer sooibrand gekry, terwyl ek daar was nie. Ek moes ekstra gate in my gordel met my knipmes maak,” lag hy. Volgens hom was die ongereptheid en gebrek aan roetine wat hy in die Amasone ervaar het, iets waaraan hy kan gewoond raak. “Daar is nie spertye of mense wat jou pla nie. Jy besluit wat belangrik is om te doen, wanneer dit nodig is om op te staan, om kos te kry, om verder te roei. Daar is nie grense en drade nie. Alles is nie so gestruktureerd soos waaraan ons hier gewoond is nie,” sê hy. Alhoewel die groep se beplanning vooraf haarfyn gedoen is, het hulle besef dat daar waarskynlik onvoorsiene omstandighede en veranderlikes is wat moontlike aanpassings tydens die ekspedisie sou vereis. Die tyd wat hulle uiteindelik in die bos deurgebring het, was net meer as twee weke. Die res van die twee maande moes hulle aan die duisende kilometers wat hulle moes aflê, afstaan. Die baie bagasie, waaronder ‘n boot, tente, sonpanele en ‘n klomp kameratoerusting, het ekstra uitgawes, tyd en moeite tydens hul reis vereis. Anders as met sy vorige ekspedisie na die Amasone, waar hy deur Indiane gevange geneem is, het die Indiane wat hulle hierdie keer teëgekom het, hul baie vriendelik ontvang. Hulle het die avonturiers van kos voorsien, by hulle gekuier en wou meer oor hul toerusting en

ervaring te wete kom. “Van die een plek waar ons gekamp het, moes ons by ‘n volgende dorp uitkom. Ons het aanvanklik beplan om daarheen te roei, maar dit sou omtrent so twee weke geneem het. Ons kon toe ‘n ooreenkoms met die Indiane aangaan, sodat hulle ons met hul groot huisboot, wat ‘n petrolenjin het, tot by die dorp neem, in ruil vir ons boot, kanoe, sonpanele en battery. Hierdie rit het net twee dae geneem, omdat hulle dag en nag met die boot ry,” vertel Johan. Volgens hom het die Amasonerivier sedert sy vorige besoek aan hierdie gebied, verander. “Die rivier se loop verander maar oor die jare. Waar hy kronkels gemaak het, neem hy miskien tydens ‘n vloed ‘kortpad’ en dan verval daardie kronkel,” verduidelik Johan. Hierdie verandering het veroorsaak dat hy nie die plek, wat hy “Camp Leatherman” gedoop het, waar hy ‘n geliefde mes wat hy tydens sy vorige ekspedisie langs die oewer van die Amasonerivier verloor het, kon opspoor nie. “Dit was seker eintlik simpel om te dink dat ek weer die plek sou kry, maar dit was iets wat ek graag wou probeer doen,” lag hy. Al die lede van die ekspedisie se gesondheid het tydens die avontuur goed gehou en behalwe vir ‘n paar minimale skete, het almal heelhuids teruggekeer. Die groot getalle piranhas en krokodille ten spyt, het niemand darem ‘n onderonsie met een van dié gevaarlike inwoners van die Amasone gehad nie. “Ons het húlle vir ete gehad, gelukkig was dit

nie andersom nie,” vertel Johan oor die piranhas. Hoogtepunte tydens die ekspedisie is volop. “Die positiewe ontmoeting met die Indiane was ‘n hoogtepunt. Hulle gasvryheid, vrygewigheid en nuuskierigheid was regtig wonderlik. Dit was ook baie lekker om te kon teruggaan na ‘n plek wat ek jare gelede besoek het. "Dan was daar die dolfyne en die krokodille. Die varswaterdolfyne wat sommer so skielik uit die niet langs jou boot uit die water skiet, is ongelooflik,” sê Johan. “Op een plek het ek in die nag met die flits geskyn na die rivier en omtrent twintig pare rooi ogies van krokodille gewaar,” vertel hy meer oor die diere wat hulle teëgekom het. Na hul terugkeer het die kameraspan van Fokus reeds by hulle ‘n draai gemaak vir ‘n insetsel, wat binnekort op hierdie program uitgesaai sal word. Johan beplan reeds aan sy volgende ekspedisie, weer na die Amasone, in 2018. “Ek is baie bly ek het hierdie ekspedisie aangepak. Ek het fantastiese materiaal ingesamel en wonderlike foto’s geneem. Die uitdaging is nou om deur dit alles te gaan en te orden,” sê hy. Johan het ook ‘n gratis fotografieklub op Facebook, Explorer’s Photo Club, begin waar ander entoesiastiese fotograwe hul foto’s kan deel en vir hulp kan aanklop. “Hierdie klub sal egter nie net op sosiale media funksioneer nie, maar ook fisiese uitstappies en oefeninge in fotografie onderneem,” sê hierdie avonturier.

NUUS • NEWS


2

8 November 2017

NUUS • NEWS

•NUWE VAARDIGHEDE AANGELEER

Naaldwerk bemagtig plaaslike vroue

Links: Nelie Meyers konsentreer terwyl sy aan haar kledingstuk werk. Middel: Hestie van Wyk, Wilma Busse, Lammie Ferreira en Minette Pestana Sew Southern Africa. Regs: Die trotse studente wat besig is om naaldwerkvaardighede aan te leer. Twee Wellingtonners, Wilma Busse en Hestie van Wyk, is besig om vir talle plaaslike inwoners ‘n toekoms te skep deur hulle met vaardighede te bemagtig. Hierdie twee dinamiese vroue het hul visie om entrepreneurs te help om winsgewende besighede te bedryf deur hulle met uitstekende naaldwerkvaardighede toe te rus, in 2011 gestalte laat kry. “Dit was regtig ons droom om mense in staat te stel om hul eie naaldwerkondernemings te begin en om hulle te bemagtig om geld uit naaldwerk te verdien,” vertel Wilma. Hierdie droom het tot die ontstaan van hul besigheid, Sew Southern Africa, gelei. “Ons glo in mense, ons glo in entrepreneurskap, in geleenthede, in vaardigheidsontwikkeling en in ons land se toekoms,” sê Hestie. Volgens Wilma en Hestie het hulle gou besef dat daar ‘n groot behoefte aan basiese naaldwerkvaardighede onder die inwoners van SuidAfrika is. Die feit dat naaldwerk nie meer in skole aangebied word nie, het daartoe gelei dat baie

mense met selfs die mees basiese naaldwerkvaardighede sukkel. Veral mense in gemarginaliseerde gebiede, waar die behoefte aan selfvoorsiening en die herstel van klere en ander materiaalprodukte groter is, ervaar ‘n leemte ten opsigte hiervan. Hierdie behoefte het Wilma en Hestie genoop om ‘n plan te maak om fondse vir die opleiding van mense met die behoefte om hierdie vaardighede aan te leer, maar nie die bronne daarvoor het nie, te kan bekom. Dit is hoe hul “I (heart) sewing”-inisiatief begin is - ‘n FP&M Seta-geakkrediteerde kurrikulum wat naaldwerkvaardighede ontwikkel. Die ontwikkeling van hierdie kurrikulum het hulle in staat gestel om uiteindelik werk van hul droom te maak, naamlik om mense te begin bemagtig en op te lei in naaldwerkvaardighede. Hulle het ‘n lokaal in Markstraat vir hierdie doel bekom en dit ten volle met naaldwerktoerusting toegerus. Die eerste groep studente wat van hierdie inisiatief gebruik kan maak, is reeds besig om hul eie lewens te verander.

Die studente is reeds vir ‘n hele aantal weke besig om die basiese beginsels en vaardighede van naaldwerk baas te raak. Hulle ontvang elke Dinsdag, Woensdag en Donderdag vir ‘n hele dag lank opleiding en het reeds talle vaardighede baasgeraak. Die lokaal in Markstraat is ‘n miernes van bedrywighede soos die naaldwerkmasjiene zoem en Lammie Ferreira, die kursus-aanbieder, nuwe tegnieke en vaardighede verduidelik. “Voordat ek met hierdie kursus begin het, kon ek nie eers ‘n knoop aanwerk nie. En kyk nou wat het ek nou al alles reggekry. "Dit voel of ek elke dag net wil naaldwerk doen,” sê Ashlerene Pietersen, een van die studente, terwyl sy trots na haar handewerk wys. Die studente se ouderdomme wissel van ‘n bloedjong 21-jarige tot ‘n ryper 59-jarige en daar is selfs ‘n manlike student wat ook agter die naaimasjien ingeskuif het. “Ons leer verskriklik baie hier. "Knoopsgate, appliekwerk, borduurwerk en verskillende soorte nate - ons het dit al alles onder die knie.

"Ons het al sakke en kledingstukke gemaak. Ek voel regtig of ek nou iets nuttig kan doen, iets waarmee ek myself kan besig hou en geld mee kan verdien,” laat Nelie Meyers, ook een van die studente, hoor. Alhoewel die kursus geborg word, is vervoer een van die grootste uitdagings en struikelblokke vir sommige studente. “Die studente is regtig entoesiasties oor die kursus, maar sukkel soms weens persoonlike omstandighede om geld vir vervoer na die kursus bymekaar te maak,” verduidelik Wilma. Ten spyte van talle uitdagings is hulle egter almal ewe opgewonde oor die nuwe vaardighede wat hul aanleer. “Dit is ‘n droom om my eie klere te kan maak en vir ander mense ook klere te kan maak. Nou is ek besig om dit te bewaarheid,” sê Ashlerene voordat sy voortgaan om aan ‘n naat van haar hemp te stik. Belangstellendes of mense wat by die projek betrokke wil raak, kan Sew Southern Africa by hestie@sewsouthernafrica.com of 082 562 7788 kontak.


NUUS • NEWS

8 November 2017

•WEN TOP-TITEL VIR OLIFANT

Dot se koek die beste in wêreld

•Jaomi Zeeman Die plaaslike koekbak-ghoeroe, Dot Klerck van Eat Cake Party, se lewensgroot olifantkoek is Saterdagaand as die beste vertoonstuk-koek ter wêreld aangewys. Hierdie toekenning is tydens ‘n glansgeleentheid in Birmingham, Engeland, gemaak. Die Internasionale Cake Masters Awards is ‘n jaarlikse geleentheid waartydens die beste koek-kunstenaars in die wêreld vereer word. Dit word as die “Oscars” van die koekbak-wêreld beskou waar slegs die super-spesialiste in verskeie kategorieë van hierdie kuns as finaliste kwalifiseer. Volgens die Cake Master Magazine se webblad is hierdie geleentheid ‘n plek waar kunstenaars erkenning kry en waar hul kundigheid gevier word. Dié formele geleentheid het op Saterdag 4 November by die spoggerige Hilton Birmingham Metropole Hotel plaasgevind en is deur koek-kunstenaars en -bekendes van regoor die wêreld bygewoon. Dit is wêreldwyd op verskeie televisiekanale uitgesaai en die finaliste was die bestes van die bestes. Daar was meer as 65 000 internasionale nominasies vir toekennings in verskillende kategorieë. Hieruit is slegs vier finaliste in elke kategorie aangewys, van wie Dot een in die vertoonstuk-kategorie was. Dit is die tweede agtereenvolgende jaar dat Dot in die afdeling vir vertoonstuk-koeke vir hierdie toekenning benoem is. Sy is verlede jaar vir haar renoster-koek in dieselfde kategorie benoem. Hierdie jaar het sy egter haar vorige poging met ‘n reuse lewensgroot olifantkoei en -kalfiekoek oortref. Tydens hierdie jaar se Good Food and Wine Show by die KIKS in Kaapstad het Dot se olifantkoek groot opspraak gewek en internasionaal aandag getrek. Dit was nie net die grootte van die koek en die ongelooflike hoeveelheid bestanddele en werksure wat daarvan iets besonders gemaak het nie, maar ook die feit dat dit ‘n reuse-poging tot die bewusmaking van olifantbewaring was. Die lewensgetroue kunstigheid waarmee elke detail van die finale produk gespog het, was voorwaar van internasionale gehalte. Dot se koek-kunswerke trek alreeds ‘n hele paar jaar aandag - plaaslik en internasionaal. Die feit dat sy ‘n unieke metode ontwikkel het waarvolgens groot koeke met behulp van strukture gevorm word, het haar in ‘n tipe kultusfiguur in die koek-wêreld laat ontpop. Mense wat haar uitsonderlike vertoonstukke en kunswerke

Museum: Hierdie kunstige dame was

een van die langsdienende lede van die "Wellington Horticultural Society" wat jaarlise 'n asterskou en ook dahliaskou reël. Wie is sy? Stuur jou antwoord na welmus@telkomsa. net. Die antwoord van die vorige kompetisie was CP en Margery van der Merwe.

3

ATKV-gesinstak reik uit na landelike vroue

Die rolspelers staan agter ‘n groepie van die vroue teenwoordig. Vlnr: Dr Elna von Schlicht, Minnie Conradie, Emke en Annika Hugo, Danelene Ruiters, Sandra Hugo, Pastoor Nicolette Sheldon, Ilza Allies en Tharina Schweidler.

gesien het, wou weet hoe sy dit regkry. Dit het tot die aanbied van meestersklasse in hierdie spesialisveld gelei. Sy het al klasse in Mexico City, Atlanta, Miami, Barcelona, Nederland, Zurich, Ierland, Pole, Jakarta en Nieu-Seeland aangebied. Sy en haar werk het al in talle nasionale en internasionale tydskrifte verskyn en sy is ook al as ‘n finalis vir die internasionale “Edible Artist Global Awards” benoem. Met haar benoeming vir die Cake Masters Awards verlede jaar, was Dot uit die veld geslaan. “Ek is buite myself van blydskap oor die nuus. Ek bedoel, ek is ‘n bakker en kunstenaar van Wellington in Suid-Afrika. ‘n Mens weet nooit of die beoordelaars jou werk sal raaksien nie. Ek werk al vir nege jaar lank onophoudelik aan hierdie passie wat my soveel bevrediging verskaf. ‘n Benoeming soos hierdie is die beloning waarop enige kunstenaar in die koekbedryf hoop,” het sy destyds gesê. In 2017 het hierdie passie van haar nie net by ‘n benoeming gebly nie, maar vir Dot ‘n internasionale toekenning besorg. Met haar facebook-inskrywing, “We won!”, vroeg Sondagoggend het sy haarself, en haar tuisdorp, in die internasionale wêreld van koek-kuns verewig.

Een van plaaslike ATKV-gesinstak se projekte is om uit te reik na landelike vroue. Vir hierdie doel reël hulle vier maal per jaar ‘n interessante en leersame funksie vir dié vroue. Die hoofdoel van hierdie inisiatief is om minstens een vrou per plaas op te lei en te bemagtig om die projek verder onder al die plaasvroue uit te brei. Tydens hierdie onlangse uitreik-aksie, waar vroue uit landelike gebiede in ‘n plaaslike koffiewinkel getrakteer is, het verskeie sprekers die rol van dié vroue in hul gemeenskappe belig. In haar verwelkoming het Danelene Ruiters, wat self ‘n produk van ons landelike omgewing is, ‘n beroep op die vroue gedoen om saam te staan en mekaar te ondersteun in die moeilike omstandighede wat hul dikwels alleen moet trotseer. Dr. Elna von Schlicht, Burgemeester van die Kaapse Wynland Distrik Munisipaliteit, het in haar motiveringstoespraak na die groot struikelblokke in hierdie vroue se alledaagse lewe verwys. “Dinge soos armoede, die huidige droogtetoestande en misdaad is realiteite. Dit is die dinge wat ons moet oorkom en oorwin,” het sy gesê. Dr. Von Schlicht het die vroue daarop gewys dat as hulle elke aand kos op die tafel kan voorsit, as hulle kan lees en skryf en ‘n dak oor hul koppe het, hul lewens positief kan wees en dat hulle nie van ellende hoef te krepeer nie. “Die vrou is die spil waarom die gesinslewe draai, sy is die sterk een en sy is die een wat kan bepaal of daar geluk in die huis is en dat die gesin nie verbrokkel nie. Elke vrou kan ‘n verskil

maak. Begin by jouself en jou eie opheffing en stel ‘n positiewe voorbeeld. Dit help nie om oor negatiewe dinge te tob nie,” het sy raad gegee. “Kyk liewer of jy nie iets positiefs uit ‘n slegte situasie kan bewerkstellig nie. Raak paraat en bewus en lei jou gesin om ‘n hegte band te vorm. Wees jy die eerste een om die voorbeeld van ‘n sinlike en geestelike uitkyk op die lewe te openbaar en ander sal jou voorbeeld volg,” het sy voortgegaan. Dr. Von Schlicht het benadruk dat almal daagliks met misdaad en ongunstige omstandighede in aanraking kom. “Gebruik hierdie ondervinding om vir jouself beter lewensomstandighede te skep. "Jy is uniek as vrou, jy is die sterk een. Gebruik hierdie ‘ammunisie’ tot jou beskikking om ‘n positiewe invloed uit te straal,” het sy gesê. Die Hugo-tweeling, Emke en Annika, het in ‘n aangrypende tweespraak die uniekheid en die rol van die vrou verder benadruk. Elkeen teenwoordig het ook ‘n krale-armbandjie ontvang waarvan die verskillende kleure die verskeie persone in hul lewe vir wie hul omgee, simboliseer. Pastoor Nicolette Sheldon het in haar rede haar eie verhaal van verval vertel. Haar oorwinning en herstel na ‘n ernstige siekte het haar bemagtig om vandag vroue te inspireer om ook swaar tye te bowe te kom. “Kerm en kla striem jou en dui slegs op die negatiewe. "Soek die positiewe en lewe volgens die lig wat ‘n positiewe gesindheid uitstraal,” het sy gesê.


NUUS • NEWS

8 November 2017

courant

dié

4

Die groot avontuur

Kinders is almal avonturiers. Hulle sien moontlikhede en potensiaal waar volwassenes soms gemors, gevaar en probleme raaksien. Weggooigoed kan speelgoed word, rotse kan skepe word, meubels kan gimnastiekapparate word en sand en water kan die begin van ‘n hele nuwe klein wêreld wees. Hul verbeelding maak die lewe ‘n wonderlike plek van ontdekking en moontlikhede en die wêreld ‘n plek vol verrassings en ongewone lotgevalle. Vir baie mense verdwyn hierdie verwondering egter op hul pad na volwassenheid. Die realiteit van verantwoordelikhede is maar ‘n bogger wat altoos ‘n mens se verbeelding en avontuurlus wil kom beduiwel. Party mense kry dit egter reg om voortdurend ontdekkers in die groot avontuur van hul lewens te wees. Daardie verwondering in die talle moontlikhede en potensiaal van die dinge rondom hulle, laat hulle waag, maak hulle innoverend, lei tot die geboorte van nuwe geleenthede en gee gestalte aan nuwe ondervindings. Wellington wemel van avonturiers. Johan Dempers het pas van ‘n ekspedisie in die Amasone Reënwoud teruggekeer - ‘n avontuur wat hy al vir die tweede keer aangepak het. Dot Klerck se innovasie en verbeeldingryke koek-kuns het haar ‘n internasionale toekenning vir die beste koek-vertoonstuk besorg - ‘n prys wat sy die afgelope naweek in Birmingham ontvang het. Amanda Kreitzer het die potensiaal van die Victoria Jubilee Park in Kerkstraat raakgesien en die moontlikhede van hierdie spasie ontgin. Die Park in sy nuwe gedaante is die afgelope week ingewy. Sew Southern Africa is besig om plaaslike mense op ‘n ontdekkingstog in die naaldwerkvaardighede te begelei - iets wat die begin van nuwe moontlikhede en avonture vir hierdie mense moontlik maak. Die Pauw Gedenk Sub A-klas van 1957 het die avontuur wat hulle 60 jaar gelede saam begin het, onlangs gevier. Hillary Geslin het, na die sukses van haar eerste boek, haar hand aan ‘n fliek-draaiboek gewaag. Wagenmakersvallei Primêr maak met hul “The Rockets” konsert baanbrekerswerk deur vir die eerste keer in die skool se geskiedenis só ‘n groot geleentheid aan te bied. Paulo Coelho het geskryf dat as ons dink avonture gevaarlik is, ons liewer op ons hoede vir roetine moet wees - dit kan dodelik wees. Mag elkeen hierdie week - of dit nou in jou huis, by jou werk, in jou motor of in jou eie kop is - ‘n avonturier wees.

Dine at Linton Park

Dis Goeie Nuus

Dr. Andrew Bosman

Die volk wat hulle God ken, sal vashou en optree

Linton Park Wines together with Chef Pieter recently launched a new light lunch menu and food pairing offer. You can now, while tasting our award winning wines, enjoy lunch on the terrace overlooking the beautiful gardens and Manor House. Our lunch offering includes two different platters, with local products that pairs perfectly with our wines, as well as a trio of beef burger sliders and delicate summer salads. Not to mention the decadent caramel cheesecake and Hazelnut Chocolate dessert. Bookings are essential as limited seating is available and to avoid disappointment. Please call us on 021 873 1625 or tasting@lintonparkwines.co.za to make a booking or if you have any enquiries. We are also open to do functions.

In hoofstuk elf van die boek Daniël, kry ons voorspellings wat aan die einde van die tyd gaan gebeur. Dit dui nie op die ballingskap van Israel nie, hulle is reeds in ballingskap, Daniël kry inligting van wat verder gaan gebeur. Daar is konings van die Persiese ryk en van Griekeland, en later van die Noorde en die Suide, en van Egipte, daar word ook verwys na die Pragtige Land (Israel). Die koning sal die wat die verbond verlaat (verhouding met God), sal hy met vleiery afvallig maak, maar die volk (mense) wat hulle God ken, sal vashou en optree. Die Woord is die Waarheid, Psalm eenhonderd-en-negentien vers nege-en-tagtig getuig dat die Woord van die HERE vir ewig vasstaan in die hemel. Dit is waaraan die volk van die Here sal vashou, en optree. Hulle sal leiding neem en hulp verleen waar nodig. Die verstandiges onder die volk sal baie tot insig bring, maar hulle sal struikel deur sward en vlam, deur gevangenskap en berowing, dae lank. Baie sal uit listigheid by hulle aansluit, maar daar sal loutering en reiniging en suiwering plaasvind, tot aan die einde van die tyd. Laat elkeen van ons seker maak dat ons deel is van die volk van God, deur geloof in Jesus Christus te bely.

Geklassifiseerd • Classifieds

DIENSTE SERVICES BOLANDSE HOUSE SITTERS. Janman vd Linde en Johan Haasbroek het sterk integriteit. Lief vir diere en sal u Troetels voer, stap en met sorg na u woning omsien. Kontak: Janman 082 694 5001 of Johan 083 305 0449 #4585 ----------------------------GELUKWENSING CONGRATULATION

Happy 2nd birthday MASON Mommy and Daddy loves you so much ----------------------------CARTER SMIT. Lekker verjaar. Lief vir jou – Ouma Joanie, Mammie en Pappa ----------------------------BENZANE TIETIES. 10 November. Geluk met jou mondigwording. Mag God jou seën. Van: Mammie, Oupa, Ouma en jou boeties en sussies. ---------------------------10 November. Veels geluk SANNA JANTJIES met u verjaardag! Mag God u ryklik seën met gesondheid en liefde – Nadia & V'Tino

ELIZABETH BEUKES “Woman of Strenght”. Baie geluk met Mammie se 50ste verjaarsdag. Die beste Ma ooit. Liefde – Manlief, kinders en kleinkinders ----------------------------PIETER BEUKES – Geluk met Pa se 49ste verjaarsdag. Ons is baie lief vir Pa, wat vir ons die wêreld beteken - Vroulief, kinders en kleinkinders ---------------------------CHRISTOPHER FARAO. 12 November. My liefste babaseun. Geluk met jou verjaardag. Baie lief vir jou, my engelkind. Liefde - Mammie

---------------------------------

STERFGEVALLE OBITUARY

ANNATJIE STROEBEL. Ek so verstom. Dankie vir alles wat jy vir my gedoen het in die lewe! Rus sag tot ons weer ontmoet my “sussie”. Liefde Karin (Malmesbury) ---------------------------


NUUS • NEWS

8 November 2017

Hillary Geslin mik nou na groot skerm se doek

Die talentvolle Hillary Geslin is ‘n jong meisie wat nie gras onder haar voete laat groei nie en geleenthede gaan soek om haar drome te verwesenlik. Haar ongelooflike verhaal van deursettingsvermoë het aan die einde van verlede jaar in dié courant verskyn. Hierdie leerder van Wellington Hoërskool het bo haar omstandighede uitgestyg en op 17-jarige ouderdom ‘n internasionale motiveringsboek, Success comes with Effort, geskryf wat deur ‘n Amerikaanse uitgewer uitgegee is. Intussen is talle kopieë van Hillary se boek al op verskeie groot internet-platforms verkoop. Hillary het ook al in talle publikasies verskyn, insetsels vir televisie gedoen en sy was ook hierdie jaar die ontvanger van die heel eerste Winnie Rust-toekenning. Nou het Hillary haar visier nog hoër gestel. Sy het onlangs ‘n draaiboek vir ‘n fliek geskryf. Getrou aan haar aard, het Hillary ook nie hierdie manuskrip iewers in ‘n laai gebêre, maar dadelik aan die regte mense begin voorlê. As Hillary iets doen, doen sy dit ordentlik en sy het met die filmvervaardiger, radio-aanbieder en akteur, Tony Taylor van Philadelphia, en die akteur Jeffrey Kaye van Kalifornië kontak gemaak en haar draaiboek aan hulle voorgelê. Beide hierdie twee groot kanonne stel in haar draaiboek belang en is gereeld met haar in kontak om haar met raad te bedien. Plaaslik het Hillary ook met Elmari Rautenbach van Homebrew Produksies kontak gemaak in verband met haar nuwe draaiboek. Elmari, wat Hillary tydens haar vorige televisieverskynings ontmoet het en ‘n hegte vriendskap met haar gevorm het, het haar met Paul Venter, ‘n bekende in televisie- en fliekkringe en onder andere die vervaardiger van Suidooster, in verbinding gebring. “Paul het dadelik belanggestel in en gehou van die konsep en die draaiboek. Hy is op die oomblik besig met ‘n ander projek, maar het gesê dat sodra hy daarmee klaar is, hy hieraan gaan aandag gee,” vertel Hillary opgewonde. Volgens haar het sy op die skryf van ‘n draaiboek besluit, omdat sy graag iets groter en beter na die sukses van haar boek wou aanpak. “Ek het vir my ma gesê: ‘Mammie, ek was nou die heeltyd in die nuus oor my boek en het baie bereik met my skryfwerk. Ek wil nou aan myself bewys dat as ek ‘n wil het, ek nóg ‘n droom kan waarmaak.’ Ek het dit ook gedoen om ander mense te motiveer. Hier is soveel armoede en wanhoop waar ek woon. Ek het gedink as ek nog iets goeds kan regkry, sal dit ‘n motivering vir ander mense in my omgewing wees,” vertel Hillary oor die redes agter haar besluit. Met hierdie poging wil sy nie net haar eie horisonne verbreed en hoop in haar gemeenskap bring nie, maar ook die hoë maatstaf wat sy met haar boek gestel het, probeer handhaaf. Oor die inhoud van die draaiboek en die tema van die fliek is Hillary baie geheimsinnig. Al wat sy verklap, is dat sy haar eie leefwêreld en ondervinding ingespan het om die draaiboek geloofwaardig te maak. “Die storie speel af in ‘n area soortgelyk aan

5

Nuwe Victoria Jubilee-park amptelik geopen

Die lint vir die amptelike opening van die Park in sy nuwe gedaante word geknip. V.l.n.r. is Amanda Kreitzer, raadslid Christephine Kearns, rooskenner Sheenagh Harris en burgemeester Conrad en Jené Poole.

die een waarin ek grootgeword het en woon. Dit gaan oor dinge wat ek al ervaar het en dit het ‘n boodskap van hoop,” is al wat sy bereid is om oor die inhoud van die storie te sê. Volgens Hillary het die skootrekenaar wat sy met haar Winnie Rust-toekenning gekry het, handig te pas gekom met die skryf van die draaiboek. “Dit is asof ek nie kan ophou skryf nie. Ek skryf die heeltyd. Laatnag dan sê my ma vir my ek moet die lig afsit, sy kan nie slaap nie, want dan sit en skryf ek nog,” lag Hillary. Die enigste struikelblok wat sy tydens die skryf van die draaiboek ervaar het, was haar eie twyfel. “Dit is mos partykeer asof daar ‘n stemmetjie in ‘n mens se kop is wat vir jou sê: netnou werk dit nie, netnou is dit wat jy doen nie goed nie. Dan baklei jy maar met daai stemmetjie en probeer hom stilmaak. En dan onthou jy weer van jou droom,” sê Hillary. Sy het ook met die Falmouth Universiteit in Engeland kontak gemaak en ‘n aanlyn-skryfkursus deur hulle gevolg. Toe hulle van haar reeds gepubliseerde boek kennis neem, het hulle haar laat weet dat, as sy die boek as deel van die kursus gedoen het, sy ‘n internasionaal erkende kwalifikasie van hulle daarvoor sou kon ontvang. “Nou is die boek eintlik te vroeg geskryf vir hierdie kwalifikasie en omdat ek dit nie deur hulle gedoen het nie, kan ek nie daarvoor in aanmerking kom nie. Maar dit is nog steeds lekker - dis eintlik ‘n hoogtepunt - om te weet dat ek so iets met my skryfwerk sal kan regkry,” sê Hillary. Wat wil sy hê moet mense voel en dink wanneer haar fliek miskien eendag op die Groot Skerm vertoon word? “Ek wil net hê mense moet gemotiveer word. Ek wil hê hulle moet hoop hê. Ek wil hê mense moet weet dit maak nie saak waar iemand bly nie, dit definieer jou nie. Wie jy is, wat jy doen en wat jy droom, definieer jou. Dit maak ons almal dieselfde en bind ons aan mekaar. Elke mens het potensiaal en dít is wat ons in mekaar moet sien,” sê hierdie wyse meisiekind.

Die Victoria Jubilee-park in Kerkstraat is vir jare reeds ‘n bekende baken in Wellington. Vir baie jare was dit ook die “weeskind” wat dikwels deur rommel en ander negatiewe elemente ontsier is. Hierdie park spog egter nou met ‘n splinternuwe baadjie - een waarop alle dorpenaars baie trots kan wees. Die herstel, opgradering en verfraaiing van die Victoria Jubilee-park is ‘n projek wat reeds ‘n geruime tyd aan die gang is en deur verskeie plaaslike persone en instansies ondersteun is. Hierdie inisiatief was ook geen geringe taak nie. Nie alleen moes die uitleg van die tuin heroorweeg en aangepas word nie, maar die bestaande, verwaarloosde strukture moes ook herstel of vervang word. Baie maande, baie gewillige hande, baie skenkings, talle vragte grond en baie sweet later is die Park in sy nuwe gedaante op Dinsdag 31 Oktober amptelik tydens ‘n feestelike geleentheid ingehuldig. Die uitvoerende burgemeester van Drakenstein Munisipaliteit, Conrad Poole en sy vrou, Jené, het in ‘n swierige perdekar by die verrigtinge aangekom. Verskeie eregaste, belangstellendes, donateurs en belanghebbendes het die geleentheid bygewoon en die seremoniemeester, Mpumi Lallie, het die verrigtinge gelei. Die Bosman Adama-koor het ‘n sangitem gelewer en Nicolaas Slabber, vir jare reeds ‘n Wellingtonner, het ‘n lied wat hy spesiaal vir Wellington geskryf het, gesing. Die lirieke van sy lied, “’n plek wat siel en gees kan transformeer - dalk vind jy vrede hier”, het gewig aan die betekenis van die inhuldigingsgeleentheid verleen. Gwen Fagan, ‘n belese vrou en gerekende landskapsbeplanner en plantkenner, het as gasspreker by die geleentheid opgetree. Een van die rose wat in die park se nuwe tuin geplant is, is ook na haar vernoem. Sy het die geskiedenis van die Park en die

rol wat dit in Wellington se erfenis gespeel het, belig. “Daar is oorspronklik bakstene op hierdie stuk grond gemaak wat vir die bou van die kerk gebruik is. In 1840 is die dorp Wellington gestig en in 1888 het hierdie baksteen area ‘n park geword. Dit is eers na koningin Victoria vernoem en het die Victoria Park geheet. Met die koningin se Jubilee is die park se naam na die Victoria Jubilee Park verander,” het sy oor die interessante geskiedenis gesê. Conrad Poole het die lint ter amptelike opening van die Park geknip en in sy toespraak melding gemaak van die voorbeeld wat Wellington en sy mense in die breër Drakenstein-gemeenskap met inisiatiewe soos hierdie stel. “Wellington, en spesifiek hierdie Park, is ‘n voorbeeld van hoe mense eienaarskap van oop spasies in ‘n gemeenskap neem en dit tot almal se voordeel verbeter,” het hy gesê. As deel van die opgradering en verfraaiing van die Park is die vullisblikke deur die Busy Beez Damesgroep geverf en daar is gedigte op die bankies aangebring. Jeanetta Ingwersen het voorlesings van hierdie gedigte gedoen. Sheenagh Harris, ‘n rooskenner wat met die aanlê en vestiging van die nuwe roostuin gemoeid was, het meer oor hierdie proses vertel. Volgens haar is daar spesifiek aandag gegee aan die verskillende groeperings van roossoorte in die tuin. Schalk Burger het ook ‘n toespraak gelewer waarin hy die nuwe aansig van die park geprys en die betrokkenes wat dit moontlik gemaak het, bedank het. Ander items op die feestelike program was sang deur Ingrid Hall en Newton Theron, sowel as ‘n optrede deur professor Felix Potocnik. Uiteindelik kon almal heerlik in die “nuwe” Victoria Jubilee Park, ‘n waardevolle toevoeging tot ons dorp, rondom plaaslike wyn en eetgoed saam kuier.


6

8 November 2017

NUUS • NEWS

Rockets tree op by Pauw Gedenk Sub A-klas Wagenmakersvallei Primêr van 1957 hou reünie

Wagenmakersvallei Primêr, ‘n landelike skool met ongeveer 300 leerders, gaan binnekort ‘n groot makietie hou. Op 10 November sal hierdie skool gasheer speel vir die gewilde en bekende musiekgroep, The Rockets. The Rockets is ‘n gewilde Suid-Afrikaanse musiekgroep wat ook gereeld internasionaal optree en die verhoog al met talle bekende internasionale sterre gedeel het. Hulle het onder andere al as ondersteunende vertonings by konserte van Ronan Keating, Usher, Alicia Keys, P. Diddy, Shayne Ward, Patrizio Buanne, Will Young, Marcos Hernandez, Luther Vandross, The Spice Girls, Wet Wet Wet, Billy Ocean en The O’Jays opgetree. Wagenmakersvallei Primêr het hierdie bekroonde musiekgroep as deel van ‘n fondsinsamelingsprojek, maar ook as ‘n heerlike gemeenskapskuier so aan die einde van die jaar, na hul skool genooi. “Ons is baie opgewonde om so ‘n welbekende groep soos die Rockets hier by ons te kan

ontvang. Dit voel omtrent of ons met hierdie geleentheid geskiedenis maak hier in die hartjie van die Bovlei,” sê Raquel Julies van die skool. Op 10 November sal die berge, plase, wingerde en vrugteboorde rondom Wagenmakers Primêr die agtergrond wees waarteen The Rockets sal optree. Hulle sal die verhoog met die bekende plaaslike musiekmaker, DJ Lovell, deel. Die aand sal die formaat van ‘n piekniekdans aanneem waar elkeen sy eie stoel, piekniekmandjie en drinkgoed kan saambring, terwyl die gemeenskap heerlik sosiaal verkeer. Toegang is R100 per persoon en die geleentheid sal om 19:00 begin. Belangstellendes kan Raquel Julies by 076 6122 855 of Raquel.Julies@ wcgschools.gov.za vir navrae of besprekings kontak. “Nog nooit in die skool se geskiedenis het ons die skoolveld vir so ‘n groot geleentheid gebruik nie. Dit beloof om ‘n heerlike aand te wees waar elkeen kan ontspan, saamkuier, die musiek kan geniet en, as die voete jeuk, lekker kan saamdans,” sê Raquel.

Die Sub A-klas van Pauw Gedenk Primêr.

Wees altyd aan die voorpunt van die goeie nuus met ons sosiale media. Volg ons Facebook-blad by @diecourant. Kontak ons by 022 487 3221 of stuur 'n epos na izelle@diecourant. co.za. Besoek ook ons webwerf by www.diecourant.co.za.

Die 1957 Sub A-klas van Pauw Gedenk Primêr het onlangs ‘n reünie gehou. ‘n Groot groep van hierdie oorspronklike klas, sowel as hul onderwyseres, Joan August (née Moses), het hierdie wonderlike geleentheid bygewoon. Volgens die organiseerder van hierdie geleentheid, Herman Bailey, is daar reeds sedert 2016 aan hierdie reünie beplan. “Dit het my in 2016 bygeval dat dit in 2017 60 jaar gelede sal wees dat ons groep in Sub A by Pauw Gedenk was. Ek dink toe dat dit darem wonderlik sal wees om die groep te probeer opspoor. Ek het onthou dat ons destyds ‘n klasfoto geneem het en my foto het ek baie mooi bewaar. Ek het dit egter so gebêre dat ek dit glad nie kon kry nie. Toe begin die soektog na iemand wat dalk nog ‘n klasfoto het,” vertel hy. By navraag het een van Bailey se destydse klasmaats, Spasie de Vries, laat weet dat sy nog haar foto het, en sodoende kon hulle met die soektog na al die klasmaats begin. “Die volgende proses was om almal te probeer identifiseer. Ek was verbaas oor hoe wonderlik die ou geheue nog is. Tussen die groep plaaslike leerders slaag ons toe daarin om almal uit te ken,” vertel Bailey oor die proses. Hy het met die opsporingsproses van al die klasmaats begin en terselfdertyd probeer vasstel of hulle in ‘n reünie sou belangstel. “Die reaksie op die vraag was oorweldigend positief,” sê hy. Dit was egter geen maklike taak om almal te kontak nie. Volgens Bailey was dit selfs moeilik om diegene wat in Wellington bly, op te spoor, wat nog te sê van mense wat reeds jare gelede die dorp verlaat het. Hulle het familie en vriende ingespan om hul met die taak te help en van inligting te voorsien. “Van die oorspronklike groep van 34 kon 18 opgespoor word, 11 is reeds oorlede en vyf kon nie opgespoor word nie,” sê hy oor hierdie reuse-poging. Sosiale media, sms- en whatsapp-boodskappe het dit moontlik gemaak om voortdurend kontak met die 18 klasmaats te behou en reëlings vir hierdie spesiale reünie te tref. Hulle het ook hul bes probeer om hul voormalige onderwyseres op te spoor en na die reünie te nooi. “Ons destydse juffrou, Joan Moses, het jare gelede in Uitenhage haar onderwysloopbaan gaan voortsit. Ek het gelukkig met haar oor die

jare kontak gehou en sy het ook van tyd tot tyd by haar familie in Voorstraat kom kuier. Toe die idee van ‘n reünie met haar gedeel is, was sy baie opgewonde, en het sy ingestem om dit by te woon. Maar sy het bygevoeg: ‘onthou ek is al 85 jaar oud en alles hang van my gesondheid op daardie stadium af’. Ons is so geseënd dat sy die dag saam met ons kon meemaak,” sê Bailey dankbaar. Hulle het besluit om dit geleentheid by hul alma mater te hou en die huidige skoolhoof, Julie Williams het die idee verwelkom. ‘n Kerngroepie het hierna met die reëlings begin. “Daar moes natuurlik in ag geneem word dat ‘n groot gedeelte van die groep ouderdomspensioenarisse is en ons kon nie die onkostes te hoog maak nie,” verduidelik mnr. Bailey. Uiteindelik het die groep op 28 Oktober by hul alma mater bymekaargekom. Die herontmoeting was vir almal ‘n belewenis. Alhoewel baie van die klasmaats mekaar nie met die eerste oogopslag herken het nie, was die gewaarwording wanneer hul besef het wié is wié, vreugdevol. Soos tydens hul destydse skooldae, is die oudtydse skoolklok deur die skoolhoof gelui en die klas van 1957 het, soos 60 jaar gelede, in hul ry gaan inval. Juffrou Moses het, soos in 1957, voor die klas gaan staan en “strek uit die arm, laat sak die arms” gesê, waarna hul in hul klaskamer van 60 jaar gelede gestap het. “Wat ‘n nostalgiese en emosionele oomblik was dit nie,” sê Bailey. Die register is gelees en Juffrou Moses wou selfs weet waarom drie leerders nog nie opgedaag het nie. Sy het die rottang langs haar tafel gelig en spottenderwys gesê dat sy hulle lekker sal bykom. Die program het samesang, ‘n godsdiensoefening en ‘n toespraak deur Juffrou. Moses ingesluit. Sy het veral klem gelê op lewenswaardes en haar groot waardering vir die organisasie van die spesiale geleentheid uitgespreek. Daar is ook ‘n vlaghysingseremonie, sowel as ‘n kranslegging vir die lede van die klas wat reeds gesterf het, gehou. Verskeie aandenkings is deur Pauw Gedenk aan die oud-skoliere oorhandig en die 1957-klasgroep het ‘n ruim skenking van leesboeke aan die skool oorhandig. Uiteindelik is daar ‘n klasfoto op presies dieselfde plek as 60 jaar gelede geneem, waarna die groep ‘n heerlike middagete by die Sentrum vir Bejaardes geniet het.


NUUS • NEWS

8 November 2017

Dagboek • Diary

Wellington CLC Matriek-aandklasse by Wellington CLC, Hospitaalstraat. Dinsdae en Donderdae vanaf 18:00 tot 20:00. Navrae skakel 021 864 2418 Wellington-rugbyklub Wellington-rugbyklub se oefeninge vind plaas vanaf 19:30 by die Wellington-rugbyklub, reg langs Boland-stadion. Vir meer inligting kontak Jaco van Deventer 081 488 5457 of Francois Coertze 083 443 3081 Tourism Conference 31 October: The West Coast Responsible Tourism Conference at Riebeek Valley Hotel, Riebeek West from 09:00 till 16:00. Swartland Heritage Festival 3-4 November: The Swartland Independent Producers and International speakers like John Wurdeman from Pheasants Tears in Georgia, are taking over the West Coast Town in Paternoster for a celebration of Swartland Wine and Food. On 3 November from 17:00 till late and 4 November from 10:00 till 17:00 at the Paternoster Comunity Hall. R2 200 all inclusive Tickets : RSVP@STUDIO-H.CO.ZA Sundowners at !Khwattu 3 November: Join us for a spectacular views, a stunning sunset, good food and wine at !Khwa ttu, R27 West Coast road at 18:00. Snack platters available at R80 (suitable for 2 to share). Transport available

from Yzerfontein and Darling. For more information contact 022 492 2998 or send a email to bookings@khwattu.org Klassik Storietyd 11 November: Klassik stel hul Storietyd-plaat bekend by die Bruid, Die Pixie en die Vaalhond-teater in Riebeek-Wes om 19:00. Kostes beloop R50 per persoon. Besprekings kan gedoen word by 083 475 9395 of stuur 'n epos aan fromthetopre@ telkomsa.net. Kinders van die ses 11 November: Kinders van die ses bied aan Jou ma bly jou ma by St Thomas Skoolsaal, Malmesbury om 20:00. Kostes beloop R80 vir volwassenes en kinders tussen 6 en 13 is R40. Vir enige navrae skakel 022 486 4840 of Ebrahiem by 071 053 0067 Riebeek Vallei Spesiale Skool 10-11 November: Die Riebeek Vallei Spesiale Skool hou Karnaval. Vir enige navrae skakel me H Charles by 022 461 2241 of e-pos na riebeeckvss@ telkomsa.net Aand van Sang 25 November: Aand van Sang met Sammy Banda en Evangelis Andrew Seekoei by St Thomas Laerskool om 18:00. R30 vir volwassenes en R15 vir kinders onder 19. Vir enige navrae kontak Br Samuel 076 690 4626

Kerke • Churches Anglican Church Sunday morning: April to Sept at 08:00; Oct March at 07:30; Wed. Morning : 09:30 (end Jan to mid Dec); 4 Milner Street, Wellington. Enquiries: 021 873 1425. Joshua Generation Sunday morning 09:00 (English), Sunday evening (Afrikaans) 17:00. Provence, Milner Road. Enquiries: 021 873 6541. Kerk van Macedonië Sondagdiens om 10:00; Groenberg. Navrae: 062 836 1316 of 074 608 0519 NEW Sunday morning at 09:00 (English service); HJN Training Centre, College Street, Wellington. Enquiries: 082 355 3280. NGK Moeder-gemeente Sondagoggend om 09:00. Sondag-aanddiens Leefkerk om 18:00. H/v Kerk- en Piet Retiefstraat, Wellington. Navrae: 021 873 1561. NGK Noord-gemeente Sondagoggend om 09:30: MacCronestraat 11, Wellington.

Navrae: 021 873 2763. NGK Wellington-Oos Sondagoggend om 9:00 en Sondagaand om 19:00 op die h/v Barlinka en Cummingsstraat, Wellington. Navrae : 021 873 2690 St George's Presbyterian Church Sunday mornings at 09:30 (English); 22 Jan van Riebeeck Street. Enquiries: 021 873 2021. Shofar Sondagoggend om 09:00 Laerskool Hugenote, Kerkstraat 41. Navrae: 021 873 7677 AGS Wellington Dienstye en Junior Kerk : Sondae 09:00 asook 18:00 by Terracestraat 3, Wellington. Kontak: 083 258 8717 of 021 873 3375 Crystal Gates Outreach Ministries Sondag-oggende om 10:00 en Vrydag-aande om 19:00, te Bergrivierstraat 32, Vanwyksvlei, Wellington. Alle besoekers welkom.

7

Wellington ATKV-gesinstak maak Huis Lizelle paraat

Die ATKV bestuurlede staan agter ‘n groepie van Huis Lizelle inwoners. V.l.n.r.: Selwin en Desiré Williams, Marinda Ehlers, Sandra en AO Pierre Hugo, Jenny Hanekom, Sybil Kotze, Ds. Bernardo, Hentas Kotze en voorsitter Tharina Schweidler. Die Wellington ATKV-gesinstak het die afgelope week inwoners van Huis Lizelle paraat gemaak deur veiligheidsbewustheid by hulle te kweek. Dit volg na die brand wat vroeër vanjaar by Huis Lizelle uitgebreek en tot lewensverlies gelei het. Die ATKV het besluit om aan elke inwoner ‘n fluitjie te skenk wat hulle in noodsituasies as ‘n alarm kan gebruik. Adjudant-offisier Pierre Hugo het in sy toespraak gesê dat dit uiters belangrik is dat almal veiligheidsbewus moet wees. Die doel van die fluitjie is om gebruik te word om hulp te ontbied as ‘n persoon skielik in nood verkeer. So kan ‘n lang uitgerekte blaas byvoorbeeld beteken dat daar lewensgevaar is. Kort

blasies kan hulp ontbied indien ‘n persoon dalk geval het en nie self kan opstaan nie. Die fluitjie is nie ‘n speelding nie, maar wel ‘n middel om hulp te ontbied. Daar moet onthou word dat voorkoming beter is as genesing,” het Hugo benadruk. ‘n Beroep is op die inwoners gedoen om die fluitjie te alle tye by hulle te dra. “Jy weet nooit of jy dalk die volgende slagoffer van ‘n moontlike aanval gaan wees nie,” het Hugo gesê. Volgende jaar beplan die ATKV om brandoefening-geleenthede by Huis Lizelle aan te bied. Ter afsluiting is almal op koekies en vrugtesap getrakteer.


courant

8

dié

8 November 2017

WELLINGTON SPORT

Tel: 022 487 3221

8 November 2017

Megan en Mia blink uit by SA's Die tweeling Megan en Mia Koch het aan die SA-kampioenskappe in Akro-gimnastiek in Gauteng deelgeneem. Megan met met haar “womans pair” vlak 6 'n tweede plek behaal en ‘n silwermedalje ontvang. Mia het met haar “mix pair” vlak 6 ook 'n tweede plek behaal en ‘n silwermedalje ontvang en met haar “womans trio” vlak 4 het sy 'n derde plek behaal en ‘n bronsmedalje ingepalm.

Wellington-rolbalklub stel sportsoort bekend

Die Wellington Rolbalklub beplan om ‘n heerlike aand, waartydens hul die klub en sportsoort aan belangstellendes wil bekendstel. Volgens Pieter Myburgh, voorsitter van die Klub, beloof hierdie geleentheid om groot pret vir die hele familie te wees. “Bring die hele gesin, rol ‘n paar balle en

kuier saam met klublede,” het hy genooi. Die bekendstellingsgeleentheid sal op Vrydag 10 November om 18:00 by die rolbalbaan in Fonteinstraat, agter die Boland-rugbystadion, wees. Belangstellendes kan Ben Bekker by 083 281 7605 skakel.

Results: Wellington Cricket Club

Saturday 4th November 2017

Wellington Cricket Club 2nd XI travelled to Saldanha for the Boland 2nd Division B match against Vredenburg-Saldanha Cricket Club 2nd XI. Vredenburg-Saldanha scored 226/10 G. Abrahams 49*(63) and C. Jooste 51(105). Frank Abrahams 3/28 in 9 Overs. Wellington 168/10 Edward Small 30*(79) Yuan Claassen 24(22) Vredenburg-Saldanha CC win by 58runs

Sunday 5th November 2017 - Wellington Cricket Club 1st XI vs Coronations 1st XI Wellington 220/10 - Junaid Cassiem 73(77), Moshin Khan 38(46), Warren Groeneveld 35(58) Shaakir Abrahams 4/30 in 10 Overs Coronations 134/10 Richard Lackay 37(36), Kazi Mahin 30(29) Lee Bosman 6/24 in 6.3 Overs Wellington Cricket Club win by 86 runs.

NUUS • NEWS


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
445 dié courant wellington by DieCourant - Issuu