courant
• Bergrivier 1Swartland Wellington
dié
25 Oktober 2017
• Free • Gratis
Wes-Kaap se #1
Bou saam met goeie nuus
Uitgawe 443
25 Oktober 2017
•NOU SA SE BESTE KRIEKET-SKEIDSREGTER
Elton se oog hou die bal fyn dop
•Jaomi Zeeman Die Wellingtonner Elton Daniels is ‘n man met ‘n fyn oog vir ‘n vinnige bal. Hy word as Suid-Afrika se beste aksiekrieket skeidsregter beskou en is as die Skeidsregter van die Jaar vir 2016 en 2017 aangewys. Elton loop al ‘n lang pad met aksiekrieket - ‘n sport waaroor hy ooglopend passievol is. “My liefde vir die Sport het al begin toe ek 14 jaar oud was en daar ‘n Action Cricket-arena in die Paarl oopgemaak het. Dit was daar naby die sirkel by die begraafplaas. Ek het altyd saam met my tweede oudste broer en vriende gegaan om te gaan kyk hoe hulle die tipe sport speel. Ek het verlief geraak op die sport en self daaraan begin deelneem,” vertel hy. Elton het sedertdien al talle liga-wedstryde gespeel en ook provinsiale kleure vir aksiekrieket ontvang. Hy was vir ses jaar as speler by die sport betrokke. Nadat die eerste arena gesluit is, het daar gelukkig weer ‘n arena in die Bergrivier-besigheidspark geopen - iets waaroor Elton verheug was. Hy is vir die afgelope vyf jaar ook deel van die voltydse personeel by hierdie arena. Omdat Elton gesien het watter positiewe invloed aksiekrieket op baie jongmense se lewens het, wou hy graag meer by hierdie sportsoort betrokke raak en het hy besluit om homself as skeidsregter te bekwaam. Hy het met ‘n nederige begin, as skeidsregter by kinderpartytjies, tot ons land se voorste skeidsregter gevorder - iets waarvoor hy sy mentor, Gavin Gericke, ewig dankbaar sal wees. “Alles wat ek van aksiekrieket en van die kuns van skeidsregter weet, het ek by Gavin, destyds die bestuurder by die klub, geleer. Hy is intussen oorlede, maar hy was my mentor en het my touwys gemaak. Ek sal hom altyd dankbaar bly,” sê Elton. Hierdie pa van drie, wat al vir 14 jaar lank ‘n Wellingtonner is, het vinnig opgang in die aksiekrieket-geledere gemaak. Hy is in 2010 deur Action Sports South Africa gevra om die skeidsregter tydens die mans se interprovinsiale toernooi in Somerset-Wes te wees. “Dit was my eerste provinsiale toernooi en ek was baie senuweeagtig. Ek is as die derde beste skeidsregter by die toernooi aangewys en het vir myself gesê: derde plek is nie goed genoeg nie,” onthou hy. Buiten die feit dat hy sy graderingseksamens met vlieënde vaandels geslaag het, het hy ook sy provinsiale gradering vir die eerste keer tydens hierdie toernooi ontvang.
Sedertdien het Elton se lys prestasies as skeidsregter in aksiekrieket baie lank geraak. Hy is in 2013 as die Skeidsregter van die Toernooi in Johannesburg by die mans ope-interprovinsiale toernooi aangewys. In 2014 herhaal hy hierdie prestasie toe hy as die skeidsregter van die toernooi by die mans en vroue "Over and Unders" interprovinsiale toernooi aangewys word en in 2015 is hy die beste skeidsregter by die mans, onder 23, Little League en Junior-interprovinsiale toernooie. In 2016 word hy weer as beste skeidsregter by al hierdie toernooie aangewys en verwerf ook die toekenning as die Skeidsregter van die Jaar vir 2016 en 2017. Hoe voel dit vir hierdie nederige man om as Suid-Afrika se nommer een aksiekrieket-skeidsregter beskou te word? “Sjoe, dit is ‘n groot eer om die titel te hê as Skeidsregter van die Jaar sowel as om die nommer een skeidsregter te wees in Suid-Afrika. Dit is iets wat ek altyd baie hard voor gewerk het en nooit gedink het binne my bereik is nie. Maar deur harde werk en deur nooit moed op te gee nie, kan ‘n mens baie regkry,” sê Elton. Sy harde werk en deursettingsvermoë het
beslis vrugte afgewerp. Elton is gekies om ons land by die Men’s and Ladies Open Indoor World Cup in Dubai as skeidsregter te gaan verteenwoordig - iets wat hy in September met trots gedoen het. “Ek kan met groot trots sê ek is nou ‘n internasionale binnenshuise krieket-skeidsregter,” sê hy. Elton is baie dankbaar vir die borge wat tot sy redding gekom het om hierdie droom van hom ‘n werklikheid te maak. Aksiekrieket is nie by Krieket Suid-Afrika geaffilieer nie en alle onkostes om ‘n internasionale toernooi by te woon, is vir die individu se eie sak. “Val de Vie en Paarl Rotary het tot my redding gekom met hulp vir my Wêreld Beker toer en dank die Vader dat hulle my gehelp het, want sonder hulle kon ek dit nie gemaak het nie. Ryk Neethling en Jeff Spinks van Val de Vie en dan Mnr. Martin van Paarl Rotary-klub het my droom ‘n realiteit gemaak,” sê Elton. Hy is ook gekies om volgende jaar by die Indoor Junior-wêreldbeker in Pretoria as skeidsregter op te tree - iets waarvoor hy ook nog borge moet kry. Elton se suksesresep is eenvoudig. “Ek glo daarin om net jouself te wees en die liefde wat jy vir iets het, uit te leef. Daar is nie ‘n beter gevoel as om elke dag dít te doen waarvoor jy lief is en hard te werk vir iets waarvoor jy ‘n passie het nie,” sê hy. Elton se grootste droom, buiten die feit dat hy graag die wêreld se nommer een skeidsregter in aksiekrieket wil word, is om vir sy vrou en kinders ‘n beter toekoms te gee. “Ek wens ek kon vir hulle ‘n beter blyplek gee. Ons bly in ‘n ou wendyhuis wat nie baie gepas is vir my gesin nie. My grootste wens is om vir hulle ‘n beter dak oor hul koppe te gee.”
NUUS • NEWS