436 die courant wellington

Page 1

courant

• Bergrivier 1Swartland Wellington

dié

6 September 2017

• Free • Gratis

Wes-Kaap se #1

Bou saam met goeie nuus

Uitgawe 436

6 September 2017

•'AFGETREE MAAR WERK STEEDS KLIPHARD'

Egpaar het steeds ‘n passie vir eisteddfod •Jaomi Zeeman Die plaaslike egpaar Louis en Cornelia du Preez het ‘n baie besige tyd agter die rug. Hierdie twee talentvolle mense noem hulself miskien “afgetree”, maar hul betrokkenheid by die kunste asook kultuur en die skedule waarvolgens hulle die afgelope tyd by verskeie eisteddfods betrokke was, lyk allermins soos dié van afgetredenes. Louis en Cornelia se verbintenis met musiek, dans, drama en die uitvoerende kunste kom al ‘n lang pad. Hulle is albei boorlinge van die Oos-Kaap. Louis het op Noupoort matrikuleer, waarna hy sy onderwysopleiding aan die Bloemfonteinse Onderwyskollege ontvang het. Hy het later sy klavierlisensiaat aan Kovsies voltooi. Cornelia het in Port Elizabeth grootgeword en aan UPE studeer. Albei het onderwys gegee. Louis was later musiekdosent aan WOK en Cornelia het 19 jaar lank Afrikaans HT aan Hugenote Hoër onderrig. Albei het intussen afgetree en woon steeds op Wellington. Cornelia het gedurende haar onderwysloopbaan die toneel en eisteddfod by die skool hanteer. Sy het groot welslae behaal met eisteddfods en het etlike bekerwenners opgelewer. Haar betrokkenheid by eisteddfod-beoordeling het reeds voor haar aftrede begin. Louis het sedert 1977 blaasorkeste in die Vrystaat beoordeel. Die beoordeling het later tot op nasionale vlak uitgebrei. Hy het ook oorsee getoer met orkeste. Tydens sy jare as dosent het hy vele toneeltoekennings met sy studente verwerf. Sy betrokkenheid by eisteddfods het tydens sy jare as Kurrikulumadviseur vir Kuns en Kultuur begin. Hierdie gedugte span beoordeel jaarliks tussen 7-9 eisteddfods – tot so ver as De Aar. “ Louis beoordeel oor ’n wye spektrum: voordrag,toneel, dans, sang en musiek: kore en instrumentaal. Ekself beoordeel alle aspekte

Mount Royal - 'n tuiste in die platteland

van voordrag: gedigte, prosa, monoloog, tweesprake, toneel en redenaars,” verduidelik Cornelia. Vanjaar was hulle by nie minder nie as sewe eisteddfods betrokke. “Ons was by die eisteddfods op Citrusdal, Stellenbosch, Calvinia, Klawer, De Aar, Vredenburg en Hopefield,” vertel Cornelia. Dit is bykans onmoontlik om die getal deelnemers wat hierdie jaar onder Louis en Cornelia se kennersoog opgetree het, te bepaal. “Daar is soms tot 130 deelnemers per graad, bv. gr. 4-dogters. "Op De Aar het ons die hele eisteddfod alleen behartig, met ’n getal van tussen 1000 en 3000 deelnemers. Hierdie eisteddfod duur ’n week lank. Ons beoordeel dan ook op Victoria-Wes en Beaufort-Wes,” sê Cornelia. Volgens haar is dit ‘n uitdaging om deurlopend ‘n vasgestelde standaard te handhaaf in

hul beoordeling. “Ons hou ons koppe skoon en fokus op die graad waarin die deelnemer is en werk volgens riglyne wat eie aan die kategorie is. "Ondervinding is van uiterste belang en met die jare se ondervinding het ons geleer om ’n standaard te handhaaf,” verduidelik sy. Louis en Cornelia is baie opgewonde wanneer hulle talent, groei en passievolle deelname tydens hul beoordeling teëkom. “Daar is by elke Eisteddfod items wat uitstaan en dis moeilik om enkeles uit te sonder. Soms staan ’n mens verstom vir die standaard wat by gr. 1’s aangetref word. "Dit is veral bemoedigend om vordering by sekere Eisteddfods te bespeur. Op De Aar het ons met rou talent begin en na 5 jaar kan duidelike vooruitgang bespeur word. "Die standaard van dans op Klawer is buitengewoon hoog. Die onderwyseres daar doen wonderlike werk,” vertel sy oor die hoogtepunte. Dit is vir Louis en Cornelia baie lekker dat dit iets is wat hulle saam kan doen en dat dit ‘n belangstelling is wat hulle deel. “Dit hou ons konstruktief besig tydens aftrede en ons voel ons kan nog ‘n bydrae tot die samelewing lewer. Intussen leer ons nuwe mense ken en bly ons tog indirek by kinders betrokke – ’n groot liefde vir ons albei,” sê hulle. Noudat die eisteddfod-seisoen vir eers verby is, kan Louis en Cornelia op hul ander belangstellings fokus. Hulle het ‘n besige jaar agter die rug en het onlangs ook in ‘n nuwe huis ingetrek. “Ons wil nou vir die res van die jaar rustiger wees. Ons lees, luister musiek, besoek die teater en hou ons besig met ons kleinkind. "Verder hou ons as afgetredenes die werkende bure uit hul werk en kuier graag! Louis hou hom besig in die tuin en ek doen graag naaldwerk,” sê Cornelia. Dit klink na ‘n rustiger skedule – totdat volgende jaar se eisteddfod-seisoen weer aanbreek.

Swoeg en sweet teen stoomtrein

Chrisjan roei vir SA

NUUS • NEWS


2

6 September 2017

NUUS • NEWS

•UITDAAG EERSDAAGS HIER

Swoeg en sweet teen stoomtrein

Die lede van Mr Cat & The Jackal saam met een van die groeplede se pa en die Sandra en Herman Blackie in ligte luim na die vertoning.

Mr Cat & the Jackall sing Hennie Aucamp Die gewilde musiekgroep, Mr Cat & The Jackal, het Saterdagaand 2 September in die Bôrdienghuis-teater opgetree. Hierdie groep, wie se musiek deur resensente as “meesterlik”, “uitmuntende lirieke” en “moet sien” beskryf word, het getrou aan hul alternatiewe aard unieke toonsettings van Hennie Aucamp se gedigte gedoen.

Die groep se fyn interpretasie en sinspeling op die delikate nuanses in Aucamp se digkuns, het in hul meesterlike toonsettings gestalte gekry. Hulle het ook toonsettings van ID du Plessis se gedigte gesing. Die vertoning is afgesluit met ‘n paar toonsettings van die groep se hoofsanger, Gert Besselsen, se eie gedigte.

Wellington gaan binnekort die wegspringplek vir die eerste Stoomtrein Uitdaging in die Wes-Kaap wees. Ons dorp, wat ‘n lang geskiedenis met treine het, gaan nou ook die beginpunt van hierdie splinternuwe gebeurtenis wees. Die idee van die Stoomtrein Uitdaging het ontstaan toe Pieter van Wyk, roete-ontwerper vir die Cape Epic en boorling van Wellington, die potensiaal van die spoorlyn wat deur die asemrowende natuurskoon van ons vallei kronkel, raakgesien het. Hierdie mooi roete tot in Ceres, die feit dat hyself ‘n kranige bergfietsryer is en sy vaardighede as roete-ontwerper het hom laat besluit dat hierdie die perfekte roete vir ‘n “trein resies” sal wees. Pieter het as as student gereeld aan die jaarlikse “Great Train Race” tussen Port Elizabeth en Loerie teen die “Apple Express” deelgeneem. Hierdie resies het ‘n instelling by vele skole, klubs en korporatiewe spanne regoor Suid-Afrika geword en is al selfs met die gewildheid van die Comrades Marathon en Two Oceans vergelyk. Meer as 600 aflosspanne van 10 spanlede elk neem jaarliks aan hierdie uitdaging deel om te kyk wie van “man” of “masjien” as wenner uit die stryd kan tree. Daar is ook ‘n jaarlikse “Greatest Train Race” waar spanne ‘n trein van Witbank na Middelburg jaag. Hierdie resies het in 2016 reeds sy 30ste bestaansjaar gevier. Die opwindende Stoomtrein Uitdaging wat nou vir ons vallei beplan word, is gebaseer op die beproefde konsep van mense wat ‘n ou stoomtrein die stryd aansê. Die plaaslike weergawe van die uitdaging is egter uniek omdat dit hardloop, sowel as bergfietsry behels. Die heel eerste Stoomtrein Uitdaging sal op 7 Oktober 2017 om 08:00 in Wellington afskop. Die trein sal uit Wellington Stasie vertrek, terwyl die atlete by die ingang van Wellington Wines sal wegspring. Die resies se eindpunt sal by die Ceres Golf en Eco Estate wees. Bergfietsryers en hardlopers sal die ou stoomtrein van die Ceres Rail Company deur die prentjiemooi bergagtige landskap tussen Wellington en Ceres die stryd aansê. Volgens een van die organiseerders, Etienne Terblanche, sal die deelnemers langs ‘n veldren roete van ongeveer 90km teen die stoomtrein meeding. “Die roete sal deur beide sosiale en ernstige fietsryers en hardlopers geniet word en die wedren sal uit ses bene bestaan – drie hardloopbene en drie fietsrybene. Die eerste been is van Wellington tot by Malan-stasie met

‘n afstand van 7,2km vir die hardlopers. Daarna volge 2 fietsrybene, ‘n hardloopbeen en nog ‘n fietsrybeen. Die resies sluit met ‘n hardloopbeen af wat van Waverly Hills tot by Ceres Golf en Eco Estate strek,” verduidelik hy. Etienne verduidelik dat deelnemers die trein op twee maniere kan uitdaag. “Hulle kan óf as ‘n aflosspan, bestaande uit 3 hardlopers en 3 fietsryers, óf as ‘n individu wat alleen al die bene van die resies voltooi, inskryf,” sê hy. Toeskouers en ondersteuners sal die resies vanaf spesiaal aangewysde punte langs die roete kan dophou. “’n Ander opsie vir toeskouers en ondersteuners is natuurlik om die resies vanuit die treinvensters van die stoomtrein dop te hou. Hulle kan lekker in die weelde van hierdie pragtig-gerestoureerde stoomtrein deel word van die resies,” sê Etienne. Die resies beloof om ‘n heerlike gemeenskapsprojek te wees. By die Wellington Wines wegspringpunt sal lewendige musiek, lewendige rugby (die SA vs New Zeeland wedstryd), talle stalletjies en kindervermaak wees. Aangesien die resies ‘n wonderlike geleentheid vir spanbou is, sal die area by die eindpunt in Ceres vir hierdie doel ingerig word. Volgens Etienne sal die Stoomtrein Uitdaging nie net op pret en sport fokus nie, maar dit word ook as ‘n platform vir sosiale bewustheid gebruik. ‘n Gedeelte van elke inskrywingsfooi sal aan die Breyten Paulse Stigting, wat kinders in landelike gebiede help, geskenk word. Addisionele donasies aan hierdie fonds sal deelnemers ook ‘n kans gee om ‘n potjie gholf saam met Breyten Paulse te speel. “Deelnemers aan die resies word ook aangemoedig om tweedehandse of nuwe boeke te skenk en in houers by die wedren te plaas. Dit is deel van ons inisiatief om geletterdheid, lees en taalvaardigheid te probeer bevorder,” verduidelik Etienne. Verskeie bekendes, waaronder Conrad Stoltz wat al 7 keer die “cross-triathlon” wêreldkampioen was en 2 keer aan die Olimpiese Spele deelgeneem het, asook Breyten Paulse, sal aan die resies deelneem. Vir meer inligting en inskrywings kan belangstellendes www.steamtrainchallenge. co.za of https://entries.steamtrainchallenge. co.za/ besoek. Toeskouers en ondersteuners wat die resies vanuit die stoomtrein wil gade slaan, kan www.ceresrail.co.za besoek vir meer inligting en besprekings.


NUUS • NEWS

3

6 September 2017

•PALM RITS PRYSE EN TOEKENNINGS IN

Hugenote kraai koning by eisteddfod

Die trotse onderwysers en leerders wat die trofee ingepalm het.

Leerders van Hugenote Laerskool het tydens die onlangse Paarl Vallei-eisteddfod uitstekend presteer. Hulle het nie alleen ‘n rekordgetal Cum Laude-toekennings in verskillende afdelings ontvang nie, maar ook met ‘n magdom trofees weggestap. Tydens die eisteddfod word daar trofees aan die algehele beste deelnemers in die onderskeie kategorieë toegeken. Hugenote Laerskool het reeds verlede jaar hul staal as kultuurskool gewys toe hulle altesaam nege trofeë ingepalm het. Hul leerders het verlede jaar se prestasies op ongekende wyse oortref toe hulle hierdie jaar ‘n totaal van 21 trofeë by die eisteddfod gewen het. Volgens Leana Engelbrecht, koorleidster en hoof van kultuur by die skool, is hulle oorstelp van blydskap en wil hulle bars van trots oor die leerders se prestasies tydens die eisteddfod. “Ons is elke jaar bitter trots op ons eisteddfod-uitslae. Ons kinders doen altyd baie goed en ons wen altyd baie trofees. Hierdie jaar is egter buitengewoon ongelooflik. Ons het sommer hierdie jaar verlede jaar se hoeveelheid trofees

– wat reeds ‘n ongekende prestasie was – meer as verdubbel!” vertel sy trots. Hugenote Laerskool se leerders het nie alleen al die individuele sangtrofeë wat by die eisteddfod gewen kan word ingepalm nie, maar beide die junior- en seniorkoor het ook met die trofeë vir die kore weggestap. Onder die 21 trofeë wat hul leerders verower het, tel ook die trofeë vir beste kreatiewe skryfwerk in Afrikaans en Engels, beste graad 5 Engelse voordrag, beste graad 6 kunswerk, die beste ORFF-orkes, die beste Afrikaanse voorbereide en onvoorbereide lees, die beste grondslagfase en seniorfase kreatiewe skryfwerk in Afrikaans en Engels, die beste graad 1 spreekkoor, die beste ballet duet, asook die trofee vir die beste graad 4 voordrag. “Dit is omtrent ‘n mondvol! 21 trofeë vir een skool by ‘n groot eisteddfod – ons is ongelooflik trots en dankbaar. "Ons het talentvolle kinders, ondersteunende ouers en onderwysers wat hul storie ken. Dit is hierdie spanpoging wat sulke prestasies moontlik maak,” sê Engelbrecht.

Lianie May @ Malmesbury

9 September

19:00 vir 19:30 Malmesbury Stadsaal

Kaartjies: R100 elk Beskikbaar by Computicket

Fondsinsameling ten bate van Elkana-kindersorg 022 486 4178 • www.elkanachildcare.co.za


courant

dié

4

6 September 2017

Roei met die rieme wat jy het

Die plaaslike roeier, Chrisjan Coetzee, het onlangs uit die buiteland teruggekeer nadat hy ons land suksesvol verteenwoordig het. Hy vertel van die lang ure, baie uitdagings, beserings, hoogtepunte, teleurstellings, suksesse en bevrediging wat met ‘n voltydse roeiloopbaan gepaardgaan. ‘n “Roei” kan ook na ‘n komeet se stert of die smal hout- of metaalstroke in ‘n glasraam, waartussen die ruite vasgesit word, verwys. Om te roei beteken oor die algemeen om met roeispane voort te beweeg en as jy roei met die rieme wat jy het, weet jy hoe om jou met die hulpmiddels tot jou beskikking te help. Daar is baie woorde wat nogal verband hou met “roei” en sommer ook met die woord rym: stoei, bloei, bemoei, gloei, groei – alles dinge wat Wellingtonners op ‘n daaglikse basis doen, terwyl ons ons bootjies op koers probeer hou. Die Du Preez-egpaar bemoei hulle met die ontwikkeling van kindertalent by eisteddfods en help om hierdie kinders te laat groei. Lizma skryf kinderboeke wat kinders se verbeelding aangryp en hul van opgewondenheid laat gloei. Verskeie instansies bemoei hulle met misdaadbekamping en span saam om teen hierdie sosiale euwel te stoei. Hugenote Laerskool se kultuurtalent bloei met 21 trofeë by die afgelope eisteddfod. Die inheemse Pinotage-produk laat talle mense na ons vallei stroom en gee ‘n lekker inspuiting wat ons ekonomie laat groei. Wellington-Noord se mense span saam tydens ‘n heerlike basaar wat die gemeenskap laat bloei en hul aktiwiteite laat groei. Dit is lente en die ATKV-tak gaan kyk na hoe die natuur in hierdie tyd bloei. Mag elkeen hierdie week groei – of jy nou moet stoei, bloei, gloei of jou met onbenullighede of belangrike take moet bemoei terwyl jy met die rieme wat jy het, voortroei.

Dis Goeie Nuus

NUUS • NEWS

Lions skenk stoele aan HAM

Die Internasionale Lions vereniging vier hierdie jaar hul 100ste bestaansjaar. Hierdie organisasie het besluit dat hulle vir hierdie viering hul takke wil uitdaag om elkeen projekte in terme van “100” in hul gemeenskappe aan te pak. Wellington se Lions-tak het Huis Andrew Murray Kinder- en Jeugsorgsentrum (HAM) as die begunstigde instansie van hul keuse te identifiseer en iets ten bate van die inwoners van HAM vir hul 100-jarige bestaan te doen. Volgens Pieter Myburgh, voorsitter van Wellington se Lions Klub was hul besluit vir hierdie projek voor die hand liggend. “Ons het eerstens besluit om 100 minute van ons tyd aan HAM te skenk deur vir hulle ‘n braai te hou en die kinders met geskenkpakkies te bederf. "Ons ander groot projek vir hierdie inisiatief was om 100 stoele vir hul saal te skenk,” verduidelik hy. Die Lions het die 100 stoele amptelik aan HAM oorhandig. Karen Petersen, HAM se

bemarkingsbestuurder, het die stoele namens die inwoners in ontvangs geneem. “Ons is baie opgewonde oor hierdie skenking. Ons is besig met die opgradering van ons saal en het regtig ‘n behoefte aan stoele vir ons saal gehad. "Daarom is ons baie dankbaar dat die Lions besluit het om hierdie behoefte aan te spreek,” het sy by die ontvangs van die stoele gesê. Volgens Attie Fourie, ook ‘n lid van die Lions wat by die oorhandiging van die stoele betrokke was, is die Lions ook besig met die insameling en uitdeel van komberse vir mense wat dit in die koue wintermaande nodig het.

Dr. Andrew Bosman

Maak hierdie dal vol gate

Agab se seun Joram het koning oor Israel geword na sy vader se dood, hierna het die Moabiete afvallig geword teenoor Israel. Joram het vir koning Josafat, die koning van Juda gevra om saam met hom op te trek teen die Moabiete. Hulle het deur die Edom-woestyn getrek en die koning van Edom met hulle saam, na sewe dae se trek deur die woestyn was daar vir hulle en hulle vee geen water om te drink nie. Koning Joram se reaksie was dat God hulle nou in die hand van Mesa die koning van die Moabiete gegee het. Koning Josafat van Juda het egter gevra of hier nie nog ‘n profeet van die HERE is nie dat ons deur hom die HERE kan raadpleeg. Een van die dienaars van Josafat het gesê dat Elisa hier is, hy was Elia se dienskneg. Hulle het vir Elisa laat kom, hy het vir ‘n siterspeler gevra, en die hand van die HERE het op hom gekom. Elisa het gesê dat die Here spreek en sê dat hulle die dal vol gate moes maak. Hulle sal geen wind of reën sien nie maar hierdie dal sal vol water word, en Ek sal ook die Moabiete in julle hand gee. Die volgende more het water van Edom se kant gekom en die dal vol water gemaak.

Uitreiking:

Hillcrest United-rugbyklub, het die naweek die tweede been van hul jaarlikse uitreikingsprojek aangebied by Hillcrest Primêr op Wellington. Die eerste been het geskied op Madeladag waar die bestuur, spelers en funksiekomitee 'n sopkombuis geloods het in die Carterville en Hillcrest-area. Hierdie naweek het Hillies, in samewerking met "Hillies funksie komitee", nie-bederfbare-voedsel, skryfbehoeftes en lekkernye aan kleutersklole in die area geskenk. Die dag is opgehelder met talle lekernye en sportaktiwiteite deur die rugby- en netbal spelers van Hillies. Die klub bedank alle borge en ondersteuners wat die dag 'n sukses gemaak het. Foto: Roswall de Vries


NUUS • NEWS

6 September 2017

5 Fokus op Mount Royal-gholflandgoed

Ervaar die platteland en skrop nes op die Mount Royal-landgoed Geniet ‘n ware plattelandse ervaring as inwoner van ‘n 18-putjie gholflandgoed met sekuriteit in die hartjie van die Swartland. Die Mount Royal-gholflandgoed aan die buitewyke van Malmesbury voldoen aan alle behoeftes van ‘n gelukkige huiseienaar en inwoner. Wees verseker van rustigheid, privaatheid en goeie sekuriteit met die natuurskoon op jou voorstoep. Mount Royal-gholflandgoed word bestempel as die perfekte ligging vir jou en gesin met goeie skole slegs ‘n klipgooi weg. Die gholflandgoed bied ook maklike toegang tot Kaapstad, die Weskus en wynlande. Die omgewing word as ideaal bestempel vir jou aftrede met uitstekende mediese dienste

binne bereik via die N7-snelweg wat aan die landgoed grens. Wees verseker van blywende natuurskoon met ‘n pragtige gholfbaan wat heel jaar lank onderhou word, ‘n uitsig oor die 17 hektaar Renosterveld Bewaringsreservaat en aangrensende seisoenale kanola –en koringlande. Daar is ook ‘n reeks draf – en staproetes om te geniet wat toegang tot die reservaat en natuurlike waterstrome bied. ‘n Kleiner konferensiesentrum wat sowat 80 mense kan akkommodeer, is reeds in volle werking. ‘n Opgegradeerde klubhuis met ‘n goter konferensiesentrum, ‘n hotel en spafasiliteite en ‘n restaurant word ook vir die toekoms beplan. Op die Mount Royal-gholflandgoed, bied jou belegging waarde vir geld. Met sy plattelandse atmosfeer, met die golwende koring- en kanolalande aan die eenkant en Tafelberg aan die ander, bied die landgoed meer as net 'n veilige hawe en tuiste.


6

Focus on Mount Royal Gholf Estate

6 September 2017

NUUS • NEWS

Belegging op landgoed is waarde vir jou geld André Halvorsen, ontwikkelingsbestuurder van Mount Royal-gholflandgoed, se oorlede pa het altyd gesê “jy kan grond enige plek in die Wes-Kaap koop, solank jy vir Tafelberg kan sien.” Die uitsig op een van die wêreld se natuurwonders, is ‘n waarborg vir inwoners van die landgoed. Hy is oortuig daarvan dat Mount Royal-gholflandgoed tans vir voornemende kopers die beste waarde vir hulle belegging kan bied. Jong getroude paartjies of persone wat wil aftree, kan nou Plot-en-Plan-eenhede bekom vanaf R1,750,000 tot R2,000,000. “Die gety het gedraai vir Mount Royal-gholflandgoed. Die eerste oordragte is in 2007 gegee. Maart 2008 het die wêreldwye ressessie kop uitgesteek en dit was tot nadeel van Mount Royal-gholflandgoed, asook teenoor beleggers wat eiendomme gekoop het.

"Ons by Mount Royal het in die troebel tye van ressessie, personeel verminder. Ons uitgangspunt was om dit wat ons het, te bestuur en te onderhou. André Theron, bestuurder van die landgoed, het hom bitter goed van sy taak gekwyt. "Mount Royal-gholflandgoed is verseker die ontwikkeling in die hele Wes-Kaap wat die beste ligging van alle ander Kaapse Landgoedere geniet. Met die opgradering, verdubbeling en voltooiing van die N7-snelweg, is toegang vanaf Malmesbury na Kaapstad en omliggende dorpe maklik en verseker die beste roete wat verkeer sou aanbetref." Theuns Duvenhage is aan die stuur as voorsitter van die landgoed se huiseienaarsvereniging. Hy en sy span is passievol oor hulle belegging en hul samewerking word hoog op die prys gestel.


NUUS • NEWS

6 September 2017

Landgoed se ontwikkeling oor die jare heen Die ontwikkeling van die Mount Royal-gholflandgoed vind in vier fases plaas: Fase 1: 303 Erwe is reeds ontwikkel, waarvan 275 verkoop is en al die nodige dienste geïnstalleer is. Die installering van optiese vesel internettoegang word tans geïnstalleer, wat onderskryf word deur Vodacom. Fase 2: Die fase sluit 147 erwe in, asook die ontwikkeling van ‘n verdere 9-putjie gholfbaan om vir Malmesbury-gholfklub ‘n volwaardige 18-putjie baan te oorhandig. Mount Royal is tans besig met die konstruksie van dié gholfbaan. Die paaie word ook huidiglik vir die ontwikkelingsfase gemeet. Altesaam 45 huise is reeds voltooi. Sowat vyf huise is 90% voltooi en nege huise is onder konstruksie. Daar is sowat 40 goedgekeurde planne op die tafel . Alle bemarking word deur Halvorsen Eiendomme behartig. Alle geregistreerde eiendomsagentskappe op Malmesbury word ook betrek by

die bemarking van die Mount Royal-gholflandgoed. Die wandelpaaie binne die Mount Royalgholflandgoed word binnekort opgegradeer. Dit is vir die ontwikkelaars belangrik om die landelike omgewing vir die kinders met speelparke te bederf. Mount Royal-gholflandgoed hoop om al die groen areas binnekort toeganklik te maak vir hulle. Fase 4: Fase 4 sluit die ontwikkelingsregte van ‘n hotel in. Die ontwikkelaars is reeds in gesprek met voornemende rolspelers. Daar is ook ’n lisensie vir ‘n privaat-hospitaal geallokeer vir Malmesbury wat hopelik deel raak van fase 4. Die ontwikkeling en beplanning rondom die privaat-hospitaal is reeds gedoen. Alle belangstellendes word uitgenooi om Mount Royal-gholflandgoed daagliks tussen 09:00 en 16:00 tot einde November te besoek vir besigtiging. Besoek gerus hul webblad by www. mountroyalestate.co.za vir meer inligting.

7

Fokus op Mount Royal-gholflandgoed


8

Focus on Mount Royal Gholf Estate

6 September 2017

NUUS • NEWS

Die nuutgeboude huis van voorsitter Theuns Duvenhage.

Sekuriteit hier 'n prioriteit Die Mount Royal-gholflandgoed bied gemoedsrus van ‘n veilige omgewing aan voornemende huiseienaars en inwoners. Die landgoed beskik tans oor ‘n elektriese sekuriteitsheining van 6.2 kilometer om die terrein. Gardier is verantwoordelik vir 24 uur se sekuriteit. Die hele landgoed word gereeld gepatrolleer. Sekuriteitskameras word ook tans aan die heining wat die landgoed omring, aangebring

wat inwoners meer gerus sal stel. Die sekuriteitsagentskap sal dus voorkomend kan optree indien nodig. Die Mount Royal-gholflandgoed moedig alle voornemende kopers of beleggers wat wil belê binne Afrika aan om te belê in ‘n sekuriteitsomgewing. Een van die voordele is dat dit toegang vir vreemde persone of besoekers tot die eiendom bemoeilik sonder die nodige toestemming van die betrokke huiseienaars.


NUUS • NEWS

6 September 2017

Van den Berg stel nog ‘n kinderboek bekend

Die plaaslike skrywer, Lizma van den Berg, se eerste kinderboek, Kabouterstories, het verlede jaar die lig gesien. Hierdie ouma van ‘n woelwater-tweeling het nog ‘n boek, “Avontuurstories vir Agies”, geskryf wat op Saterdag 2 September by die Breytenbach-sentrum bekendgestel is. Lizma het nog altyd ‘n liefde vir lees, stories en woorde gehad. Haar skryftalent is egter eers na die geboorte van haar kleinkinders in 2011 ontgin. Die stories wat sy vir die tweeling begin opmaak en vertel het, het uiteindelik tot die publikasie van haar eerste boek gelei. Sedertdien het sy nou ook haar “Avontuurstories” die lig laat sien en haar derde boek oor Filipina die Vet Feetjie sal ook voor die einde van die jaar op die rakke wees. Tydens die bekendstelling van “Avontuurstories vir Agies” kon gaste aan heerlike eetgoed peusel, terwyl Lizma die kinders wat die bekendstelling bygewoon het met voorlesings uit haar nuwe boek vermaak het. Die uitgewers van Lizma se boeke, Publishing World SA, het vir ‘n heerlike partytjie-tafel vir die kinders gesorg. Pieter en Susan Loftus van hierdie uitgewershuis het as gashere vir die geleentheid opgetree. Susan het ook die kinders met ‘n prettige aktiwiteit, waar hulle elkeen ‘n katjie gemaak het, tydens die bekendstelling vermaak.

Volgens die uitgewer Pieter, was Lizma se eerste boek oor kabouters so ‘n groot treffer dat hulle nie twee keer gedink het voordat hulle ook haar tweede boek uitgegee het nie. Hulle is ook verantwoordelik vir die uitgee van haar derde boek oor Filipina wat later vanjaar verskyn. “My vrou is ‘n onderwyseres en het dadelik geweet dat hierdie stories tot kinders sal spreek en hul verbeelding sal aangryp – en dit is presies wat Lizma se stories doen,” sê hy. Anders as haar eerste boek oor kabouters, gaan “Avontuurstories vir Agies” oor familie en avontuur, verduidelik Lizma. “Soos wat die tweeling groter word en hul familie beter leer ken, saam met hulle gaan vakansie hou, kuier en saam met oupa gaan kamp, het daar al hoe meer materiaal vir nuwe stories gevorm,” vertel sy oor die inspirasie vir hierdie boek. “’Avontuurstories vir Agies’ gaan oor werklike mense se avonture. Dit is deur die uitgewers geïllustreer – die illustrasies gee die stories pragtig weer en die kinders is mal daaroor,” sê Lizma. Haar stories is almal in Engels vertaal en elke boek het ‘n CD en inkleurboek met kryte by. Die boeke kan by Lizma (lizma@em3.co.za) of by die uitgewer, info@publishingworldsa.com, bestel word.

Talle stroom na gewilde Pinotage on tap

Die gewilde jaarlikse “Pinotage on tap”-fees het op Saterdag 2 Augustus weer by Diemersfontein plaasgevind. Hierdie fees, wat die suksesvolle seisoen van die inheemse Pinotage-druiwe en -wyn vier, word jaarliks op die terrein van Diemersfontein aangebied en lok honderde belangstellendes en wynliefhebbers. Die fees is gekenmerk deur ‘n heerlike atmosfeer, talle kosstalletjies en vertonings deur van die land se voorste kunstenaars en musikante. Die eregas by hierdie geleentheid was natuurlik die vate vol Pinotage.

9

Links: Gaste het met hul aankoms ‘n glasie Pinotage gekry. Die “stewel gooi”-kompetisie het groot aftrek gekry. Gaste kon ook aan interessante speletjies op die terrein deelneem. Daar was ‘n “stewel-gooi” kompetisie, sowel as ‘n uitdaging waar besoekers ‘n gholfbal oor ‘n afstand in wynvate moes probeer slaan. Onder die kunstenaars wat opgetree het, was onder andere Newton & Co, die StoneJets, Agri’s got Talent se finaliste, sowel as die bekende Rubber Duc-musiekgroep. ‘n Sjokolade-fontein met hope aarbeie en malvalekkers het besoekers se soettande en bloedsuikervlakke in toom gehou. Die fees is hierdie jaar deur meer as 1000 besoekers bygewoon.


10

NUUS • NEWS

6 September 2017

Dagboek • Diary

bring. Vir navrae kontak Pierre by 084 656 6611 of Danita by 083 462 7356 Two Olives Ministries 16 September: Two Olives Ministries hou 'n Gebedswandel (Prayer walk) om 09:30 in Wellington. Bymekaarkomplek is die tennisbane in Pinestraat. Gelowiges in Jesus Christus word vriendelik uitgenooi om deel te neem. Vir verdere navrae kontak Pastoor Nico Mettler by 082 498 4130. Riebeek Landbouvereniging 16 September: Die Riebeek Landbouvereniging hou skietdag by Swartdam-skietbaan op RiebeekKasteel om 12:00. Kostes beloop R200/skut plus steak-ete en R120 net vir steak-ete. Vir laat inskrywings op die dag tussen 07:15 en 08:00 is die kostes R250. Vir enige navrae kontak Riaan Coetzee by 083

632 8253 Breytenbach Sentrum 26 September: André P. Brink se laaste vrou, Karina Szczurek, gaan haar boek, “The Fifth Mrs Brink” bekendstel om 18:30 by die Breytenbach Sentrum. Besprekings by thebooktraders@gmail.com Laerskool Hugo Rust 13 Oktober: Laerskool Hugo Rust hou 'n "Daknatmaak-aand" vir hulle saal. Kom klink 'n glasie en vul die magie - Luister na staaltjies van toeka tot nou saam met ou bekendes Vir enige navrae kontak : bemarking@hugorust.co.za Silwerkruin ACVV Huis vir Bejaardes 27 Oktober: Silwerkruin hou 'n gholfdag by die Wellington-gholfklub om 09:00. Navrae kontak Melanie by 021 873 1040

Kerke • Churches

Wellington CLC Matriek-aandklasse by Wellington CLC, Hospitaalstraat. Dinsdae en Donderdae vanaf 18:00 tot 20:00. Navrae skakel 021 864 2418

Darling Wildflower Show 14-17 Sept: The 100th Darling Wildflower show will take place at the Darling Sport Club from 09:00 to 17:00. Eldre Strydom or David Coleshill - 022 451 2202

Wellington-rugbyklub Wellington-rugbyklub se oefeninge vind plaas vanaf 19:30 by die Wellington-rugbyklub, reg langs Boland-stadion. Vir meer inligting kontak Jaco van Deventer 081 488 5457 of Francois Coertze 083 443 3081

Manne-konferensie 15 & 16 Sept: 'n Manne-konferensie onder leiding van Riekert Botha van RSG-faam word gehou by die Malmesbury NG Kerk se noord-gemeente. Die tema is - Ken en volg jy die ware Jesus. Koste is R200 p/p. Vir enige navrae kontak Jan Steyn by 082 872 4314 of Koot Claassen by 082 524 9001

Drostdy Teater 6 September: Rooidag - NP van Wyk Louw getoonset en gesing. Leon Gropp (voorheen van die kitaarduo CH2). Die bekende pianis Matthys Maree sal vir Gropp op die verhoog vergesel. Kaartjies is R120 Bespreek by info@drostdyteater.co.za of skakel 087 943 2459

Wamakersvallei Voortrekkers 16 September: Die Voortrekkers hou 'n lekker dans teen die winterkoue by Laerskool Hugenote. Kaartjies beloop R150 per paartjie. Verrigtinge begin om 18:30 vir 19:00 en die drag is informeel. Koffie, tee, milo en pannekoek sal verkoop word. Welkom om eie eetgoed te

Anglican Church Sunday morning: April to Sept at 08:00; Oct March at 07:30; Wed. Morning : 09:30 (end Jan to mid Dec); 4 Milner Street, Wellington. Enquiries: 021 873 1425. Joshua Generation Sunday morning 09:00 (English), Sunday evening (Afrikaans) 17:00. Provence, Milner Road. Enquiries: 021 873 6541. Kerk van Macedonië Sondagdiens om 10:00; Groenberg. Navrae: 062 836 1316 of 074 608 0519 NEW Sunday morning at 09:00 (English service); HJN Training Centre, College Street, Wellington. Enquiries: 082 355 3280. NGK Moeder-gemeente Sondagoggend om 09:00. Sondag-aanddiens Leefkerk om 18:00. H/v Kerk- en Piet Retiefstraat, Wellington. Navrae: 021 873 1561.

NGK Noord-gemeente Sondagoggend om 09:30: MacCronestraat 11, Wellington. Navrae: 021 873 2763. NGK Wellington-Oos Sondagoggend om 9:00 en Sondagaand om 19:00 op die h/v Barlinka en Cummingsstraat, Wellington. Navrae : 021 873 2690 St George's Presbyterian Church Sunday mornings at 09:30 (English); 22 Jan van Riebeeck Street. Enquiries: 021 873 2021. Shofar Sondagoggend om 09:00 Laerskool Hugenote, Kerkstraat 41. Navrae: 021 873 7677 AGS Wellington Dienstye en Junior Kerk : Sondae 09:00 asook 18:00 by Terracestraat 3, Wellington. Kontak: 083 258 8717 of 021 873 3375.

Mzansi Makers gaan groot Mzansi Makers is ‘n nie-winsgewende organisasie wat op die bevordering van entrepreneurskap fokus. Hulle doen dit deur handvaardighede, asook die aanbieding van kwaliteit kunsinisiatiewe en is trots om hierdie jaar weer die gewilde Klassieke Musiekreeks aan te bied. Hierdie reeks musiekuitvoerings is reeds sinoniem met Wellington en inwoners sal dit as ‘n unieke klassieke ervaring, wat reeds verskeie kere in die geskiedkundige Goodnow Saal in Wellington aangebied is, onthou. As gevolg van die brandskade aan hierdie gebou sal die musiekreeks hierdie jaar by die Diemersfontein Wine & Country Estate aangebied word. Die reeks word moontlik gemaak deur die ondersteuning van die Rupert-Musiekstigting. Mzansi Makers beplan ook ‘n baie spesiale Kersuitvoering vir 10 Desember, waaroor meer besonderhede later bekendgemaak sal word. Volgens Theo Kemp, stigter van Mzansi Makers en organiseerder van die vertonings, beloof die program van die Klassieke Musiekreeks ‘n verskeidenheid optredes deur van die beste klassieke musikante in ons land. “Die reeks skop op 1 Oktober met ‘n optrede deur Johannes Slabbert, wenner van die 2014 ATKV Muziqanto Nasionale sangkompetisie, af. Hy sal saam met Raimondo van Staden en Philippus Hugo optree en werke van Verdi, Lehár, Strauss, Mozart, Bizet, Lemmer, Roede en Rogers vertolk,” sê Theo. Op 29 Oktober sal die alombekende Avanti,

bestaande uit Sally Minter op dwarsfluit en Coila Enderstein op klavier, ‘n program bestaande uit ‘n Rabboni Sonata, musiek uit Thais, Entracte van Carmen en Fantasie deur Taffanel uit Der Freischutz, lewer. Avanti is reeds vir hul uitvoering in van Kaapstad se gunsteling teaters bekroon. “Ons is ook baie opgewonde oor die bekende sanger en regisseur van teater- sowel as klassieke musiek, Niël Rademan, se optrede op 26 November. Niël is al afsonderlik vir ‘n TEMPO en GHOEMA-toekenning genomineer en hy gaan saam met Kurt Haupt en Jacobi de Villiers optree,” sê Theo. “Hierdie uitvoering sluit hoogtepunte soos Heimwee van S. le Roux Marais, Danny Boy, ‘n tradisionele Ierse balade, Ich grolle nicht en Monat Mai van Robert Schumann, Drie Nagliedjies, sowel as Daar’s bitteral in die heuningwals van Franco Prinsloo in,” borduur hy voort. Die reeks sal op 10 Desember met ‘n “Kersstemme” vertoning afsluit wanneer Minette du Toit-Pearce, Férrol-Jon Davids en Phillipus Hugo gaste in ‘n Kersstemming sal bring. Alle vertonings begin om 18:00 en vind by Diemersfontein, waar van hul wyn ook te koop aangebied sal word, plaas. Kaartjies kan by account@mzansimakers.co.za of 073 435 1022 bespreek word. Die volledige program en meer oor die kunstenaars is op facebook.com/MzansiMakers beskikbaar.


NUUS • NEWS

6 September 2017

•NOUE KONTAK MET KULTUUR

Minister by sentrum

Francois Theron, Anne-Ghrett Erasmus, Minister Anroux Marais, Louis Duvenage, Ntobeko Sikhakahane, Francois Lötter en Charmaine Rhoode. Anroux Marais, die Wes-Kaapse Minister van senior bibliotekaris ontvang. Hulle het haar oor Sport- en Kultuursake, het die Breytenbach- die werksaamhede by die Sentrum, sowel as die projekte wat deur die sentrum ïnisieer en sentrum op Vrydag 25 Augustus besoek. Hierdie vriendskaplike besoek vorm deel van bestuur word, ingelig. Dit was minister Marais se eerste besoek aan haar kantoor se noue kontak met kultuurbedrywighede in die provinsie en hul poging om bande die Breytenbach-sentrum en sy was aangenaam te bou met die instansies onder hul beskerming verras oor al die kultuuraktiwiteite en –projekte wat kultuurprojekte in verskillende gemeen- wat hier plaasvind. Haar kantoor bewillig elke jaar ‘n geldelike skenking vir gemeenskaps- en skappe bevorder. Marais is deur die Breytenbach-sentrum se kultuurprojekte aan die sentrum – iets wat sy bestuur, lede van die sentrum se bestuursraad, kon sien ten volle en regmatig tot voordeel van projekleiers, asook die plaaslike biblioteek se die gemeenskap aangewend word.

Verskeie instansies werk saam teen misdaad

Verskeie instansies en organisasies het onlangs kragte saamgespan in ‘n poging om misdaad te bekamp en bewusmaking daarvan te kweek. Hierdie inisiatief het veral op Sektor 3 gefokus. Volgens Stephan Landsberg van WAG/Stopmisdaag was dit ‘n baie geslaagde inisiatief. “Sektor 3, GPF en WAG/Stopmisdaad het ‘n baie suksesvolle bewusmakingsaksie in samewerking met die SAPD , verskeie sekuriteitsmaatskappye en buurtwagte in Sektor 3 gehou. "Dit was wonderlik om te sien hoe almal saamwerk vir dieselfde doel,” sê hy. Tydens die aksie is daar veral op die misbruik van drank op straat gefokus. Daar is ook goeie

arrestasies ten opsigte van dwelms soos dagga, tik en mandrax gemaak. “WAG/Stopmisdaad is regtig dankbaar vir die samewerking van al die plaaslike instansies wat met hierdie inisiatief gehelp het en aan die bewusmakingsveldtog deelgeneem het. "Sonder hulle insette sou dit nie moontlik wees. "Die SAPD, Vetus Schola, Dogs & All, Baron, ADT en die Lotze-tweeling het almal gehelp. Raadslid Lorraine Willemse het ook haar tyd opgeoffer en saamgeloop om te help om die probleemareas te identifiseer – sy is altyd ‘n staatmaker,” sê Stephan.

11

VLV bemagtig teen brande

Die plaaslike VLV-tak het op Donderdag 24 Augustus hul maandelikse byeenkoms in die Wellington-Noord se kerksaal gehou. Tydens hierdie geleentheid is daar oudergewoonte heerlik saamgekuier en kon besoekers winskope by die marktafel, wat ‘n verskeidenheid handgemaakte, vars en tuisgemaakte produkte gehad het, kry. Die oggend het uit ‘n propvol program bestaan. Surette Moggee het die verrigtinge geopen met ‘n informatiewe praatjie en video oor die doen en late van die nie-winsgewende Ma’s vir Wellington-organisasie. Die dames is daarna met ‘n sangvertoning deur die trio bestaande uit Albertus Buckle, Pierre Bester en ds. Francois Human vermaak. Danie Wilds van die Kaapse Wynland se brandbestryders het die dames meer oor veldbrande, brandvoorkoming en ander brandverwante kwessies ingelig. Hy het na die onlangse brande in die Boland en by Knysna verwys en die gevare rondom sulke brande uitgelig. “’n Baie groot faktor by enige ernstige brand, is die wind. Daar is ook al hoe meer veldbrande wat kort op mekaar volg. Dit veroorsaak dat sommige spesies fynbos nie genoeg tyd het om nuwe sade te vorm nie en gevolglik moontlik uitsterwing in die gesig staar,” het hy gewaarsku. Hy het ook klem

gelê op die feit dat dit elke eienaar van eiendom se verantwoordelikheid is om te verhoed dat ‘n brand van of na sy grond kan versprei. Hy het ook die moeilike omstandighede en lang ure waaronder brandbestryders moet werk, beskryf. “Ons is altyd baie dankbaar vir hulp uit die gemeenskap en die manier hoe gewone mense hulself mobiliseer en strukture skep om brandbestryders tydens brande by te staan,” het hy gesê.


courant

12

NUUS • NEWS

6 September 2017

dié

WELLINGTON SPORT

Tel: 022 487 3221

6 September 2017

•KAMPIOEN SNELROEIER

Chrisjan roei vir SA

•Jaomi Zeeman Die 26-jarige Chrisjan Coetzee is ‘n Wellingtonner en oud-leerder van Hugenote Hoërskool wat besig is op vinnig opgang te maak as kampioen-snelroeier. Hy roei tans voltyds en het al talle nasionale kampioenskappe gewen en neem ook gereeld internasionaal deel. Chrisjan se pa, self ‘n roeier, het hom op 14-jarige ouderdom aan hierdie sportsoort bekendgestel. In sy matriekjaar het Chrisjan die SA Junior Kampioenskappe gewen en Suid-Afrika by die Junior Wêreldkampioenskappe in Moskou gaan verteenwoordig. Sedertdien het hy van krag tot krag gegaan. Chrisjan neem aan ‘n spesialiteitsveld van roei, naamlik snelroei, deel. “In Engels word dit Sprint Kayak genoem. Daar is drie afstande waaraan ‘n mens kan deelneem, nl. 200m, 500m en 1000m. Ons het ook K1-, K2- en K4-kategorieë. Die K dui op Kayak en die syfer 1, 2 en 4 dui op die getal roeiers per boot,” verduidelik hy. Volgens Chrisjan fokus hy tans slegs op die K1 200m. Só ‘n wedren oor 200m neem ongeveer 34 tot 36 sekondes, afhangende van die weersomstandighede en roeiers behaal ‘n topspoed van 22 tot 23km/h. Sy kayak word spesiaal in Porugal vervaardig en sy spesiale roeispaan kom uit Hongarye. Chrisjan het aan die einde van Augustus aan die Wêreld Snelroei-kampioenskappe in Racici, net buite Praag in die Tjeggiese Republiek, deelgeneem. Hier het hy vyfde in sy finaal geëindig. “Ek het ongelukkig 4 weke voor die kampioenskap my regterelmboog en trisep in die gym beseer en gevolglik ‘n belangrike deel van my voorbereiding gemis. Dit was vir my ‘n groot teleurstelling dat ek as gevolg van my besering nie so goed kon vaar soos ek gehoop en beplan

het nie,” sê hy. In April het hy die SA-Kampioenskappe gewen en in Mei het hy sy beste prestasie tot dusver behaal toe hy by die World Cup Reeks in Portugal en Hongarye ‘n eerste plek in sy finaal behaal het. Chrisjan is beskeie, maar dankbaar oor die prestasies wat hy al in snelroei behaal het. “Oor die jare was ek al die Junior-, onder 23en Senior SA kampioen. Ek het ook my Junior en Senior Protea-kleure verwerf en die voorreg gehad om Suid-Afrika by talle wêreldkampioenskappe te verteenwoordig. In 2016 het ek ook die Afrika-kampioenskap gewen,” vertel hy. Om in snelroei te presteer, verg harde oefening en Chrisjan oefen twee tot drie keer per dag, 6 dae per week. “‘n Dag bestaan gewoonlik uit twee roeisessies en een gym-sessie. "Voor ‘n kompetisie begin ek minder volume doen en begin meer fokus op korter, intensiewe spoedsessies sodat ek my piek bereik gedurende die kompetisie,” verduidelik hy. Snelroei is ook ‘n uitdagende sport wat spesiale vaardighede en absolute fokus vereis. “Om te roei is moeiliker as wat dit lyk, want ‘n kano of kayak is baie onstabiel. ‘n Beginner swem soms meer as wat hy roei. "Dit vat maar ongelukkig tyd om goeie balans te bemeester. Roeitegniek is natuurlik baie belangrik, maar dit is iets wat ‘n mens met goeie afrigting kan verbeter,” sê Chrisjan. Ander uitdagings is die hoë koste van goeie kano’s en spane en die feit dat daar geen finansiële ondersteuning vir roeiers wat Suid-Afrika verteenwoordig, is nie. Ten spyte van die uitdagings bly dit vir Chrisjan ‘n passie en ‘n sportsoort wat hy baie geniet.

Lentefees: Hierdie atlete van die Wellington-atletiekklub het Saterdag op Riebeek-

Kasteel aan die halfmarathon van die jaarlikse Lentefees deelgeneem. Hier is Adell Erasmus, Tanja Spamer, Danie Hauptfleisch, Joanne Els en Corne Mellet.

“Toe ek jonger was het ek dit baie geniet om saam met my pa te kan roei, dit is iets wat ons deel. Dit is vir my baie lekker om my sport op die water in die natuur te beoefen. Dit verg groot dissipline en deursettingsvermoë om dag vir dag veeleisende oefensessies vol te hou. Ek hou egter daarvan om myself harder en verder te druk en om myself te probeer verbeter. Ek geniet dit baie om teen ander te kompeteer,”

Boeresport: Laerskool Hugo

Rust het Vrydag, 1 September, die nuwe seisoen met 'n heerlike lenteloop en boeresport afgeskop.

lu b

.co .za /win ec

for great deals

219

89

Join our

Pick n Pay Wine Club

sê hy. Chrisjan fokus nou daarop om vir die Olimpiese Spele van 2020 in Tokio te kwalifiseer en daar te gaan deelneem. Hy het ook groot lof vir die ondersteuning wat hy van sy ouers kry. “My ouers is my grootste ondersteuning, sonder hulle hulp sou ek nie kon klaarkom nie,” sê hy dankbaar.

64

R

R

R

Viceroy Makoya + Deposit 750ml

Bain’s Cape Mountain Whisky 750ml

Klipdrift & Cola 6 x 275ml

ay knp www.pic

Wellington

105

R

59

R PRICES VALID 7 - 10 SEPTEMBER 2017 AT PICK N PAY LIQUOR STORES LANGEBAAN, MALMESBURY, VREDENBURG, WELLINGTON, SABLE SQUARE AND CERES STORES.

JC Le Roux Demi Sec White, Rosé or Sauvignon Blanc 750ml Each

Liquor Liquor not not for for sale sale on on Sundays Sundays in in Malmesbury Malmesbury and and Wellington. Wellington. Buy-aid Buy-aid cards cards not not accepted accepted at at the the following following stores: stores: Vanderhof, Vanderhof, Promotional stocks stocks are are limited. limited. Prices Prices Northmead, Northmead, Rosettenville, Rosettenville, Elspark, Elspark, Hoedspruit, Hoedspruit, Stanger, Stanger, North North Beach Beach and and Sharon Sharon Park. Park. Promotional include include VAT, VAT, where where applicable. applicable. Smart Smart Shopper Shopper terms terms and and conditions conditions apply. apply. No No traders. traders. E&OE. E&OE. Selected Selected products products may may not not be be available available at at all all stores. stores. Visit Visit www.picknpay.co.za, www.picknpay.co.za, or or call call 0800 0800 11 11 22 22 88. 88. Cellphone Cellphone rates rates apply. apply. FRGTHS6155

79

R

Two Oceans Sauvignon Blanc or Cabernet Merlot 3 Litre Each

99

R

Muirhead’s Whisky 750ml

LOAD YOUR DISCOUNTS VIA THE APP OR KIOSK

Alcohol Not for Sale to Persons Under the Age of 18. Drink Responsibly.

Hunters Dry or Gold Value Pack 12 x 440ml


Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.