courant
1 Wellington
dié
1 Maart 2017
• Free • Gratis
Wes-Kaap se #1
Bou saam met goeie nuus
Uitgawe 409
1 Maart 2017
• ANELMA EN IRUSHA SÊ NET JA VIR TELEVISIE
Duo help om die trouklokke te lui •Jaomi Zeeman
Die Wellingtonners Anelma le Roux en Irusha Kröhn se name gaan binnekort volksbesit word. Hierdie twee energieke, dinamiese vroue is die aanbieders van ‘n nuwe Via-televisieprogram wat vanaf 9 Maart ‘n instelling in die agtuur-tydgleuf op Donderdagaande op dié kanaal sal wees. Volgens Anelma en Irusha is “Sê net Ja” ‘n realiteitsprogram waarin voornemende mense met troukoors hul niksvermoedende maats vra om te trou. Via voorspel dat dit op hul top 5-gewildste lys gaan beland het ook reeds drie reekse goedgekeur – selfs al het daar nog nie een episode op televisie verskyn nie “Ons help die persoon wat sy/ haar ander helfte wil vra om te trou om die ongelooflikste verlowing binne 42 uur te beplan. "Dit klink dalk soos ‘n cliché, maar dit is nie. Die persoon wat moet ‘ja’ sê, weet natuurlik van niks, so ons kruip gereeld in bosse of onder tafels weg!” verklap hulle. “Sê net Ja” se aanbieding is Anelma en Irusha se debuut op die televisie. Hul pad tot by hierdie wonderlike geleentheid het eintlik deur middel van hul “regte” werk in hul skote beland. Hierdie twee besit en bestuur reeds ‘n hele paar jaar ‘n baie suksesvolle geleentheidsontwerp-maatskappy, Goeters. “Ons maatskappy, Goeters, spesialiseer in die ontwerp van troues, televisie-insetsels, verhoogproduksies, spesiale- en koöperatiewe geleenthede. "Ons bedink nie net kreatiewe konsepte vir funksies nie, ons voorsien ook al die bestanddele wat die konsep kan laat gestalte kry uit ons stoor vol ‘goeters’,” vertel hulle. Volgens hulle is dit juis hul maatskappy Goeters se betrokkenheid by televisie-insetsels en geleenthede waar mense in die televisie-bedryf betrokke is wat hulle by “Sê net ja” laat beland
het. “’Goeters’ was betrokke by geleenthede wat Via aangebied het en die kanaalhoof, Izelle, het ons na Wyrd Films verwys, omdat sy geglo het dat ons gepas is vir die nuwe reeks waaraan hulle sou begin werk,” sê hulle. Die res is, soos hulle sê, geskiedenis en nou is die twee reeds vir ‘n geruime tyd druk besig met opnames vir die reeks. Hulle rol in “Sê net ja” behels die aanbieding, maar ook die konseptualisering en uitvoering van die plan rondom die verrassingsverlowing van ‘n betrokke paartjie. Volgens hulle is dit ‘n ongelooflike ervaring. “Dit is baie opwindend, amper ‘nerve wrecking’! Ek is gewoonlik die een wat in die bos moet wegkruip,” sê Irusha. “Dit is iets heeltemal nuut vir my, so dis ‘n lekker ‘challenge’ en nogal baie ‘fun’,” laat Anelma
hoor. Hierdie nuwe avontuur bring natuurlik nuwe uitdagings ook. Anelma en Irusha stem saam dat dit soms voel asof daar net te min ure in hul dae is. “Terwyl ons verfilm het ons steeds ons gewone werk met ‘Goeters’ en ons nuwe venue ‘Neo’. Dan is daar natuurlik nog ons persoonlike lewens ook,” sê Irusha. A n e l m a beaam dit. “Afgesien van die reeks waaraan ons om en by vier dae ‘n week werk, moet ons steeds al ons aandag aan ons eintlike werk, ‘Goeters’, ons nuwe funksielokaal, Neo, en ‘n paar ander sy-besighede spandeer,” sê sy. Die skedule ten opsigte van die skiet van die episodes en die uitsaai daarvan, is volgens dié twee besige dames, baie knap. “Van ‘shoot’ tot op TV is so drie weke. Die kenners by Wyrd Films ken gelukkig hul storie as dit by ‘edit’ kom,” sê Irusha. “Die program begin op 9 Maart om 20:00 op Via. Ons het al begin Februarie begin skiet. ‘n Mens werk op ‘n baie ‘tight’ skedule aangesien daar min tyd tussen die skiet van die episodes en die uitsending daarvan is,” voeg Anelma by. “Sê net ja” kry ook ‘n Wellingtonse geurtjie wanneer een van die paartjies in Wellington verloof raak en ‘n hele episode in Wellington verfilm word. Oor die detail is Anelma en Irusha se monde egter gesnoer. “Ons kan nie nou die aap uit die mou laat nie. Mense moet maar self sien watter plaaslike paartjie op die program verloof raak,” sê hulle geheimsinnig. Die eerste uitsending van “Sê net ja” is op Donderdag 9 Maart om 20:00.
NUUS • NEWS