2 minute read

Sluiting van inmaakfabriek voorlopig afgeweer

S luiting van inmaakfabriek voorlopig afgeweer

Ná ’n ooreenkoms met rolspelers het Tiger Brands in Julie 2022 aangekondig dat bedrywighede by die Langeberg- en Ashton-inmaakfabriek vir nog ’n jaar voortgesit word. Weens die uitstel kan Tiger Brands nuwe moontlikhede ondersoek en potensiële kopers kry geleentheid om fondse te bekom vir 'n oorname.

Die Langeberg- en Ashton-fabriek is die grootste in SuidAfrika en een van slegs twee vrugte-inmaakfabrieke. Dié wêreldklasfabriek speel 'n noodsaaklike rol vir Suid-Afrikaanse ingemaakte vrugte om ’n nisposisie in die wêreldmark te beklee. Suid-Afrika is volgens produksie in die top-sewe inmaakvrugtelande ter wêreld, en die fabriek bring honderde miljoene rand in buitelandsevaluta in.

Agri SA sê produsente het dringende versoeke tot die WesKaapse en nasionale regerings gerig om hierby in te gryp. Gegewe die noodsaaklike bydrae van hierdie fasiliteit tot die nasionale en provinsiale ekonomieë, moet die regering bystand verleen deur met die partye saam te werk om belegging in die fasiliteit te fasiliteer.

Tiger Brands het aanvanklik twee jaar gelede besluit om van dié fabriek te onttrek. In daardie stadium het ’n konsortium van 160 produsente met Tiger Brands begin onderhandel om die fabriek te bekom, maar die konsortium sal ’n verdere R200 tot R300 miljoen benodig om die transaksie te beklink. Met die jongste aankondiging van Tiger Brands is hierdie produsente in ’n bykans onmoontlike situasie geplaas: hulle moes die nodige fondse binne minder as 60 dae bekom. Sonder ondersteuning van die regering en samewerking van Tiger Brands, sal die produsente se inisiatief misluk en die gevolge sal katastrofies wees, sê Agri SA.

Die fabriek verwerk hoofsaaklik taaipitperskes, Bulida-appelkose en Bon Chretien-pere afkomstig van sowat 2 250 ha boorde. Hierdie vrugte is spesifiek vir inmaak geplant in die Klein-Karoo-, Ashton-, Robertson-, Bonnievale-, Breërivier-, Wolseley- en Ceres-gebied.

“As die fabriek sluit, gaan ongeveer 300 boere geen alternatiewe mark vir hulle vrugte hê nie, aangesien die ander vrugte-inmaakfabriek in Suid-Afrika, wat deur die Rhodes Food Group besit word, reeds op volle kapasiteit werk. Die boere sal hulle boorde moet vernietig.”

Die uitwerking van die aankondiging word reeds gevoel, aangesien arbeidsmakelaars rapporteer dat hul spanne tuis sit omdat produsente ná die Tiger-aankondiging opgehou het om te snoei. In mediaverklarings het Tiger Brands aangedui dat 250 permanente poste en 4 300 seisoenale poste op die hoogtepunt van die seisoen geraak word. Die fabriek is die lewensondersteuning van die Ashton-gemeenskap en daarsonder staar die gemeenskap ’n sosio-ekonomiese ramp in die gesig. Die Langeberg- en Ashton-fabriek is ook die grootste enkele bron van inkomste vir die Langeberg-munisipaliteit.