
2 minute read
Doelgerigte benadering tot nuwe markte vir groeiende vrugtebedryf
Wolfe Logan Braude, bestuurder van die landbousakekamer Agbiz se Vrugtelessenaar sedert April 2022, is optimisties oor 2023 ten spyte daarvan dat die vrugtebedryf die afgelope jaar talle uitdagings gehad het.
Mariana Purnell MEDEWERKER
Hy het by Agbiz se mediadag gesê die handelsbalans van Suid-Afrikaanse landbouprodukte het oor die afgelope 20 jaar baie gegroei – tussen 2001 en 2021 het uitvoer van US$2 miljard tot US$12 miljard toegeneem, terwyl invoer van net minder as US$1 miljard toegeneem het tot byna US$7 miljard. Vrugte is ongeveer 35% van Suid-Afrika se landbouuitvoer, met sitrus, appels, pere, druiwe en avokado’s die belangrikste produkte.
Die hele landbousektor is op uitvoer gefokus en in waarde gemeet, word ongeveer die helfte van alle produkte uitgevoer. Braude maan egter dat La Niña-reën voortdurende sterk oeste sal ondersteun en dat nuwe aanplantings van verskeie vrugtesubsektore in die nabye toekoms sal begin produseer. Dit sal tot verhoogde uitvoervolumes aanleiding gee. Na verwagting gaan die uitvoer van bessies oor die volgende vyf jaar met 110% groei en sitrus met 39% terwyl sagtevrugte met 15% kan toeneem. Die verwagting is dat die uitvoer van subtropiese vrugte en druiwe onderskeidelik met slegs 6% en 3% gaan groei.
Nuwe markte gaan gevolglik dringend benodig word vir die groeiende vrugtesektor. Buiten die tradisionele markte van die Europese Unie (EU), Verenigde Koninkryk, Noord-Amerika en Afrika, sal die Suid-Afrikaanse uitvoermark moet diversifiseer sodat toegang verkry kan word tot nuwe markte soos Indië, die Midde-Ooste en Oos-Asiatiese afsetgebiede soos China, Suid-Korea, Japan, Thailand, Viëtnam, Taiwan en die Filippyne.
Volgens Braude hou die gekoördineerde marktoegangstrategie vir sanitêre en fitosanitêre aspekte baie belofte in vir 2023. Terwyl die sitrusbedryf meen dat uitvoervolumes na die EU weer gaan normaliseer nadat ‘n oplossing gevind is vir die kwessie oor die koue behandeling van vrugte, is mylpale met sagtevrugte reeds in 2022 bereik. Suid-Afrikaanse appels, pere en sitrus is tydens verskeping na Indië aan suksesvolle kouebehandeling onderwerp, terwyl avokado’s bestem vir Japan, inspeksies van kouebehandelings geslaag het. Na verwagting gaan verifikasie moontlik in 2023 plaasvind vir avokado’s en lietsjies wat vir Indië bestem word, asook tafeldruiwe vir Japan en die Fillipyne.
‘n Ander belowende ontwikkeling is die uitbreiding van Suid-Afrikaanse vrugte wat te koop aangebied word deur ‘n supermarkgroep in Saoedi-Arabië. Daarby bly die mark in die Verenigde State (VSA) sterk.
Nog faktore wat die uitvoerbedryf ‘n hupstoot kan gee is verbeterde beplanning om vervoer en hawelogistiek meer vaartbelyn te maak. Agbiz speel ‘n deurslaggewende rol in hierdie proses. Die beplanning van operasionele hawelogistiek vir 2023 was positief vir uitvoer via Kaapstad en Durban. ‘n Ander ligstraaltjie is die verwagting dat verskepingstariewe tot vlakke van 2019 gaan daal.
Braude meen die land skiet egter ver tekort aan voorkeurtoegang tot belangrike Asiatiese markte. Suid-Afrika het geen vryhandelsooreenkomste of voorkeurhandelsreëlings met enige van hierdie lande nie, behalwe met Indië. Daarenteen spog Suid-Afrika se mededingers in die Suidelike halfrond met verskeie sulke ooreenkomste wat hulle die voorkeur-handelsvennote maak.
Om met Australië, Nieu-Seeland, Peru, Chili, Argentinië en Uruguay mee te ding word daar egter nou planne beraam om marktoegang vir Suid-Afrikaanse vrugte te bewerkstellig. Samewerking tussen Fruit SA, departemente van landbou, handel, nywerheid en mededinging, asook buitelandse sake en verteenwoordigers van die vrugtebedryf, is deurslaggewend. ‘n Handelswerkgroep is op die been gebring, ‘n voorkeurmodel is saam met die Buro vir Voedsel en Landboubeleid (BFAP) vir die departement van landbou ontwikkel en ‘n bedryfslys van prioriteitsprojekte is saamgestel. Aansoeke vir marktoegang word gelyktydig verwerk.
Suid-Afrikaanse ambassadeurs en landbou-attachés word van toepaslike inligting vir sleutelmarkte voorsien terwyl handelsbesoeke, staatsbesoeke en gesamentlike ekonomiese kommissies almal deel vorm van die nuwe benadering tot landbouhandel.