1 minute read

Hou die “L” by die “AR”

Larrie-liefde of Larrie Love: Dit is die VRL se waarde van kwartaal een. Rizia Seria het dit rofweg gedefinieer as die liefde wat ons vir ons mede-Larries wys asook die liefde wat ons as Larries aan ander skole uitstraal

Almal se definisie en ervaring van Larrieliefde verskil. Wat is jou ervaring van Larrieliefde? Is dit dalk daardie ondersteunende omhelsing van ’n vriendin as sy sien jy het ’n slegte dag? Is dit die gevoel van samehorigheid en susterskap by 4M? Is dit die onderwyser wat jou broosheid raaksien en minder huiswerk gee? Is dit die klop op die skouer van ’n vriendin wat sien hoe jy op die sportveld of in akademie presteer? Is dit die Larrie wat saam met jou die laaste rondte van die 3000 m-wedloop hardloop?

Advertisement

Is dit die gerusstellende bemoediging van jou klasmaats voor of na ’n toets? Is dit die hulpvaardigheid van ’n mede-leerder? Is dit daardie klasmaat wat sien dat jy nie daar is nie en vir jou notas neem? Is dit die ondersteuning en aanvaarding wat jy in jou vriendekring ervaar? Is dit dalk die Larrie wat jou bemoedig tydens ’n teleurstelling? Is dit die vriendelike glimlag van ’n Larrie in die gang?

Of is dit dalk vir jou ’n vreemde konsep wat jy nie dink bestaan nie? Alhoewel sommige Larries baie positief oor hierdie aanvaardingsgevoel praat, is daar sommige van ons wat voel dit bestaan nie. Hoe kan hierdie gaping in ons mentaliteit egter oorbrug word?

Dit is amper onmoontlik om ’n gevoel oor te dra wat jy nie self ervaar het nie Indien jy een van vele Larries is wat al Larrie-liefde ervaar het, wil ek jou aanraai om daardie gevoel aan ’n ander Larrie “aan te gee” Die Engelse noem dit “paying it forward”.

Kan jy ’n oomblik afstaan en vir een van die meisies in haar blommerokkie glimlag? Sal dit te veel tyd neem om iemand se swaar sportsak te help dra? Kan jy miskien een pouse uitreik na die persoon wat eenkant sit? Kan ons die liefde wat ons vir onsself en mekaar het, wys deur enige en elke persoon op ons terrein te groet?

Indien ons ons liefde deel, liewe Larries kan ons maklik seker maak dat dit almal in ons skool – en ook diegene buite die skool sal bereik. Só kan almal se dae opgehelder word met 'n bietjie Larrie-liefde.

Die Avanti se redaktrise, Bianca van der Walt, stel graag die hoofredaksie voor.

This article is from: