Midrand Estates News - Aug 2013

Page 23

Die Rooibekkakelaar

(Phoeniculus purpureus) In Engels staan die voël bekend as Green Wood (Red- billed) Hoopoe

Die hoogte is 32 - 36 cm en die gewig is 60 - 90 gram. Die voël is ‘n algemene standvoël in die woude, boswêreld en boomryke voorstedelike tuine van die grootste gedeelte van Sub-Sahara-Afrika. Hulle leef in groepe van tot omtrent ‘n dosyn voëls met net een broeipaar. Die wyfie lê 2-5 blou eiers in die gat van ‘n boom of ou houtkapper-nes en kan eiers lê gedurende enige tyd van die jaar. Die wyfie broei alleen op die eiers en dit broei uit na ongeveer 17-18 dae. Nadat die kuikens uitgebroei het, word die wyfie en kuikens deur die res van die groep gevoed, selfs nadat hulle volgroeid is en die nes verlaat het. Na 3 tot 4 weke verlaat die jong voëls die nes, maar hulle is eers ten volle onafhanklik na 2 tot 3 maande. Die groep is vreesloos in die verdediging van die kuikens teen indringers. Die Rooibekkakelaar word ook in Midstream en omgewing gesien. Hulle is metaaldonkergroen, met ‘n pers rug en ‘n baie lang diamantvormige pers stert. Hulle het kenmerkende wit merke op die vlerke en die wit chevrons op die stertpunte maak hulle maklik identifiseerbaar. So ook sy lang dun geboë snawel. Hierdie spesie se geslagte is soortgelyk, maar jong voëls het ‘n swart snawel. Die mannetjie se snawel is effens langer en meer geboë. Die Rooibekkakelaar is insekvretend. Hul vreet hoofsaaklik op die grond, in miershope, of op boomstompe. Hul uitsonderlike kloue stel hul in staat om maklik vas te klou aan die onderkant van boomstamme, terwyl hul die boombas vir insekte deursoek. Hulle vreet gewoonlik insekte, maar ook reptiele en sade. Hul voedsel sluit in kewers, motte, vlinders, termiete, krieke, sprinkane, perdebye, spinnekoppe, ens. Hierdie opvallende voël adverteer ook sy teenwoordigheid met sy harde Kuk-ukuk-uk-uk-roep en ander geluide.

The Midrand Estates Newsletter - August 2013

23


Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.