die courant 16 januarie 2013 205

Page 4

menings•opinion

courant

16 Januarie 2013

die

4

Kyk dan terug op die vrug

Elke jaar hierdie tyd, wanneer die wiele weer krakerig begin rol (krakerig, want die skarniere is skram ná die goeie rus, en almal koes onwillekeurig weg van die vreeslike vaart wat sonder keuse voorlê), raak dit tyd om terug te kyk na die vrug van werk wat in die vorige jaar gedoen is. Hier dink ons veral aan die insette van matrieks en onderwysers wat duidelik in die punte weerspieël en in die dagblaaie uitgelig word. Dan word dit vergelyk onder ouers, onderwysers, leerders en oupa en ouma wat langs die lessenaar, stoof en die braaivleisvuur daaroor gesels en bespiegel. As ons hierdie week na die uiteensetting van die Swartlandse slaagsyfers kyk, dui die verhoogde slaagsyfer, plus die groter geleenthede tot naskoolse opleiding, op baie rede tot optimisme. Die rede daarvoor? Harde, eerlike werk wanneer dit regtig nodig was en toe niemand kon sien nie! Skoolhoofde spreek nou die wens uit dat die huidige matrieks leer uit die 2012-seniors se voorbeeld; die Swartland se toppresteerder vertel hoe sy selfs uit elke 10 minute die beste gehaal het en op Piketberg hoop die nuwe munisipale bestuurder dat goeie samewerking onder alle sektore tot voorspoed vir die streek sal lei. Die belangrikste lesse wat ons elkeen uit die matriekpunte kan haal, is dat ons elke minuut ten beste moet benut, of ons nou graad een, graad agt of matriek aanpak, ‘n nuwe werk of geleentheid betree, of waar ons ook al hierdie jaar gaan wees. Want wanneer die tyd van evaluering aanbreek, is die ware maatstaf nie net dit wat in die oomblikke verrig is toe die toeskouers baie en die ‘limelight’ helder was nie, maar veral die getroue, nougesette vasbyttye toe ‘die swaarkry met lekkerkry klaargekry is!”

Swarttobie:

Die Swarttobie (African Oystercatcher) is een van die bedreigde voëls in Suid-Afrika met ‘n geraamde bevolking van tussen 5000 en 6000 volwasse voëls. Die bevolking het onlangs gestabiliseer met die bewaring van strandgebiede. Hierdie voëls lê hul eiers op die strandgebied en hul hoofvoedsel is die Mediterreense mossel. Hulle kom voor aan die kus van Luderitz tot by Mazeppabaai in die Oos-Kaap met ongeveer die helfte van die bevolking aan die Wes-Kaapse kus. Hierdie twee het ‘n vroegoggendsonnetjie op Yzerfontein geniet.

As die klok slaan...

moet die lysie bly of kan hy maar ry?

Dis goeie nuus

deur dr. Andrew Bosman

Voornemens vir 2013

Ons het nie die toekoms in ons hand nie, maar hier in die begin van ‘n nuwe jaar hoor ons van voornemens vir die nuwe jaar. Dit wat ons graag sou sien gebeur. Jakobus skryf dat ons wat sê: “Vandag of môre sal ons na dié of dié stad gaan en daar besigheid doen en daar wins maak - julle wat nie eens weet wat môre sal gebeur nie.” Jakobus sê ons lewe is soos ‘n damp wat vir ‘n kort tydjie verskyn en daarna verdwyn. Hy meen dat ons liewer moet sê : “As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen”. Ons is ook nie uitgelewer aan die noodlot nie. Wat ook al gebeur sal in elk geval gebeur! Ons kan oor die toekoms bid. Ons kan ons oog op die Here Jesus gevestig hou vir hierdie jaar. Ons kan God in geloof vertrou dat Hy ons sal rig op die weg wat ons moet gaan. Paulus vermaan dat voorbedes, smekinge, gebede en danksegginge gedoen moet word vir alle mense. Vir konings en dié wat hooggeplaas is, sodat ons ‘n stil en rustige lewe kan lei. Vir God ons Verlosser is dit goed, wat ook wil hê dat alle mense tot die kennis van die waarheid kom.

Elke jaar net voor die klok 12uur slaan, sit sommige van ons met ellelange lyste met nuwejaarsvoornemens. Sommige van hulle is maklik haalbaar, soos om bietjie minder met die kinders te raas, bietjie meer te luister, bietjie stadiger tot 10 te tel voor jy ‘n pad-misbruiker uitskel. Ander is glad nie so maklik nie... hulle haal jaarliks die lys, maar kry net nooit ‘n groen regmerkie langsaan nie. Hulle kry nie eens ‘n kruisie nie, word sommer net vergeet en doodgekrap. Jaar op jaar op jaar. My persoonlike item wat nooit doodgekrap word nie en spinnerakke al lae op gevorm het, is die ewige stryd met die skaal! Wat ‘n aaklige ding! Sodra ek net mooi dink, hierdie jaar gaan ek weer in daai jeans van my inpas, plak iemand in my familie ‘n watertandlekker stukkie peppermentyskastert voor my neer. Wie is ek dan nou om hul goedhartigheid te ignoreer en my rug op die uitloklike stukkie “bederf” te draai? Ek voel dan net vir ‘n vlietende oomblik baie skuldig en verberg my skuldgevoel onder die gedagte van “môre is nog ‘n dag”.

Ek wonder soms hoekom mens jaarliks so groot bohaai maak oor die nuwejaar? Groot makieties word gehou, sommige sit dalk met ‘n lelike hoofpyn die dag daarna en almal glo vas dat “vanjaar die jaar gaan wees” om dan net ‘n week later weer te verval in die mag van gewoonte. Met die draai van die eeu is daar met groot fanfare gepreek dat die wêreld tot ‘n einde gaan kom. Die hele Y2K-debakel. Mense het gestorm om blikkies kos bymekaar te maak vir die groot ramp... Laat my dink aan die advertensie van Chicken Licken waar ‘n gesin on-

dergronds gewoon het en die arme seun oor ‘n alleenstaande agterdeur geroep word om “binne te kom”. Hy word toe gestuur om sy pa te gaan soek, want al die blikkies het toe blinkkant bo in die asdrom gelê. En raai waar sit Pa toe, heerlik in ‘n Chicken Licken en hom knuppeldik en smul aan heerlike kosse? Op 21 Desember 2012 sou die wêreld ook vergaan het. Nou is daar weer nuwe datums vasgestel vir die einde van die wêreld... en nog... en nog... en nog... Seker dan onnodig vir my om jaarliks weer met ‘n lysie te sit en soos ‘n “loser” te voel omdat my nuwejaarsvoornemens nie eens ‘n dag gehou het nie! * In hierdie rubriek en repliekreeks is die idee om stories deur en oor mense uit ons streek hier te publiseer. Ook soms met ‘n ander ligter perspektief te kyk na gebeure en dit wat agter die skerms in ons streek aan die gang is. Daarmee saam nooi ons dus lesers om vir ons bydraes te lewer. Bydraes van plus minus 320 woorde sal oorweeg word. Die redakteur behou hom die reg voor om oor die publikasie van bydraes te besluit.


Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.