2 minute read

HUISKOK

’N DEEGLIKE BROODJIE

KOEK BAK VERG MOEITE – EN ’N SEKERE VAARDIGHEID. DAAR MOET MOOI GEMEET EN GEWEEG WORD. EN DIT IS OOK BELANGRIK OM NIE TE VEEL TE PEUTER NIE. DAAR IS ’N LES GELEER ... HOU DIT EENVOUDIG.

Advertisement

Hulle praat van bak en brou, maar tydens die grendeltyd tuis besef ek bak en verbrou is eerder my forte. Soos mens op sosiale media kon sien, die hele wêreld het tydens die “lockdown” aan die bak gegaan. En synde nog nooit aangespoor om daardie kuns te probeer bemeester nie, wend ek toe self ’n paar pogings aan om die eeueoue kuns van bak onder die knie te probeer kry.

Om te sê dat hierdie pogings misluk het, is soos om te sê die Titanic het ’n onsuksesvolle vaart oor die Atlantiese Oseaan gehad. My gebakte piesangbrood het soos ’n half-ontplofde landmyn gelyk – en erger geproe. ’n Waardige poging om suurdeegbrood te bak het gelei tot ’n kors waarmee mens ’n koedoe harsingskudding met ’n raakgooi kon gee. Franse brode, die resep noukeurig gevolg, het uitgeloop op balke wat soos bofbalkolwe gelyk het.

Nee, het ek besef, bak wil nie my vriend wees nie. Miskien is my liggaamsenergie nie eens in harmonie met die misterieuse manier waarmee deeg gis en rys en lug kry om tot ’n eetbare, gerysde heerlikheid te verander nie.

Net voordat ek my mengbak, voorskoot en houtlepel opgeoffer het in die vlamme van ’n vroegwinter kaggel, word daar deur ’n simpatieke vriendin ’n resep gestuur. Vir ’n potbrood. Nie net sal dit rys en bak nie, is ek gewaarborg, maar daar kom bietjie ekstra geur en tekstuur by om van die brood ’n hele maaltyd op sy eie te maak.

HY LOOP SO:

500 g bruismeel 5 ml sout 250 ml gerasperde cheddarkaas 1 x 340 g blikkie mielies 5 sprietuie, fyngekap 8 songedroogte tamaties, fyngekap 1½ blikkies bier (340 ml blikkie)

MAAK SO:

1 Reg, nou verhit jy die oond tot 180 °C. 2 Meng die meel, sout en kaas in ’n groot mengbak. Voeg die mielies, sprietuie en tamaties by. 3 Nou kom die bier by. Bewerk als deur tot ’n beslag, en as dinge te droog raak, waps nog ’n bietjie bier by. 4 Smeer ’n swaarboomkastrol (18cm in deursnee) met botter.

Plaas jou deegbeslag in die pot. Sien – geen knie, rys, afknie, opsê van rympies nie ... net so. 5 Maak seker die oond is warm tot 180°C. Sit jou kastrol in die oond, deksel af. En bak vir een uur. Haal die oond uit, laat afkoel vir 5 tot 10 minute en dop die kastrol om om jou gebak te laat uitdop. Perfek vir ’n bykos, of met ’n smeersel botter is dit ’n maaltyd op sy eie.

Dieselfde proses kan in die buitelug gevolg word. Skraap kole onder jou pot in, sit die deksel op en plaas kole bo-op. Bestuur net jou hitte dat die kole nie afkoel nie. Omdat die hitte nie so bestendig is soos ’n oond nie, sal jy bietjie oefening moet insit om jou geskikte temperatuur en tyd te kry. Maar dis wat bak blyk te wees. Oefening, probeer, aanhou. Nog 10 jaar, dan beweeg ek na piesangbrood. Watch my.

Emile Joubert is a PR practitioner by profession, but a food and wine enthusiast by desire. Check out his blog: www.winegoggle.co.za